Fotogalery 1 van Brittanje (Januarie tot Augustus 2015)
Jehovah se Getuies in Brittanje is besig om hulle takkantoor 70 kilometer oos te verskuif van Mill Hill, Londen, tot naby die stad Chelmsford, Essex. Tussen Januarie en Augustus 2015 het werkers die voorbereidingsterreine gereedgemaak sodat die bouwerk kan begin.
23 Januarie 2015—Takkantoorbouterrein
Werkers het toestemming van plaaslike owerhede gekry om afgekapte bome te verwyder om plek te maak vir toekomstige ontwikkeling. Hulle het seker gemaak dat hulle klaar is voordat die voëls se broeityd begin. Die houtspaanders word gebruik om veilige paadjies vir voetgangers te maak en die hout word gehou om tydens die projek te gebruik.
30 Januarie 2015—Voorbereidingsterrein vir die eetsaal
’n Elektrisiën installeer elektriese muurproppe vir video-skerms in ’n voormalige motel. Dit word nou in ’n kombuis en eetsaal omskep. Konstruksiewerkers sal geestelike programme soos oggendaanbidding en die Bethelgesin se Wagtoring-studie op die skerms kan kyk.
23 Februarie 2015—Takkantoorbouterrein
Werkers installeer veiligheidsheinings wat uiteindelik groot dele van die bouterrein sal omhein. Aangesien dit ’n baie landelike gebied is, word maatreëls getref om seker te maak dat die bouwerk ’n minimale impak op die plaaslike natuurlewe het. Onderaan die heining is daar byvoorbeeld ’n opening van 20 sentimeter gelaat om ratels wat kos soek, toe te laat om met hulle gewone nagtelike bedrywighede voort te gaan.
23 Februarie 2015—Takkantoorbouterrein
’n Tydelike pad word gebou om die voorbereidingsterrein vir die woongeboue met die hoofbouterrein te verbind.
5 Maart 2015—Takkantoorbouterrein
Uitsig van die ooste wat die voltooide tydelike pad aandui. Bo in die regterhoek wys dit hoe die pad met die hoofbouterrein verbind is. Onder links is die buitegeboue wat in woonstelle vir konstruksiewerkers omskep word. Wooneenhede sal op die aangrensende veld opgerig word.
20 April 2015—Voorbereidingsterrein vir die woongeboue
’n Lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies en ’n ander hoofkwartierverteenwoordiger het die bouspan besoek. ’n Spesiale vergadering is later daardie week na alle Koninkryksale in Brittanje en Ierland uitgesaai. Daar is aangekondig dat die stadsraad van Chelmsford die vorige aand hulle aanvanklike goedkeuring gegee het dat die projek kan voortgaan.
13 Mei 2015—Hoofvoorbereidingsterrein
Werkers installeer ’n stelsel om die wortels van twee ou akkerbome te beskerm. Hierdie spesiale pad verbind die hoofvoorbereidingsterrein en die hoofbouterrein en verhoed dus dat die verbygaande swaar toerusting die boomwortels beskadig.
21 Mei 2015—Voorbereidingsterrein vir die woongeboue
Lede van die voorbereidingspan grawe slote vir die tydelike behuising se nutsdienste. Op die agtergrond is die eerste van 50 eenhede waar konstruksiewerkers tydens die projek sal bly.
16 Junie 2015—Voorbereidingsterrein vir die woongeboue
’n Loodgieter installeer waterpype vir een van die tydelike wooneenhede.
16 Junie 2015—Voorbereidingsterrein vir die woongeboue
Uitsig van die ooste waar die nuwe tydelike wooneenhede is. Op die voorgrond word voorbereiding gedoen vir die fondasies van bykomende wooneenhede. Links is die buitegeboue van die voorbereidingsterrein vir die woongeboue wat ’n eetsaal vir konstruksiewerkers insluit. Die takkantoor sal agter in die middel op die terrein gebou word.
16 Junie 2015—Voorbereidingsterrein vir die woongeboue
’n Tegnikus verdeel veseloptiese kabel in die telekommunikasiekamer. Aan die begin van die projek was ’n rekenaarnetwerk en ’n Internetverbinding nodig om al die bouverwante bedrywighede te bestuur, om met ander takkantore te kommunikeer en om die werk onder die leiding van die wêreldhoofkwartier te koördineer.
6 Julie 2015—Takkantoorbouterrein
’n Kontrakteur gebruik ’n GPS-toestel om afmetings te maak vir slote. Hierdie slote help argeoloë om die terrein te evalueer voordat die bouwerk begin. Hoewel nabygeleë Chelmsford deur die Romeine gekoloniseer is, is daar geen betekenisvolle artefakte gevind toe die 107 slote tydens die eerste fase van hierdie evaluasie gegrawe is nie.
6 Julie 2015—Hoofvoorbereidingsterrein
’n Werker sny ’n vorm vir deurkosyne in die regte grootte. Party van die geboue by die hoofvoorbereidingsterrein word opgeknap en in werkswinkels omskep. Tydelike kantore en ondersteuningsdienste sal ook hier geleë wees.
6 Julie 2015—Hoofvoorbereidingsterrein
’n Stortbakvragmotor word gelaai met sand wat as vulgrond sal dien.
7 Julie 2015—Takkantoorbouterrein
Uitsig van die Britse platteland van die suidelike deel op die terrein van 34 hektaar. ’n Nabygeleë hoofpad (nie op foto nie) voorsien goeie toegang tot seehawens, lughawens en die stad Londen.
23 Julie 2015—Takkantoorbouterrein
Kontrakteurs verwyder bestaande geboue om plek te maak vir die bou van die nuwe takkantoor.
20 Augustus 2015—Hoofvoorbereidingsterrein
’n Hyskraan van 60 ton laat sak panele van ’n voorafvervaardigde kantoor. Op die voorgrond is fondasies vir nog kantore al gelê. Hierdie kantore sal vir die koördinering van die projek gebruik word.