Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | ENGELE—BESTAAN HULLE REGTIG? WAAROM DIT SAAK MAAK

Is daar slegte engele?

Is daar slegte engele?

Ja, daar is slegte engele. Waar het hulle vandaan gekom? Onthou, God het engele met wilsvryheid geskep. Kort nadat die eerste man en vrou, Adam en Eva, geskep is, het ’n volmaakte geespersoon sy wilsvryheid misbruik en ’n opstand op die aarde veroorsaak. Hy het dit reggekry om Adam en Eva in opstand teen God te laat kom (Genesis 3:1-7; Openbaring 12:9). Die Bybel sê nie wat hierdie geespersoon se naam was of watter posisie hy in die hemel gehad het voordat hy gerebelleer het nie. Maar ná sy opstand noem die Bybel hom gepas Satan, wat “Teenstander” beteken, en die Duiwel, wat “Lasteraar” beteken.—Matteus 4:8-11.

Ongelukkig was dit net die begin van die goddelose opstand. In Noag se dag het party engele “hulle eie gepaste woonplek” in God se hemelse gesin verlaat. Hulle het na die aarde toe gekom en menseliggame aangeneem om vieslike en onsedelike dinge te doen. Maar dit was nie deel van God se voorneme vir hulle nie.—Judas 6; Genesis 6:1-4; 1 Petrus 3:19, 20.

Wat het van daardie slegte engele geword? Toe God ’n wêreldwye vloed gebring het om die slegte mense op die aarde te vernietig, het daardie engele hulle menseliggame agtergelaat en na die geestewêreld teruggekeer. Maar God het nie daardie ongehoorsame engele toegelaat om na “hulle oorspronklike posisie” terug te keer nie. Hy het hulle eerder beperk tot ’n verlaagde toestand van “dik [geestelike] duisternis”, wat as Tartarus bekend staan (Judas 6; 2 Petrus 2:4). Hierdie demone is nou onder die beheer van Satan die Duiwel, “die heerser van die demone”, wat aanhou “om hom in ’n engel van lig te verander”.—Matteus 12:24; 2 Korintiërs 11:14.

Die Bybel leer dat God se Messiaanse Koninkryk, ’n hemelse regering, in 1914 opgerig is. * Ná daardie groot en belangrike gebeurtenis is Satan en sy demone uit die hemel na die aarde neergeslinger en van toe af is hulle bedrywighede tot die aarde beperk. Die wydverspreide goddeloosheid en vieslike onsedelikheid wat oral op ons planeet gesien kan word, is ’n bewys van hulle hatige en vernietigende invloed.—Openbaring 12:9-12.

Die feit dat daar al hoe meer skokkende en gewelddadige dinge gebeur, wys duidelik dat die einde van hierdie verskriklike tyd naby is. Binnekort gaan hierdie wrede geespersone se vernietigende invloed tot ’n einde kom. Nadat God se Koninkryk 1 000 jaar lank oor ’n aardse paradys regeer het, sal hierdie slegte geespersone weer ’n kans kry om die mensdom te toets. Daarna sal hulle vir ewig vernietig word.—Matteus 25:41; Openbaring 20:1-3, 7-10.

^ par. 6 Vir meer inligting oor God se Koninkryk sien hoofstuk 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies. Ook beskikbaar by www.jw.org/af.