Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 7

Kry meer uit jou Bybellees

Kry meer uit jou Bybellees

“Wat het jy daarin gelees?” – LUK. 10:26.

LIED 97 God se Woord is lewegewend

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat wys dat die Skrif vir Jesus belangrik was?

 DINK aan hoe dit moes gewees het om na Jesus te luister terwyl hy besig was om te onderrig. Hy het dikwels uit sy kop uit aangehaal uit die Heilige Skrif! Om die waarheid te sê, Jesus het in sy eerste opgetekende woorde ná sy doop en in party van sy laaste woorde voor sy dood uit die Skrif aangehaal b (Deut. 8:3; Ps. 31:5; Luk. 4:4; 23:46). En gedurende die drie en ’n half jaar tussen daardie twee gebeure, het Jesus dikwels in die openbaar uit die Skrif gelees, aangehaal en dit verduidelik. – Matt. 5:17, 18, 21, 22, 27, 28; Luk. 4:16-20.

Regdeur sy lewe het Jesus gewys dat hy lief is vir die Skrif, en hy het toegelaat dat dit sy dade beïnvloed (Sien paragraaf 2)

2. Wat het Jesus gehelp om die Skrif goed te leer ken terwyl hy grootgeword het? (Sien prent op voorblad.)

2 Jare voordat hy met sy bediening begin het, het Jesus God se Woord dikwels gelees en gehoor. Hy het beslis gehoor hoe Maria en Josef uit die Skrif aangehaal het gedurende hulle daaglikse gesprekke by die huis c (Deut. 6:6, 7). Ons kan seker wees dat Jesus elke Sabbat met sy familie na die sinagoge toe gegaan het (Luk. 4:16). Terwyl hy daar was, het hy seker mooi geluister wanneer die Skrif gelees was. Later het Jesus geleer hoe om daardie Heilige Geskrifte op sy eie te lees. So Jesus het nie net die Skrif goed leer ken nie, maar hy was ook lief daarvoor, en hy het toegelaat dat dit sy dade beïnvloed. Byvoorbeeld, dink aan wat in die tempel gebeur het toe Jesus net 12 jaar oud was. Die onderrigters wat die Wet van Moses goed geken het, was die hele tyd “verbaas oor [Jesus se] begrip en sy antwoorde”. – Luk. 2:46, 47, 52.

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Ons kan ook God se Woord leer ken en lief word daarvoor wanneer ons die Bybel gereeld lees. Maar hoe kan ons die meeste kry uit dit wat ons lees? Ons kan leer uit wat Jesus vir dié gesê het wat bekend was met die Wet, insluitende die skrifgeleerdes, die Fariseërs en die Sadduseërs. Daardie godsdiensleiers het die Skrif baie gelees, maar hulle het nie baat gevind by wat hulle gelees het nie. Jesus het gewys op watter drie maniere hulle nie die meeste uit die Skrif gekry het nie. Sy woorde aan hulle sal ons help om te verbeter in ons vermoë (1) om te verstaan wat ons lees, (2) om geestelike skatte te vind en (3) om toe te laat dat God se Woord ons vorm.

LEES OM TE VERSTAAN

4. Wat leer Lukas 10:25-29 ons oor die feit dat ons God se Woord moet lees?

4 Ons wil die dinge wat ons in God se Woord lees, verstaan. Anders sal dit ons dalk nie regtig help nie. Byvoorbeeld, dink aan Jesus se gesprek met “’n man wat die Wet goed geken het”. (Lees Lukas 10:25-29.) Toe die man gevra het wat hy moet doen om die ewige lewe te kry, het Jesus hom gehelp om die antwoord in God se Woord te kry deur hom te vra: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat het jy daarin gelees?” Die man kon die regte antwoord gee deur aan te haal wat die skrif sê oor liefde vir God en liefde vir ons naaste (Lev. 19:18; Deut. 6:5). Maar kyk wat hy volgende gesê het: “Wie is my naaste?” Die man het gewys dat hy nie regtig verstaan wat hy gelees het nie. Daarom het hy nie geweet hoe om daardie verse op die regte manier in sy lewe toe te pas nie.

Ons kan leer om te verstaan wat ons lees

5. Hoe sal dit jou help om die Bybel beter te verstaan as jy bid en stadig lees?

5 Ons kan God se Woord beter verstaan as ons goeie leesgewoontes ontwikkel. Hier is ’n paar wenke wat jou kan help. Bid voordat jy begin lees. Ons het Jehovah se hulp nodig om die Bybel te verstaan, so ons kan hom vir sy heilige gees vra om ons te help konsentreer. Lees dan stadig. Dit sal jou help om te verstaan wat jy lees. Dit sal jou dalk help as jy hardop lees of saam volg terwyl jy na ’n oudio-opname van die Bybel luister. As jy die woorde hoor en dit op papier sien, kan dit jou help om te verstaan, te onthou en meer te leer uit wat jy in God se Woord lees (Jos. 1:8). Wanneer jy klaar gelees het, bid weer en sê vir Jehovah dankie vir sy Woord en vra hom om jou te help om toe te pas wat jy gelees het.

Hoekom kan dit jou help om te verstaan en te onthou wat jy lees wanneer jy kort notas neem? (Sien paragraaf 6)

6. Hoekom kan dit jou help wanneer jy jouself vrae vra en kort notas neem terwyl jy lees? (Sien ook prent.)

6 Hier is nog twee wenke wat jou kan help om die Bybel beter te verstaan. Vra jouself vrae oor dit wat jy lees. Terwyl jy ’n sekere verslag lees, vra jou af: ‘Wie is die hoofkarakters? Wie praat nou? Met wie praat hy, en hoekom? Waar en wanneer is dit besig om te gebeur?’ Sulke vrae sal jou help om oor die hoofgedagtes na te dink en om dit te volg. En neem kort notas terwyl jy lees. Wanneer jy notas neem, dwing jy jouself om gedagtes in woorde te verander, en dit help jou om die dinge wat jy lees, beter te verstaan. As jy dinge neerskryf, help dit jou om te onthou wat jy gelees het. Jy kan vrae neerskryf, sowel as dinge waaroor jy navorsing gedoen het en die hoofgedagtes opsom. Jy kan ook neerskryf hoe jy die dinge wat jy gelees het, kan gebruik, of jy kan neerskryf hoe jy voel oor dit wat jy gelees het. Sulke notas kan jou help om God se Woord te sien as sy persoonlike boodskap aan jou.

7. Watter eienskap het ons nodig terwyl ons lees, en hoekom? (Matteus 24:15)

7 Jesus het ’n belangrike eienskap geïdentifiseer wat ons nodig het as ons wil verstaan wat ons in God se Woord lees – insig. (Lees Matteus 24:15.) Wat is insig? Dit is die vermoë om te verstaan hoe een gedagte verband hou met ’n ander gedagte en hoe daardie gedagte van ’n ander gedagte verskil en om te verstaan wat nie duidelik gesê word nie. Jesus het ook gewys dat ons insig nodig het om gebeure te identifiseer wat Bybelprofesieë vervul. Ons het ook hierdie eienskap nodig sodat ons regtig kan baat vind by alles wat ons in die Bybel lees.

8. Hoe kan ons met insig lees?

8 Jehovah gee vir sy knegte insig. So vra vir hom om jou te help om hierdie eienskap te ontwikkel (Spr. 2:6). Hoe kan jy in ooreenstemming met jou gebed werk? Ondersoek mooi wat jy lees en kyk hoe dit verband hou met ander dinge wat jy weet. Om jou te help, kan jy ons Bybelstudiehulpe gebruik, soos die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies. Hierdie hulpmiddele sal jou help om die betekenis van ’n Bybelverslag te verstaan en om te sien hoe jy dit in jou lewe kan toepas (Heb. 5:14). Wanneer jy met insig lees, sal jy die Bybel al hoe beter verstaan.

LEES OM GEESTELIKE SKATTE TE VIND

9. Watter belangrike waarheid uit God se Woord het die Sadduseërs geïgnoreer?

9 Die Sadduseërs was baie bekend met die eerste vyf boeke van die Hebreeuse Geskrifte, maar hulle het belangrike waarhede in daardie geïnspireerde boeke geïgnoreer. Byvoorbeeld, dink aan hoe Jesus gereageer het toe die Sadduseërs hom uitgevra het oor die opstanding. Hy het hulle gevra: “Het julle nie in die boek van Moses gelees wat God vir hom by die doringbos gesê het nie? God het van die opstanding gepraat toe hy gesê het: ‘Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob’” (Mark. 12:18, 26). Al het die Sadduseërs daardie verslag seker al baie keer gelees, het Jesus se vraag gewys dat hulle ’n belangrike waarheid uit die Bybel geïgnoreer het – die lering van die opstanding. – Mark. 12:27; Luk. 20:38. d

10. Waaraan moet ons aandag skenk wanneer ons lees?

10 Wat kan ons hieruit leer? Wanneer ons lees, wil ons aandag skenk aan al die dinge wat ons in ’n vers of in ’n Bybelverslag kan leer. Ons wil nie net die basiese leringe verstaan nie, maar ook dieper waarhede en beginsels wat onder die oppervlak weggesteek is.

11. Hoe kan jy 2 Timoteus 3:16, 17 gebruik om geestelike skatte in die Bybel te vind?

11 Hoe kan jy geestelike skatte vind wanneer jy die Bybel lees? Kyk wat 2 Timoteus 3:16, 17 sê. (Lees.) Let op dat “die hele Skrif . . . nuttig” is om (1) te onderrig, (2) tereg te wys, (3) dinge reg te stel en (4) te dissiplineer. Selfs Bybelboeke wat jy nie dikwels gebruik nie, kan jou met hierdie vier dinge help. Ondersoek die verslag om te sien wat dit jou leer oor Jehovah, oor sy doel of oor sy beginsels. Kyk hoe dit gebruik kan word om tereg te wys. Doen dit deur te kyk hoe die verse jou kan help om verkeerde begeertes of gesindhede te identifiseer en te verwerp en om getrou aan Jehovah te bly. Kyk hoe die verslag gebruik kan word om ’n verkeerde beskouing reg te stel, dalk een wat iemand in die bediening genoem het. En kyk vir enige dissipline in die verse wat jou kan leer om dinge te sien soos Jehovah dit sien. Wanneer jy hierdie vier voordele in gedagte hou, sal jy geestelike skatte vind wat jou kan help om meer uit jou Bybellees te kry.

LAAT JOU BYBELLEES JOU VORM

12. Hoekom het Jesus vir die Fariseërs gevra: “Het julle nie gelees . . . nie?”

12 Jesus het ook vir die Fariseërs gevra: “Het julle nie gelees . . . nie?” om te wys dat hulle ’n verkeerde beskouing van die Skrif gehad het (Matt. 12:1-7). e By daardie geleentheid het die Fariseërs gesê dat Jesus se dissipels dinge op die Sabbat gedoen het wat hulle nie moes gedoen het nie. Jesus het toe twee voorbeelde uit die Skrif genoem en ’n vers uit Hosea aangehaal om te wys dat die Fariseërs nie verstaan het hoekom die Sabbatswet ingestel was en dat hulle nie genadig was nie. Hoekom was hierdie mans nie gevorm deur dit wat hulle in God se Woord gelees het nie? Omdat hulle dit met ’n kritiese en trotse gees gelees het. Hulle gesindheid het gekeer dat hulle verstaan wat hulle lees. – Matt. 23:23; Joh. 5:39, 40.

13. Met watter gesindheid moet ons die Bybel lees, en hoekom?

13 Ons leer uit Jesus se woorde dat ons die Bybel met die regte gesindheid moet lees. Anders as die Fariseërs, moet ons nederig en gewillig wees om te leer. Ons moet ‘die woord wat in ons geplant word, met sagmoedigheid aanvaar’ (Jak. 1:21). As ons sagmoedig is, sal ons toelaat dat God se Woord in ons hart groei. Die Bybel se lesse oor genade, meegevoel en liefde sal ons net help as ons ’n kritiese of trotse gees vermy.

Hoe weet ons of ons toelaat dat God se Woord ons vorm? (Sien paragraaf 14) f

14. Hoe weet ons of ons toelaat dat die Bybel ons vorm? (Sien ook prente.)

14 Die manier hoe ons ander behandel, kan wys of ons toelaat dat God se Woord ons vorm. Die Fariseërs het nie toegelaat dat God se Woord hulle hart bereik nie, en daarom het hulle “die onskuldiges veroordeel” (Matt. 12:7). Net so wys die manier hoe ons ander beskou en behandel of ons toegelaat het dat God se Woord ons vorm. Byvoorbeeld, praat ons gewoonlik oor ander se goeie eienskappe, of is ons geneig om oor hulle slegte eienskappe te praat? Is ons genadig en gereed om te vergewe, of is ons krities en bly ons vir hulle kwaad wanneer hulle ons ontstel het? Ons antwoorde op hierdie vrae kan wys of ons toelaat dat dit wat ons lees ons gedagtes, gevoelens en dade beïnvloed. – 1 Tim. 4:12, 15; Heb. 4:12.

DIT MAAK ONS GELUKKIG OM GOD SE WOORD TE LEES

15. Hoe het Jesus oor die Heilige Skrif gevoel?

15 Jesus was lief vir die Heilige Skrif, en die woorde in Psalm 40:8 het voorspel hoe Jesus sou voel oor God se Woord. Dit sê: “Dit is vir my ’n vreugde, o my God, om u wil te doen, en u wet is diep binne-in my.” Omdat Jesus lief was vir die Skrif, was hy gelukkig en suksesvol en het hy aangehou om Jehovah te dien. Ons kan ook gelukkig en suksesvol wees as ons God se Woord lees en leer om daarvoor lief te wees. – Ps. 1:1-3.

16. Op watter maniere hoop jy om meer uit jou Bybellees te kry? (Sien die venster “ Jesus se woorde kan jou help om te verstaan wat jy lees”.)

16 Kom ons verbeter ons Bybelleesvaardighede in ooreenstemming met Jesus se woorde en sy voorbeeld. Ons kan Bybelverslae beter verstaan deur te bid, stadig te lees, vrae te vra en kort notas te neem. Ons kan insig gebruik deur dit wat ons lees, mooi te ondersoek met die hulp van ons Bybelpublikasies. Ons kan leer om die Bybel beter te gebruik, selfs gedeeltes waarmee ons nie so bekend is nie, deur na geestelike skatte in sulke verslae te soek. En ons kan toelaat dat God se Woord ons vorm deur die regte gesindheid te behou terwyl ons lees. Wanneer ons ons bes doen om hierdie dinge te doen, sal ons meer uit ons Bybellees kry en selfs nader aan Jehovah kom. – Ps. 119:17, 18; Jak. 4:8.

LIED 95 Die lig word helderder

a Almal van ons wat Jehovah aanbid, probeer om sy Woord elke dag te lees. Baie ander lees ook die Bybel, maar hulle verstaan nie eintlik wat hulle lees nie. Dit was ook so met party in Jesus se dag. Wanneer ons kyk na wat Jesus vir dié gesê het wat God se Woord lees, sal ons lesse leer wat ons kan help om meer uit ons Bybellees te kry.

b Toe Jesus gedoop is en met heilige gees gesalf is, kon hy heel moontlik sy tyd in die hemel onthou voordat hy aarde toe gekom het. – Matt. 3:16.

c Maria het die Skrif goed geken en het daarna verwys (Luk. 1:46-55). Josef en Maria het heel moontlik nie genoeg geld gehad om hulle eie kopieë van die Skrif te koop nie. Hulle het seker baie mooi geluister terwyl God se Woord by die sinagoge gelees was sodat hulle dit later kon onthou.

d Sien die artikel “Kom nader aan God—‘Hy is die God . . . van die lewendes’” in Die Wagtoring van 1 Februarie 2013.

e Sien ook Matteus 19:4-6, waar Jesus die Fariseërs dieselfde vraag gevra het: “Het julle nie gelees . . . nie?” Al het hulle die skeppingsverslag gelees, het hulle geïgnoreer wat dit oor God se beskouing van die huwelik gesê het.

f BESKRYWING VAN PRENT: Gedurende ’n vergadering by die Koninkryksaal, maak een van die broers wat omsien na die oudio en video ’n hele paar foute. Maar ná die vergadering prys die broers hom vir wat hy doen eerder as om op sy foute te fokus.