Jehovah het my oë geopen
Jehovah het my oë geopen
Soos vertel deur Patrice Oyeka
Dit was laat een middag. Ná nog ’n dag in die greep van duisternis—blind, eensaam, met die radio wat in my ore voortdreun—het ek besluit om my ellendige lewe te beëindig. Ek het ’n giftige poeier in ’n koppie water gegooi en dit op die tafel voor my neergesit. Ek wou nog ’n laaste keer bad en my mooi aantrek voordat ek daardie dodelike brousel drink om ’n einde aan alles te maak. Waarom wou ek selfmoord pleeg? En waarom lewe ek nog vandag om hierdie verhaal te vertel?
EK IS op 2 Februarie 1958 in die Kasaï Oriental-provinsie, in die Demokratiese Republiek van die Kongo, gebore. My pa het gesterf toe ek nege jaar oud was, en my ouer broer het vir my gesorg terwyl ek grootgeword het.
Nadat ek skool klaargemaak het, het ek ’n werk op ’n rubberplantasie gekry. Een oggend in 1989, terwyl ek ’n verslag in my kantoor voorberei het, het alles skielik stikdonker voor my geword. Ek het eers gedink dat daar ’n kragonderbreking was, maar ek kon die kragopwekker hoor en dit was oggend! Ek was paniekbevange toe ek besef dat ek niks kon sien nie, nie eens my aantekeninge voor my nie!
Ek het dadelik een van die mans wat onder my gewerk het, geroep en hom gevra om my na die hoof van die siekeboeg te neem. Hy het aanbeveel dat ek na ’n meer ervare dokter in die stad geneem word. Toe hierdie dokter sien dat my retinas geskeur was en dat my toestand ernstig is, het hy my na die hoofstad, Kinshasa, gestuur.
Die lewe in Kinshasa
In Kinshasa het ek baie oogartse geraadpleeg, maar nie een van hulle kon my help nie. Ná 43 dae in die hospitaal het die dokters besef dat ek vir die res van my lewe blind sou wees! Lede van my familie het my toe na allerhande kerke geneem op soek na ’n wonderdadige genesing, maar al hulle pogings was tevergeefs.
Uiteindelik het ek alle hoop verloor om my sig te herwin. Alles in my lewe het donker geword. Ek het my sig sowel as my werk verloor. Ek het ook my vrou verloor, wat my verlaat het en alles in ons huis saamgevat het. Ek was te verleë om uit te gaan of met ander mense te assosieer. Ek het my afgesonder en in die huis gebly. Ek was ’n kluisenaar en het heeltemal nutteloos gevoel.
Ek het twee keer probeer selfmoord pleeg. Die tweede keer word aan die begin van hierdie verhaal beskryf. Een van die klein kindertjies van die gesin het my lewe gered. Terwyl ek gebad het, het hy die inhoud van die koppie op die grond uitgegooi sonder dat hy geweet het wat daarin is. Gelukkig het hy nie daarvan gedrink nie. Maar ek was baie teleurgesteld toe ek nie die koppie kon vind nie. Toe het ek my familie vertel waarom ek daarna gesoek het en wat ek wou doen.
Ek is dankbaar teenoor God en my familie dat hulle ’n wakende oog oor my gehou het. My plan om selfmoord te pleeg, het misluk.
Ek het weer vreugde uit die lewe geput
Een Sondag in 1992, terwyl ek by die huis gesit en rook het, het twee van Jehovah se Getuies my besoek terwyl hulle van huis tot huis gegaan het. Toe hulle sien dat ek blind is, het hulle Jesaja 35:5 vir my gelees: “Dan sal die oë van die blindes geopen word, en die ore van die dowes sal ontsluit word.” Ek was oorstelp van vreugde toe ek hierdie woorde hoor! In teenstelling met wat ek gehoor het in die kerke wat ek besoek het, het die Getuies geen wonderdadige genesing aangebied nie. Hulle het eerder aan my verduidelik dat, as ek God leer ken, ek my sig in sy beloofde nuwe wêreld kon terugkry (Johannes 17:3). Ek het die Bybel onmiddellik met behulp van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe met die Getuies begin studeer. Ek het ook al die Christelike vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal begin bywoon en veranderinge in my lewe gemaak. Ek het ophou rook.
Maar my blindheid het my geestelike vooruitgang belemmer. Ek het dus na ’n instituut vir die blindes gegaan om Braille te leer lees en skryf. Dit het my in staat gestel om deel te neem aan die bedieningsopleiding wat by die Koninkryksaal aangebied word. Kort voor lank het ek aan die predikingswerk in my buurt begin deelneem. Ek het weer vreugde uit die lewe begin put. Ek het aangehou om vooruitgang te maak en het my lewe aan Jehovah toegewy. Ek is op 7 Mei 1994 gedoop.
Namate my liefde vir Jehovah en vir mense toegeneem het, het ’n begeerte by my ontstaan om die voltydse bediening te betree. Sedert 1 Desember 1995 dien ek as ’n gewone pionier, ’n voltydse bedienaar. Ek geniet ook die voorreg om sedert Februarie 2004 as ’n ouer man in my gemeente te dien. Soms word ek genooi om as ’n besoekende spreker toesprake in gemeentes in die omgewing te hou. Al hierdie seëninge verskaf my groot vreugde en laat my besef dat geen gebrek ons kan verhinder om ons begeerte te verwesenlik om Jehovah God te dien nie.
Jehovah het vir my “oë” gegee
Soos vroeër genoem is, het my vrou my verlaat omdat ek blind is. Jehovah het my egter geseën. Hy het my in ’n spesiale sin oë gegee om te kan sien. Anny Mavambu, wat ondanks my gebrek met my getrou het, het my oë geword. Aangesien sy ook ’n voltydse prediker is, gaan sy altyd saam met my uit in die bediening. Sy lees ook my toesprake se bronnemateriaal vir my sodat ek my aantekeninge in Braille kan skryf. Om haar in my lewe te hê, is ’n spesiale seën. Sy het my laat besef hoe waar die woorde van Spreuke 19:14 is: “Die erfenis wat van vaders kom, is ’n huis en rykdom, maar ’n verstandige vrou kom van Jehovah.”
Jehovah het my en Anny ook met twee kinders geseën—’n seun en ’n dogter. Ek kan nie wag om hulle gesigte in die Paradys te sien nie! Nog ’n seëning is dat my ouer broer, wat ons goedgunstiglik toelaat om op sy erf te woon, Bybelwaarheid aangeneem het en gedoop is! Ons is almal in dieselfde gemeente.
Ondanks my gebrek is dit my hartsbegeerte om selfs meer in my diens aan God te doen omdat hy my so ryklik geseën het (Maleagi 3:10). Ek bid elke dag vir sy Koninkryk om te kom en om alle lyding van die aarde te verwyder. Vandat ek Jehovah leer ken het, kan ek waarlik sê: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”—Spreuke 10:22.
[Prente op bladsy 13]
Ek hou ’n Bybeltoespraak; saam met my gesin en my broer