Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
“Soos pyle in die hand van ’n sterk man, so is die seuns van die jeug.”—PSALM 127:4.
1, 2. Hoe is kinders soos “pyle in die hand van ’n sterk man”?
’N BOOGSKUTTER maak gereed om ’n pyl na ’n teiken te skiet. Hy plaas dit versigtig teen die boogsnaar, en met gespanne spiere span hy sy boog. Ondanks die inspanning neem hy tyd om die pyl noukeurig op die teiken te rig. Dan skiet hy dit af! Sal die pyl die teiken tref? Verskeie faktore bepaal die antwoord, onder meer die vaardigheid van die boogskutter, die uitwerking van die wind en die toestand van die pyl.
2 Koning Salomo het kinders vergelyk met “pyle in die hand van ’n sterk man” (Psalm 127:4). Kom ons kyk hoe hierdie illustrasie toegepas kan word. ’n Boogskutter het die pyl net ’n betreklik kort tydjie in sy boog. Om die teiken te tref, moet hy dit vinnig afskiet. Ouers het eweneens net ’n betreklik kort tydjie om ’n hartgrondige liefde vir Jehovah by hulle kinders aan te kweek. Ná wat soos net ’n paar jaar voel, is die kinders groot en verlaat hulle die huis (Matteus 19:5). Sal hulle die teiken tref—dit wil sê, sal die kinders voortgaan om God lief te hê en hom te dien nadat hulle uit die huis is? Talle faktore beïnvloed die antwoord. Drie hiervan is die bekwaamheid van die ouer, die milieu waarin die kinders grootgemaak word en die manier waarop die ‘pyl’, of kind, reageer op die opleiding wat hy of sy ontvang. Kom ons ondersoek elkeen van hierdie faktore in meer besonderhede. Eers gaan ons ’n paar van die eienskappe van ’n bekwame ouer bespreek.
Bekwame ouers stel ’n goeie voorbeeld
3. Waarom moet ’n ouer se woorde deur dade ondersteun word?
3 Jesus het die voorbeeld vir ouers gestel deur sy dade met sy woorde te laat strook (Johannes 13:15). Aan die ander kant het hy die Fariseërs veroordeel, wat ‘gesê’ maar ‘nie gedoen het nie’ (Matteus 23:3). Om hulle kinders te motiveer om Jehovah lief te hê, moet die ouers se woorde en dade ooreenstem. Woorde wat nie deur dade ondersteun word nie, is net so ondoeltreffend soos ’n boog sonder ’n snaar.—1 Johannes 3:18.
4. Watter vrae kan ouers hulle gerus afvra, en waarom?
4 Waarom is ouers se voorbeeld so belangrik? Net soos volwassenes God kan leer liefkry deur na Jesus se voorbeeld te kyk, kan kinders Jehovah leer liefkry deur hulle ouers se goeie voorbeeld te volg. Die persone met wie ’n kind assosieer, kan óf die kind opbou óf “nuttige gewoontes [bederf]” (1 Korintiërs 15:33). Vir ’n groot deel van ’n kind se lewe, en beslis gedurende die belangrike vormingsjare, is sy ouers die mense wat die naaste aan hom is en die grootste invloed op hom uitoefen. Daarom kan ouers hulle gerus afvra: ‘Watter soort invloed is ek? Moedig my voorbeeld my kind aan om nuttige gewoontes aan te kweek? Watter voorbeeld stel ek op die belangrike gebiede van gebed en Bybelstudie?’
Bekwame ouers bid saam met hulle kinders
5. Wat kan kinders uit ’n ouer se gebede leer?
5 Julle kinders kan baie oor Jehovah leer deur na julle gebede te luister. Tot watter slotsom sal hulle moontlik kom as hulle hoor hoe julle God voor etes dank en tydens Bybelstudiesessies bid? Hulle sal waarskynlik leer dat Jehovah in ons fisiese behoeftes voorsien—waarvoor hy gedank moet word—en dat hy ons geestelike waarhede leer. Dit is waardevolle lesse.—Jakobus 1:17.
6. Hoe kan ouers kinders help om te voel dat Jehovah in hulle as individue belangstel?
6 As julle egter op ander tye benewens by etes en gesinsbybelstudies saam met julle gesin bid en as julle spesifieke sake bespreek wat julle en julle kinders raak, sal julle selfs meer bereik. Julle sal julle kinders help om te voel dat Jehovah deel is van julle gesin, dat hy diep besorg is oor julle as individue (Efesiërs 6:18; 1 Petrus 5:6, 7). Een pa sê: “Ons het van ons dogter se geboorte af saam met haar gebid. Namate sy ouer geword het, het ons gebid oor kwessies in verband met vriendskappe en oor ander aangeleenthede wat haar geraak het. Totdat sy die huis verlaat het om te trou, het daar nie ’n dag verbygegaan dat ons nie saam met haar gebid het nie.” Kan julle ook elke dag saam met julle kinders bid? Kan julle hulle help om Jehovah as ’n Vriend te beskou, wat nie net in hulle fisiese en geestelike behoeftes voorsien nie, maar ook besorg is oor hulle emosionele behoeftes?—Filippense 4:6, 7.
7. Wat moet ouers weet sodat hulle hulle gebede spesifiek kan maak?
7 As julle julle gebede spesifiek wil maak, moet julle natuurlik weet wat in julle kind se lewe aangaan. Let op die kommentare van ’n pa wat twee kinders grootgemaak het: “Aan die einde van elke week het ek my twee vrae afgevra: ‘Watter dinge het my kinders hierdie week bekommer? En watter goeie dinge het in hulle lewe gebeur?’” Ouers, kan julle julle sulke vrae afvra en dan van die antwoorde daarop insluit wanneer julle saam met julle kinders bid? As julle dit doen, sal julle hulle nie net leer om tot Jehovah—die Hoorder van die gebed—te bid nie, maar ook om hom lief te hê.—Psalm 65:2.
Bekwame ouers moedig goeie studiegewoontes aan
8. Waarom moet ouers hulle kinders help om die gewoonte aan te kweek om God se Woord te bestudeer?
8 Hoe kan ’n ouer se gesindheid teenoor Bybelstudie ’n kind se verhouding met God beïnvloed? In enige verhouding moet die betrokke persone nie net met mekaar praat nie, maar ook luister as hulle wil hê dat die verhouding moet groei en voortduur. Een manier waarop ons na Jehovah luister, is deur die Bybel te bestudeer met behulp van publikasies wat deur ‘die getroue slaaf’ voorsien word (Matteus 24:45-47; Spreuke 4:1, 2). Om hulle kinders dus te help om ’n blywende, liefdevolle verhouding met Jehovah te ontwikkel, kan ouers hulle gerus aanmoedig om die gewoonte aan te kweek om God se Woord te bestudeer.
9. Hoe kan kinders gehelp word om goeie studiegewoontes aan te kweek?
9 Hoe kan kinders gehelp word om goeie studiegewoontes aan te kweek? Weer eens leer kinders die beste uit hulle ouers se voorbeeld. Sien julle kinders dat julle gereeld die Bybel lees of dit bestudeer? Julle is waarskynlik baie besig om vir julle kinders te sorg, en julle wonder dalk waar julle die tyd gaan vind om te lees en te studeer. Maar vra julle af: ‘Sien my kinders my gereeld televisie kyk?’ Kan julle dan van daardie tyd gebruik om vir hulle ’n goeie voorbeeld te stel wat persoonlike studie betref?
10, 11. Waarom moet ouers gereelde Bybelbesprekings met hulle gesin hê?
10 Nog ’n praktiese manier waarop ouers kinders kan leer om na Jehovah te luister, is om gereelde Bybelbesprekings met hulle gesin te hê (Jesaja 30:21). Maar party wonder dalk: ‘Waarom het kinders ’n gesinstudie nodig as hulle ouers hulle gereeld na gemeentelike vergaderinge toe neem?’ Daar is verskeie goeie redes. Jehovah het hoofsaaklik aan ouers die verantwoordelikheid toevertrou om hulle kinders te onderrig (Spreuke 1:8; Efesiërs 6:4). ’n Gesinsbybelstudie leer kinders dat aanbidding nie ’n formele ritueel is wat slegs in die openbaar beoefen word nie, maar deel is van die gesin se privaat lewe.—Deuteronomium 6:6-9.
11 Daarbenewens kan ’n gesinstudie wat op die regte manier gehou word, ouers die geleentheid gee om uit te vind hoe hulle kinders oor geestelike en sedelike sake voel. Wanneer kinders klein is, kan ouers byvoorbeeld publikasies gebruik soos Leer by die Groot Onderwyser. a In byna elke paragraaf van hierdie Bybelstudiehulp word kinders gevra om te sê hoe hulle voel oor die onderwerpe wat bespreek word. Deur oor die tekste in die boek te redeneer, kan ouers hulle kinders help om hulle waarnemingsvermoëns te ontwikkel “om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:14.
12. Hoe kan ouers die gesinstudie by ’n kind se behoeftes aanpas, en wat het julle in hierdie verband doeltreffend gevind?
12 Namate julle kinders grootword, moet julle die studie by hulle behoeftes aanpas. Kyk hoe een egpaar hulle tieners gehelp het om te redeneer oor ’n versoek om ’n skooldans by te woon. Die pa sê: “Ons het vir ons kinders gesê dat ek en my vrou gedurende ’n deel van die volgende gesinstudie die rol van die kinders sal speel, en ons dogters kon maak of hulle die ouers is. Enigeen van die kinders kon die rol van die pa of die ma speel, maar hulle moes saam navorsing doen oor die onderwerp en riglyne gee in verband met skooldanse.” Wat was die resultaat? “Ons was verbaas oor hoe verantwoordelik ons dogters (in hulle rol as die ouers) was toe hulle aan ons (as die kinders) hulle Bybelse redes verduidelik het oor waarom dit onverstandig sou wees om na die dans toe te gaan”, sê die pa vervolgens. “Wat ons verder beïndruk het, was die voorstelle waarmee hulle vorendag gekom het as aanvaarbare alternatiewe vir hierdie bedrywigheid. Dit het ons waardevolle insig gegee in hulle denke en begeertes.” Dit verg weliswaar deursettingsvermoë en verbeelding om ’n gereelde en praktiese gesinstudie te hou, maar die seëninge maak dit die moeite werd.—Spreuke 23:15.
Skep ’n vreedsame milieu
13, 14. (a) Hoe kan ouers ’n vreedsame milieu by die huis skep? (b) Watter goeie gevolg kan dit hê as ’n ouer erken dat hy ’n fout gemaak het?
13 Die kanse is beter dat die pyl die teiken sal tref as die boogskutter dit in kalm toestande rig en afskiet. So ook is die kanse beter dat kinders sal leer om Jehovah lief te hê as ouers ’n vreedsame milieu by die huis skep. “Die saad van die vrug van regverdigheid word onder vreedsame toestande gesaai vir diegene wat vrede maak”, het Jakobus geskryf (Jakobus 3:18). Hoe kan ouers ’n vreedsame milieu by die huis skep? ’n Egpaar moet ’n sterk huweliksband behou. ’n Man en vrou wat mekaar liefhet en respekteer, staan ’n beter kans om hulle kinders te leer om ander, insluitende Jehovah, lief te hê en te respekteer (Galasiërs 6:7; Efesiërs 5:33). Liefde en respek bevorder vrede. En ’n egpaar wat ’n vreedsame verhouding geniet, is beter in staat om konflikte te hanteer wat in die gesin kan opduik.
14 Net soos daar geen volmaakte huwelik is nie, is daar vandag natuurlik ook geen volmaakte gesin op die aarde nie. Ouers openbaar soms nie die vrugte van die gees in hulle handelinge met hulle kinders nie (Galasiërs 5:22, 23). Wat moet ouers doen wanneer dit gebeur? Sal ’n kind minder respek vir hulle hê as hulle erken dat hulle ’n fout gemaak het? Neem die apostel Paulus as voorbeeld. Hy was vir baie soos ’n geestelike vader (1 Korintiërs 4:15). Tog het hy openlik erken dat hy foute gemaak het (Romeine 7:21-25). Sy nederigheid en eerlikheid maak egter dat ons groter respek vir hom het, nie minder nie. Ondanks sy tekortkominge kon Paulus met vrymoedigheid aan die gemeente in Korinte skryf: “Word navolgers van my, net soos ek dit van Christus is” (1 Korintiërs 11:1). As julle ook julle foute erken, sal julle kinders waarskynlik julle tekortkominge oor die hoof sien.
15, 16. Waarom moet ouers hulle kinders leer om hulle Christenbroers en -susters lief te hê, en hoe kan dit gedoen word?
15 Wat kan ouers nog doen om ’n milieu te skep waarin hulle kinders Jehovah kan leer liefkry? Die apostel Johannes het geskryf: “As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar. Want hy wat sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan God nie liefhê, wat hy nie gesien het nie” (1 Johannes 4:20, 21). Wanneer julle julle kinders leer om hulle Christenbroers en -susters lief te hê, leer julle hulle dus om God lief te hê. Ouers kan hulle gerus afvra: ‘Is die algemene toon van my gesprekke oor die gemeente aanmoedigend of krities?’ Hoe sal julle weet? Luister aandagtig na die manier waarop julle kinders oor die vergaderinge en gemeentelede praat. Julle sal waarskynlik julle gedagtes in hulle kommentare hoor.
16 Wat kan ouers doen om hulle kinders te help om hulle geestelike broers lief te hê? Peter, die pa van twee tienerseuns, sê: “Vandat ons seuns klein was, het ons gereeld geestelik ryp persone genooi om by ons te kom eet en by ons te kuier, en ons het dit baie geniet. Terwyl ons seuns grootgeword het, het hulle met mense geassosieer wat Jehovah liefhet, en vandag beskou hulle diens aan God as ’n genotvolle lewenswyse.” Dennis, die pa van vyf dogters, sê: “Ons het ons dogters aangemoedig om met die ouer pioniers in die gemeente vriende te maak, en wanneer moontlik het ons aan reisende opsieners en hulle vrouens gasvryheid betoon.” Kan julle ook die inisiatief neem om julle kinders te help om die gemeente as ’n uitbreiding van julle gesin te beskou?—Markus 10:29, 30.
’n Kind se verantwoordelikheid
17. Watter besluit moet kinders uiteindelik maak?
17 Beskou weer eens die illustrasie van die boogskutter. Al is hy vaardig, is dit onwaarskynlik dat hy die teiken sal tref as die pyl wat hy afskiet, kromgetrek het. Ouers sal natuurlik hulle uiterste bes doen om as ’t ware die krom pyl reguit te maak deur ’n kind se verkeerde denke te probeer regstel. Maar kinders moet uiteindelik self besluit of hierdie wêreld hulle volgens sy wil gaan buig en of hulle Jehovah gaan toelaat om hulle “paaie reguit” te maak.—Spreuke 3:5, 6; Romeine 12:2.
18. Watter uitwerking kan ’n kind se keuse op ander hê?
18 Hoewel ouers ’n gewigtige verantwoordelikheid het om hulle kinders in “die dissipline en verstandsregulering van Jehovah” groot te maak, is dit uiteindelik die kind self wat moet besluit watter soort mens hy gaan word (Efesiërs 6:4). Kinders, vra julle dus af: ‘Sal ek die liefdevolle opleiding aanvaar wat my ouers voorsien?’ As julle dit doen, sal julle die beste moontlike lewenswyse kies. Julle sal julle ouers baie gelukkig maak. Nog belangriker, julle sal Jehovah se hart bly maak.—Spreuke 27:11.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Hoe kan ouers ’n goeie voorbeeld stel wat gebed en Bybelstudie betref?
• Hoe kan ouers ’n vreedsame milieu by die huis skep?
• Watter keuse moet kinders maak, en watter uitwerking sal hulle keuse op ander hê?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 28]
Stel jy ’n goeie voorbeeld vir jou kind wat persoonlike studie betref?
[Prent op bladsy 29]
’n Vreedsame gesinsmilieu dra by tot geluk