Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vind ten volle baat by Jehovah se voorsienings

Vind ten volle baat by Jehovah se voorsienings

“Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel.”—JESAJA 48:17.

LIEDERE: 117, 114

1, 2. (a) Hoe voel Jehovah se Getuies oor die Bybel? (b) Wat is jou gunstelinggedeelte in die Bybel?

JEHOVAH SE GETUIES is lief vir die Bybel. Dit voorsien betroubare onderrigting en bied vertroosting en hoop (Romeine 15:4). Dit is nie ’n boek vol menslike idees nie, maar is “die woord van God”.—1 Tessalonisense 2:13.

2 Ons almal het waarskynlik ons gunstelinggedeeltes in die Bybel. Party hou van die Evangelies omdat hierdie verslae van Jesus se lewe Jehovah se pragtige persoonlikheid openbaar (Johannes 14:9). Ander verkies profetiese boeke soos Openbaring, wat ons “die dinge . . . toon wat binnekort moet plaasvind” (Openbaring 1:1). Party word vertroos wanneer hulle die Psalms lees, en ander geniet die nuttige raad in die boek Spreuke. Dit is dus duidelik dat die Bybel ’n boek vir almal is.

3, 4. (a) Hoe voel ons oor ons publikasies? (b) Watter publikasies is beskikbaar vir spesifieke groepe mense?

3 Omdat ons lief is vir die Bybel, is ons ook lief vir ons publikasies, wat op God se Woord gebaseer is. Al die boeke, brosjures, tydskrifte en ander lektuur wat ons ontvang, is voorsienings van Jehovah. Dit help ons om na aan hom te bly en om ons geloof sterk te hou.—Titus 2:2.

4 Baie van ons publikasies word vir Jehovah se Getuies oor die algemeen geskryf. Maar daar is publikasies wat vir spesifieke groepe, soos jongmense of ouers, geskryf word. Baie van die artikels en video’s op ons webwerf is spesifiek voorberei vir mense wat nie Jehovah se Getuies is nie. Hierdie groot verskeidenheid geestelike voedsel toon dat Jehovah sy belofte gehou het om almal te onderrig.—Jesaja 25:6.

5. Wat maak Jehovah se hart bly?

5 Die meeste van ons sal graag meer tyd wil hê om die Bybel en ons publikasies te lees. Party van ons publikasies sal ons dalk nie so goed studeer soos ander nie. Ons kan seker wees dat ons Jehovah se hart bly maak wanneer ons ons tyd wyslik gebruik om die Bybel en ons publikasies te lees en te studeer (Efesiërs 5:15, 16). Maar daar is ’n gevaar wat ons moet vermy. Wat is dit?

6. Wat kan veroorsaak dat ons nie baat vind by al Jehovah se voorsienings nie?

6 Ons moet versigtig wees dat ons nie dink dat sekere dele van die Bybel of sekere publikasies nie op ons van toepassing is nie. Byvoorbeeld, sê nou ons voel dat ’n gedeelte in die Bybel nie in ons huidige situasie prakties is nie? Of sê nou ons is nie deel van die gehoor vir wie die publikasie eintlik geskryf is nie? Lees ons die inligting net vinnig deur of lees ons dit dalk glad nie? Indien wel, sal ons nie by die waardevolle inligting daarin kan baat vind nie. Hoe kan ons hierdie gevaar vermy? Ons moet in gedagte hou dat al die inligting wat ons ontvang, van Jehovah kom. Ons lees in die Bybel: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel” (Jesaja 48:17). In hierdie artikel sal ons drie wenke bespreek wat ons sal help om baat te vind by al Jehovah se voorsienings.

WENKE OM BY BYBELLEES BAAT TE VIND

7. Waarom moet ons die Bybel met ’n oop gemoed lees?

7 Lees met ’n oop gemoed. Dit is so dat sekere dele van die Bybel vir ’n spesifieke persoon of groep mense geskryf is. Maar die Bybel sê duidelik: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig” (2 Timoteus 3:16). Daarom moet ons die Bybel met ’n oop gemoed lees. Een broer probeer byvoorbeeld in gedagte hou dat hy ’n hele paar lesse uit net een verslag kan leer. Dit help hom om lesse raak te sien wat nie voor die hand liggend is nie. Voordat ons die Bybel lees, moet ons Jehovah dus vra om ons ’n oop gemoed en wysheid te gee om die lesse te verstaan wat hy wil hê ons moet leer.—Esra 7:10; lees Jakobus 1:5.

Vind jy ten volle baat by jou Bybellees? (Sien paragraaf 7)

8, 9. (a) Watter vrae kan ons ons afvra wanneer ons die Bybel lees? (b) Wat vertel die vereistes vir ouer manne ons omtrent Jehovah?

8 Vra vrae. Wanneer jy die Bybel lees, moet jy jou afvra: ‘Wat leer dit my omtrent Jehovah? Hoe kan ek hierdie inligting in my lewe gebruik? Hoe kan ek dit gebruik om ander te help?’ Ons sal meer by ons Bybellees baat vind as ons oor hierdie vrae peins. Kom ons kyk na ’n voorbeeld. Die Bybel beskryf die vereistes waaraan Christen- ouer manne moet voldoen. (Lees 1 Timoteus 3:2-7.) Maar die meeste van ons is nie ouer manne nie, en daarom meen ons dalk dat ons nie by hierdie inligting kan baat vind nie. Kom ons gebruik egter die drie vrae wat vroeër genoem is om te sien hoe ons almal wel by hierdie inligting kan baat vind.

9 “Wat leer dit my omtrent Jehovah?” Die lys met vereistes vir ouer manne is deur Jehovah voorsien. Hy het hoë standaarde gestel vir die manne wat na die gemeente omsien. Dit toon dat die gemeente kosbaar is vir Jehovah. Die Bybel sê dat hy dit “met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Handelinge 20:28). Jehovah verwag dus dat die ouer manne ’n goeie voorbeeld moet stel, en hulle is voor hom aanspreeklik vir die wyse waarop hulle die gemeentelede behandel. Hy wil hê dat ons veilig onder hulle sorg moet voel (Jesaja 32:1, 2). Wanneer ons hierdie vereistes lees, leer ons hoe lief Jehovah werklik vir ons is.

Jehovah verwag dat elkeen van ons redelik moet wees en goeie oordeel aan die dag moet lê

10, 11. (a) Wat kan ons almal leer wanneer ons die vereistes vir ouer manne ondersoek? (b) Hoe kan ons hierdie inligting gebruik om ander te help?

10 “Hoe kan ek hierdie inligting in my lewe gebruik?” As jy reeds ’n ouer man is, moet jy die vereistes gereeld hersien en kyk waar jy kan verbeter. En as jy “na ’n opsienersamp streef”, moet jy jou inspan om aan hierdie vereistes te probeer voldoen (1 Timoteus 3:1). Maar alle Christene kan iets leer as hulle hierdie vereistes ondersoek. Byvoorbeeld, Jehovah verwag dat elkeen van ons redelik moet wees en goeie oordeel aan die dag moet lê (Filippense 4:5; 1 Petrus 4:7). Aangesien die ouer manne “voorbeelde vir die kudde” is, kan ons by hulle leer en “hulle geloof navolg”.—1 Petrus 5:3; Hebreërs 13:7.

11 “Hoe kan ek hierdie inligting gebruik om ander te help?” Ons kan die lys vereistes vir Christen- ouer manne gebruik om ons Bybelstudente en ander belangstellendes te help verstaan hoe die ouer manne van die kerkleiers verskil. Hierdie lys kan ons ook herinner aan die harde werk wat die ouer manne in ons gemeente doen. En dit sal ons help om respek te hê vir hierdie broers (1 Tessalonisense 5:12). As ons groot respek vir hulle het, sal hulle hulle toewysing met groter vreugde kan uitvoer.—Hebreërs 13:17.

12, 13. (a) Waaroor kan ons navorsing doen? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe navorsing ons kan help om lesse raak te sien wat nie so voor die hand liggend is nie.

12 Doen navorsing. Wanneer ons die Bybel studeer, kan ons antwoorde op die volgende vrae soek:

  • Wie het hierdie deel van die Bybel geskryf?

  • Waar en wanneer is dit geskryf?

  • Watter belangrike gebeurtenisse het plaasgevind toe hierdie boek geskryf is?

Hierdie inligting kan ons help om lesse raak te sien wat nie so voor die hand liggend is nie.

13 Esegiël 14:13, 14 sê byvoorbeeld: “Wat ’n land betref, as dit sonde teen my begaan deur ontrou te handel, sal ek ook my hand daarteen uitsteek . . . , en ek sal hongersnood daarin stuur en mens en mak dier daaruit uitroei. ‘En as hierdie drie manne, Noag, Daniël en Job, daarin was, sou hulle weens hulle regverdigheid hulle eie siel verlos’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah.” As ons navorsing doen, sal ons uitvind dat Esegiël hierdie woorde omstreeks 612 VHJ geskryf het. Noag en Job was reeds honderde jare lank dood, maar Jehovah het nog steeds hulle getrouheid onthou. Maar Daniël het nog gelewe. Hy was heel waarskynlik omtrent 20 jaar oud toe Jehovah gesê het dat hy regverdig is net soos Noag en Job. Wat leer dit ons? Jehovah sien en waardeer al sy getroue knegte, insluitende jongmense.—Psalm 148:12-14.

VIND BAAT BY ’N VERSKEIDENHEID PUBLIKASIES

14. Hoe vind jongmense baat by die lektuur wat vir hulle voorsien word, en hoe kan ander ook daarby baat vind? (Sien prent aan begin van artikel.)

14 Lektuur vir jongmense. Ons het geleer dat ons by die hele Bybel kan baat vind. Net so kan ons by al ons publikasies baat vind. Kom ons bespreek ’n paar voorbeelde. In onlangse jare het Jehovah baie inligting vir jongmense voorsien. [1] (Sien eindnota.) Hierdie inligting help hulle om druk by die skool te weerstaan en die uitdagings van die grootwordproses die hoof te bied. Maar hoe kan ons almal daarby baat vind om hierdie artikels en boeke te lees? Wanneer ons hierdie inligting lees, besef ons met watter probleme jongmense te kampe het en sal ons hulle kan help en aanmoedig.

Volwasse Christene moenie dink dat dit benede hulle is om die inligting te lees wat vir jongmense bedoel is nie

15. Waarom moet volwasse Christene belangstel in die inligting wat vir jongmense geskryf is?

15 Volwasse Christene moenie dink dat dit benede hulle is om die inligting te lees wat vir jongmense bedoel is nie. Baie van die probleme wat in hierdie artikels bespreek word, raak alle Christene. Byvoorbeeld, ons almal moet ons oortuigings verdedig, ons emosies beheers, groepsdruk weerstaan en slegte assosiasie en slegte vermaak vermy. Al is hierdie publikasies vir jongmense geskryf, kom die inligting daarin uit die Bybel en kan alle Christene daarby baat vind.

16. Wat kan ons publikasies jongmense help om te doen?

16 Publikasies wat vir jongmense geskryf is, kan hulle ook help om hulle vriendskap met Jehovah te versterk. (Lees Prediker 12:1, 13.) En volwassenes kan ook hierby baat vind. Byvoorbeeld, die Ontwaak! van April 2009 bevat die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek Bybellees aangenaam maak?” In daardie artikel is ’n hele paar nuttige wenke en ’n venster wat ’n mens kan uitknip en vir studie kan gebruik. Het volwassenes by daardie artikel baat gevind? ’n Getroude vrou en ma het gesê dat Bybellees nog altyd vir haar moeilik was. Maar sy het die wenke in die artikel toegepas en sien nou daarna uit om die Bybel te lees. Sy sê dat sy dit geniet om te sien hoe al die Bybelboeke met mekaar verband hou en ’n pragtige prentjie vorm. Sy voeg by: “Ek was nog nooit so opgewonde oor Bybellees nie.”

17, 18. Hoe kan ons baat vind by artikels wat vir die publiek geskryf is? Gee ’n voorbeeld.

17 Lektuur vir die publiek. Sedert 2008 word die studie-uitgawe van Die Wagtoring uitgegee. Hierdie uitgawe word hoofsaaklik vir Jehovah se Getuies geskryf, maar ons het ook tydskrifte wat vir die publiek geskryf word. Hoe kan ons ook hierby baat vind? Kom ons gebruik ’n voorbeeld. Wanneer jy iemand na die Koninkryksaal nooi en hy opdaag, is jy opgewonde. Terwyl die spreker sy toespraak hou, dink jy aan hierdie persoon. Jy wonder hoe hy voel oor die dinge wat hy hoor en hoe die inligting sy lewe kan verander. Gevolglik raak die inligting wat bespreek word ook jou hart en vergroot dit jou waardering daarvoor.

18 Iets soortgelyks kan gebeur wanneer ons lektuur lees wat vir die publiek geskryf is. Byvoorbeeld, die publieke uitgawe van Die Wagtoring en artikels op jw.org gebruik maklik verstaanbare woorde en uitdrukkings om die Bybel te verduidelik. Wanneer ons hierdie inligting lees, verbeter dit ons begrip van Bybelwaarhede wat ons reeds goed ken en word ons liewer daarvoor. En ons vind dalk nuwe maniere om ons oortuigings in die bediening te verduidelik. Dan is daar ook die Ontwaak!, wat ons oortuiging versterk dat daar ’n Skepper is en wat ons leer hoe om ons oortuigings te verdedig.—Lees 1 Petrus 3:15.

19. Hoe kan ons vir Jehovah wys dat ons sy voorsienings waardeer?

19 Dit is duidelik dat Jehovah ’n oorvloed raad en onderrigting tot ons voordeel voorsien (Matteus 5:3). Kom ons gaan voort om al die inligting wat hy ons gee, te lees en toe te pas. As ons dit doen, sal dit ons tot voordeel strek en vir Jehovah wys dat ons al sy voorsienings waardeer.—Jesaja 48:17.