God word verheerlik in die Filippynse berge
God word verheerlik in die Filippynse berge
As jy aan die Filippyne as ’n eilandgroep dink, is jy reg. Maar dit is ook ’n land met indrukwekkende berge. Jehovah se Getuies het die predikingswerk in die stede en laagliggende gebiede redelik maklik en doeltreffend gevind. Maar die bergagtige gebiede is ’n heeltemal ander saak.
DIE pragtige berge van die land vorm ’n skerp teenstelling met die strande, die koraalriwwe, die vissersdorpies en die besige dorpe op die eilandvlaktes. Die berge bied ook ’n uitdaging omdat dit moeilik is om die “goeie nuus” van God se Koninkryk daar te verkondig.—Matteus 24:14.
Die Filippynse Eilande is geleë op ’n plek waar twee tektoniese plate teen mekaar druk. Die plooiing van die land in hierdie gebied het skerp bergrûe op die groter eilande gevorm. Die meer as 7 100 eilande waaruit die Filippyne bestaan, is op die westelike boog van die Pasifiese Vuurgordel geleë. Daar is derhalwe baie vulkane op die eilande, wat ook bydra tot die vorming van die bergagtige landskap. Hierdie ruwe terrein het die bergbewoners afgesonder. Dit is moeilik om hulle te bereik, want daar is betreklik min paaie wat vir voertuie geskik is.
Jehovah se Getuies het besef dat hulle ten spyte van hierdie struikelblokke “alle soorte mense” moet bereik (1 Timoteus 2:4). Daarom het Getuies in die Filippyne in ooreenstemming met die gees van Jesaja 42:11, 12 gehandel: “Laat die bewoners van die krans van vreugde uitroep. Laat mense van die top van die berge af hard uitroep. Laat hulle heerlikheid aan Jehovah toeskryf, en laat hulle op die eilande sy lof verkondig.”
Besliste pogings om vir die bergbewoners te getuig, het meer as 50 jaar gelede begin. Ná die Tweede Wêreldoorlog het sendelinge gehelp om die werk ’n stoot te gee. Baie plaaslike bewoners het Bybelwaarheid aangeneem en op hulle beurt gehelp om hierdie waarheid in dorpies hoog in die berge bekend te maak. Dit het goeie resultate opgelewer. In die Cordillera Central-berge van noordelike Luzon is
daar byvoorbeeld meer as 6 000 verkondigers van die goeie nuus. Die meeste van hulle is lede van die inheemse volke, waaronder die Ibaloi, Ifugao en Kalinga.Maar daar is nog steeds moeilik bereikbare gebiede in die berge. Die mense wat daar woon, is nie vergeet nie. Hoe is sommige van hulle bereik, en wat was die reaksie?
Ware geloof vervang tradisie
Die bergagtige gebiede van die provinsie Abra, op die noordelike eiland Luzon, word deur die Tinggiane bewoon. Hierdie naam is moontlik afkomstig van die ou Maleise woord tinggi, wat “berg” beteken. Dit is inderdaad uiters gepas! Die mense noem hulleself en hulle taal ook Itneg. Hulle glo in ’n god met die naam Kabunian, en hulle daaglikse lewe word grootliks deur bygelowe beïnvloed. Dit word byvoorbeeld as ’n slegte voorteken beskou as iemand wat beplan om êrens heen te gaan, sou nies. Hy moet dan ’n paar uur wag sodat die slegte uitwerking kan verdwyn.
In 1572 het die Spanjaarde Katolisisme ingebring, maar hulle het nagelaat om die Tinggiane die ware Christelike godsdiens te leer. Diegene wat wel Katolieke geword het, het vasgehou aan hulle geloof in Kabunian en het volkstradisies gevolg. Juiste kennis van die Bybel het hierdie mense die eerste keer in die 1930’s bereik toe Jehovah se Getuies die Koninkryksboodskap in dié berge begin verkondig het. Talle opregte Tinggiane het Jehovah sedertdien “van die top van die berge af” begin verheerlik.
Lingbaoan was byvoorbeeld voorheen ’n gerespekteerde stamhoof in die gebied. Hy was diep betrokke by die Tinggiaanse kultuur. “Ek het die Tinggiaanse tradisies getrou gevolg. As iemand gesterf het, het ons ná die begrafnis ’n dans uitgevoer, en ons het op ghongs geslaan. Ons het ook diereofferandes
gebring. Ons het in Kabunian geglo, en ek het nie die God van die Bybel geken nie.” Dit was ondanks die feit dat hy in naam ’n Katoliek was.Bedienaars van Jehovah se Getuies het in daardie gebied kom getuig. Hulle het Lingbaoan ontmoet en hom aangespoor om die Bybel te lees. Hy sê: “Dit was die Bybel wat my oortuig het dat Jehovah die ware God is.” ’n Getuie het toe die Bybel met hom gestudeer, en Lingbaoan het besluit om die ware God te dien. Hy het sy vorige weë laat vaar, onder andere sy posisie as stamleier, ’n stap wat die plaaslike priester en Lingbaoan se voormalige vriende woedend gemaak het. Lingbaoan was egter vasbeslote om die waarhede te volg wat hy in die Bybel gevind het. Hy dien nou as ’n gemeentelike ouer man.
Sewe dae en ses nagte
Hoewel sommige dele van Abra die goeie nuus nou redelik gereeld hoor, is ander dele verafgeleë en ontvang hulle net af en toe ’n getuienis. ’n Tydjie gelede is ’n poging aangewend om een van hierdie gebiede te bereik. ’n Groep van 35 Getuies het vertrek om die predikingswerk in ontoegekende gebied te gaan doen in Tineg, Abra, ’n plek wat 27 jaar laas met die boodskap bereik is.
Hierdie predikingstog is te voet aangepak en het sewe dae geduur. Stel jou voor dat jy hangbrûe en diep riviere moet oorsteek en ure lank oor bergrûe moet stap terwyl jy jou benodigdhede dra—dit alles om die goeie nuus aan mense te verkondig wat dit selde hoor! Die groep het vier van die ses nagte wat die tog geduur het, in die ope lug in die berge geslaap.
Hoewel die moedige Getuies wat die reis onderneem het, kos saamgeneem het, kon hulle nie genoeg vir die hele tog dra nie. Dit was egter nie ’n probleem nie, want mense was maar alte gewillig om kos in ruil vir Bybelpublikasies te gee. Die Getuies het baie plaasprodukte, vis en hertevleis ontvang. Hoewel hulle soms ongemak moes verduur, het die groep gesê: “Die oorvloedige vreugde wat ons ervaar het, het vir hierdie opofferings vergoed.”
Gedurende die sewe dae het hierdie bedienaars in tien dorpies getuig en 60 boeke, 186 tydskrifte, 50 brosjures en baie traktate versprei. Hulle het aan 74 groepe mense gedemonstreer hoe Bybelstudies gehou word. In die dorpie Tineg is daar op versoek van die plaaslike amptenare en ’n paar vooraanstaande burgers ’n gemeentelike vergadering gehou, wat deur 78 bygewoon is. Die gehoor het meestal uit onderwysers en polisiemanne bestaan. Hopelik sal nog baie meer Tinggiane by dié aansluit wat van die bergtoppe af “uitroep” en Jehovah loof.
Iets beters as goud
Verder suid in die Filippyne is daar eilande waar die Spanjaarde goud ontdek het. Dit het aanleiding gegee tot die naam Mindoro, ’n verkorting van die Spaanse woorde mina de oro, of “goudmyn”. Maar iets beters as goud word nou op hierdie eilande gevind—mense wat die ware God, Jehovah, wil dien.
’n Inheemse volksgroep, die Mangyans, wat uit ongeveer 125 000 mense bestaan, woon in die hartjie van die woudgebied van Mindoro. Hulle lei ’n eenvoudige lewe, het min kontak met ander en het hulle eie taal. Die meeste van
hulle is animiste en politeïste, en hulle glo aan verskeie natuurgeeste.Nou en dan, wanneer hulle kos of iets anders nodig het, kom individuele Mangyans na die kusgebiede om werk te soek. Dit was die geval met Pailing, wat behoort aan ’n subgroep van die Mangyans, wat die Batangan genoem word. Hy het onder sy mense in die bergwoude grootgeword en het die Batangan-oortuigings en -gebruike aangehang. Hulle algemene kleredrag was ’n eenvoudige lendedoek. Om ’n goeie oes te verseker, het Batangan-tradisie vereis dat aanbidders ’n hoender slag, en hulle moes die bloed in water laat drup terwyl hulle bid.
Pailing volg nie meer hierdie tradisies nie. Waarom nie? Toe hy na die laagliggende gebied gegaan het, het hy werk gekry by gesinne wat Jehovah se Getuies is. Een van hierdie gesinne het die geleentheid gebruik om Pailing van Bybelwaarhede te vertel. Hy het hierna geluister en dit werklik waardeer om van Jehovah se voorneme met die mens en die aarde te leer. Hulle het gereël dat hy laerskool toe gaan en ook die Bybel bestudeer. Pailing is as een van Jehovah se Getuies gedoop toe hy 24 was. Toe hy 30 was, was hy in sy tweede hoërskooljaar, en hy het die skool as sy velddiensgebied beskou. Nou noem hulle hom Rolando (’n naam wat in die laagliggende gebied algemeen is).
As jy Rolando ontmoet, sal jy ’n goed geklede, glimlaggende bedienaar vind wat as ’n voltydse prediker en as ’n bedieningskneg in een van die gemeentes op Mindoro dien. Rolando het onlangs na die berge teruggekeer, nie om saam met die Batangans aan hulle tradisies deel te neem nie, maar om lewegewende waarhede uit die Bybel aan hulle bekend te maak.
Gretig om ’n Koninkryksaal te kry
Die provinsie Bukidnon—wat in Cebuano “Mense van die berge” beteken—is op die suidelike eiland Mindanao geleë. Dit is ’n gebied wat uit berge, klowe, riviervalleie en plato’s bestaan. Pynappels, mielies, koffie, rys en piesangs word in hierdie vrugbare gebied gekweek. Die hooglandse stamme Talaandig en Higaonon woon daar. Hierdie mense moet ook van Jehovah leer. Die geleentheid om dit te doen, het hom onlangs naby die dorpie Talakag op ’n baie interessante manier voorgedoen.
Getuies wat die berggebiede besoek het, het ’n koel klimaat maar ’n hartlike verwelkoming daar gevind. Die plaaslike mense het gesê dat hulle in die almagtige God, die Vader, glo, maar hulle het nie geweet wat sy naam is nie. Aangesien hulle die meeste van hulle tyd in die woud deurbring, was dit die eerste keer dat hulle Jehovah se Getuies ontmoet het. God se naam is aan hulle bekend gemaak sowel as sy wonderlike voorneme in verband met die Koninkryk. Die mense was verheug, en daar is dus besluit om hulle dorpie weer te besoek.
Hulle is verskeie kere besoek. Die gevolg was dat die plaaslike bewoners ’n stuk grond aangebied het waarop ’n “huis” van Jehovah se Getuies opgerig kon word. Die Getuies het die aanbod met graagte aanvaar. Die stuk grond was bo-op die hoogste heuwel in die gebied en het op die pad uitgekyk. Die gebou is met hout, bamboes en palmblare gebou. Die projek is in drie maande en tien dae voltooi. Die naambord “Koninkryksaal van Jehovah se Getuies” kon duidelik voor die gebou gesien word. Dink net: ’n Koninkryksaal is opgerig nog voordat ’n gemeente gestig is!
’n Gemeentelike ouer man wat ’n voltydse bedienaar is, het sedertdien daarheen verhuis, asook ’n bedieningskneg. Saam met Getuies van aangrensende gebiede het hulle hulle daarop toegelê om ’n gemeente te stig. Dit het in Augustus 1998 ’n werklikheid geword. ’n Klein gemeente maak nou goed gebruik van hierdie Koninkryksaal en help die bergbewoners om Bybelwaarhede te leer.
Jehovah het sy gewillige knegte in die Filippyne inderdaad op kragtige wyse gebruik om die Koninkrykswaarheid selfs in moeilik bereikbare berggebiede te verkondig. Dit herinner ons aan Jesaja 52:7 wat sê: “Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring.”
[Kaarte op bladsy 11]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
ABRA
MINDORO
BUKIDNON
[Erkenning]
Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 10]
Predikingswerk in die berge behels ’n ure lange staptog oor ruwe terrein
[Prent op bladsy 10]
Doop in ’n bergstroom