Spring na inhoud

ERITREA

In die tronk weens hulle geloof – Eritrea

In die tronk weens hulle geloof – Eritrea

Die regering in Eritrea arresteer en sit Jehovah se Getuies al jare lank in die tronk – insluitende vrouens en bejaardes – sonder dat hulle verhoor of formeel aangekla word. President Afwerki het die Getuies se burgerskap weggeneem in ’n presidensiële besluit op 25 Oktober 1994. Die rede hiervoor is omdat hulle nie wou deelneem aan die referendum oor onafhanklikheid in 1993 nie en omdat hulle op grond van hulle gewete weier om militêre diens te doen. Die regering in Eritrea het regte alternatiewe burgerlike diens aangebied voordat hulle mense gedwing het om militêre diens te doen. Baie Getuies het alternatiewe burgerlike diens gedoen onder verskillende regerings wat oor die jare in die land was. Die regering het “Sertifikate van Voltooide Nasionale Diens” uitgegee en dikwels mense wat hieraan deelgeneem het, geprys vir hulle werk. Maar op grond van die presidensiële besluit het veiligheidsmagte Jehovah se Getuies in die tronk gesit, gemartel en geteister om hulle te probeer dwing om hulle geloof op te gee.

Op hierdie stadium is daar 67 Getuies van Jehovah in die tronk (37 mans en 30 vrouens). In September 2024 het hierdie getal aansienlik gestyg toe die polisie by ’n huis waar ’n vreedsame godsdiensvergadering gehou is, ingestorm en 24 mense gearresteer het. Twee minderjarige kinders is later vrygelaat. ’n Paar dae later is ’n 85-jarige Getuievrou gearresteer. Al 23 Getuies is toe na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas. Op 7 Desember 2024 is een van die Getuies, Saron Ghebru, nege maande swanger met haar eerste kind, vrygelaat, en op 15 Januarie 2025 is die 81-jarige Mizan Gebreyesus vrygelaat.

Op 1 November 2024 het polisiebeamptes weer die Getuies geteiken en hierdie keer vier Getuiestudente, tussen die ouderdomme van 16 en 18, gearresteer. Hulle is ondervra en onmiddellik na die Mai Serwa-tronk geneem. Op 22 November het beamptes Almaz Gebrehiwot se jong dogter van haar skool af na die polisiestasie geneem. Toe Almaz na die polisiestasie gegaan het om haar dogter te gaan haal, het die beamptes haar dogter vrygelaat maar Almaz toe in hegtenis geneem. Almaz word op die oomblik by die 5de Polisiestasie in Asmara aangehou.

Baie slegte toestande in die tronk

Die Getuies kry baie swaar as gevolg van die aaklige toestande in Mai Serwa en ander gevangeniskampe. Gevangenes word in klein oorvol selle gesit waar daar nie genoeg plek is om plat te lê nie. En hulle moet styf langs mekaar op hulle sy slaap. Daar is geen sanitêre geriewe nie. Beide mans en vrouens mag net op sekere tye – twee keer per dag – hulle behoefte doen terwyl hulle deur die soldate dopgehou word. Daar is swak mediese sorg en ’n onvoldoende voorraad kos en water.

Hierdie aaklige toestande het gelei tot die dood van vier Getuies wat in Eritrea in die tronk was, en drie bejaarde Getuies het gesterf nadat hulle uit die tronk vrygelaat is as gevolg van die baie slegte toestande wat hulle in die tronk deurgemaak het.

  • In 2011 en 2012 het twee Getuies gesterf as gevolg van die onmenslike behandeling in die Meitir-gevangeniskamp. Misghina Gebretinsae was 62 jaar oud toe hy in Julie 2011 gesterf het as gevolg van die verskriklike hitte wat hy moes verduur terwyl hy in ’n “ondergrondse” aanhoudingsplek was. Yohannes Haile, wat 68 jaar oud was, het op 16 Augustus 2012 gesterf, ná byna vier jaar van gevangenskap onder soortgelyke toestande.

  • Drie bejaarde Getuies, Kahsai Mekonnen, Goitom Gebrekristos en Tsehaye Tesfamariam, het, nadat hulle uit die tronk vrygelaat is, gesterf as gevolg van die haglike toestande wat hulle deurgemaak het terwyl hulle in die Meitir-kamp was.

  • Twee Getuies het in 2018 gesterf nadat hulle na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas is. Habtemichael Tesfamariam was 76 jaar oud toe hy op 3 Januarie 2018 gesterf het, en Habtemichael Mekonnen was 77 jaar oud toe hy op 6 Maart 2018 gesterf het. Die regering in Eritrea het albei mans in 2008 in die tronk gesit sonder dat hulle van enigiets aangekla is.

Onbepaalde tronkvonnisse

Die meeste Getuie-mans word vir ’n onbepaalde tyd tronk toe gestuur met geen hoop om vrygelaat te word nie, tensy hulle doodgaan of amper dood is. Omdat daar geen doeltreffende plaaslike regstappe of wetlike oplossings vir hulle beskikbaar is nie, beteken dit dat hulle in werklikheid tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.

Tydlyn

  1. 20 Januarie 2025

    Altesaam 67 Getuies is in die tronk.

  2. 22 November 2024

    Almaz Gebrehiwot word gearresteer omdat sy weier om by die land se politieke party aan te sluit.

  3. 1 November 2024

    Vier Getuiestudente word gearresteer en na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas.

  4. 27 September 2024

    Drie-en-twintig Getuies word gearresteer en na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas; twee is later vrygelaat.

  5. 1 Februarie 2021

    Drie Getuies is uit die tronk vrygelaat.

  6. 29 Januarie 2021

    Een Getuie is uit die tronk vrygelaat.

  7. 4 Desember 2020

    Agt-en-twintig Getuies is uit die tronk vrygelaat.

  8. 6 Maart 2018

    Habtemichael Mekonnen, 77 jaar oud, sterf nadat hy na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas is.

  9. 3 Januarie 2018

    Habtemichael Tesfamariam, 76 jaar oud, sterf nadat hy na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas is.

  10. Julie 2017

    Al die Getuies wat in die Meitir-kamp gevange gehou is, word na die Mai Serwa-tronk buite Asmara oorgeplaas.

  11. 25 Julie 2014

    Die meeste van dié wat op 14 April in hegtenis geneem is, word vrygelaat, maar 20 van dié wat op 27 April in hegtenis geneem is, word nog aangehou.

  12. 27 April 2014

    Een-en-dertig Getuies word gedurende ’n vergadering vir Bybelstudie in hegtenis geneem.

  13. 14 April 2014

    Meer as 90 Getuies word gedurende die jaarlikse Herdenking van Christus se dood in hegtenis geneem.

  14. 16 Augustus 2012

    Yohannes Haile, 68 jaar oud, sterf in gevangenskap onder uiterste toestande.

  15. Julie 2011

    Misghina Gebretinsae, 62 jaar oud, sterf in gevangenskap onder uiterste toestande.

  16. 28 Junie 2009

    Gedurende ’n godsdiensvergadering voer die owerheid ’n klopjag op ’n Getuiehuis uit en neem hulle al 23 Getuies daar teenwoordig in hegtenis, tussen die ouderdomme van 2 en 80.

  17. 28 April 2009

    Die owerheid verskuif al Jehovah se Getuies, buiten een, wat in polisiestasies aangehou word, na die Meitir-gevangeniskamp.

  18. 8 Julie 2008

    Die owerheid begin klopjagte op huise en werksplekke uitvoer om 24 Getuies in hegtenis te neem, waarvan die meeste broodwinners is.

  19. Mei 2002

    Die regering verbied alle godsdiensgroepe wat nie onder die vier godsdienste funksioneer wat deur die regering goedgekeur word nie.

  20. 25 Oktober 1994

    ’n Presidensiële besluit ontneem Jehovah se Getuies hulle burgerskap en basiese burgerregte.

  21. 17 September 1994

    Paulos Eyassu, Isaac Mogos en Negede Teklemariam word sonder aanklag of verhoor opgesluit.

  22. 1950’s

    Eerste gemeenskappe van Jehovah se Getuies word in Eritrea gevorm.