Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Wanneer ’n kind ’n einde aan alles wil maak

Wanneer ’n kind ’n einde aan alles wil maak

 Gedurende die afgelope paar jaar het die selfmoordsyfer onder jongmense in party lande baie gestyg. Hoekom gebeur dit? Is jou kind in gevaar?

In hierdie artikel

 Kinders en selfmoord – Hoekom moet ouers bekommerd wees?

 Vanaf 2009 tot 2019 het die hoeveelheid hoërskoolstudente in die Verenigde State wat simptome van depressie het, amper verdubbel. Die selfmoordsyfer het ook gedurende daardie tyd gestyg. a

 “Vandag se jongmense ervaar unieke uitdagings . . . Hierdie uitdagings veroorsaak groot skade aan hulle verstandelike gesondheid.” – Vivek H. Murthy, die Amerikaanse geneesheer-generaal.

 Bybelwaarheid: “’n Gebroke gees beroof jou van jou krag.” – Spreuke 17:22.

 Hoe weet jy of jou kind in gevaar is?

 Dink aan die volgende dinge.

  •   Gebeure. Het iets baie slegs met jou kind gebeur – voel sy b verwerp, het iemand met haar opgebreek, het sy ’n teleurstelling ondervind of het iemand vir wie sy baie lief is, gesterf? As dit die geval is, affekteer dit haar dalk meer as wat jy dink?

  •   Gedrag. Het jou kind opgehou om tyd te spandeer met vriende of familie of het sy belangstelling verloor in die dinge wat sy voorheen geniet het om te doen? Het sy dinge weggegee wat vir haar eens op ’n tyd baie belangrik was?

  •   Dinge wat sy sê. Praat jou kind oor die dood of sê sy dinge soos: “Dit sou beter gewees het as ek nie gelewe het nie”? Sê sy dat sy nie ’n las vir jou wil wees nie?

     Soms is dit natuurlik net “wilde praatjies” (Job 6:3). Maar ander dinge wat sy sê, kan beteken dat sy vir hulp vra. So as jou kind enige iets sê oor die feit dat sy wil doodgaan, moet dit nie ignoreer nie.

 As jou kind sê dat sy al daaraan gedink het om haar lewe te neem, kan jy vra: “Het jy gedink wanneer en hoe jy dit wil doen?” Haar antwoord sal vir jou sê hoe dringend die situasie is.

 “As ouers wil ons miskien nie ons kinders vrae vra nie, want ons is bang vir wat hulle sal sê. Maar as hulle sê wat hulle voel, is dit beter dat ons daarvan weet.” – Sandra.

 Bybelwaarheid: “Die gedagtes van ’n [persoon] se hart is soos diep waters, maar [iemand] wat insig het, sal dit na die oppervlak bring.” – Spreuke 20:5.

 Wat as jou kind selfmoordgedagtes het?

  •   Wees geduldig terwyl jy uitvind wat jou kind dink en hoe sy voel. Eerstens, sê vir haar dankie vir haar eerlikheid. Dan kan jy sê: “Ek wil graag verstaan waardeur jy gaan. Vertel my wat in jou lewe aangaan” of “Kan jy vir my sê hoe jy voel?”

     Luister geduldig na jou kind se antwoorde. Moenie gou wees om vir haar te sê dat haar gevoelens nie saak maak nie of vir haar ’n vinnige “oplossing” vir haar probleme gee nie.

     Bybelwaarheid: “Wees [gou] om te hoor, stadig om te praat, stadig om kwaad te word.” – Jakobus 1:19.

  •   Maak ’n plan om haar veilig te hou. Help jou kind om die volgende te identifiseer en neer te skryf:

     Waarskuwingstekens. Wat is sy besig om te doen of waaraan dink sy gewoonlik net voordat sy selfmoordgedagtes het?

     Aktiwiteite wat kan help. Watter aktiwiteite help haar om minder gestres te voel en om op te hou dink aan selfmoord?

     Mense wat kan help. Het jou kind ’n ondersteuningsnetwerk – ’n groep mense na wie toe sy kan gaan vir hulp? Dit kan jou insluit, asook ’n ander betroubare volwassene, ’n deskundige oor verstandelike gesondheid of selfs ’n organisasie waar mense opgelei is om ander te help wat selfmoordgedagtes het.

    Maak ’n plan om haar veilig te hou

     Bybelwaarheid: “Die planne van hardwerkende mense lei tot sukses.” – Spreuke 21:5.

  •   Bly waaksaam. Hou die situasie dop, selfs al lyk dit asof jou kind beter voel.

     “Toe my seun my vertel dat hy nie meer aan selfmoord dink nie, het ek gedink dat sy probleem verby is. Dit was ’n groot fout. Iets kan skielik gebeur wat ’n persoon weer aan selfmoord laat dink.” – Daniel.

     Help jou tiener om ’n belangrike waarheid oor gevoelens te verstaan: Dit is tydelik. Die boek The Whole-Brain Child sê: “Dit is soos die weer. Reën bestaan regtig, en ons sou dom wees om in ’n storm te staan en te maak asof dit nie eintlik reën nie. Maar ons sou net so dom wees as ons dink dat die son nooit weer sal skyn nie.”

  •   Verseker jou kind: Sê vir jou kind dat jy lief is vir haar en dat sy op jou ondersteuning kan staatmaak. Jy kan ook byvoeg: “Ek sal enige iets doen om jou te help om hierdeur te kom.”

     Bybelwaarheid: “’n Ware vriend betoon altyd liefde en is ’n broer gedurende moeilike tye.” – Spreuke 17:17.

a Die meeste mense wat aan depressie ly, pleeg nie selfmoord nie. Maar baie van dié wat hulle lewens geneem het, het op daardie stadium aan depressie gely.

b Ons verwys in hierdie artikel na die kind as ’n meisie, maar dieselfde beginsels geld ook vir seuns.