Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie kan diegene verlos wat om hulp roep?

Wie kan diegene verlos wat om hulp roep?

Wie kan diegene verlos wat om hulp roep?

“O God, gee u regterlike beslissings aan die koning . . . Want hy sal die arme verlos wat om hulp roep.”—PS. 72:1, 12.

1. Wat leer ons in Dawid se geval van God se barmhartigheid?

 HOE hartverblydend is dié woorde tog, wat blykbaar deur koning Dawid van eertydse Israel opgeteken is! Jare voordat hy dit geskryf het, het hy berou gehad nadat hy met Batseba egbreuk gepleeg het. Dit was toe dat Dawid God gesmeek het: “Wis my oortredings uit ooreenkomstig die oorvloed van u barmhartighede. . . . My sonde is voortdurend voor my. . . . Kyk! In ongeregtigheid is ek met geboortepyne voortgebring, en in sonde het my moeder my ontvang” (Ps. 51:1-5). Weens sy barmhartigheid neem Jehovah ons oorgeërfde sondige toestand in aanmerking.

2. Hoe kan Psalm 72 ons help?

2 Jehovah verstaan ons betreurenswaardige situasie. Maar soos voorspel is, sal God se gesalfde Koning “die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red” (Ps. 72:12, 13). Hoe sal verligting voorsien word? Psalm 72 sê vir ons. Hierdie lied is gekomponeer oor die koningskap van Dawid se seun Salomo en voorsien ’n voorskou van hoe die heerskappy van God se Seun, Jesus Christus, die mensdom van benoudheid sal bevry.

’n Voorskou van Christus se heerskappy

3. Waarvoor het Salomo gevra, en wat het God hom gegee?

3 Nadat die bejaarde Dawid opdrag gegee het dat Salomo koning gemaak moes word, het hy hom spesifieke instruksies gegee wat Salomo getrou uitgevoer het (1 Kon. 1:32-35; 2:1-3). Jehovah het later in ’n droom aan Salomo verskyn en gesê: “Vra wat ek jou moet gee.” Salomo het net een versoek gehad: “U moet aan u kneg ’n gehoorsame hart gee om u volk te rig, om tussen goed en kwaad te onderskei.” As gevolg van Salomo se nederige versoek het God hom gegee wat hy gevra het en nog meer.—1 Kon. 3:5, 9-13.

4. Hoe is Salomo se heerskappy deur ’n heerser uit daardie tyd beskryf?

4 Weens Jehovah se seën het die heerskappy van Salomo die merkwaardigste tyd van vrede en voorspoed tot gevolg gehad wat daar nog ooit onder enige regering op aarde was (1 Kon. 4:25). Onder diegene wat gekom het om Salomo se heerskappy waar te neem, was die koningin van Skeba, saam met haar groot gevolg. Sy het vir Salomo gesê: “Die woord was waar wat ek in my land . . . gehoor het. . . . Ek is die helfte nie vertel nie. U het in wysheid en voorspoed die dinge oortref wat gehoor is” (1 Kon. 10:1, 6, 7). Maar veel groter wysheid is geopenbaar deur Jesus, wat tereg van homself kon sê: “Kyk! iets meer as Salomo is hier.”—Matt. 12:42.

Verligting onder die Grotere Salomo

5. Wat openbaar Psalm 72, en waarvan voorsien dit ’n voorskou?

5 Kom ons ondersoek nou kenmerke van die 72ste Psalm om te leer van seëninge onder die heerskappy van Jesus Christus, die Grotere Salomo. (Lees Psalm 72:1-4.) Hierdie psalm toon hoe Jehovah voel oor “die vorstelike heerskappy” van sy Seun, die “Vredevors”, Jesus Christus (Jes. 9:6, 7). Onder God se leiding sal die Grotere Salomo ‘die regsaak van die geteisterdes bepleit en die kinders van die arme red’. Sy heerskappy sal een van vrede en regverdigheid wees. Terwyl hy op die aarde was, het Jesus ’n voorskou voorsien van wat sy komende Duisendjarige Heerskappy tot stand sal bring.—Op. 20:4.

6. Watter vooruitskouings het Jesus van seëninge onder die Koninkryksheerskappy gegee?

6 Dink aan ’n paar van die bedrywighede van Jesus Christus wat ons ’n voorskou gee van wat hy ter vervulling van Psalm 72 vir die mensdom sal doen. Ons is tereg beïndruk deur sy groot medelye met diegene wat gely het (Matt. 9:35, 36; 15:29-31). Byvoorbeeld, ’n man wat melaats was, het Jesus genader en gesmeek: “As u net wil, kan u my rein maak.” Jesus het geantwoord: “Ek wil. Word gereinig.” En die man is genees! (Mark. 1:40-42). Later het Jesus ’n weduwee ontmoet wie se enigste seun gesterf het. “Ontroer deur innige jammerte” het Jesus gesê: “Staan op!” en haar seun het opgestaan. Hy was weer lewend!—Luk. 7:11-15.

7, 8. Wat was ’n paar bewyse van Jesus se geneeskrag?

7 Jehovah het Jesus die krag gegee om wonderwerke te verrig. Dit is toegelig in die geval van “’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het”. Al “is [sy] baie pyn besorg deur talle geneeshere en [al het sy] ál haar middele bestee”, het sy net erger geword. Die vrou het onder ’n skare ingegaan en aan Jesus geraak—’n oortreding van die Wet vir iemand met ’n ‘lopende afskeiding van bloed’ (Lev. 15:19, 25). Jesus het agtergekom dat krag van hom uitgegaan het en het dus gevra wie aan hom geraak het. “Bang en bewend” het die vrou “voor hom kom neerval en vir hom die hele waarheid vertel”. Jesus het besef dat Jehovah die vrou genees het en het haar vriendelik behandel en gesê: “Dogter, jou geloof het jou gesond gemaak. Gaan in vrede, en wees van jou ernstige siekte genees.”—Mark. 5:25-27, 30, 33, 34.

8 Jesus se godgegewe geneeskrag het die siekes genees, maar het ook beslis ’n kragtige uitwerking op waarnemers gehad. Byvoorbeeld, baie was ongetwyfeld beïndruk toe hulle gesien het hoe Jesus mense genees voordat hy sy beroemde Bergpredikasie gelewer het (Luk. 6:17-19). Toe Johannes die Doper twee boodskappers gestuur het om bevestiging te verkry dat Jesus die Messias is, het hulle Hom gevind waar hy ‘baie van siektes en ernstige kwale en bose geeste genees het en aan baie blindes die vermoë geskenk het om te sien’. Toe het Jesus vir die twee gesê: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: die blindes sien, die kreupeles loop, die melaatses word gereinig en die dowes hoor, die dooies word opgewek, aan die armes word die goeie nuus verkondig” (Luk. 7:19-22). Hoe moes hierdie boodskap Johannes tog aangemoedig het!

9. Waarvan was Jesus se wonderwerke vooruitskouings?

9 Die verligting van lyding wat Jesus gedurende sy aardse bediening voorsien het, was weliswaar net tydelik. Dié wat hy genees of opgewek het, het later gesterf. Maar tog was die wonderwerke wat Jesus verrig het terwyl hy op die aarde was, vooruitskouings van die blywende verligting wat die mensdom onder sy Messiaanse heerskappy sal geniet.

’n Aardwye paradys lê voor!

10, 11. (a) Hoe lank sal Koninkrykseëninge voortduur, en hoe sal die lewe onder Jesus se heerskappy wees? (b) Wie sal saam met Christus in die Paradys wees, en hoe sal hy vir ewig kan lewe?

10 Probeer jou voorstel hoe die lewe in die Paradys op aarde sal wees. (Lees Psalm 72:5-9.) Aanbidders van die enigste ware God sal lewe in die Paradys kan geniet vir so lank as wat die son en die maan bestaan—ja, vir ewig! Die Koning, Jesus Christus, sal verkwikkend wees, ‘soos reën op gesnyde gras en oorvloedige reënbuie wat die aarde natmaak’.

11 Word jou hart nie geroer deur die hoop om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe wanneer jy die vervulling van hierdie psalm voor jou geestesoog sien nie? Die kwaaddoener wat aan die paal gehang is, was sekerlik verheug toe Jesus vir hom gesê het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Luk. 23:43). Gedurende Jesus se Duisendjarige Heerskappy sal daardie man opgewek word. As hy hom aan Christus se heerskappy onderwerp, sal hy vir ewig in volmaakte gesondheid en geluk op die aarde kan lewe.

12. Watter geleentheid sal onregverdiges wat opgewek word, gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy hê?

12 Onder die heerskappy van die Grotere Salomo, Jesus Christus, “sal die regverdige bloei”, dit wil sê floreer of voorspoedig wees (Ps. 72:7). Christus se liefde en tere sorg sal dan oorvloedig wees, net soos toe hy op die aarde was. In God se beloofde nuwe wêreld sal selfs “die onregverdiges” wat opgewek word, ’n liefdevolle geleentheid gegee word om hulle na Jehovah se standaarde te skik en te lewe (Hand. 24:15). Dié wat weier om in ooreenstemming met goddelike vereistes op te tree, sal natuurlik nie toegelaat word om te bly lewe en die vrede en rustigheid van die nuwe wêreld te versteur nie.

13. Wat sal die omvang van die Koninkryksheerskappy wees, en waarom sal die vrede daarvan nooit versteur word nie?

13 Die aardwye omvang van die Grotere Salomo se heerskappy word deur hierdie woorde getoon: “Hy sal onderdane hê van see tot see en van die Rivier [die Eufraat] tot aan die eindes van die aarde. Voor hom sal die bewoners van waterlose streke hulle neerbuig, en sy vyande sal die stof lek” (Ps. 72:8, 9). Ja, Jesus Christus sal oor die hele aarde regeer (Sag. 9:9, 10). Diegene wat sy heerskappy en die seëninge daarvan waardeer, sal hulle in gewillige onderdanigheid “neerbuig”. Aan die ander kant sal onberouvolle sondaars uitgeroei word, wanneer hulle as ’t ware “honderd jaar oud” is (Jes. 65:20). Hulle sal “die stof lek”.

Simpatieke besorgdheid oor ons

14, 15. Hoe weet ons dat Jesus mense se gevoelens verstaan en dat hy “die arme [sal] verlos wat om hulp roep”?

14 Die sondige mensdom is in ’n bejammerenswaardige toestand en het hulp dringend nodig. Maar daar is hoop vir ons. (Lees Psalm 72:12-14.) Jesus, die Grotere Salomo, het simpatie met ons omdat hy ons onvolmaakte toestand verstaan. Daarbenewens het Jesus ter wille van regverdigheid gely, en God het hom toegelaat om beproewinge op sy eie te verduur. Jesus het soveel emosionele angs ervaar dat “sy sweet . . . soos bloeddruppels geword [het] wat op die grond val”! (Luk. 22:44). Later het hy aan die folterpaal uitgeroep: “My God, my God, waarom het u my verlaat?” (Matt. 27:45, 46). Ten spyte van alles wat hy gely het, en al het Satan ’n verbete poging aangewend om hom van Jehovah af te keer, het Jesus sy getrouheid aan Jehovah God bewys.

15 Ons kan seker wees dat Jesus ons pyn sien en dat hy “die arme [sal] verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie”. Met liefdevolle besorgdheid soos dié van sy Vader, sal Jesus ‘na die armes luister’ en ‘die gebrokenes van hart genees en hulle pynlike plekke verbind’ (Ps. 69:33; 147:3). Jesus kan “met ons swakhede . . . simpatiseer”, want hy is “in alle opsigte soos ons op die proef gestel” (Heb. 4:15). Hoe goed is dit tog om te weet dat die Koning, Jesus Christus, nou in die hemel regeer en dat hy gretig is om vir mense wat ly, verligting te bring!

16. Waarom kon Salomo met sy onderdane simpatiseer?

16 Omdat Salomo wysheid en insig gehad het, het hy ongetwyfeld ‘jammer gevoel vir die geringe’. Hy het ook hartseer en traumatiese gebeurtenisse in sy lewe deurgemaak. Sy broer Amnon het sy suster Tamar verkrag, en Salomo se broer Absalom het Amnon daarvoor laat doodmaak (2 Sam. 13:1, 14, 28, 29). Absalom het Dawid se troon wederregtelik in besit geneem, maar sy staatsgreep het misluk en hy is deur Joab doodgemaak (2 Sam. 15:10, 14; 18:9, 14). Later het Salomo se broer Adonia probeer om die koningskap in besit te neem. As hy suksesvol was, sou dit ongetwyfeld Salomo se dood beteken het (1 Kon. 1:5). Wat Salomo by die inwyding van die tempel van Jehovah in gebed gesê het, het duidelik getoon dat hy menselyding verstaan het. Met betrekking tot sy onderdane het die koning gebid: “Elkeen van hulle [ken] sy eie plaag en sy eie pyn . . . U [Jehovah] moet vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë.”—2 Kron. 6:29, 30.

17, 18. Watter pyn moes party van God se knegte deurmaak, en wat het hulle gehelp om dit te doen?

17 ‘Ons eie pyn’ is moontlik die gevolg van sekere gebeure in ons verlede. Marie, a ’n Getuie van Jehovah in haar 30’s, skryf: “Ek het alle rede om gelukkig te wees, maar dikwels laat my verlede gevoelens van skaamte en weersin by my opkom. Dit maak my bitter hartseer en dan huil ek asof alles gister gebeur het. Diepgewortelde herinneringe veroorsaak nog steeds oorweldigende gevoelens van waardeloosheid en skuldgevoelens.”

18 Baie van God se knegte kan hierdie gevoelens verstaan, maar wat kan hulle help om die nodige krag te kry om te volhard? “Ware vriende en ’n geestelike familie bring nou vir my geluk”, sê Marie. “Ek probeer ook konsentreer op wat Jehovah vir die toekoms belowe, en ek vertrou dat my hulpgeroep in uitroepe van vreugde verander sal word” (Ps. 126:5). Ons moet ons hoop stel in God se voorsiening van sy Seun, sy aangestelde Heerser. Van hom is daar voorspel: “Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë” (Ps. 72:13, 14). Hoe gerusstellend is dit tog!

’n Nuwe wêreld van oorvloed wag op ons

19, 20. (a) Watter probleem sal deur die Koninkryksheerskappy opgelos word, soos Psalm 72 toon? (b) Veral wie moet die eer ontvang vir Christus se heerskappy, en hoe voel jy oor wat dit tot stand sal bring?

19 Probeer weer die toekoms van regskape mense in God se nuwe wêreld onder die heerskappy van die Grotere Salomo voor jou geestesoog sien. “Daar sal volop graan op die aarde wees”, word ons beloof. “Op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees” (Ps. 72:16). Aangesien graan nie gewoonlik op bergtoppe groei nie, beklemtoon hierdie woorde hoe vrugbaar die aarde sal word. Die opbrengs daarvan “sal wees soos op die Libanon”, ’n streek wat gedurende Salomo se heerskappy oorvloedige opbrengs gelewer het. Dink net! Geen meer voedseltekorte nie, niemand wat ondervoed is nie, niemand wat honger ly nie! Almal sal dan “’n feesmaal van olieryke geregte” geniet.—Jes. 25:6-8; 35:1, 2.

20 Wie sal die eer vir al hierdie seëninge ontvang? Veral die Ewige Koning en Universele Heerser, Jehovah God. Ons sal almal in werklikheid dan ons stemme vreugdevol voeg by die slot van hierdie pragtige en roerende lied: “Laat sy naam [dié van die Koning, Jesus Christus] tot onbepaalde tyd wees; laat sy naam voor die son toeneem, en laat hulle hulleself deur middel van hom seën; laat alle nasies hom gelukkig noem. Mag Jehovah God, Israel se God, geloof word, wat alleen wonderlike werke doen. En mag sy glorieryke naam tot onbepaalde tyd geloof word, en laat sy heerlikheid die hele aarde vul. Amen en Amen.”—Ps. 72:17-19.

[Voetnoot]

a Naam is verander.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarvan het Psalm 72 ’n profetiese voorskou gegee?

• Wie is die Grotere Salomo, en hoe omvangryk sal sy heerskappy wees?

• Watter van die seëninge wat in die 72ste Psalm voorspel word, wil jy graag geniet?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Wat is voorafgeskadu deur die voorspoed wat gedurende Salomo se heerskappy geniet is?

[Prent op bladsy 32]

Dit is beslis al die inspanning werd om lewe in die Paradys onder die heerskappy van die Grotere Salomo te verkry