‘Hou aan waak’—Waarom is dit so belangrik?
‘Hou aan waak’—Waarom is dit so belangrik?
“WAT sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matt. 24:3). In antwoord op hierdie vraag het Jesus vir sy dissipels ’n duidelike, uitvoerige, herkenbare en onmiskenbare teken gegee, soos opgeteken in Matteus hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13 en Lukas hoofstuk 21. Hy het bygevoeg: ‘Hou aan waak.’—Matt. 24:42.
As die teken op sigself so duidelik sou wees, waarom was hierdie bykomende vermaning dan nodig? Beskou hierdie twee moontlikhede. Eerstens, afleidings kan party mense die teken laat verontagsaam, wat tot ’n verlies van geestelikheid en waaksaamheid sal lei. Tweedens, ’n Christen herken dalk besonderhede van die teken, maar as gevolg van sy onmiddellike omgewing voel hy dat dit hom nie regstreeks raak nie. Hy kan dan redeneer dat die “groot verdrukking”, die klimaks van Jesus se profesie, nog ver is en dat dit dus nog nie nodig is om ‘aan te hou waak’ nie.—Matt. 24:21.
‘Hulle het geen ag geslaan nie’
Jesus het sy volgelinge aan Noag se tydgenote herinner. Noag se predikingswerk, die bou van die reuseark en die geweld van daardie tyd kon nie ongemerk plaasgevind het nie. Nietemin het die meeste mense “geen ag daarop geslaan” nie (Matt. 24:37-39). Vandag heers daar ’n soortgelyke gesindheid teenoor waarskuwings. Spoedbeperkingstekens dra byvoorbeeld ’n duidelike boodskap oor, maar baie verontagsaam dit. Die owerheid voel dikwels genoodsaak om spoedhobbels in strate aan te bring om bestuurders te dwing om stadiger te ry. Net so is ’n Christen moontlik bewus van die teken van die laaste dae, maar hy raak nog steeds betrokke by bedrywighede wat nie strook met die implikasie daarvan nie. Arielle, ’n tiener in Wes-Afrika, het dit ondervind.
Arielle het dit geniet om na vrouehandbal op televisie te kyk. Toe haar skool ’n span gevorm het, het die vooruitsig om te speel, haar waaksaamheid ten opsigte van moontlike gevare vir haar geestelikheid onderdruk. Sy het aangesluit om in die posisie van doelwagter te speel. Wat het toe gebeur? Sy verduidelik: “Party van my spanmaats se kêrels het dwelms gebruik en sigarette gerook. Hulle het my gespot omdat ek anders is, maar ek het gedink dat ek opgewasse is daarteen. Die spel self het onverwags my geestelikheid begin ondermyn. Handbal het my verstand en hart gevul. My gedagtes het dikwels gedurende Christelike vergaderinge van die Koninkryksaal na die handbalbaan gedwaal. My Christelike persoonlikheid het ook daaronder gely. ’n Liefde om te speel, het verander in ’n oordrewe begeerte om te wen. Ek het hard geoefen om my nuwe gees van mededinging te bevredig. Die druk het opgebou. Ek het selfs vriendskappe ter wille van handbal opgeoffer.
“Die keerpunt het gekom toe ’n strafdoel in een wedstryd aan ons opponente toegeken is. Ek het gereed gestaan om die doel te verdedig. Voordat ek dit besef het, het ek tot Jehovah gebid om my te help om die doel te keer! Hierdie voorval het my laat besef hoeveel my geestelikheid agteruitgegaan het. Hoe het ek dit herwin?
“Ek het voorheen na ons DVD Young People Ask—What Will I Do With My Life? gekyk. a Ek het besluit om weer daarna te kyk en om dit hierdie keer ernstig op te neem. Ek het my immers in dieselfde dilemma bevind as André, die jong man in die drama. Ek het veral gelet op wat ’n ouer man voorgestel het André moet doen—lees en peins oor Filippense 3:8. Dit het die deurslag gegee. Ek het die span verlaat.
“Wat ’n verskil het dit tog gemaak! My gees van mededinging en die gepaardgaande druk het verdwyn. Ek het gelukkiger en nader aan my Christenvriende gevoel. Geestelike bedrywighede het vir my belangriker geword. Ek het by die vergaderinge gekonsentreer en het dit weer geniet. My bediening het ook verbeter. Ek dien nou gereeld as ’n hulppionier.”
As jy weens ’n afleiding geneig is om die teken te verontagsaam wat Jesus vir ons gegee het, moet jy, soos Arielle, daadwerklik optree. Jy kan ’n paar van die volgende dinge probeer. Raadpleeg die Watch Tower Publications Index, wat al ’n kaart na verborge skatte genoem is. Verwysings na betroubare raad en lewensverhale oor hoe ander versoekings te bowe gekom het, wag op jou. Vind ten volle baat by Christelike vergaderinge deur goed voor te berei en aantekeninge te maak. Party het gevind dat dit help om voor in die saal te sit. Probeer so gou as moontlik antwoord wanneer daar gehoordeelname is. Bly ook geestelik wakker deur gebeure in die nuus met aspekte van die teken en ander kenmerke van “die laaste dae” te verbind.—2 Tim. 3:1-5; 2 Pet. 3:3, 4; Op. 6:1-8.
‘Julle moet gereed wees’
Die teken van die laaste dae is internasionaal; dit omvat “die hele bewoonde aarde” (Matt. 24:7, 14). Miljoene woon in gebiede wat swaar getref word deur pessiektes, voedseltekorte, aardbewings en ander voorspelde gebeure. Daarenteen woon baie ander in betreklike rus en vrede. Moet jy, as jy nog nooit self party aspekte van die teken ervaar het nie, redeneer dat die groot verdrukking nog ver is? Dit sal nie verstandig wees nie.
Dink byvoorbeeld aan wat Jesus oor “pessiektes en voedseltekorte” voorspel het (Luk. 21:11). Eerstens, hy het nie gesê dat dit alle gebiede gelyktydig of tot dieselfde mate sal raak nie. Hy het eerder gesê dat dit “op die een plek na die ander” sal plaasvind. Ons kan dus nie dieselfde gebeure oral op dieselfde tyd verwag nie. Tweedens, kort nadat Jesus voedseltekorte genoem het, het hy daarop gewys dat party van sy volgelinge sal moet oppas dat hulle hulle nie ooreet nie: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery [nie]” (Luk. 21:34). Alle Christene moet dus nie verwag om elke aspek van die teken te ervaar nie. Jesus het eerder gesê: “Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, [moet julle] weet dat die koninkryk van God naby is” (Luk. 21:31). Moderne kommunikasiemiddele stel ons in staat om alle aspekte van die teken te sien, ongeag wat ons persoonlik in ons omgewing ervaar.
Onthou ook dat Jehovah reeds die “dag en uur” vasgestel het waarop die groot verdrukking sal begin (Matt. 24:36). Die verloop van gebeurtenisse op aarde sal nie hierdie datum verander nie.
Jesus het Christene in alle wêrelddele vermaan: “Julle [moet] gereed wees” (Matt. 24:44). Ons moet altyd gereed wees. Ons kan natuurlik nie elke dag die hele dag aan teokratiese bedrywighede deelneem nie. Buitendien weet nie een van ons waarmee ons besig sal wees die oomblik wanneer die groot verdrukking begin nie. Party sal miskien op die lande werk of na huishoudelike take omsien (Matt. 24:40, 41). Wat kan ons dus doen om gereed te wees?
Emmanuel, Victorine en hulle ses dogters woon in ’n gebied in Afrika waar hulle nie die volle omvang ervaar van al die gebeure wat die teken uitmaak nie. Hulle het dus besluit om elke dag ’n geestelike bespreking te hê om hulle te help om gereed te wees. Emmanuel verduidelik: “Dit was moeilik om ’n tyd te kry wat almal pas. Ons het uiteindelik op die halfuur tussen sesuur en halfsewe in die oggend besluit. Ná ’n bespreking van die dagteks berei ons ’n paar paragrawe voor in een van die publikasies wat gedurende die week by die gemeentelike vergaderinge bestudeer gaan word.” Het hierdie program hulle gehelp om wakker te bly? Beslis! Emmanuel is die koördineerder van die liggaam van ouer manne in die gemeente. Victorine dien dikwels as ’n hulppionier en het al baie mense gehelp om die waarheid aan te neem. Al hulle dogters maak goeie geestelike vordering.
Jesus vermaan ons: “Bly op die uitkyk, bly wakker” (Mark. 13:33). Moenie toelaat dat ’n afleiding jou jou geestelike waaksaamheid laat verslap nie. Let eerder op die goeie raad in ons publikasies en by gemeentelike vergaderinge, soos Arielle gedoen het. Probeer, soos Emmanuel se gesin, elke dag iets doen om gereed te wees en ‘aan te hou waak’.
[Voetnoot]
a ’n Hedendaagse drama oor ’n jong Christen se stryd om te doen wat reg is in Jehovah se oë.
[Prent op bladsy 4]
Daaglikse geestelike besprekings help Emmanuel en sy gesin om ‘gereed te wees’