Vrae van lesers
Vrae van lesers
Die Bybel maak nie melding van heildronke nie; waarom neem Jehovah se Getuies dan nie daaraan deel nie?
Die gebruik om ’n heildronk met ’n glasie wyn (of ander alkoholiese drankie) in te stel, is iets wat al baie lank en op baie plekke beoefen word, hoewel die besonderhede van plek tot plek kan verskil. Soms word daar tydens ’n heildronk glasies geklink. Die persoon wat die heildronk instel, wens iemand gewoonlik geluk, goeie gesondheid, ’n lang lewe en so meer toe. Ander wat aan die heildronk deelneem, beaam dalk wat gesê is of lig hulle glase en drink ’n bietjie wyn. Vir baie lyk dit na ’n onskadelike gebruik of sosiale gewoonte, maar daar is goeie redes waarom Jehovah se Getuies nie aan heildronke deelneem nie.
Dit is nie omdat Christene nie wil hê dat iemand geluk moet vind en goeie gesondheid moet geniet nie. In ’n brief aan die gemeentes het die eerste-eeuse bestuursliggaam afgesluit met ’n woord wat vertaal kan word met “mag julle goeie gesondheid geniet”, “mag dit goed gaan” of “voorspoed” (Handelinge 15:29). En party ware aanbidders het vir mensekonings gesê: “Mag my heer . . . tot onbepaalde tyd lewe” of “Mag die koning tot onbepaalde tyd lewe”.—1 Konings 1:31; Nehemia 2:3.
Maar wat is die oorsprong van heildronke? Die Wagtoring van 15 Junie 1968 het The Encyclopædia Britannica (1910), Deel 13, bladsy 121, aangehaal: “Die gebruik om op die lewendes se ‘gesondheid’ te drink, is heel waarskynlik afkomstig van die eertydse godsdiensritus om op die gode en die dooies te drink. Die Grieke en Romeine het tydens maaltye drankoffers vir hulle gode uitgegiet en by seremoniële feesmaaltye op hulle en die dooies gedrink.” Die ensiklopedie het bygevoeg: “Die gebruik om op die gesondheid van lewende mense te drink, het ongetwyfeld nog altyd ten nouste verband gehou met hierdie sogenaamde drankoffergebruike.”
Is dit nog die geval? Die International Handbook on Alcohol and Culture van 1995 sê: “[Heildronke] is waarskynlik ’n sekulêre oorblyfsel van eertydse drankoffers waarin ’n heilige vloeistof aan die gode geoffer is: bloed of wyn in ruil vir ’n wens, ’n gebed wat saamgevat word in die woorde ‘lank lewe . . . !’ of ‘op jou gesondheid!’”
Die feit dat ’n voorwerp, ’n ontwerp of ’n gebruik uit eertydse valse godsdiens voortgespruit het of ooreenkomste daarmee toon, maak dit wel nie altyd taboe vir ’n ware aanbidder nie. Neem byvoorbeeld die granaat. ’n Welbekende Bybelensiklopedie sê: “Dit lyk of die granaat ook in heidense godsdienste as ’n heilige simbool gebruik is.” Nietemin het God beveel dat granaatjies van garing aan die soom van die hoëpriester se kleed gemaak moet word, en granate het die koperpilare van Salomo se tempel versier (Eksodus 28:33; 2 Konings 25:17). Ook die trouring het eens op ’n tyd ’n godsdienstige betekenis gehad. Maar vandag is die meeste mense onbewus daarvan en beskou hulle ’n trouring bloot as ’n bewys dat iemand getroud is.
Wat van die gebruik van wyn in verband met godsdiensdade? Byvoorbeeld, op een stadium het Baälaanbiddende manne van Sigem “in die huis van hulle god ingegaan en geëet en gedrink en ’n vloek [uitgespreek] oor Abimeleg”, Gideon se seun (Rigters 9:22-28). Dink jy iemand wat lojaal aan Jehovah was, sou aan daardie drinkery deelgeneem het en miskien ’n beroep op die gode gedoen het om teen Abimeleg op te tree? Met verwysing na ’n tyd toe baie in Israel teen Jehovah in opstand gekom het, het Amos gesê: “Hulle [strek] hulle langs elke altaar uit; en die wyn van dié wat beboet is, drink hulle in die huis van hulle gode” (Amos 2:8). Sou ware aanbidders daaraan deelgeneem het, hetsy die wyn as ’n drankoffer vir die gode uitgegiet is of net in dié verband gedrink is? (Jeremia 7:18). Of sou ’n ware aanbidder ’n glas wyn lig en vra dat die gode met iemand moet wees of hom ’n geseënde toekoms moet gee?
Interessant genoeg, aanbidders van Jehovah het soms hulle hande opgehef en gevra dat iets goed afloop. Hulle het hulle hande tot die ware God opgehef. Ons lees: “Salomo het voor die altaar van Jehovah gaan staan . . . en hy het toe sy palms na die hemel uitgestrek; en hy het gesê: ‘O Jehovah, die God van Israel, daar is . . . geen God soos u nie . . . en mag u hoor in u woonplek, in die hemel, en u moet hoor en vergewe’” (1 Konings 8:22, 23, 30). Ook “Esra [het] Jehovah . . . geloof, waarop die hele volk geantwoord het: ‘Amen! Amen!’ terwyl hulle hulle hande opgehef het. Hulle het toe laag gebuig en hulle voor Jehovah neergewerp” (Nehemia 8:6; 1 Timoteus 2:8). Dit is duidelik dat hierdie lojales nie hulle hande na die hemel opgehef het om ’n seën van ’n geluksgod te vra nie.—Jesaja 65:11.
Baie mense wat vandag aan heildronke deelneem, dink miskien nie dat hulle ’n reaksie of seën van die een of ander god vra nie, maar hulle kan ook nie verduidelik waarom hulle hulle glase omhoog hou nie. Die feit dat hulle die saak nie deurdink nie, is egter geen rede vir ware Christene om verplig te voel om dieselfde gebare as hulle te maak nie.
Dit is algemeen bekend dat Jehovah se Getuies ook in ander sake nie die gebare van die meeste mense nadoen nie. Baie mense maak byvoorbeeld ’n gebaar voor ’n nasionale embleem, of vlag; hulle beskou hierdie gebare nie as dade van aanbidding nie. Ware Christene verhinder ander nie om dit te doen nie, maar hulle neem persoonlik nie daaraan deel nie. As hulle so ’n seremonie te wagte was, het baie Getuies oordeelkundig opgetree sodat hulle ander nie aanstoot gee nie. Hoe dit ook al sy, hulle is vasbeslote om nie patriotiese gebare te maak nie, iets wat in stryd met die Bybel is (Eksodus 20:4, 5; 1 Johannes 5:21). Vandag beskou baie mense heildronke dalk nie as iets wat met godsdiens verband hou nie. Daar is nietemin grondige redes waarom Christene nie deelneem aan heildronke nie, wat ’n godsdienstige agtergrond het en selfs vandag beskou kan word as ’n seën wat van die ‘hemel’ afgesmeek word, asof daar hulp van ’n bonatuurlike mag gevra word.—Eksodus 23:2.