IS DIT ONTWERP?
Die slym van die slymprik
Wetenskaplikes stel al lank belang in ’n gelatienagtige slym, of hidrojel, wat deur die slymprik gemaak word. Hoekom is hulle nuuskierig oor hierdie slym? Die hidrojel van ’n slymprik is al beskryf as die “sagste en mees elastiese biomateriaal waarvan ons weet”.
Dink hieraan: Die slymprik lyk soos ’n paling en woon op die bodem van die see. Wanneer ander visse die slymprik probeer eet, het die slymprik spesiale kliere wat ’n jel uitskei. Hierdie uitskeiding bevat proteïene wat slym vorm en ook duisende lang draadjies ander proteïene. Wanneer hierdie proteïene saambind, verander dit die water om die slymprik in ’n klewerige taai slym. Hierdie slym verstop die kieue van moontlike roofdiere, wat veroorsaak dat hulle die slymprik uitspoeg en dan wegvlug.
Die hidrojel van die slymprik is baie uniek. Elkeen van sy proteïendraadjies is ’n honderd keer kleiner as die wydte van ’n mensehaar en tot tien keer sterker as nylon. Wanneer dit in seewater vrygestel word, vorm die mengsel van slym en draadjies dieselfde soort struktuur as ’n delikate drie-dimensionele sif. Hierdie struktuur kan water hou wat tot 26 000 keer swaarder as sy eie gewig is. Om die waarheid te sê, die slym bestaan amper net uit water!
Wetenskaplikes het dit nog nie reggekry om slym te maak wat soos die hidrojel van die slymprik is nie. Een navorser sê: “Hierdie natuurlike stelsel is heeltemal te kompleks.” Maar wetenskaplikes beplan om die proteïendraadjies op ’n genetiese manier te maak deur bakterie te gebruik. Hulle doel is om ’n produk te ontwikkel wat lig, elasties en bioafbreekbaar is, en wat nie kan skeur nie. Sintetiese proteïendraadjies kan gebruik word om volhoubare materiale vir die tekstiel-bedryf en die mediese veld te ontwikkel. Daar is baie maniere waarop mensgemaakte hidrojel gebruik kan word.
Wat dink jy? Het die baie komplekse struktuur van die hidrojel van ’n slymprik deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?