STUDIEARTIKEL 42
LIED 103 Herders — Gawes in mense
Wys dat jy “gawes in die vorm van mense” waardeer
“Toe hy na bo opgevaar het, het hy . . . gawes in die vorm van mense gegee.” – EF. 4:8.
DOEL
Hoe bedieningsknegte, ouermanne en kringopsieners ons help en hoe ons kan wys dat ons waardeer wat hierdie getroue mans doen.
1. Wat is party van die geskenke wat Jesus ons gegee het?
GEEN mens was al ooit so vrygewig soos Jesus nie. Toe hy op die aarde was, het hy sy wonderdadige krag vryelik gebruik om ander te help (Luk. 9:12-17). Hy het die heel grootste geskenk gegee deur sy lewe vir ons op te offer (Joh. 15:13). Vandat hy opgewek is, het Jesus aangehou om vrygewig te wees. Net soos hy belowe het, het hy Jehovah gevra om heilige gees uit te stort om ons te leer en te vertroos (Joh. 14:16, 17, vtn.; 16:13). En deur middel van ons gemeentelike vergaderinge hou Jesus aan om ons te gee wat ons nodig het om regoor die wêreld dissipels te maak. – Matt. 28:18-20.
2. Wie is onder die “gawes in die vorm van mense” wat in Efesiërs 4:7, 8 genoem word?
2 Dink aan nog een van Jesus se geskenke. Die apostel Paulus het geskryf dat Jesus “gawes in die vorm van mense gegee” het nadat hy na die hemel opgevaar het. (Lees Efesiërs 4:7, 8.) Paulus het verduidelik dat Jesus hierdie geskenke gegee het om die gemeente op verskillende maniere te ondersteun (Ef. 1:22, 23; 4:11-13). Vandag sluit hierdie “gawes in die vorm van mense” bedieningsknegte, gemeentelike ouermanne en kringopsieners in. a Hierdie mans is natuurlik onvolmaak, en daarom maak hulle foute (Jak. 3:2). Maar ons Here Jesus Christus gebruik hulle om ons te help; hulle is sy geskenke aan ons.
3. Verduidelik hoe ons almal die werk van die “gawes in die vorm van mense” kan ondersteun.
3 Jesus het hierdie “gawes in die vorm van mense” aangestel om die gemeente op te bou (Ef. 4:12). Maar die res van ons kan hulle help om hierdie belangrike verantwoordelikheid uit te voer. Dink aan hierdie voorbeeld: Party van ons is direk betrokke by die bou van ’n Koninkryksaal. Ander ondersteun die werk deur kos, vervoer en ander dienste te voorsien. Net so kan ons almal die werk van bedieningsknegte, gemeentelike ouermanne en kringopsieners ondersteun deur wat ons sê en doen. Kom ons kyk hoe ons baat vind by hulle harde werk en hoe ons vir hulle en Jesus, wat hierdie “gawes in die vorm van mense” vir ons gegee het, kan wys dat ons hulle waardeer.
BEDIENINGSKNEGTE HET “VERMOËNS OM TE KAN HELP”
4. Wat is party van die dinge wat bedieningsknegte in die eerste eeu gedoen het?
4 In die eerste eeu is party broers as bedieningsknegte aangestel (1 Tim. 3:8). Dit lyk asof Paulus van hulle gepraat het toe hy gesê het dat daar dié is met “vermoëns om te kan help” (1 Kor. 12:28). Bedieningsknegte het heel moontlik na noodsaaklike sake omgesien sodat die ouermanne daarop kon fokus om die gemeente te onderrig en vir die gemeente te sorg. Byvoorbeeld, bedieningsknegte het dalk gehelp om kopieë van die Skrif te maak of het dalk dinge gekoop wat nodig was om kopieë te maak.
5. Wat is party van die belangrike dinge wat bedieningsknegte vandag doen?
5 Dink aan party belangrike dinge wat bedieningsknegte in jou gemeente doen (1 Pet. 4:10). Hulle word dalk gevra om om te sien na die gemeente se rekeninge of die gemeente se gebied, om lektuur vir die gemeente te bestel, om met die oudio- en videotoerusting te werk, om saalwagters te wees of om te help om die Koninkryksaal in stand te hou. Al hierdie dinge is noodsaaklik vir die gemeente om goed te funksioneer (1 Kor. 14:40). En party bedieningsknegte doen dele op die Lewe en Bediening-vergadering en gee openbare toesprake. ’n Bedieningskneg word dalk ook aangestel om ’n groepopsiener te help. Soms gaan bekwame bedieningsknegte saam met ouermanne wanneer hulle herdersbesoeke doen.
6. Wat is ’n paar redes hoekom ons ons hardwerkende bedieningsknegte waardeer?
6 Hoe vind die gemeente baat by die werk van bedieningsknegte? “Danksy ons bedieningsknegte geniet ek die vergadering baie,” sê Beberly, b ’n suster in Bolivia. “As gevolg van hulle werk, kan ek sing, my antwoorde gee, na toesprake luister en uit video’s en prente leer. Hulle help om seker te maak dat dié wat die vergaderinge bywoon, veilig is en dat dié wat nie by die vergadering kan wees nie, die program deur middel van videokonferensie kan kyk. Ná die vergadering help hulle met die skoonmaakwerk en met die rekeninge, en hulle maak seker dat ons die lektuur het wat ons nodig het. Ek is dankbaar vir hulle!” Leslie, wat in Colombia bly en wie se man as ’n ouerman dien, sê: “My man maak staat op die bedieningsknegte om na verskeie toewysings om te sien. Sonder hulle sou hy selfs besiger gewees het, so ek is dankbaar vir hulle entoesiasme en gewillige hulp.” Dit is sekerlik hoe jy ook voel. – 1 Tim. 3:13.
7. Hoe kan ons wys dat ons bedieningsknegte waardeer? (Sien ook prent.)
7 Ons voel dalk dankbaar vir bedieningsknegte, maar die Bybel moedig ons aan: “Toon dat julle dankbaar is” (Kol. 3:15). Krzysztof, ’n ouerman in Finland, toon sy dankbaarheid op hierdie manier: “Ek stuur ’n kaartjie of ’n teksboodskap waarin ek ’n vers aanhaal en ’n spesifieke manier noem hoe die bedieningskneg my aangemoedig het of hoekom ek sy werk waardeer.” Pascal en Jael, wat in Nieu-Kaledonië bly, bid spesifiek vir bedieningsknegte. Pascal verduidelik: “Onlangs het ons baie vir ons bedieningsknegte gebid en Jehovah vir hulle bedank en hom gevra om met hulle te wees en om hulle te help.” Jehovah luister na sulke gebede, en die hele gemeente vind daarby baat. – 2 Kor. 1:11.
GEMEENTELIKE OUERMANNE “[WERK] HARD ONDER JULLE”
8. Hoekom kon Paulus skryf dat ouermanne in die eerste eeu hard gewerk het? (1 Tessalonisense 5:12, 13)
8 Ouermanne in die eerste eeu het hard vir die gemeente gewerk. (Lees 1 Tessalonisense 5:12, 13; 1 Tim. 5:17.) Hulle het “die leiding” in die gemeente geneem deur vergaderinge te hou en besluite as ’n liggaam van ouermanne te neem. Hulle het hulle broers en susters reguit maar liefdevolle raad gegee om die gemeente te beskerm (1 Tess. 2:11, 12; 2 Tim. 4:2). Hierdie mans het natuurlik ook hard gewerk om vir hulle families te sorg en om hulleself geestelik sterk te hou. – 1 Tim. 3:2, 4; Tit. 1:6-9.
9. Wat is party van die verantwoordelikhede wat ouermanne vandag het?
9 Vandag is ouermanne baie besig. Hulle is evangeliepredikers (2 Tim. 4:5). Hulle neem ywerig die leiding in die veldbediening, organiseer die predikingswerk in die plaaslike gebied en lei ons op om effektief te preek en te onderrig. Hulle is ook genadige, onpartydige regters. Wanneer ’n Christen ernstig sondig, probeer ouermanne om hom te help om sy vriendskap met Jehovah te herstel. Terselfdertyd werk hulle hard om die gemeente skoon te hou (1 Kor. 5:12, 13; Gal. 6:1). Ouermanne is hoofsaaklik bekend as herders (1 Pet. 5:1-3). Hulle gee goed voorbereide toesprake uit die Bybel, probeer hard om almal in die gemeente te leer ken en doen herdersbesoeke. Party ouermanne help ook om Koninkryksale te bou en in stand te hou, byeenkomste te organiseer en met die werk van Hospitaalskakelkomitees en Pasiëntbesoekgroepe, sowel as met ander toewysings. Ouermanne werk hard vir ons!
10. Wat is ’n paar redes hoekom ons ons hardwerkende ouermanne waardeer?
10 Jehovah het voorspel dat herders goed vir ons sou sorg en dat ons “nie meer bang [sou] wees of [sou] vrees nie” (Jer. 23:4). Johanna, ’n suster in Finland, het ondervind hoe waar daardie woorde is toe haar ma ernstig siek geword het. Sy vertel: “Al is dit vir my moeilik om my gevoelens met ander te deel, was ’n ouerman wat ek nie baie goed geken het nie, geduldig met my, en hy het saam met my gebid en my van Jehovah se liefde verseker. Ek onthou nie presies wat hy gesê het nie, maar ek onthou dat ek veilig gevoel het. Ek glo dat Jehovah hom gestuur het om my op presies die regte oomblik te help.” Hoe het die ouermanne in jou gemeente jou al gehelp?
11. Hoe kan ons wys dat ons die ouermanne waardeer? (Sien ook prent.)
11 Jehovah wil hê dat ons opregte waardering vir die ouermanne moet toon “as gevolg van hulle werk” (1 Tess. 5:12, 13). Henrietta, wat ook in Finland bly, sê: “Ouermanne help ander gewilliglik, maar dit beteken nie dat hulle ekstra tyd en energie het of dat hulle nie uitdagings in hulle lewe het nie. Soms sê ek net vir hulle: ‘Weet jy wat? Jy is ’n baie goeie ouerman. Ek hoop jy weet dit.’” ’n Suster in Türkiye c met die naam Sera sê: “Ouermanne het ‘brandstof’ nodig om aan die gang te bly. So ons kan vir hulle ’n kaartjie skryf, hulle vir ’n ete nooi of saam met hulle in die veldbediening werk.” Is daar ’n ouerman wie se werk jy veral waardeer? Soek na maniere om te wys dat jy hom waardeer. – 1 Kor. 16:18.
KRINGOPSIENERS WAT OPBOU
12. Watter reëling het die gemeentes in die eerste eeu opgebou? (1 Tessalonisense 2:7, 8)
12 Christus Jesus het vir die gemeente “gawes in die vorm van mense” gegee wat op ’n ander manier dien. Onder sy leiding het die ouermanne in Jerusalem Paulus, Barnabas en ander as reisende opsieners uitgestuur (Hand. 11:22). Hoekom? Vir dieselfde rede dat bedieningsknegte en ouermanne aangestel is: om die gemeentes op te bou (Hand. 15:40, 41). Hierdie mans het baie opofferings gemaak om hierdie werk te doen en soms selfs hulle lewens gewaag om ander te leer en aan te moedig. – Lees 1 Tessalonisense 2:7, 8.
13. Wat is party van die verantwoordelikhede van kringopsieners?
13 Kringopsieners moet baie reis. Party reis honderde kilometers tussen gemeentes. Elke week gee ’n kringopsiener ’n hele paar toesprake, gaan hy op herdersbesoeke en hou hy ’n pioniervergadering, ’n ouermanvergadering en velddiensvergaderinge. Hy berei toesprake voor en reël kringbyeenkomste en streekbyeenkomste. Hy hou pionierskole, reël ’n spesiale vergadering met die pioniers in die kring en hanteer ander – soms dringende – sake wat die takkantoor hom vra om te doen.
14. Wat is party redes hoekom ons ons hardwerkende kringopsieners waardeer?
14 Hoe vind gemeentes baat by die kosbare werk van kringopsieners? ’n Broer in Türkiye sê die volgende oor die besoeke van reisende opsieners: “Elke besoek motiveer my om meer tyd te gebruik om my broers en susters te help. Ek het al baie kringopsieners ontmoet, maar nog nie een van hulle het my al ooit laat voel dat hy te besig is of dat ek nie met hom kan praat nie.” Johanna, wat vroeër aangehaal is, het saam met ’n kringopsiener velddiens gedoen, maar hulle het niemand by die huis gekry nie. Sy sê: “Maar ek sal daardie dag nooit vergeet nie. My twee susters het toe net weggetrek, en ek het baie na hulle verlang. Die kringopsiener het my liefdevol aangemoedig en my gehelp om te sien dat afstand in Jehovah se diens net tydelik is, maar in die nuwe wêreld sal ons vir ewig tyd saam kan spandeer.” Baie van ons het ook lief geword vir ons kringopsieners, en ons waardeer die manier hoe hulle ons gehelp het. – Hand. 20:37–21:1.
15. (a) In ooreenstemming met 3 Johannes 5-8, hoe kan ons wys dat ons kringopsieners waardeer? (Sien ook prent.) (b) Hoekom moet ons wys dat ons die vrouens van aangestelde mans waardeer, en hoe kan ons dit doen? (Sien die venster “ Onthou hulle vrouens”.)
15 Die apostel Johannes het Gajus aangemoedig om gasvry te wees teenoor die broers wat hulle besoek het en om hulle “wanneer hulle vertrek, [te] help op ’n manier wat God se hart sal bly maak”. (Lees 3 Johannes 5-8.) Een manier waarop ons dit kan doen, is deur die kringopsiener vir ete te nooi. Nog ’n manier is deur die reëlings vir velddiens gedurende sy besoek te ondersteun. Leslie, wat vroeër aangehaal is, wys haar dankbaarheid ook op ander maniere. “Ek bid dat Jehovah vir hulle alles sal gee wat hulle nodig het,” sê sy. “Ek en my man het ook al vir hulle briewe geskryf waarin ons vir hulle sê hoe baie hulle besoeke ons al gehelp het.” Onthou, kringopsieners is ook maar net mens. Soms word hulle siek, voel hulle angstig en word hulle selfs mismoedig. Dalk sal jou liefdevolle woorde of ’n klein geskenkie die antwoord wees op julle kringopsiener se gebed om hulp! – Spr. 12:25.
ONS HET “GAWES IN DIE VORM VAN MENSE” NODIG
16. In ooreenstemming met Spreuke 3:27, watter vrae kan broers hulleself vra?
16 Regoor die wêreld het ons meer broers nodig om as “gawes in die vorm van mense” te dien. As jy ’n gedoopte broer is, is dit “vir jou moontlik . . . om te help”? (Lees Spreuke 3:27.) Is jy bereid om te werk om die doelwit te bereik om as ’n bedieningskneg te kwalifiseer? Kan jy uitreik om vir die behoeftes van jou broers te sorg as ’n ouerman? d Kan jy aanpassings in jou lewe maak om aansoek te doen vir die Skool vir Koninkrykspredikers? Daardie skool sal jou oplei en help om selfs meer deur Jesus gebruik te word. As jy onbekwaam voel, bid tot Jehovah. Vra hom vir sy heilige gees om jou te help om enige toewysing wat jy kry, suksesvol te hanteer. – Luk. 11:13; Hand. 20:28.
17. Wat bewys “gawes in die vorm van mense” oor ons Koning, Christus Jesus?
17 Die broers wat Jesus as “gawes in die vorm van mense” aangestel het, is ’n bewys dat hy ons gedurende hierdie laaste dae lei (Matt. 28:20). Ons is so dankbaar dat ons so ’n liefdevolle en vrygewige Koning het wat weet wat ons nodig het en ons bekwame broers gee om ons te help. So soek na geleenthede om te wys dat jy hierdie hardwerkende mans waardeer. En moet nooit vergeet om vir Jehovah dankie te sê nie, want hy is die een wat vir ons “elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk” gee. – Jak. 1:17.
LIED 99 Duisende broers
a Ouermanne wat as lede van die Bestuursliggaam, helpers van die Bestuursliggaam en Takkomiteelede dien, en dié in ander toewysings is ook “gawes in die vorm van mense”.
b Party name is verander.
c Is voorheen Turkye genoem.
d Vir inligting oor hoe om uit te reik om as ’n bedieningskneg of as ’n ouerman te dien, sien die artikels “Broers – Reik julle uit om bedieningsknegte te wees?” en “Broers – Reik julle uit om as ouermanne te dien?” in Die Wagtoring van November 2024.