14 JUNIE 2022
FILIPPYNE
Vyf-en-sewentig jaar van sendingwerk in die Filippyne
Op 14 Junie 1947 het ’n skip met drie mans, broer Lorenzo Alpiche, Earl Stewart en Victor White, in Manila aangekom. Hulle was die eerste Getuiesendelinge in die Filippyne. ’n Vierde Gileadopgeleide sendeling, broer Nick Skelparick, het omtrent ’n maand later by die groep aangesluit.
Hierdie broers was goed opgelei en gereed om te werk. Kort voor lank was hulle besig om die 2 400 verkondigers wat alreeds deelgeneem het aan die predikingswerk regoor die Filippyne, te help. Teen 1958, net 11 jaar later, het die gemiddelde getal Koninkrykspredikers tot oor die 23 000 vermeerder. Vandag, 75 jaar nadat die eerste sendelinge daar aangekom het, het die getal aanbidders van Jehovah in die Filippyne tot meer as 230 000 gegroei.
Dit was nie toevallig dat die sendelinge daar aangekom het nie. Minder as drie maande vantevore, vanaf 31 Maart tot 2 April 1947, het broer Nathan H. Knorr, wat toe die president van die Wagtoringgenootskap was, by ’n onvergeetlike streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Manila gepraat. Broer Knorr het die gehoor verseker dat Gileadopgeleide sendelinge binnekort na die land gestuur sou word. Hulle sou help om die predikingswerk te herorganiseer ná die verwoesting wat die Tweede Wêreldoorlog veroorsaak het.
Op die laaste dag van die streekbyeenkoms is 151 broers en susters in Manila-baai gedoop met skepe wat as gevolg van die oorlog gesink het in die agtergrond. Later daardie dag het broer Knorr die openbare toespraak “Die vreugde van al die nasies” voor ’n gehoor van 4 200 gegee. Die toespraak is gelyktydig oor die radio aan duisende luisteraars regoor die land uitgesaai. Broer Knorr en broer Milton Henschel, ook van die wêreldhoofkwartier, het aanmoediging uit die Bybel aan die broers gegee om hulle te help om op ’n georganiseerde manier met die predikingswerk aan te hou.
Broer Denton Hopkinson, ’n sendeling wat vanaf 1954 in die Filippyne dien, kyk terug op die bedrywigheid van die afgelope 75 jaar. Hy vertel: “Daardie eerste sendelinge wat in 1947 aangekom het, het baie gedoen om die gemeentes aan te moedig, te organiseer en voor te berei vir die groot vermeerdering wat sou kom.”
Ons is dankbaar teenoor ons hemelse Vader, Jehovah, dat hy die harde werk van sy knegte in die Filippyne en regoor die wêreld seën. – Jesaja 60:22.