Spring na inhoud

Die “Rondom die wêreld”-byeenkoms van lank gelede

Die “Rondom die wêreld”-byeenkoms van lank gelede

Vyftig jaar gelede het 583 van Jehovah se Getuies vertrek op ’n tien weke lange reis wat hulle rondom die wêreld sou neem. Maar hulle was nie gewone toeriste nie. Hulle hoofdoel was om opbouende Christelike assosiasie te geniet by die reeks byeenkomste wat in 1963 gehou is, met die tema “Ewige goeie nuus”. Omdat afgevaardigdes gereis het om saam met Getuies in meer as 20 lande bymekaar te kom, is hierdie reeks byeenkomste die “Rondom die wêreld”-byeenkoms genoem.

’n Glanspunt van elke byeenkoms was die toespraak met die titel “Wanneer God koning is oor die hele aarde”. Nathan Knorr van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies het hierdie toespraak by die meeste byeenkomste gehou. Hy het die wêreld se verslegtende toestande beskryf en dit vergelyk met die Bybel se wonderlike belofte dat die Paradys op aarde herstel sal word. Wêreldwyd het altesaam 580 509 hierdie toespraak bygewoon.

“Rondom die wêreld” in tien weke

Die byeenkomste het in Milwaukee, Wisconsin, VSA, begin. Daarvandaan het die afgevaardigdes ooswaarts gereis. Ná die byeenkoms in New York het hulle Engeland, Swede, Duitsland en Italië besoek. By elke plek het hulle geleenthede gevind om die goeie nuus waarvan die Bybel praat, bekend te maak.

Baie van die plaaslike mense het dit waardeer dat die Getuies die tyd geneem het om hulle te besoek. ’n Jong vrou in Stockholm, Swede, het gesê: “Ek sal julle besoek vir die res van my lewe onthou. . . . Het julle werklik so ver gekom om met my oor julle geloof in God te praat? Julle is werklik bewonderenswaardig.”

Die afgevaardigdes was ietwat teleurgesteld toe hulle Atene, Griekeland, bereik het. Die regering het voor druk van plaaslike godsdiensleiers geswig en die permit vir die byeenkoms by die Panathinaikos-stadium gekanselleer. Maar dit het nie die ywerige Getuies afgeskrik nie. Teen die einde van Augustus het byna 10 000 die program bygewoon, wat in huise en plaaslike gemeentes gehou is.

Ná Atene het die afgevaardigdes na Libanon, Jordanië, Israel en Siprus gereis. Hulle medegelowiges het hulle gasvry ontvang, soms met amuserende gevolge. In Nicosia, Siprus, het een afgevaardigde ’n raaiselagtige storie oor sy skoene vertel: “Elke keer wanneer ek by die huis [van my gasheer] gekom en my skoene uitgetrek het . . . , het dit verdwyn . . . maar weer vyf minute later verskyn, gepoets en blink!”

Die laaste skof van die reis het die byeenkomsgangers deur Asië en die Stille Oseaan-gebied geneem. In Indië, Birma (nou Mianmar), Thailand, Hongkong, Singapoer, die Filippyne, Indonesië, Australië, Taiwan, Japan, Nieu-Seeland, Fidji en Korea het die afgevaardigdes saam met duisende plaaslike Getuies vergader. Baie mense het hulle roosters aangepas om die byeenkoms by te woon, maar niemand het moontlik so ’n groot aanpassing gemaak soos ’n jong verloofde paartjie in Yokosuka, Japan, nie. Toe die man sy werkgewer verlof vra om die byeenkoms in Kioto by te woon, het hy vir hom gesê dat verlof slegs vir begrafnisse en troues toegestaan word. Aangesien die paartjie alreeds van plan was om te trou, het hulle hulle troue vervroeg. Hulle het hulle wittebrood by die byeenkoms deurgebring!

Die reis het vroeg in September met byeenkomste in Hawaii en Kalifornië, VSA, geëindig. By die laaste byeenkoms in Pasadena, Kalifornië, het die bywoningsyfer alle verwagtinge ver oortref. Gevolglik was daar ná die laaste sessie groot verkeersknope. Ten spyte hiervan het ’n plaaslike koerant die polisiehoof aangehaal, wat gesê het: “Die mense se gedrag was die beste wat ek nog ooit by so ’n groot byeenkoms gesien het.”

Blywende gevolge

Die gevolge van hierdie byeenkomste kan nou nog gesien word. Die Bybelnaslaanwerk “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” is by hierdie byeenkoms vrygestel, en hierdie publikasie word nog steeds by die vergaderinge van Jehovah se Getuies gebruik.

Harold King kort ná sy vrylating uit ’n gevangenis in China

’n Nuwe lied is by die byeenkoms in New York bekendgestel. Dit is gekomponeer deur Harold King, ’n Getuie wat in 1963 uit ’n Chinese gevangenis vrygelaat is. Die titel van die lied was “Van deur tot deur”. Harold King het hierdie lied gekomponeer terwyl hy in alleenopsluiting was, en Jehovah se Getuies sing nog steeds ’n weergawe van hierdie lied, wat nou bekend staan as “Van huis tot huis”.

Byeenkomste van Jehovah se Getuies is vandag baie anders. Kleiner vergaderplekke beteken minder mense. Byeenkomste op meer plekke beteken dat diegene wat dit bywoon, nie so ver hoef te reis nie. Hierdie en ander vereenvoudigings beteken dat meer mense op die program kan konsentreer. Meer as sewemiljoen Getuies en hulle gaste woon elke jaar ons byeenkomste by. Wil jy graag vanjaar ’n byeenkoms saam met ons bywoon? Vind ’n byeenkomsplek naby jou.