“Dit gaan dalk ’n bietjie seer wees”
“Dit gaan dalk ’n bietjie seer wees”
HET jy al ooit daardie woorde gehoor? Dalk het ’n dokter of ’n verpleegster dit vir jou gesê voor hulle ’n aanbevole behandeling toegedien het.
Jy het waarskynlik nie die behandeling geweier net om die moontlike pyn vry te spring nie. Jy het eerder die pyn verduur sodat jy toekomstige gesondheidsvoordele kan geniet. In uiterste gevalle kan die aanvaarding of verwerping van onaangename behandeling ’n saak van lewe of dood wees.
Hoewel ons dalk nie altyd ’n dokter se dienste nodig het nie, het ons as onvolmaakte mense almal dissipline, of teregwysing, nodig, selfs die soort wat soms pynlik kan wees (Jeremia 10:23). Die Bybel beklemtoon die behoefte wat kinders hieraan het en sê: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun; die roede van dissipline sal dit ver van hom af verwyder.”—Spreuke 22:15.
Die roede is in hierdie geval ’n simbool van ouerlike gesag. Daar is weliswaar min kinders wat van dissipline hou. As dit die een of ander vorm van straf beteken, kan dit hulle grief. Maar verstandige en liefdevolle ouers kyk verder as die kinders se gekrenkte gevoelens na die uiteindelike voordele. Christenouers weet dat God se Woord waar is wanneer dit sê: “Geen dissipline lyk . . . op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend; tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid.”—Hebreërs 12:11; Spreuke 13:24.
Kinders is natuurlik nie die enigstes wat dissipline nodig het nie. Volwassenes het dit ook nodig. Die Bybel praat met volwassenes wanneer dit sê: “Gryp dissipline aan; moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit is jou lewe” (Spreuke 4:13). Ja, verstandige mense—jonk en oud—sal die dissipline aanneem wat op God se Woord, die Bybel, gegrond is, en sodoende hulle lewe op die ou end red.