VOORBLADONDERWERP | JY KAN NA AAN GOD WEES
Kommunikeer jy met God?
Goeie vriende kommunikeer met mekaar so dikwels as wat hulle omstandighede toelaat, hetsy van aangesig tot aangesig of per telefoon, e-pos, video of brief. Om na aan God te wees, moet ons dus gereeld met hom kommunikeer. Maar hoe doen ’n mens dit?
Ons kan met Jehovah praat deur middel van gebed. Maar gebed tot God is nie dieselfde as ’n alledaagse gesprek met een van ons vriende nie. Ons moet besef dat ons ons Skepper, die Allerhoogste van die heelal, aanspreek wanneer ons bid. Dit moet ons beweeg om met diep respek en ontsag te bid. As ons wil hê dat ons gebede deur God verhoor moet word, moet ons ook aan sekere vereistes voldoen. Kom ons kyk na drie van hierdie vereistes.
Eerstens, gebede moet uitsluitlik tot Jehovah God gerig word—nie tot Jesus, ’n “heilige” of ’n beeld nie (Eksodus 20:4, 5). Die Bybel sê duidelik: “Laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word” (Filippense 4:6). Tweedens, gebede moet in die naam van God se Seun, Jesus Christus, gedoen word. Jesus het self gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Derdens, ons gebede moet in ooreenstemming met God se wil wees. Die Bybel sê: “Hy . . . hoor [ons], ongeag wat ons volgens sy wil vra.” *—1 Johannes 5:14.
Goeie vriende kommunikeer so dikwels moontlik met mekaar
’n Hegte verhouding sal natuurlik nie behoue bly as een persoon al die praatwerk doen nie. Net soos twee vriende met mekaar kommunikeer, moet ons God toelaat om met ons te praat, en ons moet luister wanneer hy dit doen. Weet jy hoe God met ons praat?
Jehovah God “praat” vandag met ons deur middel van sy geskrewe Woord, die Bybel (2 Timoteus 3:16, 17). Waarom sê ons so? Ter toeligting: Stel jou voor dat jy ’n brief van ’n goeie vriend ontvang. Nadat jy dit gelees het, vertel jy ander dalk opgewonde: “Ek het nou net van my vriend gehoor!” Tog was die kommunikasie nie mondelings nie, maar skriftelik. Net so laat jy Jehovah toe om met jou te praat deur die Bybel te lees. Gina, wat in die eerste artikel aangehaal is, sê dus: “Ek dink dat as ek wil hê dat God my as ’n vriend moet beskou, ek sy ‘brief’ aan ons—die Bybel—moet ondersoek.” Sy voeg by: “Daaglikse Bybellees het my nader aan God laat kom.” Laat jy Jehovah toe om elke dag met jou te praat deur daagliks sy Woord, die Bybel, te lees? As jy dit doen, sal dit jou help om nader aan God te voel.
^ par. 5 Vir meer inligting oor hoe om nader aan God te kom deur gebed, sien hoofstuk 17 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.