Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Filippense 4:8 – “Alles wat waar is, . . . daarop moet julle julle gedagtes rig”

Filippense 4:8 – “Alles wat waar is, . . . daarop moet julle julle gedagtes rig”

 “Laastens, broers, hou aan om te dink aan alles wat waar is, alles wat werklik belangrik is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, alles wat goed is en alles wat prysenswaardig is.” – Filippense 4:8, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” – Filippense 4:8, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Filippense 4:8

 God stel belang in die dinge waaroor mense dink, veral omdat wat ons dink, ’n uitwerking het op hoe ons optree (Psalm 19:14; Markus 7:20-23). Daarom weier mense wat God gelukkig wil maak, om aan dinge te dink wat sleg is in sy oë. Hulle dink eerder aan dinge wat hy goedkeur.

 Hierdie vers noem agt goeie dinge waaroor Christene moet ‘aanhou dink’.

  •   “Alles wat waar is.” Hierdie woorde beskryf dinge wat goed en betroubaar is, soos die inligting in God se Woord, die Bybel. – 1 Timoteus 6:20.

  •   “Alles wat werklik belangrik is.” Hierdie woorde verwys na dinge wat nie ligsinnig, oppervlakkig of onbelangrik is nie. En wanneer Christene oor sulke dinge dink, word hulle selfs meer vasbeslote om te doen wat reg is. – Titus 2:6-8.

  •   “Alles wat regverdig is.” Hierdie woorde verwys na planne en dade wat reg is volgens God se standaarde en nie volgens mense se standaarde nie. – Spreuke 3:5, 6; 14:12.

  •   “Alles wat rein is.” Hierdie woorde dra die idee oor van gedagtes en motiewe wat skoon en heilig is, nie net wanneer dit by seksuele dinge kom nie, maar in alle dinge. – 2 Korintiërs 11:3.

  •   “Alles wat lieflik is.” Hierdie woorde verwys na dinge wat mooi is, wat maak dat jy gevoelens van liefde het en nie haat, bitterheid of konflik nie. – 1 Petrus 4:8.

  •   “Alles waarvan goed gepraat word.” Hierdie woorde verwys na dinge wat tot ’n persoon se goeie reputasie bydra. Dit verwys ook na dinge wat mense goedkeur wat respek het vir God. – Spreuke 22:1.

  •   “Alles wat goed is.” Hierdie woorde verwys na dinge wat volgens God se standaarde aanvaarbaar is. Dit is in alle opsigte goed. – 2 Petrus 1:5, 9.

  •   “Alles wat prysenswaardig is.” Hierdie woorde verwys na dinge wat veral in God se oë geprys kan word. Dit sluit ook God se eie dade in wat geprys moet word, en dit is belangrik dat mense daaroor moet dink. – Psalm 78:4.

Konteks van Filippense 4:8

 Die apostel Paulus was onder huisarres in Rome toe hy sy brief aan die Christene in Filippense geskryf het. Maar Bybelkommentators beskryf sy brief as “’n brief van vreugde” omdat dit mense gelukkig laat voel en baie uitdrukkings van liefde bevat. – Filippense 1:3, 4, 7, 8, 18; 3:1; 4:1, 4, 10.

 Paulus was lief vir sy mede-aanbidders in Filippi, en hy wou gehad het dat hulle dieselfde vreugde en vrede moes hê as wat hy gehad het (Filippense 2:17, 18). So in die laaste deel van sy brief het hy hulle aangemoedig om vreugdevol en redelik te wees, om die heeltyd op God te vertrou in gebed en om te fokus op die dinge wat innerlike vrede sowel as vrede met God bevorder. – Filippense 4:4-9.

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Filippense te kry.