Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 21

LIED 107 God se voorbeeld van liefde

Hoe om ’n potensiële huweliksmaat te vind

Hoe om ’n potensiële huweliksmaat te vind

“Wie kan ’n goeie vrou vind? Sy is baie meer werd as korale.” – SPR. 31:⁠10.

DOEL

Bybelbeginsels wat verband hou met hoe iemand ’n goeie huweliksmaat kan identifiseer en hoe ander in die gemeente ongetroudes wat graag wil trou, kan ondersteun.

1-2. (a) Waaroor moet ongetroude Christene mooi dink voordat hulle ’n romantiese verhouding begin? (b) Wat bedoel ons wanneer ons van ’n “romantiese verhouding” praat? (Sien “Wat dit beteken”.)

 WIL jy graag trou? ’n Mens hoef nie te trou om gelukkig te wees nie, maar baie ongetroude Christene, of hulle nou jonk of oud is, sien daarna uit om ’n huweliksmaat te hê. Voordat jy ’n romantiese verhouding begin, moet jy natuurlik finansieel, geestelik en emosioneel gereed wees vir die huwelik (1 Kor. 7:​36). a Wanneer dit die geval is, is daar ’n groter kans dat jy ’n suksesvolle huwelik sal hê.

2 Maar dit is nie altyd maklik om ’n goeie huweliksmaat te vind nie (Spr. 31:​10). En selfs wanneer jy wel iemand vind wat jy graag beter wil leer ken, is dit dalk nie maklik om ’n romantiese verhouding te begin nie. b In hierdie artikel sal ons bespreek wat ongetroude Christene kan help om ’n potensiële maat te vind en ’n romantiese verhouding te begin. Ons sal ook leer hoe ander in die gemeente dié wat wil trou, kan ondersteun.

HOE OM ’N GOEIE MAAT TE VIND

3. Waaroor moet ongetroude Christene dink wanneer hulle na ’n huweliksmaat soek?

3 As jy graag wil trou, is dit goed om te weet waarna jy in ’n maat soek voordat jy ’n romantiese verhouding begin. c Anders kan jy ’n potensiële maat miskyk of ’n romantiese verhouding begin met iemand wat nie goed by jou pas nie. Enige potensiële maat moet natuurlik ’n gedoopte Christen wees (1 Kor. 7:​39). Maar nie elke gedoopte persoon sal vir jou ’n goeie huweliksmaat wees nie. So jy kan jou afvra: ‘Wat is my doelwitte in die lewe? Watter eienskappe is vir my noodsaaklik in ’n huweliksmaat? Is my verwagtinge redelik?’

4. Wat het party by hulle gebede ingesluit?

4 As jy graag wil trou, is dit iets waaroor jy sekerlik al gebid het (Fil. 4:⁠6). Jehovah belowe natuurlik nie om vir enige iemand ’n huweliksmaat te gee nie. Maar hy gee om oor jou behoeftes en gevoelens, en hy kan jou help met die proses om ’n maat te vind. So hou aan om jou begeertes en gevoelens met hom te deel (Ps. 62:⁠8). Bid vir geduld en wysheid (Jak. 1:⁠5). John, d ’n ongetroude broer van die Verenigde State, verduidelik wat hy by sy gebede insluit: “Ek sê vir Jehovah watter eienskappe ek graag in ’n maat wil hê. Ek bid vir geleenthede om ’n potensiële maat te ontmoet. Ek vra Jehovah ook om my te help om eienskappe te ontwikkel wat my ’n goeie man sal maak.” Tanya, ’n suster van Sri Lanka, sê: “Terwyl ek na ’n potensiële maat soek, vra ek Jehovah om my te help om getrou, positief en gelukkig te bly.” Al vind jy nie ­onmiddellik ’n potensiële ­huweliksmaat nie, belowe Jehovah om aan te hou om in jou fisiese en emosionele behoeftes te voorsien. – Ps. 55:⁠22.

5. Watter geleenthede het ongetroude Christene om iemand te ontmoet wat Jehovah liefhet? (1 Korintiërs 15:​58) (Sien ook prent.)

5 Die Bybel moedig ons aan om “baie [te hê] om in die werk van die Here te doen”. (Lees 1 Korintiërs 15:​58.) Terwyl jy in Jehovah se diens besig bly en tyd met ’n verskeidenheid broers en susters spandeer, sal jy nie net opbouende assosiasie geniet nie, maar ook geleenthede hê om ander ongetroudes te ontmoet wat, net soos jy, gefokus is op hulle diens aan Jehovah. En terwyl jy jou bes doen om Jehovah tevrede te stel, sal jy ware geluk ondervind.

As jy besig bly in Jehovah se diens en tyd spandeer met ’n verskeidenheid broers en susters, sal jy dalk ander ontmoet wat wil trou (Sien paragraaf 5)


6. Wat moet ongetroude Christene onthou terwyl hulle na ’n maat soek?

6 Maar hier is ’n woordjie van waarskuwing: Moenie toelaat dat jou soeke na ’n maat die belangrikste ding in jou lewe word nie (Fil. 1:​10). Ware geluk hang nie af van of jy getroud of ongetroud is nie, maar van jou verhouding met Jehovah (Matt. 5:⁠3). En terwyl jy ongetroud is, sal jy dalk meer vryheid hê om meer in jou bediening te doen (1 Kor. 7:​32, 33). Maak goed gebruik van hierdie tyd. Jessica, ’n suster van die Verenigde State wat getrou het toe sy in haar laat 30’s was, sê: “Ek het besig gebly in die bediening, en dit het my gehelp om tevrede te wees, al wou ek graag trou.”

NEEM TYD OM DIE ANDER PERSOON DOP TE HOU

7. Hoekom is dit wys om ’n potensiële maat ’n ruk lank dop te hou voordat jy vir daardie persoon sê dat jy belangstel? (Spreuke 13:⁠16)

7 Wat as jy dink dat iemand dalk ’n goeie huweliksmaat sal wees? Moet jy onmiddellik vir daardie persoon sê dat jy belangstel? Die Bybel sê dat ’n wyse persoon kennis opdoen voordat hy optree. (Lees Spreuke 13:​16.) So dit is wys om iemand ’n ruk lank dop te hou voordat jy vir daardie persoon sê dat jy belangstel. “Gevoelens kan vinnig ontwikkel, maar ook vinnig verdwyn,” sê Aschwin van Nederland. “So as jy jouself tyd gee om iemand dop te hou, sal jy nie ’n romantiese verhouding begin wat net op tydelike gevoelens gebaseer is nie.” En terwyl jy die ander persoon dophou, sal jy dalk besef dat daardie persoon nie by jou pas nie.

8. Hoe kan ’n ongetroude persoon ’n potensiële maat dophou? (Sien ook prent.)

8 Hoe kan jy die ander persoon dophou? By gemeentelike vergaderinge of by sosiale geleenthede sal jy dalk dinge oor hierdie persoon se geestelikheid, persoonlikheid en gedrag oplet. Wie is sy vriende, en waaroor praat hy? (Luk. 6:​45). Is sy doelwitte soortgelyk aan joune? Jy kan dalk met sy gemeentelike ouermanne praat, of met ander volwasse Christene wat hom goed ken (Spr. 20:​18). Jy kan hulle dalk uitvra oor die persoon se reputasie en eienskappe (Rut 2:​11). Terwyl jy hierdie persoon dophou, moet jy dit vermy om hom ongemaklik te laat voel. Respekteer sy gevoelens, privaatheid en persoonlike spasie.

Voordat jy vir iemand sê dat jy in hulle belangstel, hou die persoon ’n ruk lank dop (Sien paragraaf 7-8)


9. Waarvan moet jy oortuig wees voordat jy met ’n potensiële maat praat?

9 Hoe lank moet jy die persoon dophou voordat jy vir daardie persoon sê dat jy belangstel? As jy te gou met die persoon praat, kan dit lyk asof jy impulsief is (Spr. 29:​20). Aan die ander kant, as jy te lank neem, kan dit lyk asof jy besluiteloos is, veral as die ander persoon agtergekom het dat jy belangstel (Pred. 11:⁠4). Voordat jy met iemand praat, onthou dat jy nie oortuig hoef te wees dat jy met daardie persoon sal trou nie. Maar jy moet oortuig wees dat jy gereed is vir die huwelik en dat die ander persoon ’n goeie maat vir jou kan wees.

10. Wat moet jy doen as jy besef dat iemand in jou belangstel maar jy voel nie dieselfde nie?

10 Maar wat as jy besef dat iemand in jou belangstel? As jy nie dieselfde voel nie, probeer om dit duidelik te maak deur jou gedrag. Dit sou nie liefdevol wees om die persoon te laat dink dat daar ’n moontlikheid van ’n verhouding is wanneer dit nie die geval is nie. – 1 Kor. 10:​24; Ef. 4:⁠25.

11. Watter dinge moet in gedagte gehou word in lande waar ’n romantiese verhouding of ’n huwelik deur ander gereël word?

11 In party lande word daar dalk van ouers of ander volwassenes verwag om ’n maat vir hulle ongetroude familielede te kies. In ander lande vind familie of vriende ’n potensiële maat vir ’n ongetroude persoon en dan reël hulle dat die man en die vrou ontmoet om te sien of hulle bymekaar pas. As jy gevra word om ’n romantiese verhouding of ’n huwelik te reël, moet jy aan die voorkeure en behoeftes van albei persone dink. Wanneer jy ’n potensiële maat identifiseer, moet jy soveel as wat jy kan oor die persoon se persoonlikheid, eienskappe en, nog belangriker, geestelikheid uitvind. ’n Sterk verhouding met Jehovah is baie belangriker as geld, opvoeding of sosiale status. Maar onthou dat die ongetroude broer en die ongetroude suster die finale besluit moet maak oor of hulle gaan trou of nie. – Gal. 6:⁠5.

HOE OM ’N ROMANTIESE VERHOUDING TE BEGIN

12. As jy daarin belangstel om ’n romantiese verhouding met iemand te begin, hoe kan jy vir daardie persoon sê hoe jy voel?

12 As jy graag ’n romantiese verhouding met iemand wil begin, hoe kan jy vir daardie persoon sê dat jy belangstel? e Jy kan reël om in ’n openbare plek of oor die telefoon met daardie persoon te praat. Sê duidelik vir hulle dat jy romanties in hulle belangstel en dat jy hulle graag beter wil leer ken (1 Kor. 14:⁠9). As dit nodig is, gee vir die persoon tyd om te dink oor hoe om te reageer (Spr. 15:​28). En as die persoon nie daarin belangstel om ’n verhouding te begin nie, respekteer sy gevoelens.

13. Wat kan jy doen as iemand sê dat hulle romanties in jou belangstel? (Kolossense 4:⁠6)

13 Wat as iemand sê dat hulle in jou belangstel? Daardie persoon het heel moontlik moed nodig gehad om met jou te kom praat, so wees liefdevol en respekvol. (Lees Kolossense 4:⁠6.) As jy tyd nodig het om te dink oor of jy gaan instem om ’n romantiese verhouding te begin, sê so. Maar probeer om so gou as moontlik ’n antwoord te gee (Spr. 13:​12). As jy nie belangstel nie, sê dit op ’n liefdevolle en duidelike manier. Kyk hoe Hans, ’n broer van Oostenryk, gereageer het toe ’n suster met hom kom praat het: “Ek het op ’n taktvolle maar duidelike manier gesê wat ek besluit het. Ek het dit onmiddellik gedoen omdat ek nie vir haar valse hoop wou gee nie. Vir dieselfde rede was ek ook versigtig wanneer dit gekom het by hoe ek haar daarna behandel het.” Aan die ander kant, as jy daarin belangstel om ’n romantiese verhouding met daardie persoon te begin, bespreek julle gevoelens en verwagtinge met mekaar. Jou verwagtinge sal dalk verskil van die ander persoon s’n, afhangende van jou kultuur of ander faktore.

HOE KAN ANDER ONGETROUDE CHRISTENE ONDERSTEUN?

14. Hoe kan ons ongetroude Christene met ons woorde ondersteun?

14 Hoe kan ons almal ongetroude Christene wat wil trou, ondersteun? Een manier is deur versigtig te wees wanneer dit kom by wat ons sê (Ef. 4:​29). Ons kan ons afvra: ‘Terg ek dié wat wil trou? Wanneer ek ’n ongetroude broer en ’n ongetroude suster sien praat, neem ek aan dat hulle romanties in mekaar belangstel?’ (1 Tim. 5:​13). Ons moet ook nooit ongetroude Christene laat voel dat daar iets fout is met hulle of dat hulle minder belangrik is omdat hulle nie getroud is nie. Hans, wat vroeër aangehaal is, sê: “Party broers sê: ‘Hoekom trou jy nie? Jy is nie meer so jonk nie.’ Sulke kommentare laat ongetroudes voel dat hulle nie waardeer word nie en plaas net meer druk op hulle om te trou.” Dit is baie beter om eerder na geleenthede te soek om ongetroude Christene te prys! – 1 Tess. 5:​11.

15. (a) Waaraan moet ons dink voordat ons iemand help om ’n huweliksmaat te vind volgens die beginsel in Romeine 15:⁠2? (Sien ook prent.) (b) Watter punte uit die video het vir jou uitgestaan?

15 Wat as ons dink dat ’n sekere broer en ’n sekere suster ’n goeie paartjie sou maak? Die Bybel sê dat ons aan ander se gevoelens moet dink. (Lees Romeine 15:⁠2.) Baie ongetroudes wil nie hê dat ander hulle aan ’n potensiële maat moet voorstel nie, en ons moet hulle wense respekteer (2 Tess. 3:​11). Ander sal dalk wil hê dat ons hulle moet help, maar ons moenie inmeng as hulle nie vir hulp vra nie (Spr. 3:​27). f Party ongetroudes verkies ’n benadering wat nie so direk is nie. Lydia, ’n ongetroude suster van Duitsland, sê: “Jy kan die broer en suster by ’n groot groep insluit. Skep eenvoudig die geleentheid vir die broer en die suster om te ontmoet, en laat die res aan hulle oor.”

Wanneer ’n groot groep bymekaar is, gee dit ongetroude Christene ’n geleentheid om mekaar te ontmoet (Sien paragraaf 15)


16. Wat moet ongetroude Christene onthou?

16 Ons almal – ongetroud of getroud – kan gelukkige en bevredigende lewens lei! (Ps. 128:⁠1). So as jy wil trou, maar nog nie iemand gevind het nie, hou aan fokus op jou diens aan Jehovah. ’n Suster van Macao met die naam Sin Yi sê: “As jy dink aan hoe lank jy eendag saam met jou huweliksmaat in die Paradys gaan wees, is die tydjie wat jy nou ongetroud is, eintlik baie kort. Geniet daardie tyd, en maak goed gebruik daarvan.” Maar wat as jy ’n potensiële maat gevind het en ’n romantiese verhouding begin het? In die volgende artikel sal ons bespreek hoe jy ’n sukses kan maak van ’n romantiese verhouding.

LIED 137 Getroue vroue, Christensusters

a Om te help bepaal of jy gereed is, sien op jw.org die artikel “Om met iemand uit te gaan – Deel 1: Is ek reg om met iemand uit te gaan?

b WAT DIT BETEKEN: In hierdie artikel en in die volgende een verwys ’n “romantiese verhouding” na die tyd waartydens ’n man en ’n vrou mekaar beter leer ken om te bepaal of hulle goeie huweliksmaats vir mekaar sal wees. In party lande word daar ook daarna verwys as om met iemand uit te gaan, om iemand beter te leer ken of om iemand die hof te maak. ’n Romantiese verhouding begin wanneer ’n man en ’n vrou dit duidelik maak dat hulle romanties in mekaar belangstel, en dit hou aan totdat hulle besluit om te trou of om die verhouding te beëindig.

c Vir eenvoud sal ons in die volgende paragrawe na die potensiële maat as ’n broer verwys. Hierdie beginsels is natuurlik ook op susters van toepassing.

d Party name is verander.

e In party kulture nader ’n broer gewoonlik ’n suster om ’n romantiese verhouding te begin. Maar daar is niks daarmee verkeerd as ’n suster ’n broer nader nie (Rut 3:​1-13). Vir meer inligting sien die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek vir hom sê hoe ek voel?” in die Ontwaak! van 22 Oktober 2004.