“Mag jou verstandigheid geseënd wees”
DAWID van eertydse Israel het ’n vrou met hierdie woorde geprys. Haar naam was Abigail. Waarom het Dawid haar geprys en wat kan ons by haar leer?
Dawid het haar ontmoet toe hy van koning Saul gevlug het. Abigail was met Nabal getroud. Hy was ’n ryk man met baie vee in die bergstreek in die suide van Juda. Dawid en sy manne was soos ’n “muur” om Nabal se herders en sy kuddes. Later het Dawid boodskappers na Nabal gestuur om kos te vra, ‘wat sy hand ook al mag vind’ (1 Sam. 25:8, 15, 16). Dit was nie ‘n onredelike versoek nie, veral as ’n mens in gedagte hou dat Dawid en sy manne Nabal se vee en herders beskerm het.
Maar Nabal, wie se naam “verstandeloos” of “dwaas” beteken, het volgens sy naam opgetree. Hy het Dawid beledig en geweier om hom te help. Dawid wou Nabal vir hierdie belediging en onredelikheid straf. Nabal en sy huis moes vir sy dwaasheid boet.—1 Sam. 25:2-13, 21, 22.
Toe Abigail hoor wat Dawid beplan het, was sy dapper en het sy iets omtrent die saak gedoen. Sy het eerbiedig met Dawid gepraat en hom gevra om aan sy verhouding met Jehovah te dink voordat hy iets doen. Sy het oorgenoeg kos aan Dawid, wat die volgende koning sou wees, en aan sy manne voorsien. Dawid het erken dat Jehovah haar gebruik het om te keer dat hy sondig. Dawid het vir haar gesê: “Mag jou verstandigheid geseënd wees, en mag jy geseënd wees wat my vandag daarvan weerhou het om bloedskuldig te word.”—1 Sam. 25:18, 19, 23-35.
Ons wil nooit soos Nabal wees wat ondankbaar was vir die goeie dinge wat vir hom gedoen is nie. En as ons kan sien dat iemand dalk gaan sondig, moet ons hom probeer help. Ons stem saam met die psalmis wat vir God gesê het: “Leer my goedheid, verstandigheid en kennis.”—Ps. 119:66.
Ander sien dalk dat ons met wysheid, of verstandigheid, optree. Al sê hulle dit nie, hulle voel dalk soos Dawid wat gesê het: “Mag jou verstandigheid geseënd wees.”