God se rus—Het jy daar ingegaan?
God se rus—Het jy daar ingegaan?
“Die woord van God is lewend en oefen krag uit.”—HEB. 4:12.
1. Wat is een manier waarop ons vandag in God se rus kan ingaan, maar waarom is dit dalk makliker gesê as gedaan?
IN DIE vorige artikel het ons gesien dat ons in God se rus kan ingaan deur gehoorsaam in ooreenstemming met sy voornemens te werk. Dit is dalk makliker gesê as gedaan. Wanneer ons byvoorbeeld leer dat Jehovah iets afkeur wat ons geniet, is ons eerste reaksie miskien om te rebelleer. Dit toon dat ons vordering moet maak wanneer dit daarby kom om ‘bereid te wees om te gehoorsaam’ (Jak. 3:17). In hierdie artikel sal ons ’n paar gebiede bespreek waarop ons dalk op die proef gestel sal word ten opsigte van ons bereidwilligheid om ons na God se voorneme te skik—om hom uit die hart te gehoorsaam.
2, 3. Met watter pogings moet ons volhou as ons begeerlik wil bly vanuit Jehovah se standpunt?
2 Hoe goed vaar jy daarin om Bybelse raad te aanvaar? Die Skrif sê vir ons dat dit God se wil is om “die begeerlike dinge van al die nasies” in te samel (Hag. 2:7). Die meeste van ons was natuurlik allesbehalwe begeerlik toe ons die waarheid begin leer het. Maar liefde vir God en vir sy dierbare Seun het ons gedring om betekenisvolle veranderinge in ons gesindheid en gewoontes aan te bring sodat ons God ten volle kan behaag. Uiteindelik, ná baie gebede en groot inspanning van ons kant, het die geseënde dag aangebreek toe ons ons vir Christelike doop kon aanbied.—Lees Kolossense 1:9, 10.
3 Maar die stryd teen onvolmaaktheid het nie met ons doop geëindig nie. Die stryd duur voort en sal voortduur solank ons onvolmaak is. Ons is egter oortuig dat Jehovah ons pogings sal seën as ons volhard in die stryd en vasbeslote is om al hoe begeerliker in God se oë te word.
Wanneer raad nodig is
4. Op watter drie maniere kan ons skriftuurlike raad ontvang?
4 Voordat ons aan ons onvolmaakthede kan aandag skenk, moet ons eers weet wat hierdie onvolmaakthede is. ’n Hartdeurvorsende toespraak by die Koninkryksaal of ’n gedagteprikkelende artikel in een van ons publikasies lê dalk ’n ernstige fout bloot. As ons egter die punt mis wanneer dit in ’n toespraak gemeld word of versuim om die geskrewe raad toe te pas, kan Jehovah ’n mede-Christen gebruik om ons tekortkoming onder ons aandag te bring.—Lees Galasiërs 6:1.
5. Meld ’n paar ongewenste maniere waarop ons miskien reageer wanneer ons raad ontvang, en verduidelik waarom Christenherders moet volhou met hulle pogings om ons te help.
5 Dit is nie maklik om raad van ’n onvolmaakte mens te aanvaar nie, ongeag op watter taktvolle en liefdevolle wyse die raad gegee word. Maar volgens Galasiërs 6:1 beveel Jehovah diegene wat geestelik bekwaam is, om ons te “probeer” reghelp en om dit “in ’n gees van sagmoedigheid” te doen. As ons gunstig reageer, sal ons selfs begeerliker word in God se oë. Vreemd genoeg, wanneer ons bid, erken ons vryelik dat ons onvolmaak is. Maar wanneer iemand ’n spesifieke tekortkoming onder ons aandag bring, is ons geneig om ons te probeer regverdig, die probleem as onbelangrik af te maak, die beweegrede van die raadgewer te bevraagteken of beswaar te maak teen die manier waarop die raad gegee is (2 Kon. 5:11). En as die raad oor ’n besonder sensitiewe aspek handel—die optrede van ’n gesinslid, ons kleredrag en persoonsversorging, ons persoonlike higiëne of ’n vorm van ontspanning wat ons geniet maar wat Jehovah haat—reageer ons dalk heel negatief, tot ons verbasing en tot ons raadgewer se ontsteltenis! Maar nadat ons gekalmeer het, erken ons gewoonlik dat die raad gepas is.
6. Hoe openbaar God se woord die “gedagtes en bedoelings van die hart”?
6 Die temateks van hierdie artikel herinner ons daaraan dat die woord van God ‘krag uitoefen’. Ja, God se woord oefen krag uit om lewens te verander. Dit is net so doeltreffend om ons te help om die nodige veranderinge ná ons doop aan te bring as wat dit was voordat ons hierdie stap gedoen het. In sy brief aan die Hebreërs skryf Paulus ook dat die woord van God “selfs [deurdring] tot die skeiding van siel en gees, en van gewrigte en hulle murg, en [dit] kan gedagtes en bedoelings van die hart onderskei” (Heb. 4:12). Met ander woorde, wanneer ons God se voorneme met ons duidelik verstaan, openbaar die manier waarop ons reageer, watter soort persoon ons innerlik is. Is daar soms ’n verskil tussen hoe ons voorkom (die “siel”) en wie ons werklik is (die “gees”)? (Lees Matteus 23:27, 28.) Dink aan hoe jy in die volgende situasies sal reageer.
Hou tred met Jehovah se organisasie
7, 8. (a) Wat het party Joodse Christene miskien beweeg om aan sekere gebruike van die Mosaïese Wet vas te kleef? (b) Hoe het hulle pogings ooreengekom met Jehovah se ontvouende voorneme?
7 Baie van ons kan Spreuke 4:18 uit die kop opsê: “Die pad van die regverdiges is soos die helder lig wat al hoe helderder word totdat dit heeltemal dag is.” Dit beteken dat ons gedrag en ons begrip van God se voornemens met verloop van tyd sal verbeter.
8 Soos ons in die vorige artikel bespreek het, was dit vir baie Joodse Christene ná Jesus se dood moeilik om van die Mosaïese Wet weg te breek (Hand. 21:20). Hoewel Paulus op bedrewe wyse geredeneer het dat Christene nie meer onder die Wet is nie, het party sy geïnspireerde redenering verwerp (Kol. 2:13-15). Miskien het hulle gedink dat hulle, as hulle ten minste dele van die Wet onderhou, vervolging sou vryspring. Hoe dit ook al sy, Paulus het aan die Hebreeuse Christene geskryf en vir hulle reguit gesê dat hulle nie in God se rus kan ingaan solank hulle weier om in ooreenstemming met Sy ontvouende voorneme te werk nie. a (Heb. 4:1, 2, 6; lees Hebreërs 4:11.) Om Jehovah se goedkeuring te verkry, moes hulle die feit aanvaar dat hy sy volk in ’n ander rigting lei.
9. Watter gesindheid moet ons hê wanneer aanpassings in ons begrip van skriftuurlike sake gemaak word?
9 In hedendaagse tye was daar aanpassings in ons begrip van sekere Bybelleringe. Dit moet ons nie bekommer nie; dit moet ons vertroue in die “getroue en verstandige slaaf”-klas versterk. Wanneer verteenwoordigende lede van die “slaaf” onderskei dat ons beskouing van ’n sekere aspek van die waarheid opgeklaar of reggestel moet word, huiwer hulle nie om die aanpassing te maak nie. Dit is vir die slaafklas belangriker om in ooreenstemming met God se ontvouende voorneme te werk as om hulle teen kritiek oor ’n aangepaste begrip te beskerm. Hoe reageer jy wanneer ’n aanpassing in ons begrip van die Skrif gemaak word?—Lees Lukas 5:39.
10, 11. Watter lesse kan ons leer uit die reaksie van party toe nuwe metodes om die goeie nuus te verkondig, ingebring is?
10 Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld. In die laat 19de eeu en vroeë 20ste eeu het sekere Bybelstudente wat uitstekende openbare sprekers was, gevoel dat hulle die opdrag om te preek, die beste kon uitvoer deur goed voorbereide toesprake voor waarderende gehore te hou. Hulle het dit geniet om openbare toesprake te hou, en party van hulle het hulle verlustig in die hartlike lof wat hulle gehore hulle toegeswaai het. Dit het later egter duidelik geword dat Jehovah wil hê dat sy volk aan verskillende aspekte van die predikingswerk moet deelneem, insluitende die huis-tot-huis-werk. Party bekwame openbare sprekers het botweg geweier om enigiets nuuts te probeer. Uiterlik het dit gelyk of hulle geestelike manne is wat ten volle toegewyd is aan die Here. Maar toe hulle voor duidelike bewyse van God se voorneme aangaande die predikingswerk te staan kom, het hulle werklike gedagtes, bedoelings en beweegredes aan die lig gekom. Hoe het Jehovah oor hulle gevoel? Hy het hulle nie geseën nie. Hulle het die organisasie verlaat.—Matt. 10:1-6; Hand. 5:42; 20:20.
11 Dit wil nie sê dat dit vir almal wat lojaal teenoor die organisasie gebly het, maklik was om in die openbaar te preek nie. Vir baie was die werk ’n uitdaging, veral aan die begin. Maar hulle was gehoorsaam. Hulle het mettertyd hulle angs te bowe gekom, en Jehovah het hulle ryklik geseën. Hoe reageer jy wanneer jy genooi word om deel te neem aan die een of ander aspek van die predikingswerk wat tans nie in jou gemaksone val nie? Is jy bereid om iets nuuts te probeer?
Wanneer ’n geliefde Jehovah verlaat
12, 13. (a) Waarom laat Jehovah onberouvolle oortreders uitsit? (b) Voor watter toets kom party Christenouers te staan, en wat maak die toets so moeilik?
12 Ons almal stem ongetwyfeld saam met die beginsel dat ons fisies, sedelik en geestelik rein moet wees om God te behaag. (Lees Titus 2:14.) Maar daar is dalk geleenthede wanneer ons lojaliteit ten opsigte van hierdie aspek van God se voorneme erg op die proef gestel word. Gestel byvoorbeeld dat die enigste seun van ’n voorbeeldige Christenegpaar die waarheid verlaat. Omdat hy “die tydelike genieting van sonde” bo ’n persoonlike verhouding met Jehovah en met sy godvrugtige ouers verkies, word die jong man uitgesit.—Heb. 11:25.
13 Die ouers is verpletter! Hulle weet natuurlik dat die Bybel met betrekking tot uitsetting vir ons sê “om op te hou om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en om nie eens saam met so iemand te eet nie” (1 Kor. 5:11, 13). Hulle besef ook dat die woord “enigeen” in hierdie vers gesinslede insluit wat nie onder hulle dak woon nie. Maar hulle het hulle seun baie lief! Sterk emosies kan hulle laat redeneer: ‘Hoe kan ons ons seun help om tot Jehovah terug te keer as ons ons assosiasie met hom streng beperk? Sal ons nie meer bereik deur gereelde kontak met hom te behou nie?’ b
14, 15. Wat is die werklike besluit wat ouers van uitgesette kinders moet neem?
14 Ons hart gaan uit na hierdie ouers. Hulle seun het immers ’n keuse gehad, en hy het gekies om sy onchristelike lewenswyse na te jaag eerder as om intieme assosiasie met sy ouers en ander medegelowiges te bly geniet. Die ouers daarenteen het geen sê in die saak gehad nie. Geen wonder dat hulle hulpeloos voel nie!
15 Maar wat sal hierdie dierbare ouers doen? Sal hulle Jehovah se duidelike riglyne volg? Of sal hulle rasionaliseer dat hulle gereeld assosiasie met hulle uitgesette seun kan hê en dit “nodige familiesake” noem? Wanneer hulle hulle besluit neem, moet hulle nie versuim om te dink aan hoe Jehovah voel oor wat hulle doen nie. Sy voorneme is om die organisasie rein te hou en om oortreders, indien moontlik, tot besinning te bring. Hoe kan Christenouers hierdie voorneme ondersteun?
16, 17. Wat kan ons leer deur oor Aäron se voorbeeld te peins?
16 Moses se broer, Aäron, het hom in ’n moeilike situasie met betrekking tot twee van sy seuns bevind. Dink aan hoe hy moes gevoel het toe sy seuns Nadab en Abihu onwettige vuur voor Jehovah geoffer het en Hy hulle om die lewe gebring het. Dít het natuurlik enige assosiasie beëindig wat hierdie mans met hulle ouers kon gehad het. Maar meer was daarby betrokke. Jehovah het Aäron en sy getroue seuns beveel: “Julle mag julle kop nie onversorg laat en julle klere nie [in rou] skeur nie, sodat julle nie sterf nie en sodat [Jehovah] nie verontwaardig raak teenoor die hele vergadering nie” (Lev. 10:1-6). Die boodskap is duidelik. Ons liefde vir Jehovah moet sterker wees as ons liefde vir ontroue gesinslede.
17 Vandag stel Jehovah nie diegene wat sy wette skend, onmiddellik tereg nie. Hy gee hulle liefdevol ’n geleentheid om berou oor hulle onregverdige werke te toon. Maar hoe sal Jehovah voel as die ouers van ’n onberouvolle oortreder Hom op die proef bly stel deur onnodige assosiasie met hulle uitgesette seun of dogter te hê?
18, 19. Watter seëninge kan gesinslede ontvang wat in ooreenstemming met Jehovah se instruksies met betrekking tot uitgesettenes werk?
18 Baie wat voorheen uitgesit was, erken nou openlik dat die ferm standpunt wat hulle vriende en gesinslede ingeneem het, hulle gehelp het om tot besinning te kom. Toe ouer manne aanbeveel het dat ’n jong vrou herstel word, het hulle geskryf dat sy haar lewe in orde gebring het “gedeeltelik weens haar vleeslike broer se respek vir die uitsettingsreëling”. Sy het gesê dat “sy getroue gehoorsaamheid aan skriftuurlike riglyne by haar die begeerte gewek het om terug te keer”.
19 Tot watter slotsom moet ons kom? Dat ons moet stry teen die neiging van ons onvolmaakte hart om teen skriftuurlike raad te rebelleer. Ons moet ten volle oortuig wees dat die manier waarop God ons probleme hanteer, altyd die beste is.
“Die woord van God is lewend”
20. Op watter twee maniere kan Hebreërs 4:12 toegepas word? (Sien voetnoot.)
20 Toe Paulus geskryf het: “Die woord van God is lewend”, het hy nie spesifiek na God se geskrewe Woord, die Bybel, verwys nie. c Die konteks toon dat hy na God se woord van belofte verwys het. Die punt wat Paulus gestel het, was dat God nie ’n belofte maak en dan daarvan vergeet nie. Jehovah het dit deur middel van die profeet Jesaja bevestig: “My woord . . . sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal . . . beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het” (Jes. 55:11). Ons hoef dus glad nie ongeduldig te raak wanneer dinge nie so vinnig gebeur as wat ons dalk wil hê nie. Jehovah ‘hou aan werk’ met die doel om sy voorneme suksesvol te verwesenlik.—Joh. 5:17.
21. Hoe kan Hebreërs 4:12 getroue ouer lede van die “groot menigte” aanmoedig?
21 Getroue ouer lede van die “groot menigte” dien Jehovah al dekades lank (Op. 7:9). Baie het nooit verwag dat hulle in hierdie stelsel van dinge sou oud word nie. Hulle het nogtans nie aan ontmoediging toegegee nie (Ps. 92:14). Hulle besef dat God se woord van belofte nie ’n dooie kwessie is nie—dit is lewend, en Jehovah werk met die doel om dit te vervul. Aangesien God se voorneme hom na aan die hart lê, verskaf ons hom vreugde wanneer ons dit duidelik voor oë hou. Jehovah het gedurende hierdie sewende dag gerus, met die sekerheid dat sy voorneme verwesenlik sal word en dat sy volk, as ’n groep, dit sal ondersteun. Wat van jou? Het jy persoonlik in God se rus ingegaan?
[Voetnote]
a Baie leiers onder die Jode het die Mosaïese Wet nougeset onderhou, maar toe die Messias kom, het hulle hom nie erken nie. Hulle het nie tred gehou met God se ontvouende voorneme nie.
c Vandag praat God met ons deur sy geskrewe Woord, wat die krag het om ons lewe te beïnvloed. By uitbreiding kan Paulus se woorde in Hebreërs 4:12 dus tereg op die Bybel toegepas word.
Moenie die doel daarvan mis nie
• Wat is nodig as ons vandag in God se rus wil ingaan?
• Watter verband is daar tussen God se voorneme en ons bereidwilligheid om skriftuurlike raad te aanvaar?
• Op watter gebiede kan dit moeilik wees om skriftuurlike riglyne te gehoorsaam, maar waarom is dit noodsaaklik dat ons dit wel doen?
• Op watter twee maniere kan Hebreërs 4:12 toegepas word?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 31]
Die ouers is verpletter!