Spring na inhoud

RWANDA

Oorsig van Rwanda

Oorsig van Rwanda

Jehovah se Getuies is al sedert 1970 in Rwanda bedrywig. Hulle is in 1992 wettig geregistreer, en die regering het dit in 2002 bevestig. Die Getuies is baie bekend vir hulle politieke neutraliteit, en oor die algemeen geniet hulle godsdiensvryheid. Hulle het nie deelgeneem aan die gruweldade gedurende die volksmoord in 1994 nie en het selfs hulle eie lewe gewaag om die lewe van ander te red. Sommige diskrimineer egter teen die Getuies omdat hulle steeds hierdie selfde standaard van politieke neutraliteit handhaaf.

Party skoolowerhede sit Getuiekinders uit die skool omdat hulle weier om aan patriotiese en godsdiensseremonies by die skool deel te neem. a Daarbenewens vereis die regering dat onderwysers seminare bywoon waar militêre opleiding aangebied en die volkslied gesing word. Gevolglik het honderde Getuie-onderwysers hulle werk verloor. In 2010 het die Rwandese regering vereis dat alle staatsamptenare aan ’n seremonie deelneem waartydens hulle trou aan die landsvlag moes sweer. Baie van Jehovah se Getuies wat staatsamptenare is, het dus hulle werk verloor.

Ondanks hierdie uitdagings is Jehovah se Getuies in Rwanda dankbaar omdat hulle godsdiensvryheid geniet. Hulle hoop dat Rwandese amptenare mettertyd sal besef dat hulle neutrale politieke standpunt geen bedreiging vir die regering inhou nie.

a Jehovah se Getuies beskou deelname aan patriotiese seremonies as ’n daad van aanbidding en ’n skending van God se bevel om slegs hom te aanbid. Hoewel hulle nie self aan sulke seremonies deelneem nie, respekteer hulle die reg van ander om dit te doen.