Hoe word Jehovah se Getuies vir hulle bediening opgelei?
Jehovah se Getuies ontvang gereeld opleiding in alle aspekte van hulle Christelike lewenswyse, insluitende hulle openbare bediening. Hierdie bediening is die werk wat Jesus sy volgelinge beveel het om te doen – die prediking en onderrigting van die goeie nuus van God se Koninkryk (Matteus 24:14; 28:19, 20). Ons ontvang hierdie opleiding by ons weeklikse vergaderinge en ons jaarlikse byeenkomste. Jehovah se Getuies wat verantwoordelikhede in die gemeente of in die organisasie het, ontvang verdere opleiding by spesiale Bybelskole.
In hierdie artikel
Watter opleiding ontvang Jehovah se Getuies?
Gemeentelike vergaderinge. Elke week woon ons twee vergaderinge by ons plekke van aanbidding by. Hierdie plekke word Koninkryksale genoem. Een vergadering word gewoonlik in die week gehou, en die ander vergadering oor die naweek. Enige iemand kan dit bywoon, en geen kollektes word geneem nie.
Die vergadering in die week. Ons leer hoe om beter te lees, gesprekke te hou, toesprake te gee en te preek en te onderrig. Die opleiding word deur middel van toesprake, besprekings, demonstrasies en video-aanbiedings voorsien. Hierdie opleiding help ons om meer effektief te wees terwyl ons die Bybel se boodskap met ander deel en persoonlike Bybelstudies met belangstellendes hou. Almal wat die vergaderinge bywoon, vind baat by hierdie opleiding. Maar nog belangriker, ons vergaderinge versterk ons geloof in God, ons liefde vir hom en ons liefde vir ons mede-aanbidders.
Die vergadering oor die naweek. Hierdie vergadering wat uit twee dele bestaan, begin met ’n Bybeltoespraak wat spesiaal vir die algemene publiek voorberei is. Die tweede deel van die vergadering is ’n vraag-en-antwoord-bespreking van ’n artikel wat in die studie-uitgawe van Die Wagtoring gepubliseer is. a Die artikels bespreek en verduidelik Bybelonderwerpe en -beginsels wat ons in ons bediening sowel as in ons persoonlike lewe help.
Byeenkomste. Elke jaar het ons drie groot byeenkomste, en elkeen van hulle word deur baie gemeentes bygewoon. Hierdie vreugdevolle geleenthede fokus op ’n spesifieke Bybelgebaseerde tema en sluit besprekings, demonstrasies, onderhoude en video’s in. Soos die geval is met ons gemeentelike vergaderinge, help byeenkomste ons om meer oor die Bybel te leer en om beter predikers en onderrigters van die goeie nuus te wees. Die publiek is ook welkom om dit by te woon, en daar word geen kollektes geneem nie.
Bybelskole vir Jehovah se Getuies
Vir verdere opleiding word party van Jehovah se Getuies genooi om verskeie Bybelskole by te woon. Na watter skole verwys ons? Wat is hulle doel, en hoe lank duur dit? En wie kan dit bywoon?
Pionierdiensskool
Doel: Om voltydse bedienaars wat pioniers b genoem word, op te lei om meer effektief in die predikings- en onderrigtingswerk te word. Die kursus sluit klasbesprekings, demonstrasies, toesprake en werkswinkels in.
Tydsduur: Ses dae.
Bywoning: Dié wat hulle eerste jaar as pioniers voltooi het, word genooi om dit by te woon. Party wat al lank as pioniers dien en nie in die afgelope vyf jaar die skool bygewoon het nie, sal dalk genooi word om dit weer by te woon.
Skool vir Koninkrykspredikers
Doel: Om gespesialiseerde opleiding aan ervare voltydse bedienaars te gee. Studente verbeter hulle predikings- en onderrigtingsvaardighede, en hulle studeer Bybelonderwerpe in diepte. Baie gegradueerdes word genooi om na gebiede te gaan waar meer predikers nodig is.
Tydsduur: Twee maande.
Bywoning: Pioniers kan aansoek doen om dit by te woon as hulle aan sekere vereistes voldoen en hulle omstandighede hulle toelaat om te dien waar daar hulp nodig is.
Skool vir Gemeentelike Ouermanne
Doel: Om ouermanne c te help om na hulle verantwoordelikhede in die gemeente om te sien. Dit sluit in onderrigting, herderswerk en om hulle liefde vir God en hulle mede-aanbidders te versterk. – 1 Petrus 5:2, 3.
Tydsduur: Vyf dae.
Bywoning: Pas aangestelde ouermanne sowel as ervare ouermanne wat nie in die afgelope vyf jaar die skool bygewoon het nie, word genooi om dit by te woon.
Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens
Doel: Om reisende bedienaars, wat kringopsieners d genoem word, op te lei om hulle verantwoordelikhede meer effektief uit te voer (1 Timoteus 5:17). Die kursus help hierdie Christenouermanne en hulle vrouens ook om dieper insig in die Bybel te kry.
Tydsduur: Een maand.
Bywoning: Nuwe kringopsieners en hulle vrouens word ná die eerste jaar in hulle toewysing genooi om dit by te woon. Daarna word hulle omtrent elke vyf jaar weer genooi.
Koninkryksbedieningskool
Doel: Om ouermanne en bedieningsknegte e te help om na hulle gemeentelike verantwoordelikhede om te sien terwyl hulle huidige situasies, neigings en behoeftes in gedagte hou (2 Timoteus 3:1). Die skool word elke paar jaar gehou.
Tydsduur: Verskil, dikwels een dag.
Bywoning: Kringopsieners, ouermanne en bedieningsknegte.
Betheldiensskool
Doel: Om lede van die Bethelgesin f te help om hulle werk suksesvol te doen en om hulle liefde vir God en vir mekaar te versterk.
Tydsduur: Vyf en ’n half dae.
Bywoning: Dit is ’n vereiste vir nuwe lede van die Bethelgesin om dit by te woon. Dié wat al lank by Bethel dien en nie die skool in die afgelope vyf jaar bygewoon het nie, sal dalk genooi word om dit weer by te woon.
Wagtoring-Bybelskool Gilead
Doel: Om die studente te help om ’n dieper waardering vir God se geskrewe Woord te ontwikkel en om hulle te help om toe te pas wat hulle leer (1 Tessalonisense 2:13). Die geestelik volwasse Christenmans en -vrouens wat Gilead bywoon, kan tot ’n groter mate in Jehovah se organisasie en die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk gebruik word. Gegradueerdes kan na die veld of na ’n takkantoor in hulle tuisland of in ’n ander land gestuur word.
Tydsduur: Vyf maande.
Bywoning: Takkantore nooi sekere voltydse bedienaars om aansoek te doen. Die skool word in die Verenigde State by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, gehou.
Skool vir Takkomiteelede en hulle Vrouens
Doel: Om Takkomiteelede g op te lei om toesig te hou oor die werk wat by ’n takkantoor gedoen word, asook oor die geestelike aktiwiteite van Jehovah se Getuies in die land of lande wat aan hulle takkantoor toegewys is.
Tydsduur: Twee maande.
Bywoning: Die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies nooi sekere Takkomiteelede en hulle vrouens om die skool by te woon wat by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, gehou word.
Waarop is die opleiding wat aan die Getuies gegee word, gebaseer?
Die Bybel is altyd die hoofhandboek vir die opleiding wat Jehovah se Getuies ontvang. Ons glo dat die Bybel deur God geïnspireer is en dat dit die heel beste onderrigting vir alle aspekte van die Christelike lewenswyse bevat. – 2 Timoteus 3:16, 17.
Moet Jehovah se Getuies vir hulle opleiding betaal?
Nee. Die opleiding is gratis. Die aktiwiteite van Jehovah se Getuies word deur vrywillige donasies ondersteun. – 2 Korintiërs 9:7.
a Die Bybel en ons Bybelstudiehulpe, insluitende video’s, is op ons webwerf, jw.org, beskikbaar.
b ’n Pionier is ’n voorbeeldige gedoopte Getuie – manlik of vroulik. Hulle begeerte is om elke maand ’n spesifieke aantal ure te spandeer om die Bybel se boodskap met ander te deel.
c Ouermanne is volwasse Christenmans wat uit die Bybel onderrig en vir Jehovah se volk sorg deur hulle te help en aan te moedig. Hulle word nie vir hierdie werk betaal nie.
d ’n Kringopsiener is ’n voltydse bedienaar wat elke week ’n ander gemeente in sy kring besoek. Hy moedig sy geestelike broers en susters aan deur middel van Bybelgebaseerde toesprake en deur saam met hulle in die bediening uit te gaan.
e Bedieningsknegte help hulle broers en susters deur ’n verskeidenheid praktiese dienste te lewer. Omdat hulle hierdie werk doen, kan die ouermanne meer tyd aan die onderrigtings- en herderswerk spandeer.
f Bethel is die naam van die takkantore van Jehovah se Getuies. Die voltydse bedienaars wat hier dien, ondersteun die aktiwiteite van die Getuies in die plaaslike takkantoor se gebied.
g ’n Takkomitee bestaan uit drie of meer geestelik volwasse manne.