Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?”

“Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?”

“Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het?”—MATT. 24:45.

1, 2. Deur watter kanaal voed Jesus ons vandag, en waarom is dit noodsaaklik dat ons hierdie kanaal identifiseer?

“BROERS, ek kan nie eers begin tel hoeveel keer julle al artikels in my hande geplaas het wat op daardie tydstip presies was wat ek nodig gehad het nie.” Dit is hoe ’n suster haar waardering uitgespreek het in ’n brief aan die broers wat by ons wêreldhoofkwartier werk. Voel jy soos sy? Baie van ons voel so. Moet dit ons verbaas? Nie eintlik nie.

2 Die tydige geestelike voedsel wat ons ontvang, lewer bewys dat Jesus, die Hoof van die gemeente, sy belofte nakom om ons te voed. Deur wie doen hy dit? Toe Jesus die teken van sy teenwoordigheid gegee het, het hy gesê dat hy “die getroue en verstandige slaaf” sou gebruik om sy huisknegte “voedsel op die regte tyd” te gee. * (Lees Matteus 24:45-47.) Dié getroue slaaf is die kanaal waardeur Jesus sy ware volgelinge in hierdie tyd van die einde voed. Dit is noodsaaklik dat ons die getroue slaaf identifiseer. Ons geestelike gesondheid en ons verhouding met God hang van hierdie kanaal af.—Matt. 4:4; Joh. 17:3.

3. Wat het ons publikasies oor die illustrasie van die getroue slaaf gesê?

3 Hoe moet ons dan Jesus se illustrasie oor die getroue slaaf verstaan? In die verlede het ons publikasies die volgende gesê: Op Pinkster 33 HJ het Jesus die getroue slaaf oor sy huisknegte aangestel. Die slaaf verteenwoordig alle gesalfde Christene as ’n groep wat sedertdien op enige gegewe tyd op die aarde is. Die huisknegte verwys na dieselfde gesalfdes as individue. In 1919 het Jesus die getroue slaaf aangestel “oor al sy besittings”—al sy aardse Koninkryksbelange. Maar verdere noukeurige studie en biddende bepeinsing het ons laat besef dat ons begrip van Jesus se woorde oor die getroue en verstandige slaaf aangepas moet word (Spr. 4:18). Kom ons ondersoek die illustrasie  en hoe dit ons raak, hetsy ons die hemelse of die aardse hoop het.

WANNEER WORD DIE ILLUSTRASIE VERVUL?

4-6. Waarom kan ons tot die gevolgtrekking kom dat die vervulling van Jesus se illustrasie oor die getroue slaaf eers ná 1914 begin het?

4 Die konteks van die illustrasie oor die getroue en verstandige slaaf toon dat die vervulling daarvan nie op Pinkster 33 HJ begin het nie, maar in hierdie tyd van die einde. Kom ons kyk hoe die Skrif ons tot hierdie gevolgtrekking lei.

5 Die illustrasie oor die getroue slaaf is deel van Jesus se profesie oor “die teken van [sy] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” (Matt. 24:3). Die eerste deel van die profesie, wat in Matteus 24:4-22 opgeteken is, het twee vervullings—eerstens, in die jare vanaf 33 HJ tot 70 HJ, en tweedens, op ’n verreikender manier in ons dag. Beteken dit dat Jesus se woorde oor die getroue slaaf ook twee vervullings sou hê? Nee.

6 Vanaf Matteus 24:29 verwys Jesus se woorde hoofsaaklik na gebeure wat in ons dag sou plaasvind. (Lees Matteus 24:30, 42, 44.) Met verwysing na wat gedurende die groot verdrukking sal plaasvind, het hy gesê dat mense “die Seun van die mens . . . op die wolke van die hemel [sal] sien kom”. Daarna, in woorde wat bedoel is vir diegene wat gedurende die laaste dae sou lewe, het hy sy volgelinge gemaan om waaksaam te bly deur te sê: “Julle weet nie op watter dag julle Here kom nie”, en: “Die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.” * Dit is in hierdie konteks—toe Jesus oor gebeure gepraat het wat in die laaste dae sou plaasvind—dat hy die illustrasie van die getroue slaaf vertel het. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat die vervulling van sy woorde oor hierdie getroue slaaf eers begin het nadat die laaste dae in 1914 aangebreek het. Hierdie gevolgtrekking maak sin. Waarom?

7. Watter uiters belangrike vraag het aan die begin van die oestyd ontstaan, en waarom?

7 Dink vir ’n oomblik aan die vraag: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf?” In die eerste eeu was daar nie juis rede om hierdie vraag te vra nie. Soos ons in die vorige artikel gesien het, kon die apostels wonderwerke verrig en selfs wonderdadige gawes oordra as bewys van goddelike ondersteuning (Hand. 5:12). Waarom sou enigiemand dus hoef te vra wie werklik deur Christus aangestel is om die leiding te neem? In 1914 was die situasie egter baie anders. Die oestyd het in daardie jaar begin. Die tyd het uiteindelik aangebreek om die onkruid van die koring te skei (Matt. 13:36-43). Aan die begin van die oestyd het ’n uiters belangrike vraag dus ontstaan: Hoe kon die koring—gesalfde Christene—geïdentifiseer word, aangesien soveel naamchristene beweer het dat hulle Jesus se ware volgelinge is? Die illustrasie van die getroue slaaf het ’n antwoord voorsien. Christus se gesalfde volgelinge sou dié wees wat geestelik goed gevoed is.

WIE IS DIE GETROUE EN VERSTANDIGE SLAAF?

8. Waarom is dit gepas dat die getroue slaaf uit gesalfde Christene bestaan?

8 Die getroue slaaf moet uit gesalfde Christene op die aarde bestaan. Hulle word “’n koninklike priesterdom” genoem en het die opdrag ontvang om “‘die voortreflikhede alom bekend [te] maak’ van die een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Pet. 2:9). Dit is dus gepas dat lede van hierdie “koninklike priesterdom” ’n direkte aandeel daaraan het om medegelowiges die waarheid te leer.—Mal. 2:7; Op. 12:17.

9. Bestaan die getroue slaaf uit alle gesalfde Christene? Verduidelik.

 9 Bestaan die getroue slaaf uit alle gesalfdes op die aarde? Nee. Die werklikheid is dat nie alle gesalfdes ’n rol daarin speel om geestelike voedsel aan medegelowiges regoor die wêreld te voorsien nie. Onder die koring is daar gesalfde broers wat moontlik as bedieningsknegte of ouer manne in hulle plaaslike gemeente dien. Hulle onderrig van huis tot huis en in hulle gemeente, en hulle gee hulle lojale ondersteuning aan die hoofkwartier. Maar hulle het nie ’n aandeel aan die voorsiening van geestelike voedsel aan die wêreldwye broederskap nie. Onder die gesalfdes is daar ook nederige susters, wat nooit die rol van onderrigters in die gemeente sal probeer aanneem nie.—1 Kor. 11:3; 14:34.

10. Wie is die getroue en verstandige slaaf?

10 Wie is dan die getroue en verstandige slaaf? In ooreenstemming met Jesus se patroon om baie deur middel van ’n klein groepie te voed, bestaan hierdie slaaf uit ’n klein groepie gesalfde broers wat gedurende Christus se teenwoordigheid regstreeks betrokke is by die voorbereiding en voorsiening van geestelike voedsel. Regdeur die laaste dae het die gesalfde broers waaruit die getroue slaaf bestaan, saam by die hoofkwartier gedien. In onlangse dekades is hierdie slaaf ten nouste verbind met die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. Maar let op dat die woord “slaaf” in Jesus se illustrasie in die enkelvoud voorkom, wat daarop dui dat dit ’n saamgestelde slaaf is. Die besluite van die Bestuursliggaam word dus gesamentlik geneem.

WIE IS DIE HUISKNEGTE?

11, 12. (a) Watter twee aanstellings ontvang die getroue en verstandige slaaf? (b) Wanneer het Jesus die getroue slaaf oor sy huisknegte aangestel, en wie het hy gekies?

11 Dit is noemenswaardig dat die getroue en verstandige slaaf in Jesus se illustrasie twee afsonderlike aanstellings ontvang. Die eerste is oor die huisknegte; die tweede is oor al die heer se besittings. Aangesien die illustrasie eers in hierdie tyd van die einde vervul word, sou albei aanstellings gedoen moes word nadat Jesus se teenwoordigheid in koninklike mag in 1914 begin het.

12 Wanneer het Jesus die getroue slaaf oor sy huisknegte aangestel? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons teruggaan na 1914—die begin van die oestyd. Soos ons vroeër geleer het, het baie  groepe destyds beweer dat hulle Christene is. Uit watter groep sou Jesus die getroue slaaf kies en aanstel? Hierdie vraag is beantwoord nadat hy en sy Vader die tempel, of die geestelike reëling vir aanbidding, vanaf 1914 tot die vroeë deel van 1919 kom inspekteer het (Mal. 3:1). * Hulle het behae geskep in ’n klein groepie lojale Bybelstudente wat getoon het dat hulle hart met Jehovah en sy Woord is. Hulle moes natuurlik in sekere mate gereinig word, maar hulle het nederig gereageer gedurende ’n kort tydperk waarin hulle getoets en gelouter is (Mal. 3:2-4). Daardie getroue Bybelstudente was ware Christelike koring. In 1919, ’n tyd van geestelike herlewing, het Jesus bekwame gesalfde broers onder hulle gekies om die getroue en verstandige slaaf te wees en hulle oor sy huisknegte aangestel.

13. Wie tel onder die huisknegte, en waarom?

13 Wie is dan die huisknegte? Eenvoudig gestel, dit is diegene wat gevoed word. Vroeg in die laaste dae was al die huisknegte gesalfdes. Later het die huisknegte ook die groot menigte ander skape ingesluit. Die ander skape maak nou die oorgrote meerderheid van die “een kudde” onder Christus se leierskap uit (Joh. 10:16). Albei groepe vind baat by dieselfde tydige geestelike voedsel wat deur die getroue slaaf voorsien word. Wat van die lede van die Bestuursliggaam wat vandag die getroue en verstandige slaaf uitmaak? Hierdie broers moet ook geestelik gevoed word. Daarom erken hulle nederig dat hulle as individue huisknegte is, net soos die res van Jesus se ware volgelinge.

Ons is almal huisknegte en het dieselfde tydige geestelike voedsel nodig, hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het

14. (a) Watter verantwoordelikheid is aan die getroue slaaf gegee, en wat behels dit? (b) Watter waarskuwing het Jesus aan die getroue en verstandige slaaf gegee? (Sien die venster “As daardie bose slaaf ooit . . . ”)

14 Jesus het ’n gewigtige verantwoordelikheid aan die getroue en verstandige slaaf gegee. In Bybeltye was ’n vertroude slaaf ’n bestuurder van ’n huishouding (Luk. 12:42). Die getroue en verstandige slaaf is dus die verantwoordelikheid gegee om die huisgesin van die geloof te bestuur. Daardie verantwoordelikheid sluit in dat hulle toesig hou oor materiële bates, die predikingswerk, byeenkomsprogramme en die produksie van Bybellektuur vir gebruik in die veldbediening en in persoonlike sowel as gemeentelike studie. Die huisknegte maak staat op al die geestelike voorsienings van die saamgestelde slaaf.

 AANGESTEL OOR AL DIE HEER SE BESITTINGS—WANNEER?

15, 16. Wanneer stel Jesus die getroue slaaf oor al sy besittings aan?

15 Wanneer doen Jesus die tweede aanstelling—“oor al sy besittings”? Jesus het gesê: “Gelukkig is daardie slaaf as sy heer by sy aankoms vind dat hy dit doen! Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:46, 47). Let op dat Jesus die tweede aanstelling doen nadat hy by sy aankoms vind dat die slaaf “dit doen”, dit wil sê, dat die slaaf geestelike voedsel getrou voorsien. Daar sou dus ’n tussenpose tussen die twee aanstellings wees. Om te verstaan hoe en wanneer Jesus die slaaf oor al sy besittings aanstel, moet ons twee dinge weet: wanneer hy kom en wat sy besittings insluit.

16 Wanneer kom Jesus? Die antwoord word in die konteks gevind. Onthou, wanneer die voorafgaande verse sê dat Jesus “kom”, verwys die woord na die tyd wanneer hy aan die einde van hierdie stelsel kom om oordeel uit te spreek en te voltrek (Matt. 24:30, 42, 44). * Jesus se “aankoms” wat in die illustrasie van die getroue slaaf gemeld word, vind dus gedurende die groot verdrukking plaas.

17. Wat sluit Jesus se besittings in?

17 Wat sluit “al [Jesus se] besittings” in? Jesus het nie die woord “al” tot sy aardse besittings beperk nie. Trouens, Jesus het ontsaglike hemelse gesag. “Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan my gegee”, het hy gesê (Matt. 28:18; Ef. 1:20-23). Sy besittings sluit nou die Messiaanse Koninkryk in, wat sedert 1914 aan hom behoort en wat hy met sy gesalfde volgelinge sal deel.—Op. 11:15.

18. Waarom sal dit Jesus vreugde verskaf om die aanstelling oor al sy besittings te doen?

 18 Tot watter gevolgtrekking kan ons kom met die oog op die voorafgaande? Wanneer Jesus gedurende die groot verdrukking kom om oordeel te voltrek, sal hy vind dat die getroue slaaf lojaal tydige geestelike voedsel aan die huisknegte voorsien. Dit sal Jesus dan vreugde verskaf om die tweede aanstelling te doen—oor al sy besittings. Diegene wat die getroue slaaf uitmaak, sal hierdie aanstelling kry wanneer hulle hulle hemelse beloning ontvang en Christus se medeheersers word.

19. Ontvang die getroue slaaf ’n groter hemelse beloning as die res van die gesalfdes? Verduidelik.

19 Ontvang die getroue slaaf ’n groter beloning in die hemel as die res van die gesalfdes? Nee. ’n Beloning wat by ’n sekere geleentheid aan ’n klein groepie belowe is, kan uiteindelik met ander gedeel word. Byvoorbeeld, dink aan wat Jesus die aand voor sy dood vir sy 11 getroue apostels gesê het. (Lees Lukas 22:28-30.) Jesus het daardie klein groepie mans belowe dat ’n wonderlike beloning op hulle wag weens hulle getrouheid. Hulle sou sy troon van koninklike gesag met hom deel. Maar jare later het hy aangedui dat al 144 000 op trone sal sit en sy heerskappy met hom sal deel (Op. 1:1; 3:21). Net so het hy in Matteus 24:47 belowe dat ’n klein groepie mans—die gesalfde broers waaruit die getroue slaaf bestaan—oor al sy besittings aangestel sal word. In werklikheid sal al 144 000 sy ontsaglike hemelse gesag met hom deel.—Op. 20:4, 6.

Al 144 000 sal Jesus se ontsaglike hemelse gesag met hom deel (Sien paragraaf 19)

20. Waarom het Jesus die getroue slaaf aangestel, en wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Deur die getroue en verstandige slaaf te gebruik, volg Jesus die patroon wat hy in die eerste eeu vasgestel het—om baie deur middel van ’n klein groepie te voed. Jesus het hierdie getroue slaaf aangestel om te verseker dat sy ware volgelinge—hetsy hulle van die gesalfdes of van die ander skape is—regdeur die laaste dae ’n bestendige voorraad tydige geestelike voedsel sou hê. Laat ons vasbeslote wees om ons waardering te toon deur ons lojale ondersteuning te gee aan die gesalfde broers wat die getroue en verstandige slaaf uitmaak.—Heb. 13:7, 17.

 

^ par. 2 Paragraaf 2: By ’n vroeëre geleentheid het Jesus ’n soortgelyke illustrasie vertel waarin hy na die “slaaf” verwys het as ’n “bestuurder” en na die “huisknegte” as “sy liggaam van bediendes”.—Luk. 12:42-44.

^ par. 6 Paragraaf 6: Christus se ‘koms’ (Grieks, er′kho·mai) is anders as sy “teenwoordigheid” (pa·rou·si′a). Sy onsigbare teenwoordigheid begin voordat hy kom om oordeel te voltrek.

^ par. 12 Paragraaf 12: Sien die artikel “Kyk! Ek is met julle al die dae”, in hierdie nommer, bladsye 10-12, paragrawe 5-8.

^ par. 16 Paragraaf 16: Sien die artikel “Sê vir ons: Wanneer sal hierdie dinge wees?” in hierdie nommer, bladsye 7-8, paragrawe 14-18.