Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God verwelkom al die nasies

God verwelkom al die nasies

God verwelkom al die nasies

OP SY eerste besoek aan Mali is John diep getref deur die hartlike gasvryheid van Mamadou en sy gesin. Terwyl John op die grond gesit en ewe lomp uit die gemeenskaplike bak geëet het, het hy gewonder wat die beste manier sou wees om ’n kosbare geskenk—die goeie nuus van die Koninkryk uit God se Woord, die Bybel—vir sy gasheer te gee. Hoewel hy Frans kan praat, ’n taal wat in Mali gepraat word, het John gewonder hoe hy met ’n gesin kon kommunikeer wat ’n heel ander godsdiensoortuiging en denkwyse het.

Dit is geen wonder dat John aan die Bybelverslag van die stad Babel gedink het nie. Daar het God die taal van die opstandige mense verwar (Genesis 11:1-9). Gevolglik het bevolkings met verskillende tale, godsdienste en denkpatrone in verskeie dele van die aarde tot stand gekom. Omdat dit vandag algemeen geword het vir mense om te reis en te emigreer, kom baie voor ’n soortgelyke uitdaging as John te staan, selfs in hulle eie buurt: Hoe om hulle Bybelse hoop aan mense met ’n ander agtergrond oor te dra?

’n Eertydse voorbeeld

Soos ander profete in Israel het Jona hoofsaaklik met die Israeliete gepraat. Hy het in ’n tyd geprofeteer toe die afvallige tienstammeryk godonterende gebruike openlik beoefen het (2 Konings 14:23-25). Stel jou Jona se reaksie voor toe hy die spesiale opdrag ontvang het om sy vaderland te verlaat en na Assirië te gaan om vir die inwoners van Nineve, mense met ’n ander godsdiens en kultuur, te getuig. Jona kon dalk nie eers die Nineviete se taal gepraat het nie, ten minste nie vlot nie. Wat die geval ook al was, Jona het blykbaar gedink dat die opdrag te moeilik was, en hy het gevlug.—Jona 1:1-3.

Dit is duidelik dat Jona moes leer dat Jehovah God verder as die blote voorkoms sien en die hart ondersoek (1 Samuel 16:7). Nadat Jehovah Jona op wonderdadige wyse van verdrinking gered het, het hy hom ’n tweede keer die opdrag gegee om vir die inwoners van Nineve te gaan getuig. Jona het die opdrag gehoorsaam, en gevolglik het die Nineviete soos een man berou getoon. Maar Jona het nog steeds nie die regte beskouing gehad nie. Deur middel van ’n kragtige aanskouingsles het Jehovah hom geleer dat hy sy gesindheid moes verander. Jehovah het vir Jona gevra: “Behoort ék nie jammer te voel vir Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat glad nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie?” (Jona 4:5-11). Wat van ons wat vandag leef? Hoe kan ons mense van ’n ander agtergrond help?

Verwelkoming van Samaritane en nie-Jode

In die eerste eeu het Jesus sy volgelinge beveel om dissipels van mense van al die nasies te maak (Matteus 28:19). Dit was nie vir hulle maklik nie. Jesus se dissipels was Jode en was, soos Jona, gewoond daaraan om net met mense van dieselfde agtergrond en kultuur te praat. Hulle is ook natuurlik beïnvloed deur die algemene vooroordele van die dag. Maar Jehovah het sake gerig sodat sy knegte progressief onderskei het wat sy wil vir hulle is.

Die eerste stap was om die vooroordeel tussen Jode en Samaritane te bowe te kom. Jode het niks met Samaritane te doen gehad nie. En tog het Jesus meer as een keer die weg vir Samaritane gebaan om in die toekoms die goeie nuus aan te neem. Hy het sy onpartydigheid getoon deur met ’n Samaritaanse vrou te praat (Johannes 4:7-26). By ’n ander geleentheid het hy deur middel van die illustrasie van die barmhartige Samaritaan vir ’n godsdienstige Jood getoon dat mense wat nie Jode is nie, ook naasteliefde kan betoon (Lukas 10:25-37). Toe die tyd aangebreek het vir Jehovah om Samaritane in die Christengemeente in te bring, het Filippus, Petrus en Johannes—wat almal Joods was—vir die inwoners van Samaria getuig. Hulle boodskap het groot vreugde in daardie stad laat ontstaan.—Handelinge 8:4-8, 14-17.

As dit vir die Joodse Christene moeilik was om Samaritane lief te hê, wat in werklikheid verlangs familie van die Jode was, was dit seker selfs nog moeiliker vir hulle om naasteliefde te betoon teenoor nie-Jode, of heidene, wat deur die Jode verag en gehaat is. Maar ná Jesus se dood kon die skeiding tussen Joodse Christene en heidene verwyder word (Efesiërs 2:13, 14). Om Petrus te help om hierdie nuwe reëling te aanvaar, het Jehovah hom ’n visioen gegee waarin Hy vir hom gesê het om “op [te hou] om die dinge wat God gereinig het, verontreinig te noem”. Jehovah se gees het hom toe na ’n nie-Jood met die naam Kornelius gelei. Toe Petrus God se beskouing verstaan het—dat hy nie hierdie man van die nasies verontreinig moet noem nie, aangesien God hom gereinig het—het hy onder inspirasie gesê: “Ek sien vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:9-35). Hoe verbaas moes Petrus tog gewees het toe God getoon het dat hy Kornelius en sy gesin aanvaar deur heilige gees oor hulle uit te stort!

Paulus—’n uitverkore vat na die nasies

Paulus se bediening is ’n uitstekende voorbeeld van hoe Jehovah sy knegte progressief daarop voorberei om alle soorte mense lief te hê en te help. Toe Paulus bekeer is, het Jesus gesê dat Paulus as ’n uitverkore vat sou dien om Sy naam na die nasies te dra (Handelinge 9:15). Paulus het toe na Arabië gegaan, moontlik om na te dink oor God se voorneme om hom te gebruik om die goeie nuus aan die nasies bekend te maak.—Galasiërs 1:15-17.

Gedurende Paulus se eerste sendingreis het hy ywerig vir nie-Jode getuig (Handelinge 13:46-48). Jehovah het Paulus se bedrywighede geseën, ’n bewys dat die apostel dinge in ooreenstemming met Jehovah se reëling gedoen het. Paulus het getoon dat hy ’n duidelike begrip van Jehovah se beskouing gehad het met sy moedige teregwysing van Petrus, wat partydigheid geopenbaar het deur assosiasie met sy nie-Joodse broers te vermy.—Galasiërs 2:11-14.

Verdere bewys dat God Paulus se werk gerig het, word in sy tweede sendingreis gesien toe die heilige gees gekeer het dat Paulus in die Romeinse provinsie Bitinië getuig (Handelinge 16:7). Dit was klaarblyklik nie die regte tyd daarvoor nie. Maar party Bitiniërs het wel later Christene geword (1 Petrus 1:1). In ’n visioen het ’n Masedoniër Paulus gesoebat en gesê: “Kom oor na Masedonië en help ons.” Paulus het tot die gevolgtrekking gekom dat hy sy roete moet verander sodat hy die goeie nuus in daardie Romeinse provinsie bekend kon maak.—Handelinge 16:9, 10.

Paulus se vermoë om aan te pas, is waarlik op die proef gestel toe hy vir die Ateners getuig het. Griekse en Romeinse wette het verbied dat vreemde gode en nuwe godsdiensgebruike aan mense bekend gestel word. Paulus se liefde vir mense het hom beweeg om noukeurig op hulle godsdiensgebruike te let. In Atene het hy ’n altaar gesien waarop gegraveer is: “Aan ’n Onbekende God.” Hy het hierdie besonderheid in sy getuieniswerk gemeld (Handelinge 17:22, 23). Wat ’n uitstekende manier om sy boodskap op ’n vriendelike, eerbiedige wyse oor te dra!

Hoe verheug moes Paulus tog gewees het toe hy teruggekyk het op die resultate van sy werk as ’n apostel vir die nasies! Hy het gehelp om gemeentes te stig wat bestaan het uit talle nie-Joodse Christene in Korinte, Filippi, Tessalonika en dorpe in Galasië. Hy het manne en vroue van geloof gehelp, soos Damaris, Dionisius, Sergius Paulus en Titus. Wat ’n voorreg was dit tog om te sien hoe mense wat nie Jehovah of die Bybel geken het nie, die waarheid van die Christelike godsdiens aanneem! Aangaande sy rol in die bekendmaking van die waarheid aan nie-Jode, het Paulus gesê: “Op hierdie manier het ek my dit inderdaad ten doel gestel om die goeie nuus nie bekend te maak waar die naam van Christus reeds genoem is nie, . . . maar net soos daar geskrywe staan: ‘Dié aan wie geen aankondiging oor hom gedoen is nie, sal sien, en dié wat nie gehoor het nie, sal verstaan’” (Romeine 15:20, 21). Kan ons die goeie nuus bekend maak aan mense van ’n ander kultuur?

Help al die volke van die aarde

Salomo het tot Jehovah gebid oor nie-Israeliete wat by die tempel in Jerusalem sou kom aanbid. Hy het gevra: “Mag u luister vanuit die hemel, u vaste woonplek, en u moet doen volgens alles waaroor die uitlander u aanroep; sodat al die volke van die aarde u naam kan leer ken” (1 Konings 8:41-43). Duisende Koninkryksverkondigers in baie lande voel vandag dieselfde. Hulle ontmoet mense soos die Nineviete wat, geestelik gesproke, “nie die verskil tussen hulle regter- en hulle linkerhand ken nie”. En Koninkryksverkondigers is gretig om ’n aandeel te hê aan die vervulling van profesieë aangaande die insameling van ware aanbidders uit al die verskillende nasies.—Jesaja 2:2, 3; Miga 4:1-3.

Net soos mense van die Christendom die Bybel se boodskap van hoop aangeneem het, doen mense van ander godsdiensagtergronde dit ook. Hoe moet dit jou persoonlik raak? Doen gerus ’n eerlike selfondersoek. As jy vind dat vooroordeel diep in jou gewortel is, moet jy deur middel van liefde daarvan ontslae raak. a Moenie mense verwerp wat God bereid is om te aanvaar nie.—Johannes 3:16.

Berei jou verstandelik voor voordat jy met mense van ’n ander agtergrond praat. Raak vertroud met hulle oortuigings, hulle bekommernisse en hulle denkwyse; soek dan na iets waaroor julle saamstem. Openbaar goedheid en medelye teenoor ander. Vermy konfrontasie, wees aanpasbaar en positief (Lukas 9:52-56). As jy dit doen, sal jy Jehovah behaag, “wie se wil dit is dat alle soorte mense gered moet word en tot juiste kennis van die waarheid moet kom”.—1 Timoteus 2:4.

Hoe verheug is ons tog om mense uit ’n wye verskeidenheid agtergronde in ons gemeentes te hê! (Jesaja 56:6, 7). Hoe hartverblydend is dit tog om vandag nie net name soos Marie, Jan, Stefan en Tom te hoor nie, maar ook name soos Mamadou, Jegan, Reza en Chan! Ja, “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei, is vir [ons] oopgemaak” (1 Korintiërs 16:9). Laat ons gebruik maak van al die geleenthede om die uitnodiging bekend te maak van die onpartydige God, Jehovah, wat mense van al die nasies verwelkom!

[Voetnoot]

a Sien die Ontwaak! van 8 Julie 1996, bladsye 5-7, “Kommunikasiehindernisse”.

[Prente op bladsy 23]

Paulus het oral die goeie nuus aan mense verkondig deur aanpasbaar te wees

. . . in Atene

. . . in Filippi

. . . terwyl hy gereis het