Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 32

Jongmense – Hou aan om vordering te maak nadat julle gedoop is

Jongmense – Hou aan om vordering te maak nadat julle gedoop is

“Laat ons . . . deur liefde in alles groei.” – EF. 4:15.

LIED 56 Leef die waarheid uit

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Watter goeie dinge het baie jongmense alreeds gedoen?

 ELKE jaar word duisende jong Christene gedoop. Het jy al hierdie stap geneem? As jy het, is jou broers en susters baie bly vir jou, en Jehovah is ook bly! (Spr. 27:11). Dink vir ’n oomblik aan hoeveel goeie dinge jy alreeds gedoen het. Jy het dalk vir ’n paar jaar die Bybel ywerig studeer. Dit het jou oortuig dat die Bybel die Woord van God is. Jy het ook die Skrywer van die Bybel leer ken en liefgekry. Jou liefde vir Jehovah het so sterk geword dat jy jou lewe aan hom toegewy het en jou laat doop het. Jy het ’n baie goeie besluit gemaak!

2. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

 2 Jou geloof was ongetwyfeld op ’n hele paar maniere getoets terwyl jy tot doop gevorder het. Maar soos jy ouer word, sal jy nuwe toetse hê. Satan sal probeer om jou liefde vir Jehovah te laat verswak en om jou te kry om op te hou om Hom te dien (Ef. 4:14). Jy moenie toelaat dat dit gebeur nie. Wat kan jou help om lojaal aan Jehovah te bly en om jou toewydingsbelofte na te kom? Jy moet aanhou om vordering te maak – om ‘hard te werk’ om ’n volwasse Christen te word (Heb. 6:1). Maar hoe kan jy dit doen?

HOE KAN JY AS ’N CHRISTEN VORDERING MAAK?

3. Watter vordering moet alle Christene maak nadat hulle gedoop is?

3 Nadat ons gedoop is, moet ons almal die raad volg wat die apostel Paulus aan mede-Christene in Efese gegee het. Hy het hulle aangemoedig om “volgroeide” Christene te word (Ef. 4:13). Dit is ’n ander manier om te sê: ‘Hou aan om vordering te maak.’ Ons kan verstaan wat Paulus bedoel het toe hy geestelike groei met die fisiese groei van ’n kind vergelyk het. Die ouers van ’n babatjie is baie lief vir hom en is trots op hom. Maar hy kan nie vir ewig ’n babatjie bly nie. Later sal hy ontslae moet raak van “die eienskappe van ’n kind” (1 Kor. 13:11). Dit is dieselfde vir Christene. Nadat ons gedoop is, moet ons aanhou om vordering te maak. Kom ons bespreek ’n paar voorstelle wat ons sal help om dit te doen.

4. Watter eienskap kan jou help om geestelike vordering te maak? Verduidelik. (Filippense 1:9)

4 Laat jou liefde vir Jehovah sterker word. Jy is alreeds baie lief vir Jehovah. Maar jou liefde vir hom kan sterker word. Hoe? Die apostel Paulus noem een manier in Filippense 1:9. (Lees.) Paulus het gebid dat die Filippense se liefde “al hoe meer sal toeneem”. So ons kan ons liefde vir Jehovah laat sterker word. Ons kan dit doen deur “akkurate kennis en goeie oordeel” te verkry. Hoe beter ons Jehovah leer ken, hoe meer kry ons hom lief en hoe meer waardeer ons sy persoonlikheid en manier van dinge doen. Ons begeerte om hom gelukkig te maak word sterker, en ons wil nooit iets doen wat hom sal teleurstel nie. Ons werk hard om te verstaan wat sy wil is en hoe ons daarmee kan saamwerk.

5-6. Hoe kan ons ons liefde vir Jehovah laat sterker word? Verduidelik.

5 Ons kan ons liefde vir Jehovah laat sterker word deur sy Seun, wat sy Vader se persoonlikheid perfek navolg, beter te leer ken (Heb. 1:3). Die beste manier om Jesus te leer ken, is deur die vier Evangelieverslae te studeer. As jy nog nie in die gewoonte is om die Bybel elke dag te lees nie, hoekom begin jy nie nou nie? Terwyl jy die verslae oor Jesus lees, moet jy veral op sy eienskappe fokus. Mense het daarvan gehou om by hom te wees en om met hom te praat; hy het klein kindertjies liefdevol in sy arms geneem (Mark. 10:13-16). Jesus was liefdevol en vriendelik, en sy dissipels was nie bang om vir hom te sê hoe hulle voel nie (Matt. 16:22). Op hierdie manier het Jesus sy hemelse Vader nagevolg. Jehovah is ook maklik om mee te praat. Ons kan met hom in gebed praat. Wanneer ons bid, kan ons ons hart voor hom uitstort. Ons het die vertroue dat hy ons nie sal oordeel nie. Hy is lief vir ons, en hy gee om vir ons. – 1 Pet. 5:7.

6 Jesus het meegevoel vir mense gehad. Die apostel Matteus het gesê: “Toe hy die skare sien, het hy baie jammer vir hulle gevoel, want hulle was verwaarloos en sleg behandel, soos skape sonder ’n herder” (Matt. 9:36). En hoe voel Jehovah? Jesus het gesê: “My Vader wat in die hemel is, [wil] nie hê dat selfs een van hierdie kleintjies verlore gaan nie” (Matt. 18:14). Hierdie woorde is baie vertroostend! Soos ons Jesus beter leer ken, word ons liefde vir Jehovah sterker.

7. Hoe kan dit jou help wanneer jy tyd saam met volwasse Christene spandeer?

7 Jy kan ook leer om liefdevoller te wees en om as ’n Christen vordering te maak deur volwasse broers en susters in jou gemeente te leer ken. Let op hoe gelukkig hulle is. Hulle is glad nie spyt oor hulle besluit om Jehovah te dien nie. Vra hulle om vir jou te vertel van party van hulle ondervindinge wat hulle in Jehovah se diens gehad het. Wanneer jy ’n belangrike besluit moet neem, vra hulle vir raad. Onthou: “Met baie raadgewers word sukses behaal.” – Spr. 11:14.

Hoe kan jy voorbereid wees wanneer jy by die skool met evolusie te doen kry? (Sien paragraaf 8-9)

8. Wat kan jy doen as jy ooit twyfel oor wat die Bybel sê?

8 Oorkom jou twyfelgedagtes. Soos  paragraaf 2 genoem het, sal Satan jou probeer keer om geestelike vordering te maak. Een manier hoe hy dit dalk sal doen, is deur jou te laat twyfel oor party van die dinge wat die Bybel leer. Byvoorbeeld, een of ander tyd sal jy dalk te doen hê met die teorie van evolusie. Toe jy ’n kind was, het jy dalk glad nie eers daaraan gedink nie, maar miskien word jy nou daarvan in die skool geleer. Wat jou onderwysers oor evolusie sê, klink dalk logies en oortuigend. Maar hulle het dalk nog nooit probeer uitvind of daar ’n Skepper is nie. Onthou die beginsel in Spreuke 18:17: “Dit lyk altyd of die een wat sy saak eerste stel, reg is, maar dan kom die ander party en ondervra hom.” Eerder as om net alles te glo wat jy by die skool leer, moet jy God se Woord deeglik studeer. Doen navorsing in ons publikasies. Praat met broers en susters wat in die verlede in evolusie geglo het. Vra hulle wat hulle oortuig het dat daar ’n Skepper is wat vir ons lief is. Sulke opbouende besprekings kan jou help om op die feite te fokus.

9. Wat leer jy uit die ondervinding van Melissa?

9 ’n Suster met die naam Melissa het baie baat gevind by die navorsing wat sy oor die skepping gedoen het. * Sy sê: “Op skool verduidelik onderwysers evolusie op ’n manier wat mense laat dink dat dit waar is. Eers was ek bang om my twyfelgedagtes te konfronteer. Ek wou nie navorsing doen nie, want ek was bang dat ek sou ontdek dat evolusie waar is. Maar ek het geredeneer dat Jehovah nie wil hê dat ons hom net blindelings moet dien nie. So ek het my twyfelgedagtes gekonfronteer en navorsing begin doen. Ek het die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee? en die brosjures Is lewe geskep? en Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe gelees. Dit was presies wat ek nodig gehad het. Ek wens dat ek dit vroeër gedoen het.”

10-11. Wat kan jou help om sedelik rein te bly? (1 Tessalonisense 4:3, 4)

10 Verwerp verkeerde gedrag. Wanneer jy jonk is, kan die begeerte om seks te hê baie sterk wees, en soms sal ander druk op jou plaas om seksueel onsedelik te wees. Dit is presies wat Satan wil hê jy moet doen. Wat kan jou help om sedelik rein te bly? (Lees 1 Tessalonisense 4:3, 4.) Vertel Jehovah van jou gevoelens wanneer jy tot hom bid. Sê vir hom hoe jy regtig voel, en vra hom om jou krag te gee (Matt. 6:13). Onthou, Jehovah wil jou help. Hy wil jou nie oordeel nie (Ps. 103:13, 14). Die Bybel kan jou ook help. Melissa, wat vroeër aangehaal is, het met onrein gedagtes gesukkel. Sy sê: “Omdat ek die Bybel elke dag gelees het, het dit my gehelp om nie op te gee nie. Dit het my herinner dat ek aan Jehovah behoort en dat ek hom in my lewe wil hê.” – Ps. 119:9.

11 Moenie jou probleme op jou eie probeer hanteer nie. Praat met jou ouers daaroor. Dit is natuurlik nie maklik om oor sulke persoonlike dinge te praat nie, maar dit is belangrik om dit te doen. Melissa sê: “Ek het vir moed gebid en toe met my pa oor my probleem gepraat. Daarna het ek baie verlig gevoel. Ek het geweet dat Jehovah trots is op my.”

12. Hoe kan jy goeie besluite maak?

12 Laat Bybelbeginsels jou lei. Jy sal geleidelik meer vryheid kry om jou eie besluite te maak. Maar daar is nog steeds baie dinge in die lewe wat jy nie weet nie. Hoe kan jy keer dat jy ’n fout maak wat jou vriendskap met Jehovah sal affekteer? (Spr. 22:3). ’n Suster met die naam Kari verduidelik wat haar gehelp het om beter besluite te maak. Sy het besef dat volwasse Christene nie in elke situasie ’n reël nodig het nie. Sy sê: “Ek moes Bybelbeginsels eerder as net reëls verstaan.” Wanneer jy die Bybel lees, vra jouself af: ‘Wat leer hierdie gedeelte my oor hoe Jehovah dink? Is daar beginsels wat my kan help om te doen wat reg is? As daar is, hoe sal dit my help as ek dit toepas?’ (Ps. 19:7; Jes. 48:17, 18). As jy die Bybel lees en oor die beginsels daarin nadink, sal dit vir jou makliker wees om besluite te maak waarmee Jehovah tevrede is. As jy aanhou om vordering te maak, sal jy sien dat jy nie ’n reël vir elke situasie nodig het nie omdat jy sal verstaan hoe Jehovah oor dinge dink.

Watter soort vriende het ’n jong suster gekies? (Sien paragraaf 13)

13. Watter uitwerking kan goeie vriende op jou hê? (Spreuke 13:20)

13 Kies vriende wat lief is vir Jehovah. Soos daar vroeër genoem is, sal jou vriende ’n groot uitwerking hê op jou vordering as ’n Christen. (Lees Spreuke 13:20.) ’n Suster met die naam Sara was besig om haar vreugde te verloor. Toe het iets gebeur wat haar gehelp het om haar beskouing te verander. Sara sê: “Goeie vriende het net op die regte tyd in my lewe gekom. Ek en ’n jong suster het elke week Die Wagtoring saam studeer. ’n Ander vriend het my gehelp om by die vergaderinge te begin antwoord. As gevolg van die invloed van my vriende, het persoonlike studie en gebed vir my belangriker geword. Ek het ’n sterker verhouding met Jehovah ontwikkel en ek het weer my vreugde teruggekry.”

14. Hoe het Julien goeie vriende gemaak?

14 Hoe kan jy vriende maak met mense wat ’n goeie invloed op jou sal hê? Julien, wat nou ’n ouerman is, sê: “Toe ek jonger was, het ek goeie vriende gemaak terwyl ek velddiens gedoen het. Hierdie vriende was ywerig, en hulle het my gehelp om te sien hoe lekker die bediening kan wees. Ek het die voltydse diens as my doelwit gestel. Ek het ook besef dat ek uitgemis het op goeie geselskap en interessante vriendskappe omdat ek net vriende was met mense van my eie ouderdom. Later het ek ook goeie vriende by Bethel gemaak. Hulle voorbeeld het my gehelp om beter vermaak te kies, en dit het my nader aan Jehovah gebring.”

15. Watter waarskuwing het Paulus Timoteus gegee oor assosiasie? (2 Timoteus 2:20-22)

15 Wat as jy besef dat iemand in die gemeente nie goeie assosiasie is nie? Paulus het geweet dat party Christene in die eerste eeu nie geestelik was nie, en daarom het hy Timoteus gewaarsku om weg te bly van hulle af. (Lees 2 Timoteus 2:20-22.) Ons vriendskap met Jehovah is kosbaar. Ons het baie hard gewerk om nader aan hom te kom, so ons moenie vriende hê wat ons vriendskap met ons hemelse Vader sal beskadig nie. – Ps. 26:4.

HOE KAN DOELWITTE JOU HELP OM GEESTELIKE VORDERING TE MAAK?

16. Watter soort doelwitte moet jy kies?

16 Stel goeie doelwitte. Kies doelwitte wat jou geloof sal versterk en jou sal help om ’n volwasse Christen te word (Ef. 3:16). Byvoorbeeld, jy kan besluit om die Bybel meer gereeld te lees en te studeer (Ps. 1:2, 3). Of jy kan probeer om meer gereeld en uit jou hart uit te bid. Dalk moet jy versigtiger wees wanneer dit kom by die vermaak wat jy kies of hoe jy jou tyd gebruik (Ef. 5:15, 16). Wanneer Jehovah sien dat jy hard werk om vordering te maak, sal dit hom gelukkig maak.

Watter doelwit het hierdie jong suster vir haarself gestel? (Sien paragraaf 17)

17. Hoe help dit jou as jy ander help?

17 Jy groei as ’n Christen wanneer jy ander mense help. Jesus het gesê: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Dit sal jou baie help as jy van jou tyd en energie gebruik om ander te help. Byvoorbeeld, jy kan dit jou doelwit maak om die bejaardes en die siekes in jou gemeente te help. Dalk kan jy takies vir hulle doen of hulle met hulle elektroniese toestelle help. As jy ’n broer is, stel die doelwit om ’n bedieningskneg te word, met die doel om jou broers en susters te dien (Fil. 2:4). Jy wys ook liefde aan dié buite die gemeente deur die goeie nuus van die Koninkryk met hulle te deel (Matt. 9:36, 37). As dit moontlik is, maak dit jou doelwit om aan die een of ander vorm van die voltydse diens deel te neem.

18. Hoe kan die voltydse diens jou help om geestelike vordering te maak?

18 Die voltydse diens kan jou baie geleenthede gee om geestelike vordering te maak. As jy ’n pionier is, kan jy dalk die Skool vir Koninkrykspredikers bywoon. Jy kan dalk by Bethel gaan dien of met teokratiese bouprojekte help. ’n Jong pioniersuster met die naam Kaitlyn sê: “Om tyd saam met ervare broers en susters in die bediening te spandeer, het my baie gehelp om geestelike vordering te maak nadat ek gedoop is. Hulle voorbeeld het my gemotiveer om die Bybel meer te studeer en om my onderrigtingsvermoë te verbeter.”

19. Watter seëninge sal jy geniet terwyl jy aanhou om geestelike vordering te maak?

19 Terwyl jy aanhou om geestelike vordering te maak, sal jy baie seëninge geniet. Jy sal nie jou jeug op waardelose doelwitte mors nie (1 Joh. 2:17). Jy sal die pyn gespaar word wat ons ondervind wanneer ons slegte besluite maak. Jy sal eerder ware sukses en geluk vind (Spr. 16:3). Jou goeie voorbeeld sal jou broers en susters, jonk en oud, aanmoedig (1 Tim. 4:12). En die belangrikste is, jy sal die vrede en tevredenheid hê wat ons kry wanneer ons Jehovah gelukkig maak en ’n sterk vriendskap met hom het. – Spr. 23:15, 16.

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

^ Dit maak alle knegte van Jehovah baie gelukkig wanneer jongmense gedoop word. Maar nuwe dissipels moet natuurlik aanhou om geestelike vordering te maak nadat hulle gedoop is. Hierdie artikel sal fokus op maniere hoe pasgedoopte jong Christene kan aanhou om tot Christelike volwassenheid te vorder. En ons almal kan daarby baat vind.

^ Party name is verander.