Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 LEWENSVERHAAL

Gretig om Jehovah te dien, ongeag waar

Gretig om Jehovah te dien, ongeag waar

Ek het nooit tevore alleen gepreek nie. Ek was so senuweeagtig dat my bene gebewe het elke keer as ek moes uitgaan. Om dinge te vererger, was die gebied uiters onontvanklik. Party mense was aggressief en het gedreig om my te slaan. Gedurende my eerste maand as ’n pionier het ek net een boekie by iemand gelaat!—Markus.

DIT was in 1949, meer as 60 jaar gelede, maar my verhaal begin baie jare vroeër. My pa, Hendrik, het as ’n skoenmaker en tuinier gewerk in Donderen, ’n dorpie in die noorde van Drenthe, Nederland. Ek is in 1927 daar gebore, die vierde van sewe kinders. Ons huis was langs ’n grondpad op die platteland. Die meeste van ons bure was boere, en ek het die plaaslewe geniet. In 1947, toe ek 19 jaar oud was, het ek in aanraking gekom met die waarheid deur middel van een van my bure, Theunis Been. Ek onthou dat ek nie van Theunis gehou het toe ek hom die eerste keer ontmoet het nie, maar kort ná die Tweede Wêreldoorlog het hy een van Jehovah se Getuies geword, en ek het besef dat hy baie vriendeliker was as voorheen. Hierdie persoonlikheidsverandering het my nuuskierig gemaak, en daarom het ek na hom geluister toe hy my van God se belofte van ’n paradysaarde vertel het. Ek het gou die waarheid aangeneem, en ons het lewenslange vriende geword. *

Ek het in Mei 1948 begin preek, en ek is die volgende maand, op 20 Junie, by ’n streekbyeenkoms in Utrecht gedoop. Op 1 Januarie 1949 het ek begin pionier en is ek gestuur na Borculo, in die ooste van Nederland, waar daar ’n klein gemeente was. Ek moes ongeveer 130 kilometer reis om daar te kom en het besluit om per fiets te gaan. Ek het gedink dat dit my omtrent 6 uur sou neem, maar  as gevolg van die swaar reën en ’n sterk wind van voor het dit my 12 uur geneem, al het ek die laaste 90 kilometer per trein gereis! Laat in die aand het ek uiteindelik my bestemming bereik, die huis van ’n Getuiegesin by wie ek gebly het terwyl ek in daardie gebied gepionier het.

In daardie jare ná die oorlog het mense min gehad. Ek het net een pak en ’n broek gehad—die pak was te groot en die broek te kort! Soos ek in die inleiding gemeld het, was die eerste maand in Borculo moeilik, maar Jehovah het my met ’n hele paar Bybelstudies geseën. Ná nege maande is ek na Amsterdam gestuur.

VAN DIE PLATTELAND NA DIE STAD

Ek het op die platteland grootgeword, maar nou het ek my bevind in Amsterdam, die grootste stad in Nederland. Die bediening was baie produktief. In die eerste maand het ek meer lektuur versprei as wat ek in die vorige nege maande gedoen het. Ek het kort voor lank ’n stuk of agt Bybelstudies gehou. Nadat ek as gemeentekneg (nou die koördineerder van die liggaam van ouer manne) aangestel is, het ek ’n toewysing ontvang om my eerste openbare toespraak te hou. Dit was vir my baie intimiderend, en daarom het ek ’n groot sug van verligting geslaak toe ek na ’n ander gemeente gestuur is voordat ek dit moes hou. Min het ek geweet dat ek oor die jare meer as 5 000 toesprake sou hou!

Markus (heel regs) doen straatgetuieniswerk naby Amsterdam in 1950

In Mei 1950 is ek na Haarlem gestuur. Toe is ek genooi om kringwerk te doen. Ek kon drie dae lank skaars slaap. Ek het vir Robert Winkler, een van die broers wat by die takkantoor dien, gesê dat ek nie bekwaam voel nie, maar hy het gesê: “Vul net die vorms in. Jy sal leer.” Kort daarna is ek ’n maand lank opleiding gegee en het ek as ’n kringkneg (of kringopsiener) begin dien. Gedurende ’n besoek aan een van die gemeentes het ek Janny Taatgen ontmoet, ’n vrolike jong pioniersuster met ’n diep liefde vir Jehovah en ’n selfopofferende gees. Ons is in 1955 getroud. Maar voordat ek verder gaan, sal Janny verduidelik hoe sy ’n pionier geword het en hoe ons as ’n egpaar saam gedien het.

ONS DIEN AS ’N EGPAAR SAAM

Janny: My ma het in 1945 ’n Getuie geword toe ek 11 jaar oud was. Sy het onmiddellik die belangrikheid daarvan besef om die Bybel met haar drie kinders te studeer, maar my pa was teen die waarheid gekant, en daarom het sy ons geleer wanneer hy nie by die huis was nie.

Die eerste vergadering wat ek bygewoon het, was ’n streekbyeenkoms wat in 1950 in Den Haag gehou is. ’n Week later het ek my eerste gemeentelike vergadering by die plaaslike Koninkryksaal in Assen (Drenthe) bygewoon. My pa was woedend en het my uit die huis gesit. My ma het gesê: “Jy weet waar jy kan gaan bly.” Ek het geweet dat sy  na my geestelike broers en susters verwys. Eers het ek ingetrek by ’n Getuiegesin wat daar naby gewoon het, maar my pa het nog steeds die lewe vir my moeilik gemaak, en daarom het ek getrek na ’n gemeente in Deventer (Overijssel), omtrent 95 kilometer daarvandaan. Maar omdat ek ’n minderjarige was, het my pa by die burgerlike owerheid in die moeilikheid gekom omdat hy my gedwing het om die huis te verlaat. Hy het dus vir my gesê dat ek huis toe kon kom. Hoewel my pa nooit die waarheid aangeneem het nie, het hy my uiteindelik toegelaat om al die vergaderinge by te woon en om velddiens te doen.

Janny (heel regs) dien as ’n vakansiepionier in 1952

Kort nadat ek teruggekeer het huis toe, het my ma ernstig siek geraak en moes ek al die huiswerk doen. Ek het nogtans aangehou om geestelike vordering te maak en is in 1951 op 17-jarige ouderdom gedoop. In 1952, nadat my ma van haar siekte herstel het, het ek twee maande lank saam met drie pioniersusters as ’n vakansiepionier (hulppionier) gedien. Ons het op ’n huisboot gewoon en in twee dorpies in Drenthe gepreek. In 1953 het ek ’n gewone pionier geword. ’n Jaar later het ’n jong kringopsiener ons gemeente besoek. Dit was Markus. Ons is in Mei 1955 getroud, want ons het gevoel dat ons Jehovah as ’n egpaar beter kon dien.—Pred. 4:9-12.

Ons troudag in 1955

Markus: Ná ons troue is ons eers as pioniers na Veendam (Groningen) gestuur. Ons het in ’n klein vertrek gebly wat net sowat twee by drie meter groot was. Janny het dit nietemin gerieflik ingerig. Elke aand moes ons ons tafel en twee klein stoele skuif om plek te maak vir die klapbed.

Ná ses maande is ons genooi om die reisende werk in België te doen. In 1955 was daar net omtrent 4 000 verkondigers in die land. Nou is daar ses keer soveel! In Vlaandere, in die noorde van België, praat mense dieselfde taal as wat in Nederland gepraat word. Maar die Belgiese aksent is baie anders, en daarom moes ons aan die begin ’n taalgrens oorkom.

Janny: Die reisende werk verg waarlik ’n selfopofferende gees. Ons het per fiets na die gemeentes gery en het by die broers en susters gebly. Aangesien ons nie ons eie huis gehad het nie, het ons tot die Maandag by die broers aangebly en op die Dinsdagoggend na die volgende gemeente gereis. Maar ons het altyd ons diens as ’n seën van Jehovah beskou.

Markus: Aan die begin het ons nie die broers en susters in die gemeentes geken nie, maar hulle was baie vriendelik en gasvry (Heb. 13:2, vtn. in NW). Oor die jare het ons etlike kere al die Nederlandssprekende gemeentes in België besoek. Dit het vir ons baie seëninge meegebring. Ons het byvoorbeeld byna al die broers en susters in die Nederlandssprekende streek leer ken, en ons het baie lief geword vir hulle. Ons het gesien hoe honderde jongmense tot fisiese en geestelike rypheid groei, hulle aan Jehovah toewy en Koninkryksbelange  eerste in hulle lewe stel. Ons put ware vreugde daaruit om te sien hoe baie van hulle Jehovah getrou dien in die voltydse diens (3 Joh. 4). Hierdie “wedersydse aanmoediging” het dit vir ons maklik gemaak om ons toewysing heelhartig uit te voer.—Rom. 1:12.

’N GROOT UITDAGING EN ’N WARE SEËN

Markus: Vanaf ons troudag was dit ons begeerte om die Gileadskool by te woon. Ons het Engels elke dag ten minste ’n uur lank gestudeer. Maar dit was nie maklik om Engels uit boeke te leer nie, en daarom het ons besluit om gedurende ons vakansie Engeland toe te gaan om die taal te oefen terwyl ons daar preek. Uiteindelik, in 1963, het ons ’n koevert van die wêreldhoofkwartier in Brooklyn ontvang. Dit het twee briewe bevat, een vir my en een vir Janny. My brief was ’n uitnodiging om ’n spesiale Gileadklas van tien maande by te woon. Die hoofdoel van die kursus was om broers op te lei en hulle organisatoriese onderrigting te gee. Uit die 100 studente wat genooi is, was 82 dus broers.

Janny: In die brief wat ek daardie dag ontvang het, is ek gevra om dit biddend te oorweeg of ek bereid sou wees om in België te bly terwyl Markus Gilead bywoon. Ek moet erken dat ek aanvanklik teleurgesteld was. Dit het gelyk asof Jehovah nie my pogings seën om meer in sy diens te doen nie. Ek het my nietemin herinner aan die doel van die Gileadskool—om diegene wat dit bywoon, te help om die goeie nuus wêreldwyd te verkondig. Ek het dus ingestem om agter te bly, en ek is gestuur om as ’n spesiale pionier in die Belgiese stad Gent te dien saam met Anna en Maria Colpaert, twee ervare spesiale pioniers.

Markus: Omdat ek my Engels moes verbeter, is ek genooi om vyf maande voor die begin van die skool na Brooklyn te gaan. Ek het in die Versendings- en Diensafdeling gewerk. Om by die wêreldhoofkwartier te dien en om lektuurbesendings vir Asië, Europa en Suid-Amerika te help pak, het my meer bewus gemaak van ons internasionale broederskap. Ek onthou broer A.H. Macmillan, wat die pelgrimswerk (reisende werk) in die dae van broer Russell gedoen het. Hy was toe al oud en redelik doof, maar hy het al die gemeentelike vergaderinge getrou bygewoon. Dit het ’n groot indruk op my gemaak en my geleer dat ons nooit ons Christelike assosiasie as vanselfsprekend moet aanvaar nie.—Heb. 10:24, 25.

Janny: Ek en Markus het etlike kere per week vir mekaar geskryf. Ons het verskriklik na mekaar verlang! Maar Markus het die opleiding geniet wat hy by Gilead ontvang het, en ek het ware vreugde uit my bediening geput. Teen die tyd dat Markus van die Verenigde State huis toe gekom het, het ek 17 Bybelstudies gehou! Dit was beslis ’n uitdaging om 15 maande lank weg van mekaar te wees, maar ek kon sien dat Jehovah ons geseën het vir die opofferings wat ons gemaak het. Die dag toe Markus teruggekom het, was die vlug ure lank vertraag, en daarom het ons in mekaar se arms gehuil toe hy uiteindelik aangekom het. Sedertdien is ons onafskeidbaar.

DANKBAAR VIR ELKE DIENSVOORREG

Markus: Toe ek in Desember 1964 van Gilead af teruggekom het, is ons genooi om by Bethel te dien. Hoewel ons dit nie destyds geweet het nie, sou dit nie ons permanente toewysing wees nie.  Slegs drie maande later is ons gestuur om streekwerk in Vlaandere te doen. Toe Aalzen en Els Wiegersma as sendelinge na België gestuur is, het hulle streekwerk gedoen, en ons het teruggegaan Bethel toe, waar ek in die Diensafdeling gewerk het. Vanaf 1968 tot 1980 het ons toewysing ’n hele paar keer verander van Betheldiens na die reisende werk en andersom. Uiteindelik, vanaf 1980 tot 2005, het ek weer as ’n streekopsiener gedien.

Hoewel ons toewysing dikwels verander het, het ons nooit vergeet dat ons ons aan Jehovah toegewy het om hom heelhartig te dien nie. Ons het elke toewysing wat ons ontvang het, werklik geniet, en ons het die vertroue gehad dat enige verandering van toewysing Koninkryksbelange sou bevorder.

Janny: Ek het veral die opwindende voorreg geniet om in 1977 saam met Markus na Brooklyn en in 1997 na Patterson te gaan toe hy bykomende opleiding as ’n Takkomiteelid ontvang het.

JEHOVAH WEET WAT ONS NODIG HET

Markus: In 1982 het Janny ’n operasie ondergaan en het sy goed herstel. Drie jaar later het die gemeente in Leuven ons goedgunstiglik ’n woonstel bo hulle Koninkryksaal aangebied. Vir die eerste keer in 30 jaar het ons ’n plekkie van ons eie gehad. Dinsdae, wanneer ons gepak het om ’n gemeente te gaan besoek, moes ek die 54 trappe etlike kere op- en afgaan om ons bagasie ondertoe te neem! Gelukkig is reëlings in 2002 getref dat ons ’n woonstel op die grondverdieping kon hê. Nadat ek 78 geword het, is ons as spesiale pioniers na die dorp Lokeren gestuur. Ons is baie bly dat ons so kan dien en dat ons nog steeds elke dag in die bediening kan uitgaan.

“Ons glo vas dat dit nie saak maak waar of in watter hoedanigheid ons dien nie, maar eerder wie ons dien”

Janny: Ons het altesaam meer as 120 jaar in die voltydse diens deurgebring! Ons het eerstehands gesien hoe waar Jehovah se belofte is dat ‘hy ons hoegenaamd nie sal verlaat nie’ en dat ons ‘niks sal kortkom’ as ons hom getrou dien nie.—Heb. 13:5; Deut. 2:7.

Markus: Toe ons jonk was, het ons ons aan Jehovah toegewy. Ons het nooit vir ons groot dinge gesoek nie. Ons was gewillig om enige toewysing te aanvaar wat ons aangebied is, want ons glo vas dat dit nie saak maak waar of in watter hoedanigheid ons dien nie, maar eerder wie ons dien.

^ par. 5 Oor die jare het my pa, my ma, een van my ouer susters en twee van my broers ook Getuies geword.