Jy kan ware geloof hê
Jy kan ware geloof hê
Toe Sarah Jayne 19 was, het sy uitgevind dat sy eierstokkanker het. Ná die operasie het sy goed gevoel, en sy was optimisties oor die toekoms. Trouens, sy was so optimisties dat sy op 20 verloof geraak en planne begin maak het vir haar troue. Daardie selfde jaar het die kanker teruggekeer, en sy het gehoor dat sy slegs weke oor het om te lewe. Sarah Jayne is in Junie 2000 oorlede, net voordat sy 21 sou geword het.
DIT was Sarah Jayne se kalm vertroue oor die toekoms, asook haar diep geloof in God en sy Woord, die Bybel, wat besoekers langs haar bed in die hospitaal beïndruk het. Ondanks die verskriklike tragedie wat haar in die gesig gestaar het, was sy seker van die opstandingshoop—dat sy al haar vriende weer sou sien (Johannes 5:28, 29). “Ek sal julle almal in God se nuwe wêreld sien”, het sy gesê.
Sommige verwerp daardie soort geloof as onrealisties. “Wat is die hiernamaals anders as ’n geloof onder die onsekeres”, vra Ludovic Kennedy, “dat daar met die laaste trompetstoot pret en plesier, selfs kaviaar en ook ’n trompetgeskal vir hulle sal wees, dat hulle in die een of ander lowerryke Eden gelukkige ure sal geniet saam met diegene wat vroeër heengegaan het en ander wat heel moontlik later sal volg?” Daarop moet ons ’n teenvraag vra. Wat is redeliker—om te glo dat “hierdie lewe al is wat ons het, en daarom moet ons maar die beste daarvan maak”, soos Kennedy voorstel, of om in God en sy belofte van ’n opstanding te glo? Sarah Jayne het laasgenoemde gekies. Hoe het sy sulke geloof ontwikkel?
‘Soek God en vind hom werklik’
Voor ’n mens geloof en vertroue in iemand kan ontwikkel, moet jy hom ken en leer hoe hy dink en optree. Hierdie proses behels die hart sowel as die verstand. Dit is in werklikheid dieselfde wanneer dit kom by die ontwikkeling van ware geloof in God. Jy moet hom leer ken, vertroud raak met sy eienskappe en sy persoonlikheid en uitvind hoe geloofwaardig en betroubaar hy is in alles wat hy sê en doen.—Psalm 9:11; 145:1-21.
Sommige meen dat dit onmoontlik is. God, sê hulle, is te ver verwyderd, te misterieus—indien hy ooit bestaan. “As God so werklik is soos hy blykbaar vir Christene soos Sarah Jayne is”, vra die skeptikus, “waarom maak hy hom dan nie aan die res van ons bekend nie?” Maar is God werklik te ver verwyderd en te verborge? In ’n toespraak aan die filosowe en intellektuele in Atene, het die apostel Paulus gesê dat “die God wat die wêreld en alles daarin gemaak het”, ook alles voorsien het wat nodig is sodat hulle hom “sou soek . . . en hom werklik sou vind”. Trouens, Paulus het gesê dat “hy . . . nie ver van elkeen van ons af is nie”.—Handelinge 17:24-27.
Hoe kan jy dan ‘God soek en hom werklik vind’? Sommige het dit gedoen deur bloot die heelal om hulle waar te neem. Vir baie is dit op sigself genoeg bewys om hulle te oortuig dat daar ’n Skepper moet wees a (Psalm 19:2; Jesaja 40:26; Handelinge 14:16, 17). Hulle voel soos die apostel Paulus wat gesê het: “[God se] onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid”.—Romeine 1:20; Psalm 104:24.
Jy het die Bybel nodig
Maar om ware geloof in die Skepper op te bou, het jy iets anders nodig wat hy voorsien het. Wat is dit? Die Bybel—God se geïnspireerde Woord waarin hy sy wil en voorneme uiteensit (2 Timoteus 3:16, 17). “Maar wag”, sal party sê, “hoe kan ’n mens enigiets glo wat die Bybel sê as jy die verskriklike dinge sien wat mense doen wat beweer dat hulle die Bybel volg?” Dit is waar dat die Christendom ’n skokkende rekord van skynheiligheid, wreedheid en onsedelikheid het. Maar enige redelike persoon kan sien dat die Christendom slegs voorgee dat hulle Bybelbeginsels volg.—Matteus 15:8.
Die Bybel self het gewaarsku dat talle mense sou bely dat hulle God aanbid, maar tog sou hulle in werklikheid “selfs die eienaar verloën wat hulle gekoop het”. “Weens hulle”, het die apostel Petrus gesê, “sal daar smadend van die weg van die waarheid gepraat word” (2 Petrus 2:1, 2). Jesus Christus het gesê dat hierdie mense “werkers van wetteloosheid” is, wat duidelik deur hulle bose dade geïdentifiseer sal word (Matteus 7:15-23). Om God se Woord te verwerp op grond van die Christendom se reputasie, is soos om ’n brief van ’n betroubare vriend weg te gooi bloot omdat die persoon wat dit afgelewer het, berug is.
Sonder God se Woord is dit onmoontlik om ware geloof op te bou. Dit is slegs deur die bladsye van die Bybel dat Jehovah as ’t ware sy kant van sake stel. Hy werp lig op vrae wat voortdurend opkom, soos waarom hy lyding en pyn toegelaat het en wat hy omtrent die situasie gaan doen (Psalm 119:105; Romeine 15:4). Sarah Jayne het tot die oortuiging gekom dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is (1 Tessalonisense 2:13; 2 Petrus 1:19-21). Hoe? Nie net omdat haar ouers dit vir haar vertel het nie, maar omdat sy die tyd geneem het om al die bewyse eerlik te ondersoek wat toon dat die Bybel ’n unieke openbaring van God is (Romeine 12:2). Sy het byvoorbeeld die kragtige invloed gesien wat die Bybel in die lewe van diegene het wat by die beginsels daarin bly. Met behulp van publikasies soos Die Bybel—God se woord of die mens s’n? b het sy ook die oorvloed interne getuienis ondersoek wat bewys dat dit deur God geïnspireer is.
“Geloof volg . . . op wat gehoor word”
Dit is egter nie genoeg om bloot ’n Bybel te besit of selfs te glo dat dit geïnspireer is nie. “Geloof”, skryf die apostel Paulus, “volg . . . op wat gehoor word” (Romeine 10:17). Dit bou geloof om die Bybel te hoor, nie net om ’n Bybel te besit nie. ’n Mens “hoor” wat God sê deur sy Woord te lees en te studeer. Selfs jongmense kan dit doen. Paulus sê dat Timoteus “van kleintyd af die heilige geskrifte” deur sy ma en ouma geleer is. Gee dit te kenne dat die een of ander vorm van breinspoeling hierby betrokke was? Nee! Timoteus was in geen opsig gemanipuleer of bedrieg nie. Hy is “oortuig . . . om te glo” wat hy gehoor en gelees het.—2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.
Sarah Jayne is op dieselfde manier oortuig. Soos die eerste-eeuse Bereane het sy “die woord [by haar ouers en ander onderrigters] met die grootste gretigheid van verstand ontvang”. As ’n klein kindjie het sy ongetwyfeld instinktief vertrou wat haar ouers vir haar vertel het. Later, namate sy groot geword het, het sy nie net blindweg of op ’n passiewe wyse alles aanvaar wat sy geleer is nie. Sy het “die Skrif daagliks sorgvuldig ondersoek of hierdie dinge so was”.—Handelinge 17:11.
Jy kan ware geloof opbou
Jy kan ook ware geloof opbou—die soort geloof wat deur die apostel Paulus in sy brief aan die Hebreeuse Christene beskryf is. Sulke geloof, het hy gesê, is “die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike demonstrasie van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). As jy sulke geloof het, sal jy absoluut seker wees dat alles waarop jy hoop en al jou verwagtinge, insluitende God se belofte van ’n opstanding, verwesenlik sal word. Jy sal oortuig wees dat hierdie verwagtinge op ’n vaste versekering gegrond is, nie op wensdenkery nie. Jy sal weet dat Jehovah nog altyd sy beloftes nagekom het (Josua 21:45; 23:14; Jesaja 55:10, 11; Hebreërs 6:18). God se beloofde nuwe wêreld sal vir jou so werklik wees asof dit reeds hier is (2 Petrus 3:13). En jy sal duidelik met oë van geloof sien dat Jehovah God, Jesus Christus en God se Koninkryk alles werklikhede is, nie illusies nie.
Jy is nie op jouself aangewese om ware geloof op te bou nie. Buiten dat Jehovah sy Woord vryelik beskikbaar gestel het, het hy ook ’n wêreldwye Christengemeente voorsien wat daarop Johannes 17:20; Romeine 10:14, 15). Aanvaar al die hulp wat Jehovah deur daardie organisasie voorsien (Handelinge 8:30, 31). En aangesien geloof ’n vrug van God se heilige gees is, moet jy voortdurend bid dat daardie gees jou help om ware geloof te ontwikkel.—Galasiërs 5:22.
toegespits is om opregtes van hart te help om geloof in God op te bou (Moenie afgeskrik word deur skeptici wat enigeen spot wat geloof in God en sy Woord bely nie (1 Korintiërs 1:18-21; 2 Petrus 3:3, 4). Trouens, ware geloof is van ontsaglike waarde om jou te versterk in jou standpunt teen sulke aanvalle (Efesiërs 6:16). Sarah Jayne het gevind dat dit so is, en sy het altyd diegene wat haar in die hospitaal besoek het, aangemoedig om hulle eie geloof op te bou. “Maak die waarheid jou eie”, het sy gesê. “Bestudeer God se Woord. Bly na aan God se organisasie. Bid voortdurend. Bly bedrywig in Jehovah se diens.”—Jakobus 2:17, 26.
Nadat een van haar verpleegsters haar geloof in God en in die opstanding gesien het, het sy gesê: “Jy glo dit werklik, nê.” Toe sy gevra is waarom sy ondanks haar beproewinge so optimisties is, het sy geantwoord: “Dit is geloof in Jehovah. Hy is ’n ware vriend vir my, en ek het hom innig lief.”
[Voetnote]
a Sien die boek Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
[Prent op bladsy 6]
Timoteus is “van kleintyd af die heilige geskrifte” deur sy ma en ouma geleer
[Prent op bladsy 6]
Die Bereane is geprys omdat hulle die Skrif daagliks ondersoek het
[Erkenning]
Uit “Fotodrama van die Skepping”, 1914
[Prente op bladsy 7]
Dit bou geloof om die Bybel te hoor en daarop ag te slaan, nie net om een te besit nie
[Prent op bladsy 7]
“Ek sal julle almal in God se nuwe wêreld sien”