Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Was net die twee kliptafels in die verbondsark, of was daar ook ander items daarin?

Toe Salomo se tempel in 1026 v.G.J. toegewy is, “was [daar] niks in die Ark nie behalwe die twee tafels wat Moses in Horeb gegee het, toe Jehovah met die kinders van Israel ’n verbond gesluit het by hulle uittog uit Egipte” (2 Kronieke 5:10). Maar dit was nie altyd die geval nie.

“In die derde maand nadat die kinders van Israel uit Egipteland uitgetrek het”, het hulle die wildernis Sinai ingegaan (Eksodus 19:1, 2). Daarna het Moses teen die berg Sinai opgeklim en die twee kliptafels van die Wet ontvang. Hy vertel: “Toe het ek omgedraai en teen die berg afgeklim en die tafels in die ark gesit wat ek gemaak het, sodat dit daar sou bly, net soos Jehovah my beveel het” (Deuteronomium 10:5). Dit was ’n tydelike ark, of kis, wat Jehovah vir Moses gesê het om te maak vir die tafels van die Wet (Deuteronomium 10:1). Die verbondsark was eers omstreeks die einde van 1513 v.G.J. gereed.

Kort ná hulle verlossing uit Egipte het die Israeliete oor voedsel begin murmureer. Jehovah het dus vir hulle manna voorsien (Eksodus 12:17, 18; 16:1-5). Toe het Moses vir Aäron gesê: “Neem ’n kruik en plaas daarin ’n gomer vol manna en sit dit voor Jehovah neer as iets wat in al julle geslagte bewaar moet word.” Die verslag sê: “Net soos Jehovah Moses beveel het, het Aäron dit voor die Getuienis [’n argief vir die bewaring van belangrike dokumente] neergesit as iets wat bewaar moes word” (Eksodus 16:33, 34). Hoewel Aäron ongetwyfeld by daardie geleentheid die manna in ’n kruik bymekaargemaak het, kon hy dit eers voor die Getuienis neersit nadat Moses die Ark gemaak en die tafels daarin gesit het.

Soos alreeds genoem is, is die verbondsark laat in 1513 v.G.J. gemaak. Aäron se staf is veel later in daardie Ark geplaas, ná die opstand van Korag en ander. Die apostel Paulus noem “die verbondsark . . . , waarin die goue kruik met die manna was en die staf van Aäron wat gebot het en die tafels van die verbond”.—Hebreërs 9:4.

Die manna was ’n voorsiening van God gedurende die Israeliete se 40 jaar lange trek deur die wildernis. Dit is nie meer voorsien toe ‘hulle van die opbrengs van die [beloofde] land begin eet het’ nie (Josua 5:11, 12). Aäron se staf is in die verbondsark geplaas vir ’n doel—om as ’n teken vir of as ’n getuienis teen die opstandige geslag te dien. Dit gee te kenne dat die staf ten minste vir die duur van die reis deur die wildernis daar gebly het. Die logiese gevolgtrekking is dus dat Aäron se staf en die goue kruik met die manna uit die verbondsark verwyder is, die een of ander tyd nadat Israel die Beloofde Land ingegaan het en voordat Salomo se tempel toegewy is.