Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mianmar se sikloonslagoffers ontvang hulp

Mianmar se sikloonslagoffers ontvang hulp

Mianmar se sikloonslagoffers ontvang hulp

OP 2 Mei 2008 het die sikloon Nargis Mianmar met verwoestende felheid getref en spoedig regoor die wêreld opslae in die nuus gemaak. a Byna 140 000 mense is as dood of vermis aangegee nadat ’n ontsaglike vloedgolf die gebied van die Irawadi-delta verswelg het.

Verbasend genoeg het nie een van die talle Getuies van Jehovah in die gebied iets oorgekom nie. Hulle het dit hoofsaaklik oorleef omdat hulle in hulle goed opgerigte Koninkryksale skuiling gesoek het. Op een plek het 20 Getuies en 80 ander dorpenaars nege uur lank op die dak van die Koninkryksaal gesit terwyl die vloedwater amper vyf meter gestyg het. Hulle almal het dit oorleef. Ongelukkig het 300 ander in hierdie dorpie omgekom. In baie dorpies was die Koninkryksaal die enigste gebou wat bly staan het.

Twee dae ná die sikloon het die takkantoor van Jehovah se Getuies in Jangon ’n noodlenigingspan gestuur na die gemeente in Bothingone, by die mond van die delta. Die span moes deur verwoeste gebiede, verby die ontbindende liggame van dooies, reis en plunderaars probeer ontwyk om Bothingone te bereik met rys, gedroogde noedels, water en kerse. Hulle was die eerste noodlenigingspan wat die gebied bereik het. Nadat die span die noodlenigingsvoorraad vir die plaaslike Getuies gegee het, het hulle Bybeltoesprake gehou om die broers aan te moedig en ook Bybels en Bybellektuur by hulle gelaat, aangesien hulle al hulle besittings in die sikloon verloor het.

Die Getuies wat slagoffers van die sikloon was, het waarlik ’n uitstekende gesindheid gehad. Een lid van ’n gemeente in die verwoeste Irawadi-gebied het gesê: “Alles wat ons gehad het, is weg. Al ons huise is vernietig. Al ons gewasse is weg. Al die drinkwater is besoedel weens die oorstroming. Maar die broers en susters is nie so bekommerd soos ander nie. Hulle vertrou op Jehovah en sy organisasie. Ons sal enige riglyne volg wat ons ontvang, of ons nou in die dorpie bly of iewers anders heen gaan.”

’n Groep van 30 Getuies, wat ook alles verloor het, het vreugdevol Koninkryksliedere gesing op hulle tien uur lange reis na die plek waar die noodlenigingspanne kos, klere en skuiling vir hulle gehad het. Voordat hulle hulle bestemming bereik het, het hulle gehoor dat daar ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies in ’n nabygeleë dorp gehou word. Hulle het besluit om eers die byeenkoms by te woon sodat hulle geestelike voedsel kon ontvang en Christelike assosiasie kon geniet.

In die gebied wat deur die sikloon getref is, is 35 huise van die Getuies vernietig, is 125 gedeeltelik beskadig en het 8 Koninkryksale geringe skade gehad. Gelukkig is die takfasiliteite nie juis beskadig nie.

Aanvanklik was die takkantoor heeltemal van die buitewêreld afgesny omdat groot bome omgeval en die paaie daar naby versper het. Net ’n paar uur nadat die storm bedaar het, het meer as 30 lede van die takpersoneel gehelp om die bome met die hand te verwyder. Terwyl hulle gewerk het, het mense heeltemal verstom gestaan en kyk. Ná ’n rukkie het ’n groep Getuievroue daar aangekom met koeldrank en vars vrugte vir die werkers sowel as die bure, wat hulle oë nie kon glo nie. Toe ’n joernalis sien wat gebeur, het hy gevra: “Wie is hierdie mense wat so ywerig werk?” Nadat hy vertel is, het hy opgemerk: “Ek wens meer mense wil dieselfde opregte gemeenskapsgees as Jehovah se Getuies toon!”

Die Getuies het gou twee noodlenigingskomitees in verskillende dele van die land gevorm om die noodlenigingswerk te organiseer. Honderde vrywilligers het op die noodlenigingspanne gewerk. Binne ’n paar dae is nuwe huise gebou vir Getuies wat hulle huise verloor het. Toe een van die noodlenigingspanne ’n nuwe huis vir ’n Getuie kom bou het, het haar bure eenvoudig in ongeloof gestaan en staar. Een buurvrou het gesê: “Hierdie Getuievrou se huis word deur haar kerk herbou. Nie een van my Boeddhistevriende het my kom help nie. Ek moes ’n Getuie geword het toe sy vir my gepreek het!”

Toe konstruksiewerkers en die noodlenigingskomitee ’n huis in Thanlyn geïnspekteer het wat feitlik verwoes was, was hulle diep getref toe die Getuiegesin vir hulle sê: “Niks het gebeur nie. Ons huis is goed genoeg. Ons kan hier woon—dis geen probleem nie! Party Getuies het nie eens ’n huis nie. Gaan help hulle!”

In een gebied van Jangon wou party mense in een van die plaaslike kerke gaan skuil. Maar die kerkdeur was gesluit en niemand kon ingaan nie. Mense het ontstoke geraak en wou die kerkdeur afbreek. In teenstelling hiermee het Jehovah se Getuies baie mense gehelp om gedurende die sikloon in die Koninkryksale skuiling te vind. Byvoorbeeld, by die Koninkryksaal in Dala het ’n Getuie-egpaar 20 desperate bure ingeneem wat vir veiligheid daarheen gevlug het. Die volgende oggend het hierdie gesinne nie huise gehad om na terug te keer nie, en hulle was honger. Die man het iemand gevind wat rys verkoop en het genoeg gekoop om almal kos te gee.

Party lede van ’n familie in Jangon is Jehovah se Getuies, terwyl ander verskeie kerke bywoon. Ná die sikloon het die hele familie na die vergadering by die Koninkryksaal gekom. Waarom? ’n Familielid het verduidelik: “Ons kerk het gesê dat hulle ons ná die storm sou kom besoek, maar hulle het nooit opgedaag nie. Net die Getuies het gekom. Julle het vir ons rys en water gegee. Julle is nie soos die ander kerke nie!” Die familielede wat nie Getuies is nie, het die bespreking van die Wagtoring-artikel “Jehovah hoor ons hulpgeroep” geniet en het selfs dikwels kommentaar gelewer.

Een vrou wat die Bybel saam met die Getuies gestudeer het, het die week ná die sikloon na die gemeentelike vergadering gekom. Gedurende die vergadering is ’n brief van die takkantoor gelees wat verduidelik het wat gedoen is om hulp te verleen en wat ondervindinge bevat het van diegene wat die sikloon oorleef het. Terwyl die brief gelees is, het die vrou begin huil. Sy was so beïndruk en bly om te hoor dat al die Getuies opgespoor en veilig is. Agterna is daar vir haar noodlenigingsvoorraad gegee, en ’n tent is langs haar huis vir haar opgeslaan. Sy het gesê sy voel dat die Getuies werklik goed na haar omgesien het.

Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). En die dissipel Jakobus het beklemtoon dat ware geloof met goeie werke gepaardgaan (Jakobus 2:14-17). Jehovah se Getuies neem hierdie woorde ter harte en streef daarna om sulke liefde te betoon deur diegene wat dit nodig het, te help en te ondersteun.

[Voetnoot]

a The Encyclopædia Britannica verduidelik: “In die Atlantiese en Karibiese streke word tropiese siklone gewoonlik orkane genoem, terwyl die woord tifoon in die westelike deel van die Stille Oseaan en die Chinese See gebruik word.”

[Lokteks op bladsy 11]

Die Bybel sê dat ware geloof met goeie werke gepaardgaan