STUDIEARTIKEL 4
LIED 30 My Vader, my God en Vriend
Jehovah is baie lief vir jou
“Jehovah [is] baie liefdevol.” – JAK. 5:11.
DOEL
Hoe Jehovah se liefde ons nader aan hom sal bring, ons veilig sal laat voel, ons sal laat voel dat hy vir ons sorg en ons nuwe krag sal gee.
1. Waaraan dink jy wanneer jy aan Jehovah dink?
HET jy jou al ooit probeer voorstel hoe Jehovah is? Waaraan dink jy wanneer jy met hom in gebed praat? Al is Jehovah onsigbaar, beskryf die Bybel hom op verskillende maniere. Jehovah word “’n son en ’n skild” en “’n verterende vuur” genoem (Ps. 84:11; Heb. 12:29). Sy teenwoordigheid word beskryf as iets wat soortgelyk is aan ’n saffiersteen, ’n gloeiende metaal en ’n helder reënboog (Eseg. 1:26-28). Party van hierdie beskrywings van Jehovah verstom ons dalk of intimideer ons dalk selfs.
2. Wat maak dit miskien vir ons moeilik om nader aan Jehovah te kom?
2 Omdat ons Jehovah nie kan sien nie, vind ons dit dalk moeilik om te glo dat hy ons liefhet. Party dink dat Jehovah hulle nooit kan liefhê nie as gevolg van hulle vorige ondervindinge in die lewe. Miskien het hulle nooit ’n pa gehad wat vir hulle lief was nie. Jehovah verstaan sulke gevoelens en hoe dit ons raak. Om ons te help, openbaar hy sy pragtige persoonlikheid in sy Woord.
3. Hoekom moet ons Jehovah se liefde ondersoek?
3 Die een woord wat Jehovah die beste beskryf, is liefde (1 Joh. 4:8). Hy is liefde. Liefde beïnvloed alles wat hy doen. God se liefde is so vrygewig en so sterk dat hy dit selfs wys aan dié wat hom nie liefhet nie (Matt. 5:44, 45). In hierdie artikel sal ons Jehovah en sy liefde ondersoek. Hoe meer ons oor ons God leer, hoe meer sal ons hom liefhê.
JEHOVAH IS BAIE LIEF VIR ONS
4. Hoe laat Jehovah se liefde jou voel? (Sien ook prent.)
4 “Jehovah [is] baie liefdevol” (Jak. 5:11). In die Bybel vergelyk hy homself met ’n liefdevolle ma (Jes. 66:12, 13). Stel jou ’n ma voor wat liefdevol vir haar kindjie sorg. Sy hou hom liefdevol op haar skoot vas, en sy praat met ’n sagte, strelende stem met hom. Wanneer hy huil of in pyn is, maak sy seker dat hy het wat hy nodig het. Wanneer ons in pyn is, kan ons op Jehovah se liefde staatmaak. Die psalmis het geskryf: “Toe sorge my oorweldig het, het u my vertroos en gekalmeer.” – Ps. 94:19.
5. Wat beteken Jehovah se lojale liefde vir jou?
5 Jehovah is lojaal (Ps. 103:8). Hy skryf ons nie af wanneer ons iets verkeerds doen nie. Die nasie Israel het Jehovah oor en oor teleurgestel, maar hy het sy ewige liefde teenoor sy berouvolle volk uitgedruk met hierdie woorde: “Jy het kosbaar geword in my oë. Jy is geëer, en ek is lief vir jou” (Jes. 43:4, 5). God se liefde het nie verander nie. Ons kan altyd daarop staatmaak. Al het ons ernstige foute gemaak, verlaat Jehovah ons nie. Wanneer ons berouvol is en na Jehovah terugkeer, sal ons sien dat hy ons nog steeds liefhet. Hy belowe dat hy “ryklik [sal] vergewe” (Jes. 55:7). Die Bybel beskryf hierdie vergifnis as “tye van verfrissing” wat Jehovah self bring. – Hand. 3:19.
6. Wat leer Sagaria 2:8 ons oor Jehovah?
6 Lees Sagaria 2:8. Omdat Jehovah ons liefhet, verstaan hy ons gevoelens en is hy gretig om ons te beskerm. Hy voel hartseer wanneer ons hartseer is. As gevolg daarvan kan ons met vertroue bid: “Bewaar my soos die appel van u oog” (Ps. 17:8). Die oog is ’n sensitiewe en kosbare deel van die liggaam. So wanneer Jehovah ons met die appel van sy oog vergelyk, is dit asof hy sê: ‘Enige iemand wat julle, my volk, seermaak, maak iets seer wat vir my kosbaar is.’
7. Hoekom moet ons ons vertroue in Jehovah se liefde versterk?
7 Jehovah wil hê dat ons oortuig moet wees dat hy ons persoonlik liefhet. Maar hy weet dat ons as gevolg van vorige ondervindinge dalk wonder of hy ons kan liefhê. Of ons ondervind dalk nou situasies wat ons vertroue in Jehovah se liefde toets. Wat sal ons vertroue versterk? As ons leer hoe Jehovah sy liefde vir Jesus, die gesalfdes en ons almal wys.
HOE JEHOVAH SY LIEFDE WYS
8. Hoekom was Jesus oortuig van sy Vader se liefde?
8 Vir baie miljarde jare het Jehovah en sy geliefde Seun ’n sterk band van diep liefde ontwikkel. Hulle verhouding is die oudste in die heelal. Jehovah het sy liefde vir Jesus duidelik uitgedruk soos ons in Matteus 17:5 lees. Jehovah kon net gesê het: ‘Dit is die een wat ek goedgekeur het.’ Maar hy wou hê dat ons moet weet hoe lief hy Jesus het, en daarom het hy hom “my Seun, die geliefde,” genoem. Jehovah was trots op wie Jesus was en op wat hy sou doen (Ef. 1:7). En Jesus het nie getwyfel oor sy Vader se gevoelens vir hom nie. Jehovah se liefde was so werklik vir Jesus dat hy dit diep binne-in hom kon voel. Hy het oor en oor met vertroue gesê dat die Vader hom liefhet. – Joh. 3:35; 10:17; 17:24.
9. Watter uitdrukking beskryf Jehovah se liefde vir die gesalfdes? Verduidelik. (Romeine 5:5)
9 Jehovah bevestig ook sy liefde vir die gesalfdes. (Lees Romeine 5:5.) Let op die uitdrukking wat gebruik is om te wys hoe lief Jehovah hulle het. Dit sê dat Jehovah hulle harte met sy liefde “gevul” het. Een naslaanwerk vergelyk God se liefde met ’n stroom water. Dit is ’n kragtige illustrasie wat beklemtoon hoe lief Jehovah die gesalfdes het! Die gesalfdes weet dat “God . . . lief is” vir hulle (Jud. 1). Die apostel Johannes het hulle gevoelens uitgedruk toe hy geskryf het: “Dink aan die liefde wat die Vader ons gegee het. Ons word kinders van God genoem” (1 Joh. 3:1). Is Jehovah se liefde beperk tot die gesalfdes? Nee, Jehovah het sy liefde vir ons almal bewys.
10. Wat is die grootste bewys van Jehovah se liefde vir jou?
10 Wat is die grootste bewys van Jehovah se liefde? Die losprys – die ongelooflikste daad van liefde in die heelal! (Joh. 3:16; Rom. 5:8). Jehovah het sy kosbare Seun gegee en hom toegelaat om te sterf vir alle mense sodat ons sondes vergewe kan word en ons Sy vriende kan wees (1 Joh. 4:10). Hoe meer ons nadink oor die prys wat Jehovah en Jesus betaal het, hoe meer kan ons verstaan hoe lief hulle ons elkeen het (Gal. 2:20). Die losprys is nie betaal omdat ’n koue, wetlike kontrak dit vereis het nie. Dit is ’n bewys van liefde. Jehovah het sy liefde vir ons bewys deur dit wat die kosbaarste vir hom is, op te offer – Jesus. Jehovah het toegelaat dat sy Seun vir ons ly en sterf.
11. Wat leer ons uit Jeremia 31:3?
11 Soos ons gesien het, hou Jehovah nie sy gevoelens vir homself nie, maar hy sê vir ons hoe lief hy ons het. (Lees Jeremia 31:3.) Jehovah het ons na hom toe getrek omdat hy ons liefhet. (Vergelyk Deuteronomium 7:7, 8.) Niks en niemand kan ons van daardie liefde skei nie (Rom. 8:38, 39). Hoe laat hierdie liefde jou voel? Lees Psalm 23, en kyk watter uitwerking Jehovah se liefde en sorg op Dawid gehad het en watter uitwerking dit op ons almal kan hê.
HOE LAAT JEHOVAH SE LIEFDE JOU VOEL?
12. Hoe sal jy Psalm 23 opsom?
12 Lees Psalm 23:1-6. Psalm 23 is ’n lied wat vertroue in Jehovah se liefde en sorg uitdruk. Dawid, die skrywer van hierdie psalm, beskryf die sterk band wat daar was tussen hom en sy Herder, Jehovah. Dawid het veilig gevoel om Jehovah toe te laat om hom te lei, en hy was heeltemal afhanklik van Hom. Dawid het geweet dat Jehovah elke dag van sy lewe sy liefde vir hom sou wys. Hoekom was hy so oortuig?
13. Hoekom was Dawid seker van Jehovah se sorg?
13 “Ek sal niks kortkom nie.” Dawid het gevoel dat Jehovah mooi na hom kyk omdat Jehovah altyd alles voorsien het wat hy nodig gehad het. Dawid het ook Jehovah se vriendskap en goedkeuring geniet. Dit is hoekom hy seker was dat Jehovah sou aanhou om in al sy behoeftes te voorsien, maak nie saak wat in die toekoms sou gebeur nie. Dawid se vertroue in Jehovah se liefde was kragtiger as enige bekommernis wat hy gehad het, en dit het hom baie gelukkig en tevrede laat voel. – Ps. 16:11.
14. Hoe sal Jehovah liefdevol vir ons sorg?
14 Jehovah sorg liefdevol vir ons, veral wanneer slegte dinge in ons lewe gebeur. Claire, a wat al meer as 20 jaar by Bethel dien, het hulpeloos gevoel toe haar familie die een ernstige probleem ná die ander ondervind. Haar pa het ’n beroerte gehad, een van haar susters is uitgesit en haar familie het hulle klein besigheid en hulle huis verloor. Hoe het Jehovah sy liefdevolle sorg vir hulle gewys? Claire sê: “Jehovah het seker gemaak dat my familie elke dag alles het wat hulle nodig gehad het. Die dinge wat Jehovah voorsien het, was oor en oor meer as enige iets wat ek my ooit sou kon voorstel! Ek dink baie keer aan die oomblikke toe ek Jehovah se liefde ondervind het, en dit is vir my kosbaar. Hierdie herinneringe het my gehelp om sterk te bly gedurende moeilike tye.”
15. Hoekom het Dawid gevoel dat hy nuwe krag het? (Sien ook prent.)
15 “Hy gee my nuwe krag.” Dawid het soms mismoedig gevoel as gevolg van al die probleme en moeilike tye wat hy deurgemaak het (Ps. 18:4-6). Maar Jehovah se liefde en sorg het hom nuwe krag gegee. Jehovah het sy uitgeputte vriend gelei na “groen weivelde” en “rusplekke waar daar baie water is”. As gevolg daarvan het Dawid sy krag teruggekry en kon hy aangaan. – Ps. 18:28-32.
16. Hoe het Jehovah se liefde jou nuwe krag gegee?
16 Wanneer ons vandag probleme en moeilike tye deurmaak, is dit ook “danksy Jehovah se lojale liefde [dat] ons nie aan ons einde gekom [het] nie” (Klaagl. 3:22; Kol. 1:11). Kyk na die voorbeeld van Rachel. Sy was verpletter toe haar man haar en Jehovah gedurende die COVID-19-pandemie verlaat het. Wat het Jehovah vir haar gedoen? Sy sê: “Jehovah het seker gemaak dat ek geliefd gevoel het. Hy het my omring met vriende wat tyd met my spandeer het, vir my kos gebring het, vir my liefdevolle boodskappe en aanmoedigende tekste gestuur het, vir my geglimlag het en my bly herinner het dat Jehovah vir my sorg. Ek het heeltyd vir Jehovah dankie gesê omdat hy vir my ’n groot liefdevolle familie gegee het.”
17. Hoekom was Dawid “nie bang vir enige gevaar nie”?
17 “Ek [is] nie bang vir enige gevaar nie, want u is met my.” Dawid se lewe was dikwels in gevaar, en hy het baie kragtige vyande gehad. Maar Jehovah se liefde het hom veilig en beskermd laat voel. Dawid kon voel dat Jehovah in elke situasie met hom was, en dit het hom gerusgestel. Daarom kon hy sing: “[Jehovah] het my van al my vrese gered” (Ps. 34:4). Dawid het regte vrese gehad, maar Jehovah se liefde was sterker as sy vrese.
18. Hoe sal die versekering van Jehovah se liefde jou versterk wanneer jy bang is?
18 Hoe versterk die versekering van Jehovah se liefde ons wanneer ons deur baie moeilike situasies gaan? ’n Pionier met die naam Susi beskryf hoe sy en haar man gevoel het toe hulle seun sy eie lewe geneem het: “Skielike tragedie is traumaties en kan ’n persoon kwesbaar en hulpeloos laat voel. Maar Jehovah se liefde het ons veilig en beskermd laat voel.” Rachel, wat vroeër genoem is, sê: “Een aand toe my hart verskriklik gepyn het en ek baie bekommerd en bang was, het ek huilend hardop tot Jehovah gebid. Ek het onmiddellik gevoel dat hy my hart vertroos en my kalmeer, soos ’n ma haar baba vertroos, en ek het aan die slaap geraak. Ek sal nooit daardie oomblik vergeet nie.” ’n Ouerman met die naam Tasos was vier jaar in die tronk omdat hy geweier het om by die weermag aan te sluit. Hoe het hy Jehovah se liefde en sorg ondervind? Hy sê: “Jehovah het in al my behoeftes en meer voorsien. Dit het my vertroue versterk dat ek heeltemal op hom kan vertrou. En deur sy gees het Jehovah my vreugde gegee, al was ek in ’n depressiewe omgewing. Dit het my gehelp sien dat hoe meer ek op Jehovah vertrou, hoe meer sou ek sy liefde vir my voel. Daarom het ek as ’n gewone pionier begin dien terwyl ek in die tronk was.”
KOM NADER AAN JOU LIEFDEVOLLE GOD
19. (a) Hoe kan die feit dat ons weet dat God ons liefhet ons gebede beïnvloed? (b) Watter beskrywing van Jehovah se liefde raak jou persoonlik? (Sien die venster “ Woorde wat ons help om Jehovah se liefde te voel”.)
19 Al die ondervindinge wat ons bespreek het, bewys dat Jehovah, “die God van liefde”, met ons is (2 Kor. 13:11). Hy stel persoonlik in ons belang. Ons is oortuig dat ons deur “Sy lojale liefde omring” is (Ps. 32:10). Hoe meer ons nadink oor hoe hy sy liefde vir ons gewys het, hoe werkliker word hy vir ons en hoe nader voel ons aan hom. Ons kan vryelik tot hom bid en vir hom sê hoe baie ons sy liefde nodig het. Ons kan al ons bekommernisse met hom deel met die vertroue dat hy verstaan en dat hy gretig is om ons te help. – Ps. 145:18, 19.
20. Hoe trek Jehovah se liefde ons nader aan hom?
20 Net soos ’n vuur ons op ’n koue dag kan warm maak, kan Jehovah se liefde ons ook vertroos wanneer ons moeilike tye en probleme ondervind. So verwelkom Jehovah se liefde in jou lewe, wat jou kan vertroos en vrede kan gee. En mag ons almal op sy liefde reageer deur uit te roep: “Ek is lief vir Jehovah”! – Ps. 116:1.
HOE SAL JY ANTWOORD?
-
Hoe sal jy Jehovah se liefde beskryf?
-
Hoekom kan jy die vertroue hê dat Jehovah jou baie liefhet?
-
Hoe laat Jehovah se liefde jou voel?
LIED 108 God se lojale liefde
a Party name is verander.