Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 1

Bly kalm en vertrou op Jehovah

Bly kalm en vertrou op Jehovah

ONS JAARTEKS VIR 2021: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.” – JES. 30:15.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Net soos koning Dawid, wat vra party van ons dalk?

ONS almal wil ’n kalm en rustige lewe hê. Nie een van ons geniet dit om angstig te voel nie. Maar partykeer sukkel ons dalk met angstigheid. Dit is hoekom party van Jehovah se knegte dalk dieselfde vraag vra wat koning Dawid vir Jehovah gevra het: “Hoe lank moet ek angstig en bekommerd wees, met droefheid in my hart elke dag?” – Ps. 13:2.

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

2 Alhoewel ons almal soms angstig voel, is daar dinge wat ons kan doen om minder angstig te voel. In hierdie artikel sal ons eers party van die dinge bespreek wat dalk kan veroorsaak dat ons angstig voel. Dan sal ons ses dinge bespreek wat ons kan doen wat ons sal help om kalm te bly wanneer ons probleme het.

WAT KAN DALK VEROORSAAK DAT ONS ANGSTIG VOEL?

3. Watter dinge maak ons dalk bekommerd en kan ons keer dat hierdie dinge gebeur?

3 Ons het dalk min of geen beheer oor party dinge wat kan veroorsaak dat ons angstig voel nie. Byvoorbeeld, ons kan nie keer dat die prys van kos, klere of behuising elke jaar styg nie. Ons kan ook nie beheer hoe gereeld ons werksmaats of skoolmaats ons sal probeer kry om oneerlik of onsedelik te wees nie. En ons kan ook nie mense keer om misdaad in ons gebied te pleeg nie. Ons het hierdie probleme omdat ons in ’n wêreld lewe waar die meeste mense nie Bybelbeginsels volg wanneer hulle besluite maak nie. Satan, die god van hierdie wêreld, weet dat “die bekommernisse van hierdie wêreld” party mense sal keer om Jehovah te dien (Matt. 13:22; 1 Joh. 5:19). Geen wonder dat daar so baie stresvolle situasies in hierdie wêreld is nie!

4. Wat kan gebeur as ons baie angstig word oor ons probleme?

4 Ons kan so bekommerd word oor ons probleme dat ons aan niks anders kan dink nie. Byvoorbeeld, ons is dalk bekommerd dat ons nie genoeg geld sal verdien om die dinge te koop wat ons nodig het nie of dat ons siek sal word en nie werk toe sal kan gaan nie of selfs dat ons ons werk sal verloor. Of dalk is ons bekommerd dat ons ontrou sal wees wanneer ons in die versoeking kom om ongehoorsaam te wees aan God se wette. Satan sal binnekort veroorsaak dat die persone wat hy beheer, God se volk aanval. So ons is dalk bekommerd oor wat ons sal doen wanneer hulle ons aanval. Ons wonder dalk: ‘Is dit verkeerd van my om ’n bietjie bekommerd te wees oor sulke dinge?’

5. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Hou op om bekommerd te wees”?

5 Ons weet dat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Hou op om bekommerd te wees” (Matt. 6:25). Het Jesus bedoel dat ons oor niks bekommerd moet wees nie? Glad nie! Onthou dat party van Jehovah se knegte in die verlede ook angstig gevoel het, maar hulle het nog steeds sy goedkeuring gehad (1 Kon. 19:4; Ps. 6:3). * Jesus het ons eintlik gerusgestel. Hy wou nie hê dat ons so angstig moet word oor die dinge wat ons nodig het dat dit ons diens aan God negatief beïnvloed nie. So wat kan ons doen wanneer ons angstig is? – Sien venster “ Hoe om dit te doen”.

SES DINGE WAT ONS KAN HELP OM KALM TE BLY

Collage: ’n Suster bid ’n hele paar keer op verskillende tye in die dag. 1. Voordat sy eet. 2. Terwyl sy op ’n bankie in die park sit. 3. Voordat sy die Bybel studeer.

Sien paragraaf 6 *

6. Wat kan ons volgens Filippense 4:6, 7 help om kalm te wees?

6 (1) Bid gereeld. Christene wat bekommerd is oor sekere probleme, kan vir Jehovah vra om hulle te help (1 Pet. 5:7). Jehovah kan jou gebede beantwoord deur jou “die vrede van God, wat alle denke oortref” te gee. (Lees Filippense 4:6, 7.) Jehovah kan ons help om kalm te wees deur middel van sy kragtige heilige gees. – Gal. 5:22.

7. Wat moet ons onthou wanneer ons bid?

7 Stort jou hart uit wanneer jy met Jehovah in gebed praat. Wees spesifiek. Sê vir hom wat jou probleem is en verduidelik vir hom hoe jy daaroor voel. As daar ’n moontlike oplossing is, vra hom vir die wysheid om te weet wat om te doen en vir die krag om dit te doen. As daar niks is wat jy kan doen om die probleem op te los nie, vra Jehovah om jou te help om nie te bekommerd daaroor te wees nie. Wanneer jy spesifiek is in jou gebede, sal jy later duidelik sien hoe Jehovah dit beantwoord. As die antwoord nie dadelik kom nadat jy gebid het nie, moenie opgee nie. Jehovah wil nie net hê dat jy spesifiek moet wees nie; hy wil ook hê dat jy moet aanhou bid oor die probleem. – Luk. 11:8-10.

8. Wat moet ons gebede insluit?

8 Wanneer jy met Jehovah oor jou bekommernisse praat, moet jy ook dankie sê. Dit is goed om aan al die goeie dinge te dink wat ons het, selfs al het ons baie probleme. As jy soms nie die regte woorde kan kry om te sê hoe jy voel nie, onthou dat Jehovah selfs eenvoudige gebede beantwoord soos: ‘Help asseblief!’ – 2 Kron. 18:31; Rom. 8:26.

Dieselfde suster gebruik ’n tablet om persoonlike Bybelstudie te doen gedurende middagete by die werk.

Sien paragraaf 9 *

9. Wat moet ons doen wanneer ons bang voel?

9 (2) Vertrou op Jehovah se wysheid, nie jou eie nie. In die tyd van die profeet Jesaja was die mense van Juda bang dat die Assiriërs hulle sou aanval. Hulle wou nie onder die beheer van die Assiriërs wees nie, en daarom het hulle die Egiptenare gevra om hulle te help (Jes. 30:1, 2). Jehovah het hulle gewaarsku dat hulle vertroue in die Egiptenare slegte gevolge sou hê (Jes. 30:7, 12, 13). Deur middel van Jesaja het Jehovah vir die mense gesê hoe hulle ware beskerming kon kry. Hy het gesê: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue [in Jehovah] het.” – Jes. 30:15b.

10. Onder watter omstandighede kan ons vir Jehovah wys dat ons op hom vertrou?

10 Hoe kan ons wys dat ons op Jehovah vertrou? Kyk na ’n paar voorbeelde. Sê nou jy word ’n werk aangebied waar jy meer geld sal verdien, maar wat baie van jou tyd sal vat en wat sal veroorsaak dat jy minder in jou diens aan Jehovah doen. Of sê nou iemand by jou werk wys dat hy of sy romantiese gevoelens vir jou het, maar daardie persoon is nie ’n gedoopte kneg van God nie. Of wat as ’n geliefde familielid vir jou sê: “Jy sal moet kies tussen my en jou God.” In elkeen van hierdie situasies sal jy ’n moeilike besluit moet maak. Maar Jehovah sal jou die leiding gee wat jy nodig het (Matt. 6:33; 10:37; 1 Kor. 7:39). Die vraag is, sal jy die leiding genoeg vertrou om dit toe te pas?    

Die suster lees die Bybel en ’n Bybelpublikasie.

Sien paragraaf 11 *

11. Watter Bybelverslae kan ons studeer wat ons sal help om kalm te bly wanneer ons vervolg word?

11 (3) Leer uit goeie en slegte voorbeelde. In die Bybel is daar baie verslae wat wys hoe belangrik dit is om kalm te bly en om op Jehovah te vertrou. Terwyl jy hierdie verslae studeer, let op wat God se knegte gehelp het om kalm te bly wanneer hulle vervolg was. Byvoorbeeld, toe die Joodse Hoë Raad vir die apostels gesê het om op te hou preek, was hulle nie bang nie. Hulle het eerder moedig gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Hand. 5:29). Selfs nadat die apostels geslaan is, het hulle nie paniekerig geraak nie. Hoekom nie? Omdat hulle geweet het dat Jehovah aan hulle kant is en dat hulle sy goedkeuring het. Daarom het hulle aangehou om die goeie nuus te verkondig (Hand. 5:40-42). En toe Stefanus die dood in die gesig gestaar het, het hy so kalm en rustig gebly dat sy gesig “soos die gesig van ’n engel” gelyk het (Hand. 6:12-15). Hoekom? Omdat hy die versekering gehad het dat hy Jehovah se goedkeuring het.

12. Hoekom kan ons volgens 1 Petrus 3:14 en 4:14 bly wees wanneer ons vervolg word?

12 Die apostels het duidelike bewyse gehad dat Jehovah met hulle is. Hy het hulle die krag gegee om wonderwerke te doen (Hand 5:12-16; 6:8). Vandag kan ons nie wonderwerke doen nie, maar Jehovah verseker ons liefdevol deur middel van sy Woord dat ons sy goedkeuring het en dat sy gees met ons is wanneer ons vervolg word. (Lees 1 Petrus 3:14; 4:14.) So ons moenie bekommerd wees oor hoe ons sal reageer as ons in die toekoms vervolg word nie. Ons moet eerder ons bes doen om ons vertroue te versterk dat Jehovah ons kan ondersteun en red. Net soos daardie vroeë dissipels, moet ons ook Jesus se belofte vertrou: “Ek sal vir julle woorde en wysheid gee, wat al julle teenstanders saam nie sal kan weerstaan of bevraagteken nie.” Jesus het ons die versekering gegee: “Deur julle volharding sal julle julle lewens red” (Luk. 21:12-19). En moet nooit vergeet nie: Jehovah onthou elke liewe detail van sy knegte wat getrou gesterf het. Daarom sal hy vir hulle ’n opstanding kan gee.

13. Hoe kan die voorbeelde van persone wat nie kalm gebly het en op Jehovah vertrou het nie, ons help?

13 Ons kan ook leer uit die voorbeelde van persone wat nie kalm gebly het en op Jehovah vertrou het nie. Wanneer ons hierdie slegte voorbeelde studeer, sal dit ons help om nie dieselfde foute te maak wat hulle gemaak het nie. Byvoorbeeld, toe Asa die koning van Juda geword het en ’n massiewe leërmag teen hom kom veg het, het hy op Jehovah vertrou, en Jehovah het hom die oorwinning gegee (2 Kron. 14:9-12). Maar later, toe die baie kleiner leërmag van koning Baäsa van Israel teen hom kom veg het, het Asa die Siriërs betaal om saam met hulle te kom veg in plaas daarvan om op Jehovah te vertrou soos hy in die verlede gedoen het (2 Kron. 16:1-3). En teen die einde van sy lewe, toe hy baie siek geword het, het hy nie op Jehovah vertrou om hom te help nie. – 2 Kron. 16:12.

14. Wat kan ons uit Asa se foute leer?

14 Aan die begin het Asa op Jehovah vertrou toe hy probleme gehad het. Maar later het hy nie op sy God vertrou om hom te help nie. Hy het eerder probeer om sy probleme self op te los. Asa se plan om die Siriërs te vra vir hulp het dalk soos ’n goeie idee gelyk. Maar sy sukses het nie lank gehou nie. Jehovah het deur middel van ’n profeet vir hom gesê: “Omdat u op die koning van Sirië vertrou het en nie op Jehovah u God vertrou het nie, het u die kans om die leërmag van die koning van Sirië te verslaan, deur u vingers laat glip” (2 Kron. 16:7). Ons moet versigtig wees om nie te dink dat ons ons probleme self kan oplos sonder om op Jehovah te vertrou deur sy raad in die Bybel te soek nie. Selfs wanneer ons ’n vinnige besluit moet maak, moet ons kalm bly en op Jehovah vertrou, en hy sal ons help om die regte besluit te maak.

Die suster sit ’n stukkie papier waarop sy Jesaja 30:15 geskryf het, teen haar yskas.

Sien paragraaf 15 *

15. Wat kan ons doen wanneer ons die Bybel lees?

15 (4) Memoriseer Bybelverse. Wanneer jy Bybelverse kry wat wys hoe belangrik dit is om kalm te bly en op Jehovah te vertrou, kan jy probeer om dit te memoriseer. Om jou te help om die verse te onthou, kan jy dit hardop lees of neerskryf en dit dan gereeld hersien. Jehovah het vir Josua gesê om die Wetboek gereeld te lees en daaroor na te dink sodat hy wys kan optree. Die dinge wat hy in die Wet gelees het, sou hom ook help om nie bang te wees nie maar om die moed te hê om God se volk te lei (Jos. 1:8, 9). Baie verse in God se Woord kan jou help om rustig en kalm te wees wanneer jy in ’n situasie is wat jou angstig of bang laat voel. – Ps. 27:1-3; Spr. 3:25, 26.

Die suster praat met ’n ander suster terwyl hulle velddiens doen.

Sien paragraaf 16 *

16. Hoe gebruik Jehovah die gemeente om ons te help om kalm te wees en om op hom te vertrou?

16 (5) Assosieer met God se volk. Jehovah gebruik ons broers en susters om ons te help om kalm te wees en om op hom te vertrou. By die vergaderinge word ons aangemoedig deur die toesprake, die kommentare en die opbouende gesprekke wat ons met ons broers en susters het (Heb. 10:24, 25). Ons kan ook aangemoedig word wanneer ons vir vriende in die gemeente sê waaroor ons bekommerd is. “’n Goeie woord” van ’n vriend kan jou baie help om die swaar las van jou angstigheid te verlig. – Spr. 12:25.

Die suster dink na oor toekomstige Koninkrykseëninge.

Sien paragraaf 17 *

17. Hoe kan ons hoop vir die toekoms ons volgens Hebreërs 6:19 help om kalm te bly gedurende moeilike tye?

17 (6) Hou jou hoop sterk. Ons hoop vir die toekoms is soos “’n anker vir die siel” wat ons stabiliteit gee wanneer ons moeilike tye deurmaak of angstig voel. (Lees Hebreërs 6:19.) Dink na oor Jehovah se belofte van ’n toekoms wanneer negatiewe gedagtes iets van die verlede sal wees (Jes. 65:17). Sien jouself in die nuwe wêreld waar daar vrede sal wees en waar daar nie meer slegte dinge sal gebeur nie (Miga 4:4). Jy kan ook jou hoop versterk wanneer jy dit met ander deel. Doen alles wat jy kan in die predikings- en dissipelmaakwerk. As jy dit doen, sal jou “hoop tot die einde toe heeltemal seker kan wees”. – Heb. 6:11.

18. Wat kan dalk in die toekoms gebeur, en wat kan ons daaromtrent doen?

18 Omdat ons na aan die einde van hierdie wêreld lewe, sal ons meer probleme hê wat kan veroorsaak dat ons angstig word. Ons jaarteks vir 2021 kan ons help om hierdie probleme te hanteer en om kalm te bly, nie deur op ons eie krag staat te maak nie, maar deur op Jehovah te vertrou. Laat ons hierdie jaar wys dat ons geloof het in Jehovah se belofte: “Julle krag sal daarin lê dat julle kalm bly en vertroue het.” – Jes. 30:15.

LIED 8 Jehovah is ons toevlug

^ par. 5 Ons jaarteks vir 2021 wys dat dit baie belangrik is om op Jehovah te vertrou wanneer ons probleme het wat ons angstig maak. Hierdie artikel sal dinge bespreek wat ons kan doen om die raad in ons jaarteks toe te pas.

^ par. 5 Party getroue broers en susters sukkel met intense gevoelens van angstigheid of paniek. Hierdie tipe angstigheid is ’n ernstige gesondheidsprobleem en is nie die tipe angstigheid waarvan Jesus gepraat het nie.

^ par. 63 BESKRYWING VAN PRENT: (1) ’n Suster bid deur die dag oor haar angstige gevoelens.

^ par. 65 BESKRYWING VAN PRENT: (2) Gedurende middagete by die werk lees sy God se Woord vir wysheid.

^ par. 67 BESKRYWING VAN PRENT: (3) Sy dink na oor goeie en slegte voorbeelde in die Bybel.

^ par. 69 BESKRYWING VAN PRENT: (4) Sy sit ’n aanmoedigende teks wat sy wil memoriseer teen haar yskas.

^ par. 71 BESKRYWING VAN PRENT: (5) Sy geniet dit om saam met vriende te wees terwyl sy velddiens doen.

^ par. 73 BESKRYWING VAN PRENT: (6) Sy versterk haar hoop deur aan die toekoms te dink.