Jehovah se herinneringe is betroubaar
“Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys.”—PS. 19:7.
1. Watter onderwerpe word gereeld deur God se volk bespreek, en hoe vind ons baat by ’n hersiening daarvan?
HET jy al ooit, terwyl jy vir die Wagtoring-studie voorberei, gedink: ‘Het ons nie al hierdie onderwerp voorheen bespreek nie?’ As jy al ’n tyd lank met die Christengemeente assosieer, sal jy waarskynlik opgemerk het dat party onderwerpe elke nou en dan bespreek word. ’n Studie van onderwerpe soos God se Koninkryk, die losprys, die dissipelmaakwerk en eienskappe soos liefde en geloof vorm ’n gereelde deel van ons geestelike dieet. Wanneer ons hierdie onderwerpe hersien, help dit ons om gesond in die geloof te bly en om “daders van die woord [te word] en nie net hoorders” nie.—Jak. 1:22.
2. (a) Waarna verwys God se herinneringe dikwels? (b) Hoe verskil God se herinneringe van dié van die mens?
2 Die Hebreeuse selfstandige naamwoord wat met “herinnering” weergegee word, verwys dikwels na wette, gebooie en voorskrifte wat God aan sy volk gee. In teenstelling met menslike wette, wat dikwels gewysig of bygewerk moet word, is Jehovah se wette en voorskrifte altyd betroubaar. Hoewel party van hierdie wette vir ’n sekere tyd of situasie gegee is, sal dit nooit gebrekkig of ondoeltreffend wees nie. Die psalmis het gesê: “Die regverdigheid van u herinneringe is tot onbepaalde tyd.”—Ps. 119:144.
3, 4. (a) Wat sal Jehovah se herinneringe moontlik insluit? (b) Hoe sou die Israeliete daarby baat vind as hulle daarop sou ag slaan?
3 Jy het dalk al opgemerk dat Jehovah se herinneringe by tye waarskuwingsboodskappe insluit. Die nasie Israel het gereeld waarskuwings deur middel van God se profete ontvang. Kort voordat die Israeliete die Beloofde Land sou binnegaan, het Moses hulle byvoorbeeld gewaarsku: “Let op julleself sodat julle hart nie verlok word en julle afwyk en ander gode aanbid en julle voor hulle neerbuig nie en Jehovah se toorn teen julle ontvlam” (Deut. 11:16, 17). Die Bybel toon dat God sy volk talle nuttige herinneringe gegee het.
4 Jehovah het die Israeliete by baie ander geleenthede aangespoor om hom te vrees, na sy stem te luister en sy naam te heilig (Deut. 4:29-31; 5:28, 29). As hulle op hierdie herinneringe sou ag slaan, sou hulle beslis baie seëninge ontvang.—Lev. 26:3-6; Deut. 28:1-4.
HOE ISRAEL OP GOD SE HERINNERINGE GEREAGEER HET
5. Waarom het Jehovah vir koning Hiskia geveg?
5 God het sy belofte regdeur Israel se onstuimige geskiedenis gehou. Byvoorbeeld, toe die Assiriese koning Sanherib Juda ingeval het en gedreig het om koning Hiskia te verslaan, het Jehovah ingegryp deur ’n engel te stuur. In net een nag het God se engel “elke dapper, sterk man” in die Assiriese leër uitgewis sodat Sanherib vernederd teruggekeer het huis toe (2 Kron. 32:21; 2 Kon. 19:35). Waarom het God vir koning Hiskia geveg? Omdat “hy [Hiskia] Jehovah bly aankleef [het]. Hy het nie daarvan afgewyk om hom te volg nie, maar hy het aangehou om sy gebooie te onderhou.”—2 Kon. 18:1, 5, 6.
6. Hoe het koning Josia getoon dat hy op Jehovah vertrou?
6 Nog ’n voorbeeld van iemand wat Jehovah se gebooie gehoorsaam het, is koning Josia. Vanaf die vroeë ouderdom van agt het “hy . . . gedoen wat reg was in Jehovah se oë . . . Hy het nie regs of links afgewyk nie” (2 Kron. 34:1, 2). Josia het sy vertroue in Jehovah getoon deur die land van afgode te reinig en ware aanbidding te herstel. Josia se optrede het nie net vir homself seëninge meegebring nie, maar ook vir die hele nasie.—Lees 2 Kronieke 34:31-33.
7. Wat was die gevolg wanneer Israel Jehovah se herinneringe verontagsaam het?
7 Maar ongelukkig het God se volk nie altyd hulle volle vertroue in Jehovah se herinneringe gestel nie. Deur die eeue heen het hulle tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid geweifel. Wanneer hulle geloof verswak het, is hulle dikwels “hiernatoe en daarnatoe gevoer . . . deur elke wind van lering”, om Paulus se woorde te gebruik (Ef. 4:13, 14). En wanneer hulle nie hulle vertroue in God se herinneringe gestel het nie, het hulle die wrange vrugte daarvan gepluk, soos voorspel is.—Lev. 26:23-25; Jer. 5:23-25.
8. Hoe kan ons uit Israel se voorbeeld leer?
8 Hoe kan ons by Israel se voorbeeld baat vind? Soos hulle, ontvang God se hedendaagse knegte raad en dissipline (2 Pet. 1:12). Elke keer dat ons God se geïnspireerde Woord lees, kan dit vir ons as ’n herinnering dien. Aangesien ons wilsvryheid geniet, kan ons kies om Jehovah se voorskrifte te gehoorsaam of om te doen wat in ons oë reg lyk (Spr. 14:12). Kom ons kyk na ’n paar redes waarom ons ons vertroue in Jehovah se herinneringe kan stel en hoe ons daarby baat vind as ons daarop ag slaan.
ONDERWERP JOU AAN GOD EN LEWE
9. Hoe het Jehovah die Israeliete verseker dat hy met hulle is toe hulle in die wildernis was?
9 Toe die Israeliete ’n reis begin het wat ’n 40 jaar lange trek deur ’n “vreesinboesemende wildernis” geword het, het Jehovah nie spesifieke besonderhede gegee oor hoe hy hulle sou rig, beskerm en vir hulle sou sorg nie. Hy het nogtans herhaaldelik bewys dat hulle hulle vertroue in hom en sy instruksies kon stel. Jehovah het bedags ’n wolkkolom en snags ’n vuurkolom gebruik om die Israeliete daaraan te herinner dat hy met hulle is terwyl hy hulle deur daardie onherbergsame gebied lei (Deut. 1:19; Eks. 40:36-38). Hy het ook in hulle basiese behoeftes voorsien. “Hulle klere het nie verslyt nie, en hulle voete het nie geswel nie.” Trouens, “hulle het niks kortgekom nie”.—Neh. 9:19-21.
10. Hoe rig Jehovah vandag sy volk?
10 God se hedendaagse knegte staan op die drumpel van ’n regverdige nuwe wêreld. Vertrou ons dat Jehovah sal voorsien wat ons nodig het om die komende “groot verdrukking” te oorleef? (Matt. 24:21, 22; Ps. 119:40, 41). Jehovah het weliswaar nie ’n wolkkolom of ’n vuurkolom voorsien om ons in die nuwe wêreld in te lei nie. Maar hy gebruik sy organisasie om ons te help om waaksaam te bly. Groter klem is byvoorbeeld daarop gelê dat ons ons geestelikheid moet opbou deur middel van persoonlike Bybellees, ons aand vir Gesinsaanbidding sowel as gereelde vergaderingbywoning en ’n gereelde deelname aan die bediening. Het ons aanpassings gemaak sodat ons hierdie instruksies kan volg? As ons dit doen, sal dit ons help om die soort geloof op te bou wat ons tot in die nuwe wêreld behoue sal laat bly.
11. Op watter maniere toon God dat hy oor ons besorg is?
11 Die riglyne wat ons ontvang het, help ons nie net om geestelik wakker te bly nie, maar help ons ook in ons daaglikse lewe. Dit toon byvoorbeeld hoe om ’n gebalanseerde beskouing van materiële dinge te handhaaf en ons oog eenvoudig te hou sodat ons angstigheid kan verminder. Ons het ook baat gevind by riglyne in verband met ons kleredrag en persoonsversorging, heilsame vermaak en die gepaste hoeveelheid opleiding. En dink aan die herinneringe wat ons ontvang het oor veiligheid in ons huise, motors en Koninkryksale asook voorbereidings vir moontlike noodgevalle. Sulke raad toon dat God oor ons welsyn besorg is.
HERINNERINGE HET VROEË CHRISTENE GEHELP OM GETROU TE BLY
12. (a) Wat is een onderwerp wat Jesus herhaaldelik met sy dissipels bespreek het? (b) Watter nederige daad het ’n blywende indruk op Petrus gemaak, en watter uitwerking moet dit op ons hê?
12 In die eerste eeu het God se volk gereeld herinneringe ontvang. Jesus het herhaaldelik met sy dissipels gepraat oor die belangrikheid daarvan om nederigheid aan te kweek. Maar hy het nie net vir sy dissipels gesê wat dit beteken om nederig te wees nie—hy het hulle gewys hoe om dit te doen. Op sy laaste dag op aarde as ’n mens het Jesus sy apostels vir die Pasga bymekaar laat kom. Terwyl sy apostels geëet het, het Jesus van die maaltyd af opgestaan en hulle voete gewas—iets wat gewoonlik deur ’n dienskneg gedoen is (Joh. 13:1-17). Hierdie nederige daad het ’n blywende indruk op hulle gemaak. Ongeveer 30 jaar later het die apostel Petrus, wat by daardie maaltyd teenwoordig was, medegelowiges raad gegee oor nederigheid (1 Pet. 5:5). Jesus se voorbeeld moet ons almal beweeg om nederig te wees in ons handelinge met mekaar.—Fil. 2:5-8.
13. Watter noodsaaklike eienskap het Jesus sy dissipels herinner om aan te kweek?
13 Die belangrikheid van sterk geloof was nog ’n onderwerp wat Jesus dikwels met sy dissipels bespreek het. Ná ’n mislukte poging om ’n demoon uit ’n demoonbesete man uit te dryf, het die dissipels Jesus gevra: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?” Jesus het geantwoord: “Weens julle kleingelowigheid. Want voorwaar, ek sê vir julle: As julle geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal . . . niks . . . vir julle onmoontlik wees nie” (Matt. 17:14-20). Gedurende Jesus se bediening het hy sy dissipels die heeltyd geleer dat geloof ’n noodsaaklike eienskap is. (Lees Matteus 21:18-22.) Benut ons geleenthede om ons geloof te versterk deur baat te vind by die opbouende onderrigting wat ons by byeenkomste en Christelike vergaderinge ontvang? Hierdie samekomste is nie net geleenthede om vreugdevol bymekaar te kom nie; dit is geleenthede om te toon dat ons op Jehovah vertrou.
14. Waarom is dit belangrik om vandag Christelike liefde aan te kweek?
14 Die Christelike Griekse Geskrifte is vol herinneringe dat ons liefde aan mekaar moet betoon. Jesus het gesê dat die gebod om ‘jou naaste soos jouself lief te hê’, die tweede grootste gebod is (Matt. 22:39). Jesus se halfbroer Jakobus het liefde eweneens “die koninklike wet” genoem (Jak. 2:8). Die apostel Johannes het geskryf: “Geliefdes, ek skryf nie aan julle ’n nuwe gebod nie, maar ’n ou gebod wat julle van die begin af gehad het” (1 Joh. 2:7, 8). Waarna het Johannes as “die ou gebod” verwys? Hy het verwys na die gebod om lief te hê. Dit was ‘oud’ in die sin dat Jesus dit dekades vroeër gegee het, “van die begin af”. Maar dit was ook ‘nuut’ in die sin dat dit selfopofferende liefde vereis het, wat die dissipels moontlik nodig sou hê wanneer hulle voor nuwe omstandighede te staan sou kom. Waardeer ons nie, as dissipels van Christus, waarskuwings wat ons help om daarteen te waak dat ons die selfsugtige gees ontwikkel wat so kenmerkend is van hierdie wêreld en wat ons naasteliefde kan ondermyn nie?
15. Wat was Jesus se vernaamste werk toe hy op die aarde was?
15 Jesus het persoonlike belangstelling in mense getoon. Sy liefdevolle besorgdheid kan gesien word uit die feit dat hy die siekes en die verswaktes genees het en die dooies opgewek het. Maar Jesus se vernaamste werk was nie om mense fisies te genees nie. Sy predikings- en onderrigtingswerk het ’n baie blywender uitwerking op mense se lewens gehad. Hoe so? Ons weet byvoorbeeld dat diegene wat in die eerste eeu deur Jesus genees en opgewek is, uiteindelik oud geword het en gesterf het, terwyl diegene wat gunstig op sy predikingsboodskap gereageer het, vir die ewige lewe in aanmerking gekom het.—Joh. 11:25, 26.
16. Hoe uitgebreid is die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk vandag?
16 Die predikingswerk wat Jesus in die eerste eeu begin het, word vandag op ’n veel groter skaal gedoen. Ja, Jesus het sy dissipels beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies” (Matt. 28:19). Dit is inderdaad wat hulle gedoen het en wat ons ook doen! Meer as sewemiljoen bedrywige Getuies van Jehovah verkondig God se Koninkryk ywerig in meer as 230 lande, en die Getuies studeer die Bybel gereeld met miljoene mense. Hierdie predikingswerk lewer bewys dat ons in die laaste dae lewe.
VERTROU VANDAG OP JEHOVAH
17. Watter raad het Paulus en Petrus aan ander gegee?
17 Dit is duidelik dat herinneringe vroeë Christene gehelp het om standvastig in die geloof te bly. Stel jou voor hoe aanmoedigend dit ongetwyfeld vir Timoteus was toe die apostel Paulus, wat op daardie stadium ’n gevangene in Rome was, vir hom gesê het: “Hou voortdurend vas aan die patroon van gesonde woorde wat jy van my gehoor het” (2 Tim. 1:13). Nadat die apostel Petrus medegelowiges aangespoor het om eienskappe soos volharding, broederlike geneentheid en selfbeheersing aan te kweek, het hy gesê: “Ek [sal] geneig wees om julle altyd aan hierdie dinge te herinner, hoewel julle hulle ken en vasstaan in die waarheid.”—2 Pet. 1:5-8, 12.
18. Hoe het eerste-eeuse Christene herinneringe beskou?
18 Ja, die briewe wat Paulus en Petrus geskryf het, het “woorde [bevat] wat vantevore deur die heilige profete gespreek is” (2 Pet. 3:2). Het ons eerste-eeuse broers oor sulke herinneringe gegrief gevoel? Nee, want dit was bewys van God se liefde, wat hulle gehelp het om “aan [te] hou om te groei in die onverdiende goedhartigheid en kennis van ons Here en Redder Jesus Christus”.—2 Pet. 3:18.
19, 20. Waarom moet ons Jehovah se herinneringe vertrou, en hoe vind ons daarby baat?
19 Vandag het ons baie redes om ons vertroue te stel in Jehovah se herinneringe, wat bevat word in sy onfeilbare Woord, die Bybel. (Lees Josua 23:14.) Daarin sien ons hoe God oor die verloop van duisende jare met die onvolmaakte mensdom gehandel het. Hierdie geskiedkundige verslag is om ons onthalwe opgeteken (Rom. 15:4; 1 Kor. 10:11). Ons het die vervulling van Bybelprofesieë gesien. Profesieë kan vergelyk word met herinneringe wat vooruit vertel is. Miljoene het byvoorbeeld na die ware aanbidding van Jehovah gestroom, soos voorspel is “aan die einde van die dae” sou gebeur (Jes. 2:2, 3). Verslegtende wêreldtoestande is ook ’n vervulling van Bybelprofesieë. En, soos gemeld is, is die omvangryke predikingskampanje wat wêreldwyd aan die gang is, ’n regstreekse vervulling van Jesus se woorde.—Matt. 24:14.
20 Ons Skepper het ’n rekord opgebou waarin ons ons vertroue kan stel. Vind ons hierby baat? Ons moet geloof stel in sy herinneringe. Dit is wat Rosellen gedoen het. Sy vertel: “Toe ek ten volle op Jehovah begin vertrou het, kon ek duideliker sien hoe sy liefdevolle hand my ondersteun en versterk.” Mag ons eweneens daarby baat vind om Jehovah se herinneringe te onderhou.