Waar grense niks beteken nie
Waar grense niks beteken nie
Jehovah se Getuies streef daarna om grense tussen mense te oorbrug. Hulle neem die beginsel agter Jesus se woorde aan sy dissipels ter harte: “Julle almal [is] broers” (Matteus 23:8). Dit word goed toegelig deur wat in twee plekke van aanbidding van die Getuies gebeur—een in Portugal en een in Spanje.
DIE ommuurde stad Valença do Minho, in die noorde van Portugal, is in gevaarlike tye gebou. Die stad se kantele kyk uit oor die Minho-rivier, die grens tussen Spanje en Portugal. Oorkant die rivier lê die Spaanse stad Tui, met ’n katedraal wat baie soos ’n vesting lyk. Die hoofverdedigingswerke van Tui en Valença dateer uit die 17de eeu, toe Spanje en Portugal in ’n oorlog gewikkel was.
In 1995 is die grensposte en doeanekontroles tussen hierdie twee lande van die Europese Unie verwyder. Maar om volke te verenig, verg meer as om grensbeheer af te skaf. Verstande en harte speel ook ’n rol. In Valença is daar ’n klein, aantreklike gebou wat bewys lewer van hoe grense tussen mense oorbrug kan word. Dit is ’n plek van aanbidding—’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies—wat deur Spaanse en Portugese gemeentes van Getuies gedeel word.
Hierdie verhaal het in 2001 begin, toe die Getuies in Tui ’n nuwe Koninkryksaal nodig gehad het. Hulle kon nie meer die gebou gebruik wat hulle gehuur het nie, en hulle het nie genoeg geld gehad om ’n nuwe saal te bou nie. Hulle kon nie eers bekostig om ’n plek te huur nie omdat hulle ’n klein gemeente was. Daarom het hierdie Spaanse Getuies hulle Portugese broers in Valença gevra of hulle bereid sou wees om hulle saal, wat net ’n paar kilometer van Tui se middestad geleë is, met hulle te deel.
“Ons het die besluit tydens ’n vergadering in Desember 2001 bespreek”, vertel Eduardo Vila, ’n lid van die Tui-gemeente in Spanje. “Ná daardie vergadering het ek besef dat Jehovah die harte van ons Portugese broers beweeg
het. Hulle het groot opofferings gemaak om ’n aantreklike Koninkryksaal te bou, en dit was geloofversterkend om te sien dat hulle bereid was om wat hulle het, te deel.”“Ons het die Spaanse broers in ons Koninkryksaal verwelkom”, sê Américo Almeida, ’n Portugese Getuie wat daardie vergadering bygewoon het. “Ons het vertrou dat Jehovah hierdie reëling sal seën, en ons het eenparig daarop besluit.” Die Getuies van albei kante van die grens kom goed met mekaar oor die weg. “Dit klink dalk vreemd, maar ons kom nie eers agter dat ons van verskillende lande af kom nie. Ons is geestelike broers”, sê Paolo van Valença.
Een van die eerste dinge wat besoekers in die Koninkryksaal opmerk, is die twee identiese horlosies teen die agterste muur, wat verskillende tye aangee. Spanje is een uur voor Portugal, maar buiten hierdie horlosies wat volgens verskillende tydsones ingestel is, is daar volkome harmonie in die Koninkryksaal. Toe die gebou opgeknap moes word, het ’n Streekboukomitee van Spanje toesig gehou oor geesdriftige werkers van albei gemeentes. “Baie vakmanne het van Spanje gekom om ons te help, waarvan party meer as 160 kilometer ver gereis het”, vertel Paolo. “Die projek het die bande van liefde tussen die gemeentes versterk.”
Kom ons kyk na ’n tweede voorbeeld van hoe grense oorbrug is.
Eenheid in ’n verdeelde vallei
Puigcerdá is ’n Spaanse stad wat aan die grens met Frankryk geleë is. Dit lê in die hartjie van ’n vrugbare vallei omring deur die hoë pieke van die Pireneë. Die hele vallei, wat as Cerdaña bekend staan, was voorheen deel van Spanje. Maar in 1659 het Spanje, in ’n vredesverdrag wat as die Verdrag van die Pireneë bekend staan, die helfte van die vallei aan Frankryk afgestaan.
Vandag doen Franse mense hulle inkopies in Puigcerdá, die vernaamste stad van die vallei. En sedert 1997 het Jehovah se Getuies in Puigcerdá ook hulle Koninkryksaal aan hulle Franse medegelowiges beskikbaar gestel. In daardie jaar moes die Franse Getuies die gebou wat hulle gehuur het, verlaat. Die naaste Koninkryksaal in Frankryk was ’n uur se ry daarvandaan, en gedurende die wintermaande is die hoë bergpas wat reisigers moet gebruik om daar uit te kom, dikwels toegesneeu.
Toe die Franse Getuies verduidelik het dat hulle ’n vergaderingplek dringend nodig het, het die Spaanse Getuies onmiddellik hulle Koninkryksaal aangebied. “Al die Spaanse broers was gretig om die saal te deel”, vertel Prem, ’n plaaslike Getuie. “Hierdie gees was natuurlik te danke aan die skriftuurlike opleiding wat ons deur die jare heen ontvang het. ’n Paar weke later het ons ons Koninkryksaal begin deel, en ons is nou al die afgelope 13 jaar saam.”
“Puigcerdá was die ideale plek vir ons om ’n Koninkryksaal te hê”, verduidelik Eric, ’n opsiener in die Franse gemeente. “En ek onthou nog hoe vriendelik die Spaanse broers ons verwelkom het. Hulle het hulle saal versier met ’n groot bos blomme en ’n teken wat gesê het: ‘Julle is welkom, liewe broers en susters.’”
“Toe ons Koninkryksaal in Frankryk gesluit is, het mense aangeneem dat die gemeente nie meer bestaan nie”, voeg Eric by. “Maar die feit dat ons gereeld in die gebied gepreek het—wat ingesluit het dat ons gedrukte uitnodigings na ons vergaderinge in Spanje versprei het—het mense gou laat agterkom dat dit nie die geval is nie. Belangstellendes kom met graagte na die saal in Spanje. En die feit dat ons ’n saal met ons Spaanse broers deel, het ons nader aan mekaar gebring. Voorheen het ons geweet dat daar ’n Spaanse gemeente aan die ander kant van die grens is, maar ons het min kontak met mekaar gehad. Noudat ons mekaar gereeld sien, voel ons nie so afgesonderd in hierdie afgeleë bergvallei nie.”
Het kulturele grense enige ongemaklikheid veroorsaak? “Toe ek hoor dat ons ons vergaderinge oorkant die grens in Spanje gaan hou, was ek ’n bietjie besorg”, het ’n Franse Getuie in haar 80’s erken. “Maar danksy die verwelkoming en die vriendelikheid van die broers in Puigcerdá was die verandering glad nie ’n probleem nie. Inteendeel, die internasionale eenheid van Jehovah se volk is hierdeur bevestig.”
Die fondament van ’n hegter eenheid
Die stigters van die Europese unie het gesê dat lidlande “vasbeslote [is] om die fondamente van ’n steeds hegter eenheid onder die volke van Europa te lê”. Die afskaffing van grensposte in die 1980’s en 1990’s was bedoel om hierdie proses te versnel. Maar daar is ook struikelblokke in die verstand wat oorkom moet word.
Jehovah se Getuies werk hard om vooroordeel en wantroue uit die weg te ruim. Hulle besef dat diversiteit hulle broederskap verryk en dat “God nie partydig is nie” (Handelinge 10:34). By hulle internasionale byeenkomste en hulle Koninkryksale sien hulle ‘hoe goed en hoe lieflik dit is dat broers in eenheid saam woon!’ (Psalm 133:1). Die eenheid wat die Getuies van Valença en Puigcerdá met hulle broers van buurlande geniet, is lewende bewys hiervan.
[Lokteks op bladsy 13]
“Dit klink dalk vreemd, maar ons kom nie eers agter dat ons van verskillende lande af kom nie. Ons is geestelike broers”
[Lokteks op bladsy 14]
“Die projek het die bande van liefde tussen die gemeentes versterk”
[Lokteks op bladsy 15]
“Hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers in eenheid saam woon!” PSALM 133:1
[Prent op bladsye 12, 13]
Uitsig oor Tui en die Minho-rivier vanaf die ommuurde stad Valença do Minho
[Prent op bladsy 14]
Die Koninkryksaal word opgeknap
[Prent op bladsy 15]
Die Pireneë en die Cerdaña-vallei
[Prent op bladsy 15]
Twee ouer manne van die twee gemeentes—een Spaans en die ander Frans—wat in die Koninkryksaal in Puigcerdá vergader