26 MEI 2020
ITALIË
’n Onderhoud met ’n dokter in ’n ongevalle-afdeling in Italië
Broer Giandomenico Gullà werk as ’n dokter in ’n ongevalle-afdeling by die hospitaal in Erba, naby Como, Italië. Hy is veral geraak deur die COVID-19-pandemie. Maar ons broer se geloof gee hom innerlike vrede, en daarom kan hy ander vertroos (2 Korintiërs 1:4). Ons kan dit sien uit die ondervindinge wat hy onlangs vertel het in ’n onderhoud met die Openbare Inligtingsafdeling by die takkantoor in Italië.
Hier is ’n deel van die onderhoud wat met broer Gullà gevoer is, en dit is ’n bietjie aangepas om dinge duidelik te maak.
Kan jy vir ons van ’n paar dinge vertel wat gedurende hierdie pandemie gebeur het?
Giandomenico Gullà: By die hospitaal waar ek werk, het alles so skielik gebeur, net soos ’n tsoenami. Die hele hospitaal is geherorganiseer om afdelings te skep wat net COVID-19-pasiënte behandel. In hierdie hartseer situasie word die pasiënte in afsondering gesit en kan hulle nie fisiese kontak hê met hulle onmiddellike gesin, familielede of vriende nie. So ek is die een wat die familie bel om vir hulle te sê hoe dit met die pasiënte gaan. Ek moes eenkeer in die middel van die nag vir ’n seun sê dat sy ma besig was om te sterf. Toe gebruik ek my selfoon om ’n video-oproep te maak. Dit het die seun toegelaat om sy ma een laaste keer te sien, al was sy al klaar in ’n koma. Dit was baie hartseer.
Hoe vertroos die kennis in die Bybel jou?
GG: Ek het opgelet dat party van my kollegas verlore en baie ontsteld is. Maar my studie van die Bybel het my regtig gehelp om nie oorweldig te voel nie. Ek besef nou meer as ooit te vore dat Jehovah ons vir hierdie moeilik tye voorberei het. Omdat ek weet dat hierdie pandemie verdere bewys is dat Bybelprofesie vervul word, help dit my om die regte perspektief van die situasie te hê. My geloof het baie sterker geword.
Hoe help die vertroosting van Jehovah jou om ander te vertroos?
GG: Ek voel Sy gees op ’n baie kragtige manier. Dit help my met my gesin en by die werk, en dit laat my toe om die broers te ondersteun wat deur moeilike tye gaan as gevolg van die pandemie.
Kan jy verduidelik hoe Jehovah jou help om jou gesin te vertroos?
GG: Al moet ek langer ure by die hospitaal werk, probeer ek om ’n goeie geestelik roetine met my gesin te behou. Ek het opgelet dat dit my vrou goed doen. Ons voel nader aan mekaar. Ons gesinsaanbidding help ook om ons dogter, Ginevra, wat amper drie jaar oud is, te vertroos. Sy voel ook aan dat iets verander het, en ons weet sy is bang wanneer sy dinge sê soos: ‘Ek wil nie hê Pappa moet gaan werk nie, want daar is koronavirus’ of ‘Ek is bang dat Pappa nie weer gaan terugkom nie’. Om haar te kalmeer, speel ons die Broadcasting-liedjies, en dan glimlag sy gou weer.
Kan jy ’n voorbeeld gee van hoe jy een van jou kollegas kon vertroos?
GG: ’n Kollega wat saam met my in die afdeling werk, het onlangs die Bybel begin studeer. Ek het hom ’n paar jaar gelede ontmoet by die hospitaal waar ek toe gewerk het, en ons het gereeld gesprekke oor die Bybel gehad. Hy het die Bybel begin studeer net voordat die pandemie uitgebreek het, en hy het besluit om aan te hou. Op die oomblik studeer ons die Bybel deur middel van video-oproepe, soms tot twee keer per week. Dit het my hart geraak toe hy vir my gesê het: “Die Bybelstudie help my om my lewe agtermekaar te kry. Dit maak my baie rustig. Ek kry antwoorde op baie vrae soos: ‘Wat is die doel van die mens se bestaan?’ en ‘Hoekom is ons in hierdie situasie?’. Die geloof wat ek opbou, maak my stabiel en gee my hoop vir die toekoms.”
Hoe kon jy broers en susters in die gemeente vertroos?
GG: Ongelukkig het ’n suster in my gemeente [suster Daniela Sgreva] positief getoets vir COVID-19, en sy moes na die hospitaal toe gebring word. Ek het twee broers gekontak wat ’n ambulans besit, en ons het gereël dat sy hospitaal toe gebring word. Die broers het meer as 50 kilometer gereis om haar op te tel. Sy was baie bly toe sy hulle sien! Toe sy by die hospitaal onder hierdie moeilike omstandighede aankom, was sy baie vertroos toe ons haar in die ongevalle-afdeling kry. Ek het haar verwelkom en omdat ons almal mediese personeel is, was sy omring deur broers wat by haar kon wees! Sy was baie versterk deur die liefde en ondersteuning wat sy by die broers gekry het. Sy was dankbaar en het gesê: “Ek weet dat Jehovah ons verstaan, maar hierdie keer het hy meer gedoen as wat ek ooit kon verwag het!”
Ek vertrou elke dag meer en meer op Jehovah en sy krag. Wanneer ek werk toe ry en dan later in die dag weer huis toe gaan, luister ek na Broadcasting-liedjies in my kar. Dit gee my die krag wat ek nodig het vir die dag. Ek sê dankie vir Jehovah vir al sy hulp en terwyl ek na die liedjie Jehovah is altyd aan ons sy luister, herhaal ek vir myself: ‘Jehovah’s altyd aan my sy. Hy neem my hand, help dat ek verstaan; dis als die moeite werd.’