Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Ek is lief vir u herinneringe’

‘Ek is lief vir u herinneringe’

‘Ek is lief vir u herinneringe’

“Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf.”—ROMEINE 15:4.

1. Hoe gee Jehovah ons herinneringe, en waarom het ons dit nodig?

 JEHOVAH gee sy volk herinneringe om hulle te help om die druk van hierdie moeilike tye die hoof te bied. Party van hierdie herinneringe kom na vore gedurende persoonlike Bybellees, terwyl ander in die vorm van inligting of kommentare by Christelike vergaderinge aangebied word. Baie van wat ons by hierdie geleenthede lees of hoor, is nie vir ons nuut nie. Ons het waarskynlik soortgelyke inligting al tevore bespreek. Maar aangesien ons vergeetagtig is, moet ons ons geheue voortdurend verfris aangaande Jehovah se voornemens, wette en instruksies. Ons moet God se herinneringe waardeer. Dit hernieu ons gees deur ons te help om die redes in gedagte te hou wat ons beweeg het om ’n godvrugtige lewenswyse aan te neem. Die psalmis het dus tot Jehovah gesing: “Ek [is] lief vir u herinneringe.”—Psalm 119:24.

2, 3. (a) Waarom het Jehovah die lewensverhale van Bybelkarakters tot in ons dag bewaar? (b) Watter verslae uit die Skrif sal in hierdie artikel bespreek word?

2 Hoewel God se Woord eeue gelede geskryf is, is dit kragtig (Hebreërs 4:12). Dit voorsien ons van juiste verslae oor die lewens van Bybelkarakters. Hoewel gebruike en beskouings sedert Bybeltye baie verander het, is die uitdagings waarvoor ons te staan kom, dikwels baie dieselfde as dié wat destyds ontstaan het. Baie verhale wat tot ons voordeel in die Bybel bewaar is, bied ons treffende voorbeelde van mense wat Jehovah liefgehad het en hom ondanks ongunstige omstandighede getrou gedien het. Ander verslae vestig die aandag op die soort gedrag wat God haat. Jehovah het al hierdie persoonlike verslae, goed en sleg, in die Bybel laat insluit as herinneringe. Dit is soos die apostel Paulus geskryf het: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Romeine 15:4.

3 Kom ons kyk na drie verslae in die Skrif: die verslag van Dawid se handelinge met Saul, dié van Ananias en Saffira en dié van Josef se gedrag teenoor Potifar se vrou. Elkeen van hierdie verslae leer ons waardevolle lesse.

Lojaliteit teenoor God se reëlings

4, 5. (a) Watter situasie het bestaan met betrekking tot koning Saul en Dawid? (b) Hoe het Dawid op Saul se vyandigheid gereageer?

4 Koning Saul was ontrou aan Jehovah en nie waardig om oor Sy volk te regeer nie. Daarom het God hom verwerp en die profeet Samuel beveel om Dawid as die toekomstige koning van Israel te salf. Toe Dawid getoon het dat hy ’n vaardige krygsman is en die volk hom geprys het, het Saul Dawid as ’n mededinger begin beskou. Saul het hom herhaaldelik probeer doodmaak. Dawid het elke aanslag op sy lewe oorleef omdat Jehovah met hom was.—1 Samuel 18:6-12, 25; 19:10, 11.

5 Dawid moes jare lank as ’n vlugteling lewe. Toe hy die geleentheid gekry het om Saul dood te maak, het Dawid se metgeselle hom aangespoor om dit te doen en gesê dat Jehovah Dawid se vyand in sy hand gee. Maar Dawid het geweier om dit te doen. Sy lojaliteit teenoor Jehovah en sy respek vir Saul se posisie as gesalfde koning van God se volk het hom beweeg om so op te tree. Jehovah het Saul as koning van Israel aangestel, nie waar nie? Jehovah sal hom ook verwyder wanneer hy dit goeddink. Dawid het geredeneer dat hy nie die reg het om in te meng nie. Nadat hy alles gedoen het wat hy onder die omstandighede kon doen om Saul se vyandigheid teenoor hom te versag, het Dawid tot die slotsom gekom: “Jehovah sal hom tref; of sy dag sal kom en hy sal moet sterf, of hy sal in die oorlog aftrek en sal beslis weggevee word. Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, om my hand teen die gesalfde van Jehovah uit te steek!”—1 Samuel 24:3-15; 26:7-20.

6. Waarom is die verhaal van Dawid en Saul vir ons van belang?

6 Hierdie verslag bevat ’n baie belangrike les. Het jy al ooit gewonder waarom sekere probleme in die Christengemeente ontstaan? Dalk tree iemand op ’n ongepaste wyse op. Wat hy doen, is miskien nie ’n ernstige oortreding nie, maar dit ontstel jou. Hoe moet jy reageer? Uit Christelike belangstelling in daardie persoon en uit lojaliteit teenoor Jehovah kan jy besluit om op ’n vriendelike wyse met hom te praat, met die doel om hom te wen. Maar sê nou die probleem duur voort? Nadat jy alles gedoen het wat jy redelikerwys kan, wil jy moontlik die saak in Jehovah se hande laat. Dit is wat Dawid gedoen het.

7. Hoe moet ons in navolging van Dawid reageer as ons met onregverdigheid of vooroordeel te kampe het?

7 Of miskien het jy te kampe met probleme soos maatskaplike onregverdigheid of godsdiensvooroordeel. Daar is moontlik min of niks wat jy op die oomblik daaromtrent kan doen nie. Dit kan baie moeilik wees om so ’n situasie te verduur, maar Dawid se reaksie op onregverdigheid leer ons ’n les. Die psalms wat Dawid geskryf het, is nie net ’n roerende verslag van sy innige gebede tot God om hom nie in Saul se hande te laat val nie, maar ook van sy lojaliteit teenoor Jehovah en sy besorgdheid oor die verheerliking van God se naam (Psalm 18:1-6, 25-27, 30-32, 48-50; 57:1-11). Dawid het lojaal gebly aan Jehovah al het Saul jare lank onregverdig opgetree. Ons moet ook getrou bly aan Jehovah en aan sy organisasie ondanks onregte wat ons ly en ongeag wat ander doen. Ons kan verseker wees dat Jehovah ten volle bewus is van die situasie.—Psalm 86:2.

8. Hoe het Jehovah se Getuies in Mosambiek gereageer toe hulle lojaliteit teenoor Jehovah op die proef gestel is?

8 Christene in Mosambiek is ’n hedendaagse voorbeeld van sommige wat ten tye van ’n toets lojaal gebly het aan Jehovah. In 1984 is hulle dorpies herhaaldelik aangeval deur gewapende lede van ’n weerstandsbeweging, wat eiendom geplunder, huise afgebrand en mense doodgemaak het. Dit het gelyk of hierdie ware Christene nie veel kon doen om hulle te verdedig nie. Pogings is aangewend om die bewoners van die gebied vir ’n militêre beweging te werf of om hulle te dwing om dit op ander maniere te ondersteun. Jehovah se Getuies het dit beskou as ’n skending van hulle Christelike neutraliteit. Hulle weiering het ’n woedende reaksie uitgelok. Tot 30 Getuies is gedurende hierdie onstuimige tyd doodgemaak, maar nie eens die feit dat hulle met die dood gedreig is, kon die lojaliteit van God se volk ondermyn nie. a Soos Dawid, het hulle onregte verduur maar uiteindelik geseëvier.

’n Waarskuwende herinnering

9, 10. (a) Hoe kan ons baat vind by sekere skriftuurlike voorbeelde? (b) In watter opsig was Ananias en Saffira se dade verkeerd?

9 Party van die mense wat in die Skrif genoem word, dien as waarskuwende herinneringe omtrent gedrag wat vermy moet word. Ja, die Bybel bevat baie verslae van mense, selfs onder God se knegte, wat gesondig het en die gevolge daarvan moes dra (1 Korintiërs 10:11). Een van hierdie verslae is dié van Ananias en Saffira, ’n egpaar wat lede van die eerste-eeuse Christengemeente in Jerusalem was.

10 Ná Pinkster 33 G.J. het die behoefte ontstaan om materieel om te sien na nuwe gelowiges wat in Jerusalem agtergebly het sodat hulle kon baat vind by assosiasie met die apostels. Party lede van die gemeente het eiendom verkoop om te verseker dat niemand gebrek ly nie (Handelinge 2:41-45). Ananias en Saffira het ’n stuk grond verkoop en net ’n deel van die opbrengs na die apostels gebring, terwyl hulle gesê het dat hulle gawe die hele verkoopprys verteenwoordig. Ananias en Saffira het weliswaar die reg gehad om so baie of so min te gee as wat hulle wou, maar hulle beweegrede was sleg en hulle dade oneerlik. Hulle wou ’n goeie indruk skep en voorgee dat hulle meer doen as wat werklik die geval was. Onder inspirasie van die heilige gees het die apostel Petrus hulle oneerlikheid en huigelary blootgelê, en Jehovah het hulle gedood.—Handelinge 5:1-10.

11, 12. (a) Wat is ’n paar herinneringe in verband met eerlikheid? (b) Watter voordele bring eerlikheid mee?

11 Mag die verhaal van Ananias en Saffira as ’n kragtige herinnering dien as ons ooit in die versoeking kom om die waarheid te verdraai in ’n poging om ’n goeie indruk by mense te skep. Ons slaag dalk daarin om ander mense om die bos te lei, maar ons kan Jehovah nooit bedrieg nie (Hebreërs 4:13). Die Skrif maan ons keer op keer om eerlik te wees met mekaar, want daar sal geen plek vir leuenaars wees op ’n aarde wat van onregverdigheid gereinig is nie (Spreuke 14:2; Openbaring 21:8; 22:15). Die rede hiervoor behoort voor die hand liggend te wees. Die voorstander van alle valsheid is niemand anders nie as Satan die Duiwel.—Johannes 8:44.

12 As ons eerlikheid ’n lewenswyse maak, bring dit baie voordele mee. Dit sluit onder meer ’n skoon gewete in en die bevrediging dat ander ons vertrou. In baie gevalle het Christene werk gekry, of hulle werk behou, omdat hulle eerlik is. Maar die allerbelangrikste voordeel is dat eerlikheid ons die vriendskap van God die Almagtige wen.—Psalm 15:1, 2

Handhaaf kuisheid

13. In watter situasie het Josef hom bevind, en hoe het hy gereageer?

13 Josef, ’n seun van die aartsvader Jakob, is op die ouderdom van 17 as ’n slaaf verkoop. Josef het uiteindelik in die huis van Potifar, ’n Egiptiese hofbeampte, beland, waar hy die oog van sy meester se vrou gevang het. Sy wou geslagsomgang hê met Josef, wat ’n aantreklike jong man was, en sy het hom dag na dag aangespoor: “Kom lê by my.” Josef was ver van sy gesin in ’n land waar niemand hom geken het nie. Hy kon maklik geslagsomgang met hierdie vrou gehad het sonder dat ander mense daarvan geweet het. Maar toe Potifar se vrou hom uiteindelik gegryp het, het Josef gevlug.—Genesis 37:2, 18-28; 39:1-12.

14, 15. (a) Waarom is Josef se verhaal vir ons van belang? (b) Waarom was een Christenvrou dankbaar dat sy ag geslaan het op God se herinneringe?

14 Josef is in ’n godvresende gesin grootgemaak, en hy het besef dat geslagsomgang tussen mense wat nie man en vrou is nie, verkeerd is. “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?” het hy gevra. Sy gevolgtrekking is waarskynlik gerig deur kennis van God se standaard vir mense, soos uitgedruk in Eden, naamlik monogamie (Genesis 2:24). God se hedendaagse volk kan daarby baat vind om na te dink oor die manier waarop Josef op daardie situasie gereageer het. In party gebiede is gesindhede teenoor geslagsomgang so permissief dat jongmense wat weier om by onsedelikheid betrokke te raak, deur hulle portuurs bespot word. Buite-egtelike omgang tussen volwassenes is algemeen. Gevolglik is Josef se verhaal vir ons ’n tydige herinnering. God se standaard is nog steeds dat hoerery en egbreuk sondes is (Hebreërs 13:4). Baie wat geswig het voor druk om hulle aan ongeoorloofde geslagsomgang skuldig te maak, is dit eens dat daar dwingende rede is om dit nie te doen nie. Van die ongewenste gevolge kan ’n gevoel van vernedering, ’n gekwelde gewete, jaloesie, swangerskap en seksueel oordraagbare siektes wees. Dit is net soos die Skrif vir ons sê: Iemand wat hoerery beoefen, “sondig teen sy eie liggaam”.—1 Korintiërs 5:9-12; 6:18; Spreuke 6:23-29, 32.

15 Jenny, b ’n ongetroude Getuie van Jehovah, het rede om God se herinneringe te waardeer. ’n Aantreklike kollega het by haar toenadering begin soek by die werk. Toe Jenny nie daarop reageer nie, het hy sy pogings verskerp. “Ek het dit moeilik gevind om kuis te bly”, erken sy, “want dit is vleiend wanneer iemand van die teenoorgestelde geslag aan jou aandag skenk.” Maar sy het besef dat die man haar maar net wou voeg by die lys vroue met wie hy reeds omgang gehad het. Wanneer sy gevoel het dat haar voorneme om die druk te weerstaan, begin verswak het, het sy Jehovah gevra om haar te help om getrou te bly aan Hom. Jenny het gevind dat die dinge wat sy geleer het terwyl sy navorsing in die Bybel en Christelike publikasies gedoen het, herinneringe was wat haar aangespoor het om op haar hoede te bly. Een van hierdie herinneringe was die verhaal van Josef en Potifar se vrou. “Solank ek my bly herinner aan hoe lief ek vir Jehovah is”, sluit sy af, “hoef ek nie bang te wees dat ek hierdie groot kwaad sal doen en teen hom sal sondig nie.”

Slaan ag op God se herinneringe!

16. Hoe kan ons daarby baat vind om die lewensverhale van persone wat in die Bybel gemeld word, te hersien en daaroor te peins?

16 Ons kan almal ons waardering vir Jehovah se standaarde vergroot deur te probeer verstaan waarom hy sekere verslae in die Skrif vir ons bewaar het. Wat leer dit ons? Watter eienskappe of neigings wat deur die Bybelkarakters geopenbaar is, moet ons navolg of vermy? Letterlik honderde persone maak hulle verskyning op die bladsye van God se Woord. Almal wat goddelike onderrigting liefhet, moet ’n aptyt ontwikkel vir lewegewende wysheid, insluitende lesse wat ons kan leer uit die voorbeelde wat Jehovah sorgvuldig bewaar het. Hierdie tydskrif het al dikwels artikels oor sulke persone bevat uit wie se verhale ons iets kan leer. Bestee gerus tyd daaraan om hierdie verhale te hersien.

17. Hoe voel jy oor Jehovah se herinneringe, en waarom?

17 Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die liefdevolle besorgdheid wat Jehovah openbaar teenoor diegene wat sy wil probeer doen! Ons is beslis nie volmaak nie, net soos die mans en vroue wat in die Bybel gemeld word, nie volmaak was nie. Maar die geskrewe verslag van hulle dade is vir ons ’n baie waardevolle hulpmiddel. Deur op Jehovah se herinneringe ag te slaan, kan ons foute vermy wat ons duur te staan kan kom, en ons kan die goeie voorbeelde navolg van diegene wat in die weë van regverdigheid gewandel het. As ons dit doen, sal ons saam met die psalmis kan sing: “Gelukkig is dié wat [Jehovah se] herinneringe onderhou; met hulle hele hart bly hulle hom soek. My siel het u herinneringe onderhou, en ek het hulle baie lief.”—Psalm 119:2, 167.

[Voetnote]

a Sien die 1996 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 160-2.

b Naam is verander.

Hoe sal jy antwoord?

• Wat kan ons leer uit Dawid se gesindheid teenoor Saul?

• Wat leer ons uit die verslag van Ananias en Saffira?

• Waarom is Josef se lewensverhaal vandag van besondere belang?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Waarom het Dawid geweier om Saul te laat doodmaak?

[Prent op bladsy 27]

Wat leer ons uit die verslag van Ananias en Saffira?

[Prent op bladsy 28]

Waarom het Josef onsedelike toenaderings verwerp?