Spring na inhoud

Tyd om die Bossert-hotel te verlaat

Tyd om die Bossert-hotel te verlaat

In November 2012 het Jehovah se Getuies die Bossert-hotel verkoop. Die sleutels is aan die nuwe eienaar oorhandig, waarna die Getuies, soos tallose gaste, die hotel verlaat het. Die opbrengs van die verkoop sal vir die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk van Jehovah se Getuies gebruik word.

Die Getuies het die 14-verdiepinggebou in die Italiaanse Renaissancestyl verkoop omdat hulle hulle hoofkwartier van Brooklyn, New York, na die nuwe fasiliteite in Warwick, New York, sal verskuif. Hierdie hervestiging sal na verwagting ’n hele paar jaar neem.

Honderdjarige geskiedenis

Louis Bossert, ’n New Yorkse houthandelaar, het die Bossert in 1909 gebou. Dit was ’n “woonstelhotel” vir tydelike sowel as permanente bewoners. Omdat dit gou vol geraak het, het hy in 1914 ’n gedeelte aangebou sodat die gebou byna twee keer so groot was. In 1916 is daar op die dak ’n restaurant gebou, wat die “Marine Roof” genoem is.

Gedurende die 1980’s het Jehovah se Getuies die gebou gekoop en opgeknap om die hoofkwartierpersoneel daar te huisves. Werkers het die danssale in eetsale en die dakrestaurant in ’n informele sitkamer omskep vir die bewoners en hulle gaste.

Sedert 2010 is die gebou gebruik om Getuies van regoor die wêreld te huisves wat die hoofkwartierfasiliteite kom besoek het.

Die nuwe eienaar beplan om die gebou op te knap en dit as ’n hotel te gebruik. Die uitstekende toestand van die gebou sal die omskepping van die Bossert se eenvertrek- en eenslaapkamerwoonstelle in luukse hotelkamers vergemaklik.

Die opknapping

Voordat Jehovah se Getuies in die Bossert ingetrek het, is dit jare lank verwaarloos. Die wit buitemure was vuil, en die massiewe terracottakroonlys aan die bokant van die gebou was stukkend en struktureel gevaarlik. Die vensters was oud en het nie behoorlik toegemaak nie. Duiwe was die “Marine Roof” se enigste gaste. Daar is dus met ’n groot opknappingsprojek begin. Jehovah se Getuies van regoor die Verenigde State het hulle tyd en vaardighede vir die projek aangebied, wat in 1991 voltooi is.

Gedurende die opknapping het die Getuies die kalksteen-en-graniet-buitemure skoongemaak en herstel. Hulle het die kroonlys vervang met ’n presiese replika van ligte veselglas. Hulle het nuwe mahoniehoutvensterrame ingesit.

Hulle het ook die binnekant van die gebou opgeknap, waartydens spesiale aandag geskenk is aan die eens pragtige voorportaal. Om beskadigde marmermure te herstel, het hulle klip van die oorspronklike steengroef in Italië bekom. Werkers het ook die plafon se ryklik versierde pleisterwerk wat deur water beskadig is, gerestoureer.

Die massiewe ysterkolomme in die voorportaal was ’n groot uitdaging. Dit is oorspronklik afgewerk met scagliola, ’n Italiaanse pleistertegniek wat die voorkoms van marmer naboots. Maar vorige eienaars het telkemale daaroor geverf. Nie een van die vrywilligerwerkers het geweet hoe om die tegniek vir scagliola toe te pas nie. ’n Nabygeleë universiteitsbiblioteek het ’n boek gehad oor die prosedure om hierdie nagemaakte marmer voort te bring. Danksy hierdie inligting het die werkers ná weke daarin geslaag om die kolomme so af te werk dat dit byna net soos die oorspronklikes gelyk het.

Toe die opknapping in 1991 voltooi is, was die gebou prakties sowel as pragtig. Ter erkenning van die werk het die Bossert die Lucy G. Moses-bewaringstoekenning vir uitsonderlike bewaringswerk ontvang.