Spring na inhoud

Broer Aleksandr Serebrjakof in aanhouding by ’n hof in Moskou

18 DESEMBER 2024
RUSLAND

Aleksandr Serebrjakof ’n tweede keer skuldig bevind en ’n tronkvonnis van vyf jaar gegee

Aleksandr Serebrjakof ’n tweede keer skuldig bevind en ’n tronkvonnis van vyf jaar gegee

Op 13 Desember 2024 het die Sawelofski-distrikshof van Moskou broer Aleksandr Serebrjakof skuldig bevind en hom ’n tronkvonnis van vyf jaar gegee. Hy was voorheen op 8 Augustus 2022 verhoor en skuldig bevind en is ’n opgeskorte tronkvonnis van ses jaar gegee.

Terwyl Aleksandr die eerste jaar van sy opgeskorte tronkvonnis uitgedien het, het FSB-amptenare weer sy huis deursoek en hom gearresteer. Die volgende dag, op 20 September 2023, het die owerhede hom in aanhouding voor sy verhoor geplaas, waar hy gebly het totdat hy tronk toe gestuur is.

In albei die kriminele sake is Aleksandr daarvan aangekla dat hy die godsdiensvergaderinge en bedrywighede van Jehovah se Getuies organiseer. Gedurende hierdie tweede verhoor het Aleksandr in sy laaste woorde voor die hof gesê: “Die apostel Paulus het geskryf dat ‘almal wat met toegewydheid aan God as ’n volgeling van Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word’ (2 Timoteus 3:12). Paulus was ten minste twee keer as gevolg van sy geloof verhoor, en hy het lojaal gebly. Net soos hy, is ek vasbeslote om my liefde vir God te wys. Ek dank Jehovah dat hy my die krag en innerlike vrede gegee het en my ook gehelp het om ’n positiewe gesindheid te behou. Dit is alles tot sy eer!”

Terwyl ons vir Aleksandr bid, is ons oortuig daarvan dat Jehovah sal aanhou om ’n vesting te wees vir almal wat beskerming by Hom soek. – Nahum 1:7.