Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Leer jou kinders

Waarom mense vir Dorkas lief was

Waarom mense vir Dorkas lief was

ONS almal wil hê dat mense vir ons moet lief wees. Voel jy ook so? * Die Bybel vertel ons van Dorkas, ’n vrou vir wie talle mense baie lief was.

Dorkas het in Joppe gewoon, ’n stad langs die Middellandse See. Jerusalem was in die binneland geleë, net ongeveer 56 kilometer van Joppe af. Dorkas was een van Jesus se vroeë dissipels.

Waarom dink jy was mense so lief vir Dorkas?— Wel, die Bybel sê dat sy baie goeie dinge gedoen het en pragtige geskenke vir ander gegee het. Sy het blykbaar mooi klere vir weduwees gemaak, dit wil sê vroue wie se mans gesterf het. Sy het ook met baie oor die ware God, Jehovah, gepraat, net soos Jesus gedoen het.

Weet jy watter slegte ding nou met Dorkas gebeur?— Sy word baie siek en sterf. Haar  vriende is almal hartseer. Hulle stuur dus ’n paar mense na waar die apostel Petrus bly, sowat 16 kilometer daarvandaan. Hierdie mense vra hom om dadelik te kom. Wanneer Petrus daar aankom, gaan hy boontoe na waar Dorkas is. Die vroue huil almal, en hulle wys hom die klere wat Dorkas vir hulle gemaak het.

Petrus sê dan vir almal om die vertrek te verlaat. Petrus en ander apostels het al voorheen wonderwerke verrig, maar nie een van hulle het al ooit iemand wat dood is, opgewek nie. Wat dink jy doen Petrus nou?

Petrus kniel langs die dooie liggaam en bid tot Jehovah. Dan sê hy vir Dorkas om op te staan. En Dorkas staan toe op! Petrus gee haar sy hand en help haar op. Daarna roep hy die weduwees en die ander en wys hy haar aan hulle. Kan jy jou voorstel hoe bly hulle almal is?

Kom ons dink nou aan wat jy uit hierdie verhaal oor Dorkas se opstanding kan leer. Een les is dat as jy ander mense help, baie van hulle jou sal liefhê. Maar nog belangriker, God sal jou onthou en liefhê. Hy sal nooit die goeie dinge wat jy vir ander mense doen, vergeet nie. En hy sal jou met ewige lewe in geluk in sy regverdige nuwe wêreld beloon.

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.