’n Brief uit Rusland
Skattejag in die goue berge van Altai
DIT is ’n mooi dag in Mei in die Republiek Altai—’n landstreek van asemrowende skoonheid in die suidwestelike hoek van Siberië. Vanuit ons venster sien ons groot stroke donker naaldwoud en majestueuse dofblou, sneeubedekte bergtoppe in die agtergrond. Dit is die ongetemde en afgeleë land van die Altaiërs—’n unieke Asiatiese volk met hulle eie taal. Hulle voel heeltemal tuis in die Altai-gebergte, ’n naam wat afgelei is van ’n Turks-Mongoolse woord wat “goue” beteken.
Ek en my vrou het ’n paar jaar gelede Russiese gebaretaal geleer en begin om gebaretaalgemeentes en klein groepies dowe Getuies van Jehovah te besoek. Daar is meer as 100 etniese groepe en 70 afsonderlike kulture in hierdie land wat een gemeenskaplike gesproke taal het, naamlik Russies. Die dowes gebruik ’n ander taal, Russiese gebaretaal. Die dowes vorm ’n hegte gemeenskap, en baie van dié wat ons ontmoet, is gretig om oor hulle persoonlike geskiedenis met ons te praat en gasvryheid aan ons te betoon. Dit is beslis die geval in Altai.
In die stad Gorno-Altaisk hoor ons dat daar ’n paar dowes in ’n klein dorpie 250 kilometer daarvandaan woon. Ons weet dat daar ’n paar Getuies in hierdie dorpie is, maar nie een van hulle ken gebaretaal nie. Ons is nuuskierig oor hierdie dowe Altaiërs en besluit om hulle te probeer opspoor. Ons entoesiasme is aansteeklik, en ’n dowe egpaar, Juri en Tatiana, besluit om ons te vergesel. Ons laai gebaretaalpublikasies op DVD en ’n DVD-speler in ’n minibus. Ons pak ook ’n groot warmwaterfles, rogbroodtoebroodjies met gerookte wors daarop en varsgebakte pirosjki in—heerlike Russiese gebak wat met kool en aartappel gevul is. Laastens spuit ons ons, ons klere en ons skoene deeglik met ’n bosluisafweermiddel omdat breinontsteking wat deur bosluise oorgedra word, in die gebied algemeen is.
Die pad waarop ons reis, kronkel deur skouspelagtige berge. Die lug is gevul met die geur van jasmyn- en seringbloeisels. Hoe verfrissend is dit tog! Ons is opgewonde om ’n trop edelherte te sien wat rustig wei. Altaïese nedersettings bestaan uit groepies houthuise met netjiese sinkdakke. Langs baie van die huise is houtwonings wat ajil genoem word. Dit is huise wat gewoonlik ses hoeke en ’n keëlvormige dak het. Party lyk soos tipi’s wat met boombas
bedek is. Baie Altaïese gesinne woon vanaf Mei tot September in die ajil en trek vir die herfs en die winter in die huis in.In die dorpie word ons hartlik verwelkom deur plaaslike Getuies, wat ons na die huis van ’n dowe Altaïese egpaar neem. Hulle is verheug om ons te sien en is nuuskierig oor waar ons vandaan kom en wat ons doen. Hulle het ’n rekenaar, en wanneer ons die DVD uithaal, dring hulle aan om dit daarop te speel. Alle gesprekke kom onmiddellik tot ’n einde; dit is asof ons nie daar is nie. Hulle oë is aan die skerm vasgenael en elke nou en dan boots hulle die gebare wat hulle sien na en knik hulle hulle koppe uit waardering. Ons kry met moeite hulle aandag sodat ons die DVD kan stop om terug te gaan na die openingstoneel, wat ’n pragtige paradysaarde uitbeeld. Terwyl ons by een van die tonele pouseer, bespreek ons wat God vir die mensdom sal doen en watter soort mense vir ewig sal lewe onder die toestande wat hulle sien. Ons word deur hulle belangstelling bemoedig, en teen die einde van die besoek vertel hulle ons van nog ’n dowe egpaar wat in ’n ander dorpie ’n paar ure daarvandaan woon.
Ons vertrek weer en steek ’n asemrowende pas oor wat diep in die berge insny, en ons volg die kronkelende pad na ’n veel kleiner dorpie. Daar vind ons die dowe gesin—die man, sy vrou, sy vrou se ma en die egpaar se klein seuntjie—wat baie bly is vir die onverwagse geselskap. Ons stap deur die klein deurtjie van hulle ajil en ruik die lekker geure van hout en karringmelk. Daar is ’n ronde gat bo in die keëlvormige dak, wat lig inlaat. ’n Afgewitte baksteenoond en ’n stoof staan in een hoek en vrolike rooi tapyte bedek die mure. Die egpaar bedien ons ’n Altaïese dis—gebraaide oliebolletjies en tee in klein Asiatiese bakkies. Ons vra hulle of hulle al ooit gewonder het of hulle God se vriend kan wees. Hulle dink na oor die vraag. Die vrou se ma vertel ons dat sy as kind een keer kos na ’n plek in die berge geneem het as ’n offerande vir die gode. “Wat dit nou eintlik beteken het, weet ek nie”, sê sy terwyl sy haar skouers ophaal en glimlag. “Dit was ons gebruik.”
Ons wys vir hulle ’n DVD oor hierdie onderwerp, en hulle gesigte verhelder. Hulle is gretig om die bespreking voort te sit, maar hoe sal dit moontlik wees? Hoewel SMS’e dit gewoonlik moontlik maak om met dowes in kontak te bly, is daar nie ’n enkele selfoonantenna in die gebied nie. Daarom belowe ons om per brief in kontak te bly.
Die son sak reeds toe ons vriendelik afskeid neem en moeg maar tevrede die lang pad terug na Gorno-Altaisk aanpak. ’n Ruk later vra ons plaaslike Getuies uit oor hierdie gesin, en ons vind uit dat die man elke tweede week na ’n groter dorp reis waar hy met die hulp van ’n plaaslike suster wat gebaretaal ken, die Bybel bestudeer en ’n vergadering bywoon. Hoe bly is ons tog dat ons pogings vrugte afgewerp het!
Ons soektog na opregtes van hart onder die dowes kan vergelyk word met ’n soektog na skatte wat diep in die berge versteek is. Lang ure se gesoek word beloon wanneer ons ’n verlore juweel, skynbaar heel toevallig, vind. Vir ons sal die berge van Altai altyd ’n goue bekoring inhou omdat dit ons herinner aan die opregte mense wat ons tussen die ongetemde bergtoppe ontmoet het.