VOLG HULLE GELOOF NA | MIRJAM
“Sing vir Jehovah”!
Die dogtertjie het op ’n plek weggekruip waar niemand haar kon sien nie, haar oë gefokus op ’n plek tussen die riete. Sy het doodstil gestaan, sonder om ’n spier te verroer, terwyl die groot Nylrivier stadig verbygevloei het. Terwyl die tyd verbygegaan het, het sy die plek tussen die riete dopgehou en probeer om die insekte wat om haar gevlieg het, te ignoreer. Daar was ’n waterdigte mandjie tussen die riete weggesteek, en binne-in die mandjie was haar bababoetie. Dit het haar baie hartseer gemaak om te dink dat hy alleen en hulpeloos in daardie mandjie lê. Maar sy het geweet dat haar ouers reg is. Dit was die enigste manier hoe haar bababoetie sou oorleef gedurende hierdie aaklige tyd.
Daardie jong dogtertjie was baie dapper, en binnekort sou sy nog meer dapper moes wees. ’n Wonderlike eienskap was besig om in haar hart te ontwikkel – geloof. Iets was op die punt om te gebeur wat sou wys dat sy geloof het, en daardie geloof sou die res van haar lewe raak. Jare later, toe sy ’n ou vrou was, het haar geloof haar gehelp in die opwindendste tyd in die geskiedenis van haar volk. Dieselfde eienskap sou haar weer help toe sy ’n ernstige fout maak. Wie was sy? En wat kan ons uit haar geloof leer?
Mirjam die kind van slawerny
Die Bybel sê nie wat die kind se naam was nie, maar ons weet wie sy was. Sy was Mirjam, die oudste kind van Amram en Jogebed, Hebreeuse slawe in Egipte (Numeri 26:59). Haar bababoetie sou later Moses genoem word. Aäron, die baba se ouer broer, was op hierdie stadium omtrent drie jaar oud. Ons weet nie presies hoe oud Mirjam was nie, maar dis redelik om te glo dat sy jonger as tien jaar oud was.
Mirjam het in moeilike tye grootgeword. Die Egiptenare het haar volk, die Hebreërs, as ’n groot gevaar beskou, en daarom het hulle hulle slawe gemaak en hulle onderdruk. Toe die slawe vermeerder en floreer het, het die Egiptenare bang geword en iets nog wreder gedoen. Farao het beveel dat alle babaseuntjies by geboorte doodgemaak moet word. Daar was twee Hebreeuse vroedvroue, Sifra en Pua, wat die Hebreeuse babaseuntjies in die geheim beskerm het. Mirjam het sekerlik gehoor van die geloof van hierdie vroue. – Eksodus 1:8-22.
Mirjam het die geloof van haar eie ouers ook gesien. Ná die geboorte van hierdie pragtige derde kind, het Amram en Jogebed hom die eerste drie maande van sy lewe weggesteek. Hulle was nie bang vir Farao nie, en daarom het hulle nie toegelaat dat hulle baba doodgemaak word nie (Hebreërs 11:23). Maar dit is nie maklik om ’n baba weg te steek nie, en kort voor lank moes hulle ’n baie moeilike besluit maak. Jogebed het geweet dat sy haar baba op ’n plek moes los waar iemand hom kon kry wat hom sou beskerm en grootmaak. Dink net hoe ernstig die ma tot Jehovah moes gebid het terwyl sy ’n mandjie uit riete gemaak het en dit met asfalt en pik bedek het om dit waterdig te maak. En dan moes sy nog haar geliefde kind in die Nylrivier ook los! Sy het heel moontlik vir Mirjam gesê om daar te bly en te kyk wat gebeur. – Eksodus 2:1-4.
Mirjam die redder
Mirjam het gewag. Later het sy mense sien kom. ’n Groep vroue was op pad, en hulle was nie gewone Egiptenare nie. Dit was Farao se dogter en haar diensmeisies wat in die Nyl kom bad het. Mirjam was seker bang. Sy het dalk nie gedink dat Farao se eie dogter teen die koning se bevel sou gaan en sou kies om hierdie Hebreeuse baba te beskerm nie. Mirjam het sekerlik op daardie oomblik ernstig gebid.
Dit was Farao se dogter wat eerste die mandjie tussen die riete raakgesien het. Sy het haar diensmeisie gestuur om dit vir haar te bring. Die verslag sê dan verder oor Farao se dogter: “Toe sy dit oopmaak, het sy die kind gesien [en] die seuntjie het gehuil.” Sy het gou besef wat gebeur het: ’n Hebreeuse ma het probeer om haar kind se lewe te red. Maar Farao se dogter het jammer gevoel vir hierdie pragtige babatjie (Eksodus 2:5, 6). Mirjam het die situasie dopgehou en kon uit die vrou se gesigsuitdrukking sien dat sy die baba graag wou help. Die dogtertjie het geweet dat die tyd gekom het vir haar om te wys dat sy geloof in Jehovah het. Daarom het sy haar moed bymekaargeskraap en na Farao se dogter en haar diensmeisies gegaan.
Ons weet nie wat normaalweg sou gebeur met ’n jong Hebreeuse slaaf wat dit gewaag het om met iemand van die koninklike gesin te praat nie. Tog het Mirjam direk vir Farao se dogter gevra: “Moet ek ’n Hebreeuse vrou gaan roep om die kind vir u te borsvoed en te versorg?” Dit was die regte vraag om te vra. Farao se dogter het geweet dat sy nie ’n baba kon borsvoed nie. Miskien het sy gevoel dat dit beter sou wees as die seuntjie deur een van sy eie mense geborsvoed word. Dan kon sy hom later as haar eie seun aanneem en hom self grootmaak en opvoed. Mirjam moes baie bly gewees het toe Farao se dogter haar met een woord antwoord: “Gaan!” – Eksodus 2:7, 8.
Mirjam het reguit huis toe gehardloop na haar angstige ouers toe. Kan jy jou indink hoe opgewonde sy was toe sy vir haar ma die nuus vertel? Jogebed het heel moontlik Jehovah se hand hierin gesien en saam met Mirjam na Farao se dogter toe gegaan. Dalk het Jogebed probeer om haar opgewondenheid en verligting weg te steek toe Farao se dogter beveel het: “Neem hierdie kind saam met jou en borsvoed hom vir my, en ek sal jou betaal.” – Eksodus 2:9.
Op daardie dag het Mirjam baie oor haar God, Jehovah, geleer. Sy het geleer dat hy omgee vir sy volk en na hulle gebede luister. En sy het geleer dat moed en geloof nie tot volwassenes of mans beperk word nie. Jehovah luister na al sy getroue knegte (Psalm 65:2). Vandag moet ons almal – jonk en oud, mans en vroue – dit in hierdie moeilike tye onthou.
Mirjam die geduldige suster
Jogebed het die baba geborsvoed en versorg. Ons kan ons net voorstel hoe lief Mirjam vir haar boetie geword het wat sy gehelp red het. Dalk het sy hom geleer praat en was sy baie bly toe hy vir die eerste keer die naam van sy God, Jehovah, gesê het. Toe die kind ouer word, was dit tyd om hom na Farao se dogter te neem (Eksodus 2:10). Die hele gesin was seker baie hartseer. Mirjam was natuurlik baie gretig om te sien hoe Moses, die naam wat Farao se dogter vir hom gegee het, sou uitdraai wanneer hy groot is! Sou hy aanhou om lief te bly vir Jehovah terwyl hy grootgeword het in die Egiptiese koninklike huis?
Later het die antwoord duidelik geword. Mirjam moes beslis baie trots op haar boetie gewees het toe sy uitvind dat hy iemand is wat gekies het om sy God te dien eerder as om die geleenthede te gebruik wat vir hom beskikbaar was in die koninklike huis van Farao! Toe Moses 40 jaar oud was, het hy opgestaan vir sy volk. Hy het ’n Egiptenaar doodgemaak wat ’n Hebreeuse slaaf mishandel het. Moses het geweet dat hy sy lewe kon verloor, en daarom het hy uit Egipte gevlug. – Eksodus 2:11-15; Handelinge 7:23-29; Hebreërs 11:24-26.
Mirjam het vir die volgende 40 jaar niks van haar broer gehoor nie terwyl hy ver weg in Midian gebly het en skape opgepas het (Eksodus 3:1; Handelinge 7:29, 30). Namate Mirjam ’n ou vrou geword het, het sy gesien hoe die Hebreërs al hoe swaarder kry.
Mirjam die profetes
Toe Mirjam omtrent in haar 80’s was, het Moses teruggekom. God het hom gestuur om Sy volk vry te laat. Aäron was Moses se woordvoerder, en saam het hulle na Farao toe gegaan en hom gevra om God se volk vry te laat. Mirjam het natuurlik haar bes gedoen om hulle te ondersteun en aan te moedig nadat Farao nie na hulle geluister het nie en toe hulle weer en weer teruggegaan het terwyl Jehovah die tien plae oor die Egiptenare gebring het as ’n waarskuwing. Uiteindelik, met die laaste plaag – die dood van al die eersgebore seuns van Egipte – het die tyd aangebreek vir die groot uittog van Israel! Dink net hoe hard Mirjam gewerk het om haar volk te help terwyl hulle Egipte verlaat het en Moses hulle gelei het. – Eksodus 4:14-16, 27-31; 7:1–12:51.
Later, toe Israel tussen die Rooisee en die Egiptiese leërmag vasgekeer was, het Mirjam gesien hoe haar broer Moses voor die see staan en sy staf oplig. Die see het verdeel! Toe Mirjam sien hoe haar broer die volk op droë grond deur die see lei, was haar geloof in Jehovah heel moontlik sterker as ooit tevore. Sy het ’n God gedien wat enigiets kon doen en enige belofte kon vervul! – Eksodus 14:1-31.
Daarna, toe die volk veilig deurgetrek het en die see teruggevloei het en Farao en sy leërmag vernietig het, het Mirjam gesien dat Jehovah sterker is as die sterkste leërmag in die wêreld. Dit het die volk beweeg om ’n lied vir Jehovah te sing. In antwoord hierop het Mirjam en die vroue hierdie woorde gesing: “Sing vir Jehovah, want hy is hoog en verhewe. Die perd en sy ruiter het hy in die see gegooi.” – Eksodus 15:20, 21; Psalm 136:15.
Dit was ’n hoogtepunt in Mirjam se lewe, iets wat sy nooit sou vergeet nie. Op hierdie punt in die verhaal noem die Bybel haar ’n profetes. Mirjam is die eerste vrou in die Bybel wat ’n profetes genoem word. Sy is een van die min vroue wat Jehovah op hierdie spesiale manier gedien het. – Rigters 4:4; 2 Konings 22:14; Jesaja 8:3; Lukas 2:36.
Die Bybel herinner ons hier dat Jehovah sien wat ons doen en dat hy gretig is om ons te seën vir ons nederige pogings, ons geduld en ons begeerte om hom te loof. Of ons jonk of oud, ’n man of ’n vrou is, ons kan geloof in Jehovah toon. Sulke geloof maak hom baie bly. Hy sal dit nooit vergeet nie, en hy wil ons graag daarvoor beloon (Hebreërs 6:10; 11:6). Dit gee ons goeie rede om Mirjam se geloof na te volg!
Mirjam het trots geword
Voorregte en spesiale posisies kan ’n seën sowel as ’n gevaar wees. Toe Israel uit slawerny bevry is, was Mirjam heel moontlik die belangrikste vrou in die nasie. Sou sy trots of ambisieus word? (Spreuke 16:18). Ongelukkig het sy vir ’n ruk lank hiermee gesukkel.
’n Paar maande ná die uittog het Moses ’n groep mense verwelkom wat van ver af gekom het. Dit was sy skoonpa, Jetro, saam met Moses se vrou, Sippora, en hulle twee seuns. Moses het met haar getrou terwyl hy 40 jaar lank in Midian gewoon het. Sippora het vroeër teruggegaan na haar familie in Midian, dalk om te gaan kuier, en nou het haar pa haar teruggebring na die kamp van die Israeliete (Eksodus 18:1-5). Stel jou voor hoe nuuskierig die Hebreërs was toe Sippora daar aangekom het! Baie van hulle was natuurlik gretig om te sien wie die vrou van die man was wat God gekies het om hulle uit Egipte uit te lei.
Was Mirjam bly dat Sippora gekom het? Dalk aan die begin. Maar dit lyk asof sy later trots geword het. Sy het dalk bedreig gevoel en gedink dat Sippora haar sou vervang as die belangrikste vrou in die nasie. Wat ook al die geval was, Mirjam en Aäron het negatiewe dinge begin sê. En soos dikwels gebeur, het die praatjies baie gou bitter geword. Hulle het eers oor Sippora gepraat en gekla dat sy nie ’n Israelitiese vrou is nie maar ’n Kussitiese vrou. a Maar kort voor lank het hulle ook oor Moses gekla. Mirjam en Aäron het gesê: “Het Jehovah net deur Moses gepraat? Het hy nie ook deur ons gepraat nie?” – Numeri 12:1, 2.
Mirjam die melaatse
Met hierdie woorde kan ons sien dat Mirjam en Aäron besig was om ’n gevaarlike en bitter gesindheid te ontwikkel. Hulle was nie tevrede met die manier waarop Jehovah vir Moses gebruik het nie, en hulle wou meer gesag en invloed hê. Het Moses sy gesag misbruik en probeer om magtiger te word? Nee. Hy het swakhede gehad, maar hy was nie ambisieus of trots nie. Die geïnspireerde verslag sê: “Moses was verreweg die nederigste van al die mense op die hele aarde.” Wat ook al die geval was, dit wat Mirjam en Aäron oor Moses gesê het, was verkeerd, en daarom was hulle in gevaar. Soos die verslag sê: “Jehovah het geluister.” – Numeri 12:2, 3.
Skielik het Jehovah vir Mirjam, Aäron en Moses na die tent van samekoms geroep. Daar het die wolkkolom, wat Jehovah se teenwoordigheid voorgestel het, neergedaal en by die ingang gebly. Toe het Jehovah gepraat. Hy het Mirjam en Aäron bestraf en hulle daaraan herinner dat Hy ’n unieke verhouding met Moses het en dat Hy groot vertroue in hom plaas. Jehovah het gevra: “Hoekom was julle dan nie bang om teen my kneg, teen Moses, te praat nie?” Mirjam en Aäron moes baie bang gewees het. Omdat hulle disrespekvol teenoor Moses was, was dit vir Jehovah asof hulle disrespekvol teenoor hom was. – Numeri 12:4-8.
Dit lyk asof Mirjam hierdie hele storie begin het en haar jonger broer gekry het om saam met haar teen haar skoonsuster te praat. Dit sal verduidelik hoekom Mirjam die een is wat gestraf was. Jehovah het haar met melaatsheid getref. Die aaklige siekte het haar vel “so wit soos sneeu” gemaak. Aäron het onmiddellik homself voor Moses verneder en hom gesmeek om vir Jehovah te vra om hulle te vergewe en gesê: “Ons het onverstandig opgetree!” Omdat Moses so nederig was, het hy tot Jehovah begin roep: “O God, asseblief, genees haar! Asseblief!” (Numeri 12:9-13). Die feit dat albei broers so ontsteld was oor die situasie, wys dat hulle albei baie lief was vir hulle suster, al het sy foute gemaak.
Mirjam is vergewe
Jehovah was genadig teenoor haar. Hy het die berouvolle Mirjam genees. Maar hy het gesê dat sy sewe dae lank buite die kamp van Israel in kwarantyn moes bly. Dit moes baie vernederend vir Mirjam gewees het om gehoorsaam te wees en die kamp te verlaat omdat almal sou weet dat sy gedissiplineer is. Maar haar geloof het haar gered. In haar hart het sy geweet dat haar Vader, Jehovah, regverdig is en dat hy haar gedissiplineer het omdat hy lief is vir haar. Daarom was sy gehoorsaam. Die sewe eensame dae het verbygegaan terwyl die kamp vir haar gewag het. Toe het Mirjam weer gewys hoe sterk haar geloof is deur toe te laat dat sy in die kamp “teruggebring” word. – Numeri 12:14, 15.
Jehovah dissiplineer dié wat hy liefhet (Hebreërs 12:5, 6). Hy was so lief vir Mirjam dat hy haar moes reghelp toe sy hoogmoedig word. Die dissipline was nie vir haar lekker nie, maar dit het haar lewe gered. Omdat sy die dissipline nederig aanvaar het, het sy Jehovah weer gelukkig gemaak. Sy het tot aan die einde van Israel se tyd in die wildernis gelewe. Toe sy in Kades in die wildernis Zin gesterf het, was sy amper 130 jaar oud (Numeri 20:1). b Honderde jare later het Jehovah liefdevol eer bewys aan Mirjam vir haar getroue diens. Deur middel van sy profeet Miga het hy sy knegte herinner: “Ek het jou uit die huis van slawerny verlos. Ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uit gestuur.” – Miga 6:4.
Ons kan baie uit Mirjam se lewe leer. Ons moet die mense beskerm wat nie hulleself kan beskerm nie. En ons moet moedig opstaan vir wat reg is, net soos sy as ’n kind gedoen het (Jakobus 1:27). Net soos sy, moet ons God se boodskap met vreugde aan ander verkondig (Romeine 10:15). Net soos sy, moet ons gevaarlike eienskappe soos jaloesie en bitterheid verwerp (Spreuke 14:30). En net soos sy, moet ons nederig wees en dissipline van Jehovah aanvaar (Hebreërs 12:5). As ons hierdie dinge doen, sal ons Mirjam se geloof werklik navolg.
a In Sippora se geval verwys die woord “Kussitiese” heel moontlik na die feit dat sy van Arabië af gekom het, soos ander Midianiete, en nie van Etiopië af nie.
b Die twee broers en suster het in die volgorde van hulle geboorte gesterf – eers Mirjam, toe Aäron en toe Moses – almal blykbaar binne ’n jaar.