Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Vasbeslote om nie my hande slap te laat word nie

Vasbeslote om nie my hande slap te laat word nie

“PAPPA”, “OUPA”, “OOM”. Dit is wat baie jongmense by Bethel my al genoem het. En op die ouderdom van 89 hou ek daarvan as hulle my so noem. Dit wys vir my dat hulle vir my lief is, en ek sien dit as deel van die baie seëninge wat Jehovah my gee omdat ek hom al 72 jaar lank voltyds dien. As gevolg van my ondervindinge in God se diens, kan ek vol vertroue vir hierdie jongmense sê: ‘Daar is ’n beloning vir julle werk — as julle nie julle hande slap laat word nie.’ — 2 Kron. 15:7.

MY OUERS, BROERS EN SUSTERS

My ouers het van Oekraïne na Kanada getrek. Hulle het in die dorpie Rossburn in die provinsie Manitoba gaan woon. My liefdevolle ma het 8 seuns en 8 dogters gehad. En nee, daar was geen tweelinge nie. Ek was die 14de kind. My pa was lief vir die Bybel, en hy het dit elke Sondagoggend vir ons gelees. Maar vir hom was godsdiens ’n geldmaakstorie, en hy het baie keer grapperig gevra: “Ek wonder wie vir Jesus betaal het om te preek en mense te leer?”

Agt van my broers en susters — vier broers en vier susters — het uiteindelik die waarheid aanvaar. My suster Rose was ’n pionier totdat sy gesterf het. In die dae voordat sy oorlede is, het sy almal aangemoedig om na God se Woord te luister deur te sê: “Ek wil julle in die nuwe wêreld sien.” My ouer broer Ted was eers ’n predikant. Hy het elke Sondagoggend oor die radio gepreek en sy luisteraars banggepraat en hulle gewaarsku dat sondaars vir ewig in die helse vuur sou brand. Maar later het hy ’n getroue en ywerige dienaar van Jehovah geword.

HOE MY VOLTYDSE DIENS BEGIN HET

Toe ek eendag in Junie 1944 van die skool af gekom het, het ek ’n boekie met die titel The Coming World Regeneration * op ons eetkamertafel sien lê. Ek het die eerste bladsy gelees, toe die tweede een, en toe kon ek nie ophou lees nie. Nadat ek die hele boekie deurgelees het, het ek geweet wat ek wou doen — ek wou Jehovah dien net soos Jesus.

Hoe het die boekie op ons tafel beland? My ouer broer Steve het gesê dat twee mans wat boekies “verkoop” het, by ons huis was. Hy het gesê: “Ek het daardie een gekoop, want dit het net vyf sent gekos.” Die volgende Sondag het die mans teruggekom. Hulle het gesê dat hulle Jehovah se Getuies is en dat hulle die Bybel gebruik om mense se vrae te beantwoord. Ons het dit waardeer, want ons ouers het ons van kleins af geleer om respek vir God se Woord te hê. Die twee mans het ook vir ons gesê dat die Getuies binnekort ’n streekbyeenkoms sou hou in die stad Winnipeg, waar my suster Elsie gewoon het. Ek het besluit om die byeenkoms by te woon.

Ek moes omtrent 320 kilometer met my fiets ry om by Winnipeg uit te kom. Maar op pad soontoe het ek in die dorp Kelwood oorgebly. Die twee Getuies wat ons huis besoek het, het daar gewoon. Terwyl ek daar was, het ek ’n vergadering bygewoon en geleer wat ’n gemeente is. Ek het ook geleer dat elke man, vrou en jongmens, net soos Jesus, van huis tot huis moet gaan om ander te leer.

Ek het my ouer broer Jack, wat van die noorde van Ontario gereis het, by die streekbyeenkoms in Winnipeg gekry. Op die eerste dag van die byeenkoms het ’n broer aangekondig dat daar ’n reëling sou wees vir diegene wat gedoop wou word. Ek en Jack het besluit om by daardie byeenkoms gedoop te word. Nadat ons ons laat doop het, was ons albei vasbeslote om te begin pionier. Jack het onmiddellik ná die byeenkoms met voltydse diens begin. Ek was 16 jaar oud en moes teruggaan skool toe, maar die volgende jaar het ek ook ’n gewone pionier geword.

EK LEER BAIE LESSE

Ek het saam met Stan Nicolson begin pionier in Souris, ’n dorp in die provinsie Manitoba. Ek het gou agtergekom dat dit nie altyd maklik is om te pionier nie. Ons geld het al hoe minder geword, maar ons het net aanhou preek. Eendag, ná ’n hele dag se velddiens, het ons platsak en baie honger by die huis aangekom. Ons was baie verbaas toe ons ’n sak vol kos voor ons deur kry! Tot vandag toe weet ons nie wie dit daar gesit het nie. Daardie aand het ons soos konings geëet. Wat ’n groot beloning omdat ons nie ons hande slap laat word het nie! Om die waarheid te sê, ek het aan die einde van daardie maand meer geweeg as wat ek ooit tevore geweeg het.

’n Paar maande later het ons ’n toewysing gekry om te gaan dien in die dorpie Gilbert Plains, wat omtrent 240 kilometer noord van Souris is. Destyds het elke gemeente ’n groot kaart op die verhoog gehad wat gewys het hoeveel velddiens die gemeente elke maand gedoen het. Een maand toe die gemeente se velddiens nie so goed was nie, het ek ’n toespraak in die gemeente gehou om vir die broers te sê dat hulle beter moes doen. Ná die vergadering het ’n ouer pioniersuster, wie se man nie in die waarheid was nie, met trane in haar oë vir my gesê: “Ek het probeer, maar ek kon net nie meer doen as wat ek gedoen het nie.” Toe het ek ook begin huil en vir haar gesê dat ek jammer is.

Ywerige jong broers kan maklik sulke foute maak en dan later spyt voel. Maar ek het gevind dat dit beter is om uit jou foute te leer en daardie lesse te onthou as om jou hande slap te laat word. As jy aanhou om getrou te dien, sal jy beloon word.

DIE STRYD IN QUEBEC

Toe ek 21 was, het ek die groot voorreg gehad om die 14de Gileadklas, wat in Februarie 1950 gegradueer het, by te woon! Omtrent ’n kwart van my klasmaats is na Quebec, ’n Franssprekende provinsie in Kanada, gestuur waar die Getuies erg vervolg is. Ek is na Val-d’Or, ’n dorpie in die goudmynstreek, gestuur. Eendag het ’n groep van ons in die nabygeleë dorpie Val-Senneville gaan preek. Die priester in daardie dorpie het ons met geweld gedreig as ons nie die dorpie onmiddellik verlaat nie. Ek het ’n klag gaan lê wat tot ’n hofsaak gelei het, en die priester is beboet. *

Hierdie en ander soortgelyke voorvalle het deel geword van die “Stryd in Quebec”. Die provinsie Quebec is meer as 300 jaar lank deur die Rooms-Katolieke Kerk beheer. Die kerkleiers en hulle politieke ondersteuners het Jehovah se Getuies vervolg. Dit was nie ’n maklike tyd nie, en daar was maar min van ons, maar ons het nie ons hande slap laat word nie. Opregte inwoners van Quebec het na die boodskap geluister. Ek het die voorreg gehad om met ’n hele paar persone te studeer wat die waarheid aanvaar het. Een van my studies was met ’n gesin van tien. Die hele gesin het Jehovah begin dien. Hulle moedige voorbeeld het ander aangespoor om die Katolieke Kerk te verlaat. Ons het aanhou preek, en uiteindelik het ons die stryd gewen!

BROERS WORD IN HULLE EIE TAAL OPGELEI

In 1956 is ek gevra om in Haïti te gaan dien. Die meeste van die nuwe sendelinge wat daar gedien het, het gesukkel om Frans te leer, maar die mense het nog steeds na hulle geluister. Een van die sendelinge, Stanley Boggus, het gesê: “Ons was verbaas dat die mense so hard probeer het om ons te help om hulle taal te praat.” Omdat ek reeds Frans in Quebec leer praat het, het dit my baie gehelp. Maar ons het gou agtergekom dat die meeste van die plaaslike broers net Haïtiaanse Kreools praat. Daarom sou ons die plaaslike taal moes leer as ons doeltreffend wou wees in die bediening. Ons het dit gedoen, en ons is vir ons harde werk beloon.

Om die broers verder te help, het die Bestuursliggaam ons toestemming gegee om Die Wagtoring en ander publikasies in Haïtiaanse Kreools te vertaal. Regoor die land het al hoe meer mense die vergaderinge begin bywoon. In 1950 was daar 99 verkondigers in Haïti, maar teen 1960 was daar meer as 800 verkondigers! Gedurende daardie tyd is ek gevra om by Bethel te gaan dien. In 1961 het ek die voorreg gehad om een van die instrukteurs by die Koninkryksbedieningskool te wees. Ons het altesaam 40 gemeentelike opsieners en spesiale pioniers opgelei. By die streekbyeenkoms in Januarie 1962 het ons plaaslike broers wat aan die vereistes voldoen het, aangemoedig om meer in hulle bediening te doen. Party van hulle is as spesiale pioniers aangestel. Dit het op die regte tyd gebeur, want nie lank daarna nie sou ons baie teenstand ervaar.

Op 23 Januarie 1962, net ná die streekbyeenkoms, is ek en Andrew D’Amico, ’n sendeling, by die takkantoor gearresteer. Die owerheid het ook die voorraad van die Ontwaak! (in Frans) van 8 Januarie 1962 afgevat. Die Ontwaak! het Franse koerante aangehaal wat gesê het dat voedoe in Haïti beoefen word. Party het nie van hierdie stelling gehou nie en het gesê dat ons hierdie artikel by die takkantoor in Haïti geskryf het. ’n Paar weke later is die sendelinge uit die land verban. * Maar die opgeleide plaaslike broers het net aangehou met die werk en het uitstekend gedoen. Vandag is ek saam met hulle bly omdat hulle volhard het en geestelike vordering gemaak het. Selfs die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is nou in Haïtiaanse Kreools beskikbaar — iets waaroor ons destyds maar net kon droom.

BOUWERK IN DIE SENTRAAL-AFRIKAANSE REPUBLIEK

Nadat ek in Haïti gedien het, is ek gevra om as ’n sendeling in die Sentraal-Afrikaanse Republiek te dien. Later het ek ook die voorreg gehad om as ’n reisende opsiener en toe as takopsiener in hierdie land te dien.

In daardie dae was baie van die Koninkryksale maar eenvoudige strukture. Ek het geleer hoe om strooi in die bos bymekaar te maak en hoe om die dakke van Koninkryksale daarmee te bedek. Hierdie soort werk was vir my iets nuuts, en baie mense het hulle aan my verkyk terwyl ek daarmee gesukkel het. Maar dit het die broers aangemoedig om meer betrokke te raak by die bou en instandhouding van hulle eie Koninkryksale. Godsdiensleiers het ons gespot omdat hulle kerke sinkdakke gehad het en ons s’n nie. Maar ons het nie toegelaat dat dit ons onderkry nie. Ons het net aangehou om ons eenvoudige strooidak-Koninkryksale te gebruik. Nadat ’n groot storm die hoofstad, Bangui, getref het, het hulle ons nie meer gespot nie. Die storm het die sinkdak van ’n kerk afgeruk, en die dak het in die hoofstraat beland. Maar die strooidakke van ons Koninkryksale het nie afgewaai nie. Ons het ’n nuwe takkantoor en ’n sendinghuis gebou om beter toesig te hou oor die Koninkrykswerk. Die hele projek het ons net vyf maande geneem. *

DIE GETROUDE LEWE SAAM MET ’N YWERIGE MAAT

Op ons troudag

In 1976 is die Koninkrykswerk in die Sentraal-Afrikaanse Republiek verbied, en ek is na Ndjamena, die hoofstad van Tsjad gestuur. Maar aan die positiewe kant het ek Happy ontmoet, ’n ywerige spesiale pionier wat oorspronklik van Kameroen af gekom het. Ons het op 1 April 1978 getrou. Daardie selfde maand het ’n burgeroorlog uitgebreek, en net soos baie ander mense het ons na die suide van die land gevlug. Toe die oorlog verby was, het ons huis toe gegaan. Maar toe ons daar aankom, het ons gesien dat ’n gewapende groep ons huis as hulle basis gebruik het. Al ons lektuur was weg, asook Happy se trourok en ons trougeskenke. Maar ons het nie ons hande slap laat word nie. Ons het darem nog mekaar gehad, en ons het daarna uitgesien om aan te hou dien.

Omtrent twee jaar later was die werk in die Sentraal-Afrikaanse Republiek nie meer verbied nie en kon ons weer daar gaan preek. Ons het toe teruggegaan en reisende werk begin doen. Ons het in ’n minibus gebly wat ’n opvoubed gehad het. Ons het ook ’n drom gehad wat 200 liter water kon hou, ’n yskas wat met gas gewerk het en ’n gasstofie. Dit was moeilik om rond te reis. Gedurende een reis is ons 117 keer deur die polisie gestop.

Die temperatuur het baie keer tot 50 grade Celsius gestyg. Wanneer ons byeenkomste gehad het, was dit soms moeilik om genoeg water te kry om mense te doop. Daarom moes die broers in droë rivierbeddings grawe om water te kry. Hulle het die water bietjie vir bietjie uitgeskep totdat hulle genoeg gehad het om iemand te doop. Mense is gewoonlik in ’n drom gedoop.

NOG WERK IN ANDER AFRIKA-LANDE

In 1980 is ons Nigerië toe gestuur. Daar het ons twee en ’n half jaar lank gehelp met die voorbereiding vir die bou van die nuwe takkantoor. Die broers het ’n stoor met twee verdiepings gekoop. Dit moes uitmekaargehaal word en toe weer op ons perseel aanmekaargesit word. Een oggend het ek baie hoog teen die gebou opgeklim om te help om dit uitmekaar te haal. Teen die middel van die dag wou ek weer afklim. Maar daar was al soveel dinge uitmekaargehaal dat ek misgetrap het en van die gebou afgeval het. Dit het gelyk asof ek ernstig seergekry het, maar nadat X-strale geneem is en die dokter my ondersoek het, het hy vir Happy gesê: “Moenie bekommerd wees nie. Hy het net ’n paar ligamente geskeur, en hy sal oor ’n week of twee weer reg wees.”

Op pad na ’n byeenkoms met “openbare vervoer”

In 1986 het ons na Côte d’Ivoire gegaan waar ons in die reisende werk gedien het. Terwyl ons daar was, het ons ook Burkina Faso besoek. Ek het nooit gedink dat ons jare later ’n tyd lank in Burkina sou gaan bly nie.

In die reisende werk was ons huis ’n minibus

Ek het Kanada in 1956 verlaat, maar 47 jaar later, in 2003, was ek weer terug in Kanada, hierdie keer saam met Happy, en ons het by Bethel gedien. Op papier het dit gesê dat ons Kanadese is, maar ons het gevoel dat ons eerder in Afrika hoort.

Ek hou ’n Bybelstudie in Burkina Faso

In 2007, toe ek 79 jaar oud was, is ons weer terug Afrika toe! Ons is na Burkina Faso gestuur, waar ek op die Landskomitee gedien het. Die kantoorgebou is later in ’n vertaalkantoor verander, wat onder die toesig van die takkantoor in Benin gewerk het. En in Augustus 2013 is ons gevra om by die Bethel in Benin te gaan dien.

Ek en Happy by die takkantoor in Benin

Alhoewel ek weens my gesondheid nie meer so baie velddiens kan doen nie, is ek nog steeds baie lief daarvoor. Met die hulp van die ouer manne en die liefdevolle ondersteuning van my vrou, het ek gedurende die afgelope drie jaar die voorreg gehad om te sien hoe twee van my Bybelstudente, Gédéon en Frégis, gedoop word. Hulle is nou ywerige dienaars van Jehovah.

Intussen is ek en my vrou na die takkantoor in Suid-Afrika gestuur, waar die Bethel-gesin mooi na my kyk. Suid-Afrika is die sewende Afrika-land waarin ek al die voorreg gehad het om te dien. En in Oktober 2017 het ons ’n wonderlike seëning ontvang. Ons is genooi om die toewyding van die wêreldhoofkwartier in Warwick, New York, by te woon. Dit is iets wat ons nooit sal vergeet nie!

Op bladsy 255 van die 1994 Yearbook sê dit: “Ons wil almal wat al jare lank getrou dien, aanspoor: ‘Wees moedig en moenie julle hande slap laat word nie, want daar is ’n beloning vir julle werk.’ — 2 Kron. 15:7.” Ek en Happy is vasbeslote om hierdie woorde in ons lewe toe te pas en om ander aan te moedig om dieselfde te doen.

^ par. 9 In 1944 uitgegee deur Jehovah se Getuies. Word nie meer gedruk nie.

^ par. 18 Sien die artikel “Quebec-priester skuldig bevind aan aanval op Jehovah se Getuies” in die Ontwaak! van 8 Februarie 1954, bl. 3-4 (Awake! van 8 November 1953, bl. 3-5).

^ par. 23 Besonderhede kan gekry word in die 1994 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bl. 148-150.

^ par. 26 Sien die artikel “Bou op ’n vaste fondament” in die Ontwaak! van 22 Junie 1966, bl. 19 (Awake! van 8 Mei 1966, bl. 27).