Spring na inhoud

8 JUNIE 2015
OEKRAÏNE

Howe in die Oekraïne erken reg op gewetensbeswaar tydens militêre mobilisasie

Howe in die Oekraïne erken reg op gewetensbeswaar tydens militêre mobilisasie

Weens burgerlike onrus en oorlog in die oostelike streke van die Oekraïne het die president van die Oekraïne in die somer van 2014 beveel dat die weermag gedeeltelik gemobiliseer word. Witali Sjalaiko, ’n voormalige soldaat in die Oekraïense leër en nou een van Jehovah se Getuies, is as gevolg van die bevel opgeroep. Toe mnr. Sjalaiko voor die plaaslike Militêre Kommissariaat verskyn het, het hy gesê dat hy ’n gewetensbeswaarde is en dat hy bereid is om niemilitêre alternatiewe diens te doen.

Die militêre kantoor het mnr. Sjalaiko die reg op gewetensbeswaar geweier en ’n kriminele aanklag van dienspligontduiking gedurende mobilisasie ingedien. Dit is die eerste aanklag wat gedurende die huidige konflik in die Oekraïne ingedien is teen iemand wat tydens mobilisasie op grond van godsdiensoortuigings diensplig weier.

As ’n voormalige soldaat verstaan mnr. Sjalaiko dat die regering daarin belangstel om sy gesag te beskerm en die verpligting het om sy burgers se veiligheid te verseker. Maar mnr. Sjalaiko het die oproep tot diensplig opgeweeg teen die Bybelbeginsel om ‘aan die keiser te gee wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort’. * As ’n Christenbedienaar voel hy verplig om menselewe te respekteer en ten alle tye en teenoor alle mense liefde aan die dag te lê. *

Voor die hof: Is alternatiewe diens ’n ontduiking van diensplig?

Op 13 November 2014 het die Nowomoskofsk-distrikshof in die Dnipropetrofsk-streek die strafsaak verhoor waarin mnr. Sjalaiko daarvan aangekla is dat hy diensplig gedurende mobilisasie ontduik het. Dit het bevind dat hy nie militêre beamptes en ondersoekers ontduik het nie, maar dat hy eerder opgedaag het wanneer die weermag hom opgeroep het. Die hof het beslis dat mnr. Sjalaiko “die reg het om diensplig, insluitende diensplig gedurende mobilisasie, met alternatiewe diens te vervang omdat hy aan ’n godsdiensorganisasie behoort met godsdiensleringe wat nie die gebruik van wapens toelaat nie”.

Wat meer is, die distrikshof het bevestig dat mnr. Sjalaiko se reg op alternatiewe diens “deur die Grondwet van die Oekraïne gewaarborg word”. Dit het verder erken dat die Europese Konvensie oor Menseregte * en die beslissings deur die Europese Hof van Menseregte (EHMR) godsdiensvryheid beskerm. Die regter het mnr. Sjalaiko vrygespreek op die aanklag van dienspligontduiking tydens mobilisasie. Die aanklaer het appèl aangeteken.

In die appèlhof: Is mobilisasie belangriker as gewetensvryheid?

In sy appèl het die aanklaer geredeneer dat die grondwetlike verpligting om die land te verdedig, belangriker is as die reg op godsdiensvryheid en op alternatiewe niemilitêre diens. Hy het aangevoer dat die EHMR se beslissings in verband met hierdie kwessie nie gedurende tye van mobilisasie van toepassing is nie.

Op 26 Februarie 2015 het die appèlhof van die Dnipropetrofsk-streek beslis dat “dienspligweiering gedurende mobilisasie weens gewetensbeswaar nie vergelyk kan word met dienspligontduiking sonder grondige redes nie”. In sy beslissing het die hof mnr. Sjalaiko se godsdiensoortuigings in ag geneem en verwys na beslissings deur die EHMR. Dit het gesê: “Sulke godsdiensoortuigings word beskerm deur Artikel 9 van die [Europese] Konvensie” *, wat vryheid van denke, gewete en godsdiens waarborg.

Die appèlhof het ook erken dat besorgdheid oor “staatsveiligheid” volgens Artikel 9 van die Europese Konvensie oor Menseregte “nie as ’n verskoning gebruik mag word om die beoefening van gewaarborgde regte te beperk nie”. Die regters het geredeneer dat “die reg op gewetensbeswaar nie in die belang van nasionale veiligheid beperk mag word nie”. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat die Oekraïne se wet omtrent die reg op alternatiewe diens selfs gedurende tye van mobilisasie geldig is. Die appèlhof het die verhoorhof se beslissing bevestig en Witali Sjalaiko onskuldig verklaar.

Die beoefening van menseregte is nie ’n misdaad nie

Hierdie beslissings deur die verhoor- en appèlhof in die Oos-Oekraïne erken en bevestig die reg op gewetensbeswaar en alternatiewe burgerlike diens—selfs gedurende ’n nasionale noodtoestand. Die beslissings wat in mnr. Sjalaiko se saak gelewer is, stem ook ooreen met die vooruitgang in internasionale wetgewing wat die grondwetlike reg op gewetensbeswaar erken. *

Die aanklaer het egter appèl aangeteken en dieselfde argumente wat deur die appèlhof ondersoek en verwerp is, aan die Oekraïne se Gespesialiseerde Hoër Hof vir Burgerlike en Strafsake voorgelê. Op 30 April 2015 het mnr. Sjalaiko se regsverteenwoordiger ’n beswaar teen die aanklaer se appèl ingedien.

Witali Sjalaiko is een van duisende Oekraïense Getuies wat vir diensplig opgeroep is. Hulle reageer eerbiedig daarop en vra toestemming om alternatiewe diens te doen wat nie in stryd is met hulle vaste godsdiensoortuigings nie. Toestemming word gewoonlik gegee, en min Getuies is tot dusver vervolg. Dit is nou die verantwoordelikheid van die Oekraïne se hoër hof om te bevestig dat die Oekraïne die Getuies se versoek om as gewetensbeswaardes erken te word, sal respekteer.

^ par. 7 In 1997 het die Oekraïne die Europese Konvensie oor Menseregte bekragtig.

^ par. 10 Die appèlhof se beslissing het spesifiek verwys na die EHMR-beslissings in die sake Jehovah se Getuies van Moskou en ander teen Rusland en Bayatan teen Armenië.

^ par. 13 Sien Bayatyan teen Armenië [GC], nr. 23459/03, §§ 98-111, EHMR 2011; Jeong en ander teen die Republiek van Korea, UN Doc CCPR/C/101D/1642-1741/2007 (24 Maart 2011) §§ 7.2-7.4.