“Dit is julle dag”
129ste Gileadgraduering
“Dit is julle dag”
OP 11 September 2010 het byna 8 000 bymekaargekom vir ’n spesiale geleentheid—die graduering van die 129ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. “Dit is julle dag”, het Samuel Herd van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies vir die studente gesê. “Ons is hier om in julle vreugde te deel!”
“Die oor wat hoor”
Broer Herd het die program ingelei deur te praat oor hoe belangrik dit is dat alle Christene goeie gebruik maak van “die oor wat hoor” deur aan God se Woord aandag te skenk (Spr. 20:12). “Julle het die afgelope paar maande aan Jehovah se onderrigting aandag geskenk”, het broer Herd vir die klas gesê, “en julle sal dit tot in alle ewigheid doen.”
Hoe kan nuwe sendelinge hulle ore verstandig gebruik? “Deur aan die Woord van God aandag te skenk”, het broer Herd gesê. Hy het bygevoeg: “Gedurende vandag se program sal daar baie gesê word wat julle sal voorberei vir julle werk as sendelinge in die jare wat voorlê.”
“Vertrou op Jehovah met jou hele hart”
Gerrit Lösch, ’n lid van die Bestuursliggaam, het met die studente oor hierdie gedagteprikkelende tema gepraat. Hy het etlike geleenthede gemeld waarop God se volk, in die verlede en die hede, vertroue in Jehovah aan die dag gelê het.
Net so “moet sendelinge vertroue in verband met hulle toewysings toon”, het broer Lösch gesê. “Byvoorbeeld”, het hy gesê, “julle wonder dalk: Sal ek die nuwe taal kan aanleer? Sal ek by ’n nuwe kultuur kan aanpas? Sal ek die heimwee die hoof kan bied?’” Die antwoord? Broer Lösch het die klas aangespoor om ‘op Jehovah te vertrou’.
Broer Lösch het ook Spreuke 14:26 gelees, wat sê: “In die vrees van Jehovah lê sterk vertroue.” Ons vertroue in Jehovah sal toeneem as ons nadink oor al die maniere waarop hy ons geseën het.
Die Bybel sê die volgende oor die persoon wat op Jehovah vertrou: “Hy sal beslis word soos ’n boom wat by die water geplant is, wat sy wortels reg by die waterloop uitstoot; en hy sal nie sien wanneer daar hitte kom nie, maar sy blare sal welig wees.”—Jeremia 17:7, 8.
Die les is duidelik. “Ongeag wat vir julle voorlê”, het broer Lösch gesê, “julle moet julle vertroue in Jehovah stel.”
“Volg die getroue engele na”
Dit was die onderwerp van ’n toespraak deur Stephen Lett, ’n lid van die Bestuursliggaam. Die engele voorsien ’n wonderlike voorbeeld vir ons. “Alles wat die Bybel oor hulle openbaar, is navolgenswaardig”, het broer Lett gesê. Toe het hy vier eienskappe van die getroue engele geïdentifiseer wat ons sal wil navolg—hulle volharding, nederigheid, hulpvaardigheid en onkreukbaarheid.
Die Bybel sê dat een engel ‘die vors van Persië’—’n kragtige demoon—21 dae lank teëgestaan het (Daniël 10:13). Daardie engel het volharding getoon. Christene het ook “’n worstelstryd . . . teen die bose geesmagte”, het broer Lett gesê (Efesiërs 6:12). “Stry hard om in julle toewysing te volhard”, het hy vir die studente gesê.
Toe Manoag, die vader van Simson, ’n engel gevra het wat sy naam is, het die engel geweier om hom te sê. Daardie engel het nederigheid aan die dag gelê (Rigters 13:17, 18). Broer Lett het vir die studente gesê: “Wanneer iemand jou probeer prys of ’n ophef van jou vermoëns maak, moet jy die aandag nederig van jou af wegkeer en dit op Jehovah en sy organisasie vestig.”—1 Korintiërs 4:7.
Toe Jesus kort voor sy dood in die tuin van Getsemane was, “het ’n engel uit die hemel aan hom verskyn en hom versterk” (Lukas 22:43). Daardie engel was hulpvaardig. “Probeer om biddend te bepaal wat die ware behoeftes in jou sendingtoewysing is”, het broer Lett gesê, “en probeer dan om met Jehovah se hulp in hierdie behoeftes te voorsien.”
Aangesien net ’n minderheid van die engele saam met Satan in opstand gekom het, kan ons sê dat die oorgrote meerderheid van hierdie hemelse wesens wonderlike voorbeelde van onkreukbaarheid is.—Openbaring 12:4.
“Soos daardie getroue engele moet julle julle standpunt teen die Duiwel inneem”, het broer Lett die studente aangespoor. “Staan hom teë, en hy sal wegvlug.”—Jakobus 4:7.
Drie ander glanspunte van die program
“Laat Jehovah die rots van jou hart bly.” Gary Breaux, ’n lid van die Verenigde State se Takkomitee, het hierdie boeiende onderwerp bespreek, wat op Psalm 73:26 gebaseer is, en het die studente gehelp om te verstaan hoe belangrik dit is om op Jehovah te vertrou. In watter opsig is Jehovah soos ’n rots? “’n Rots kan ’n stuk papier in ’n windstorm vaspen”, het broer Breaux gesê. “Op soortgelyke wyse kan Jehovah ’n stabiliserende invloed wees wat jou hart kan beskerm.” Die hart kan ons natuurlik mislei wanneer ons volharding op die proef gestel word (Jeremia 17:9). ’n Nuwe klimaat, nuwe kossoorte, nuwe metgeselle in ’n sendinghuis—dit alles kan maak dat jy dit oorweeg om tou op te gooi. “Jy sal voor situasies te staan kom waarin jy opsies teen mekaar moet opweeg en besluite moet neem”, het broer Breaux gesê. “Sal jy ’n weg kies wat Jehovah behaag? As jy dit doen, sal Jehovah ‘die rots van jou hart’ word. Hy sal jou voetstappe rig.”
“Het jy genoeg geloof om jou voete te laat nat word?” Sam Roberson, ’n Gileadinstrukteur, het hierdie tema ontwikkel en dit op Josua hoofstuk 3 gebaseer. Hoe kon miljoene Israeliete die Jordaanrivier oorsteek toe dit in vloed was? Jehovah het vir Josua gesê om die priesters te beveel om ‘in die Jordaan te bly staan’. God het belowe: “Die oomblik dat die voetsole van die priesters . . . in die waters van die Jordaan rus, sal die waters van die Jordaan afgesny word, . . . en dit sal soos een dam bly staan” (Josua 3:8, 13). Broer Roberson het vir die studente gesê: “Daar sal ‘Jordaanriviere’ in jou lewe wees wat tussen jou en jou seëninge sal kom as jy dit toelaat.” Byvoorbeeld, dalk sal dit soms moeilik wees om met medesendelinge oor die weg te kom. Die oplossing? “Konsentreer op die werk, nie op die werkers nie.” Broer Roberson het die klas aangespoor: “As jy die geloof het om jou voete te laat nat word, sal Jehovah jou help om daardie ‘Jordaanriviere’ in jou lewe as sendeling oor te steek.”
‘Bevestig jou planne stewig.’ Dit was die onderwerp wat ontwikkel is deur die Gileadinstrukteur William Samuelson. Sy toespraak is gebaseer op Spreuke 16:3, wat sê: “Laat jou werke aan Jehovah oor en jou planne sal stewig bevestig word.” Broer Samuelson het die studente gevra: “Beteken hierdie vers dat jy niks moet doen om jou planne te bevestig behalwe om ‘jou werke aan Jehovah oor te laat’ nie?” Nee, het hy gesê, want Spreuke 16:1 sê: “Aan die mens behoort die planne van die hart.” Broer Samuelson het gesê: “Jehovah bepaal nie wonderdadig wat die planne van jou hart sal wees nie. Jy moet eerder seker maak dat jy in die regte rigting aangedryf word. Deur studie, gebed en ’n goeie verhouding met die plaaslike takkantoor, sal jy altyd ’n hart hê wat jou in die regte rigting lei, en Jehovah self sal jou planne stewig bevestig.”
Ondervindinge en onderhoude
As deel van hulle opleiding doen Gileadstudente die openbare predikingswerk saam met die plaaslike gemeentes van Jehovah se Getuies. Mark Noumair, nog ’n Gileadinstrukteur, het met ’n aantal studente onderhoude gevoer oor hulle ondervindinge. Die rol wat gebed daarin speel om opregtes van hart in die gebied te vind, het in die ondervindinge baie na vore gekom.
Een egpaar was byvoorbeeld by ’n kitskosrestaurant. Iemand wat daar werk, het opgelet dat hulle ’n stille gebed doen. Hy het hulle kom vra of hulle Jehovah se Getuies is. Toe hulle ja gesê het, het hy verduidelik dat hy in ’n Getuiegesin grootgeword maar geestelik afgekoel het. Hy het selfs ’n misdaad gepleeg en is tronk toe gestuur. Nou het hierdie jong man gevoel dat hy Jehovah weer in sy lewe wil hê. Hy het ook gesê dat hy, voordat die egpaar in die restaurant ingekom het, tot God gebid en gesê het dat hy graag hulp wil hê om sy lewe reg te kry. Sy gebed is verhoor!
Rudi Hartl van die Skryfafdeling se Korrespondensiekantoor het die tema “Smaak en sien dat Jehovah goed is” ontwikkel en het onderhoude gevoer met Wayne Wridgway van Mosambiek, Jason Reed van Chili en Kenji Chichii van Nepal. Al drie is Gileadopgeleide sendelinge. Hierdie broers het openlik gepraat oor party van die uitdagings waarvoor hulle as nuwe sendelinge te staan gekom het—hetsy dit was om ’n nuwe taal te leer, by ’n nuwe kultuur aan te pas of heimwee die hoof te bied. “Iets wat ons gehelp het, was om so gou moontlik in die nuwe gemeente vriende te maak”, het broer Chichii gesê. “Namate ons hegter bande met die gemeente gesmee het, het ons dit makliker gevind om heimwee die hoof te bied.”
Kort nadat al 56 studente hulle diplomas ontvang het, het een student ’n hartroerende brief gelees waarin die klas hulle waardering uitgespreek het. Die volgende gedeelte, wat aan die Bestuursliggaam gerig is, het gesê: “As ’n klas het ons self gesien hoe julle liefdevol en onvermoeid van julleself gegee het deur die leerplan te voorsien, die klas te besoek en vir ons uitstekende geestelike onderrigting te gee. Omdat ons julle liefde ondervind het, sal ons ons bes doen om julle wonderlike voorbeeld van liefde, geduld, nederigheid en persoonlike belangstelling na te volg wanneer ons in ons toewysing is.”
[Lokteks op bladsy 28]
‘Wanneer iemand jou probeer prys, moet jy die aandag van jou af wegkeer’
[Lokteks op bladsy 29]
“Daar sal ‘Jordaanriviere’ in jou lewe wees”
[Tabel/Kaart op bladsy 31]
KLASSTATISTIEK
9 lande verteenwoordig
56 studente
28 egpare
33.0 gemiddelde ouderdom
17.9 gemiddelde jare gedoop
13.3 gemiddelde jare in die voltydse bediening
[Kaart]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die klas is na die 25 lande hieronder gestuur
SENDINGTOEWYSINGS
BOLIVIA
BOTSWANA
BULGARYE
KONGO (KINSHASA)
IVOORKUS
GAMBIË
DUITSLAND
INDIË
INDONESIË
KENIA
LIBERIË
MASEDONIË
MADAGASKAR
MALEISIË
MOSAMBIEK
PANAMA
PERU
POLE
ROEMENIË
SERWIË
SIERRA LEONE
SWAZILAND
TANZANIË
UGANDA
ZIMBABWE
[Prent op bladsy 30]
Gileadstudente demonstreer een van hulle velddiensondervindinge
[Prent op bladsy 31]
129ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead
In die lys hieronder word die rye van voor na agter genommer en word die name van links na regs in elke ry aangegee.
(1) Munaretto, R.; Olofsson, Y.; Budden, K.; Najdzion, L.; Moya, G.; Treviño, G.; Dion, A.; Fleegle, A.
(2) Smith, J.; Michael Raj, J.; Smith, S.; Paramo, A.; McDonald, J.; Deans, M.; Joyal, S.; Watson, L.
(3) Joyal, C.; Crawley, T.; Hacker, D.; Shynkarenko, J.; Knapp, T.; Ayling, J.; Highley, C.; Olofsson, B.
(4) Fitzpatrick, M.; Najdzion, B.; Skallerud, L.; Harris, A.; Harris, S.; Budden, R.; Paramo, Y.; Skallerud, K.
(5) Crawley, B.; Michael Raj, J.; Lodge, A.; Lodge, R.; Herms, N.; Fitzpatrick, J.; Moya, R.; Munaretto, P.
(6) Watson, S.; Deans, M.; Hacker, J.; McDonald, J.; Treviño, J.; Harris, S.; Herms, C.; Harris, P.
(7) Shynkarenko, V.; Highley, T.; Smith, A.; Dion, J.; Ayling, R.; Smith, B.; Knapp, T.; Fleegle, B.