Plaas Jehovah se Getuies druk op mense om van godsdiens te verander?
Nee. Ons het al in ons hooftydskrif, Die Wagtoring, gesê: “Dit is verkeerd om druk op mense uit te oefen om van godsdiens te verander.” a Ons probeer om die volgende redes om nie druk op mense te plaas nie:
Jesus het nooit druk op mense geplaas om sy leringe te aanvaar nie. Hy het geweet dat betreklik min op sy boodskap sou reageer (Matteus 7:13, 14). Toe party van sy dissipels gestruikel is deur wat hy gesê het en hom wou verlaat, het hy nie druk op hulle geplaas om by hom te bly nie.—Johannes 6:60-62, 66-68.
Jesus het sy dissipels geleer om nie druk op ander te plaas om hulle oortuigings te verander nie. In plaas daarvan om mense te dwing om die goeie nuus van die Koninkryk aan te neem, moes sy dissipels soek vir mense wat met ’n ontvanklike hart sou luister.—Matteus 10:7, 11-14.
’n Bekering onder dwang is betekenisloos, aangesien God slegs aanbidding aanvaar wat uit die hart kom.—Deuteronomium 6:4, 5; Matteus 22:37, 38.
Is ons werk proselitisme?
Dit is waar dat ons die Bybel se boodskap “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” verkondig, “in die openbaar en van huis tot huis”, in ooreenstemming met die Bybel se opdrag (Handelinge 1:8; 10:42; 20:20). En soos die vroeë Christene word ons soms beskuldig van onwettige proselitisme (Handelinge 18:12, 13). Dit is egter valse beskuldigings. Ons probeer nie ons oortuigings op ander afdwing nie. Ons glo eerder dat mense die geleentheid gegee moet word om kennis in te neem sodat hulle ’n ingeligte besluit kan neem.
Ons dwing mense nie om van godsdiens te verander nie. Ons gebruik godsdiens ook nie as ’n dekmantel vir politieke bedrywighede nie en ons bied nie materiële of sosiale voordele om navolgers te kry nie. Party daarenteen wat beweer dat hulle Christene is, steek Christus in die skande deur die voorgenoemde dinge te doen. b
Het ’n persoon die reg om van godsdiens te verander?
Ja, die Bybel toon dat mense wel die reg het om van godsdiens te verander. Dit bevat verslae van baie mense wat gekies het om nie dieselfde godsdiens as hulle familie te beoefen nie en wat uit vrye wil besluit het om die ware God te aanbid. Abraham, Rut, party van die mense van Atene en die apostel Paulus is maar net ’n paar voorbeelde (Josua 24:2; Rut 1:14-16; Handelinge 17:22, 30-34; Galasiërs 1:14, 23). Wat meer is, die Bybel erken selfs dat mense die reg het om die onwyse besluit te neem om hulle rug te keer op die aanbidding wat God goedkeur.—1 Johannes 2:19.
Die reg om van godsdiens te verander, word deur die Universele Verklaring van Menseregte ondersteun, wat die Verenigde Nasies “die grondslag van internasionale wetgewing oor menseregte” genoem het. Hierdie dokument sê dat almal die “vryheid het om van godsdiens of oortuiging te verander” en “om inligting en idees te soek, te ontvang en aan ander bekend te maak”, en dit sluit godsdiensidees in. c Hierdie regte gaan natuurlik gepaard met die verpligting om die reg van ander mense te respekteer om by hulle oortuigings te bly en om idees te verwerp waarmee hulle nie saamstem nie.
Toon dit ’n gebrek aan eerbied vir familietradisies of -gebruike as ’n mens van godsdiens verander?
Nie noodwendig nie. Die Bybel sê dat ons almal moet respekteer, ongeag hulle godsdiens (1 Petrus 2:17). Daarbenewens gehoorsaam Jehovah se Getuies die Bybel se bevel om hulle ouers te eer, selfs as hulle ouers aan ’n ander godsdiens behoort.—Efesiërs 6:2, 3.
Nogtans stem almal nie saam met die Bybel se beskouing nie. ’n Vrou wat in Zambië grootgeword het, vertel: “As jy in my gemeenskap van godsdiens verander, . . . word dit beskou as ’n daad van ontrouheid, asof jy jou familie en gemeenskap verraai.” Sy moes hierdie probleem die hoof bied toe sy as ’n tiener die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het en kort daarna besluit het om van godsdiens te verander. Sy sê: “My ouers het herhaaldelik vir my gesê dat hulle baie ongelukkig is en dat ek hulle teleurgestel het. Dit was baie moeilik vir my, aangesien my ouers se goedkeuring vir my baie belangrik is. . . . My besluit om eerder aan Jehovah getrou te wees as aan godsdienstradisies, beteken nie dat ek ontrou is aan my familie nie.” d
a Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 2002, bladsy 12, paragraaf 15.
b Charlemagne het byvoorbeeld in omstreeks 785 HJ ’n verordening uitgevaardig wat die mense in Sakse wat hulle nie as Christene wou laat doop nie, die doodstraf opgelê het. Wat meer is, die Vrede van Augsburg, wat in 1555 HJ deur strydende partye in die Heilige Romeinse Ryk onderteken is, het gesê dat elke heerser van ’n gebied Rooms Katoliek of Luthers moet wees en dat almal onder sy heerskappy sy godsdiens moet aanneem. Almal wat geweier het om die heerser se godsdiens aan te neem, moes emigreer.
c Soortgelyke regte is ingesluit in die Afrika-handves van Mense- en Volkeregte, die Amerikaanse Verklaring van die Regte en Verpligtinge van die Mens, die Arabiese Handves van Menseregte van 2004, die ASEAN (Assosiasie van Suidoostelike Asiatiese Nasies) se Menseregteverklaring, die Europese Konvensie oor Menseregte en die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte. Maar selfs nasies wat beweer dat hulle sulke regte voorsien, bly nie altyd ten volle by die verpligting om dit te doen nie.
d Jehovah is die naam van die ware God soos dit in die Bybel geopenbaar word.