Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal Jehovah se seën jou inhaal?

Sal Jehovah se seën jou inhaal?

Sal Jehovah se seën jou inhaal?

“Al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal, omdat jy na die stem van Jehovah jou God bly luister.”—DEUTERONOMIUM 28:2, NW.

1. Wat sou bepaal of die Israeliete seëninge of vloeke sou ontvang?

 KORT voor die einde van die Israeliete se 40 jaar lange trek deur die wildernis, het hulle op die vlaktes van Moab kamp opgeslaan. Die Beloofde Land het voor hulle gelê. Moses het toe die boek Deuteronomium geskryf, wat ’n reeks seëninge en vloeke insluit. As die volk Israel ‘na die stem van Jehovah bly luister’ het deur hom te gehoorsaam, sou seëninge hulle “inhaal”. Jehovah het hulle liefgehad as sy “spesiale eiendom”, en hy wou sy krag ten behoewe van hulle toon. Maar as hulle nie na hom bly luister het nie, sou vloeke hulle net so seker inhaal.—Deuteronomium 8:10-14; 26:18, NW; 28:2, 15, NW.

2. Wat is die betekenis van die Hebreeuse werkwoorde wat met “bly luister” en “inhaal” in Deuteronomium 28:2 vertaal word?

2 Die Hebreeuse werkwoord wat in Deuteronomium 28:2 (NW) met “bly luister” vertaal word, dui ’n voortgesette handeling aan. Jehovah se volk moet nie net soms na hom luister nie; hulle moet altyd na hom luister. Slegs dan sal God se seëninge hulle inhaal. Die Hebreeuse werkwoord wat met “inhaal” vertaal word, is blykbaar ’n jagterm wat gewoonlik “om by te kom” of “om te bereik” beteken.

3. Hoe kan ons soos Josua wees, en waarom is dit uiters belangrik?

3 Die Israelitiese leier Josua het besluit om na Jehovah te luister en is gevolglik geseën. Josua het gesê: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien . . . ; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” Die volk het toe geantwoord: “Dit is ver van ons, dat ons die HERE sou verlaat om ander gode te dien” (Josua 24:15, 16). Weens Josua se goeie gesindheid was hy een van die min lede van sy geslag wat die voorreg gehad het om die Beloofde Land binne te gaan. Vandag staan ons op die drumpel van ’n baie beter Beloofde Land—’n paradysaarde waarin baie groter seëninge as dié in Josua se dag op almal wag wat God se goedkeuring geniet. Sal sulke seëninge jou inhaal? Dit sál as jy na Jehovah bly luister. Om jou meer vasbeslote te maak om dit te doen, kan ons kyk na die volksgeskiedenis van eertydse Israel sowel as na leersame voorbeelde van sekere persone.—Romeine 15:4.

Seëninge of vloeke?

4. Hoe het God Salomo se gebed verhoor, en hoe moet ons oor sulke seëninge voel?

4 Gedurende die grootste deel van koning Salomo se bewind is die Israeliete op uitsonderlike wyse deur Jehovah geseën. Hulle het veiligheid en ’n oorvloed goeie dinge geniet (1 Konings 4:25). Salomo se rykdom het legendaries geword, hoewel hy God nie om materiële rykdom gevra het nie. Toe hy nog jonk en onervare was, het hy eerder vir ’n gehoorsame hart gebid—’n versoek wat Jehovah toegestaan het deur hom met wysheid en insig te seën. Dit het Salomo in staat gestel om behoorlik oor die volk reg te spreek en tussen goed en kwaad te onderskei. Hoewel God hom ook rykdom en heerlikheid gegee het, het Salomo as ’n jong man die oortreffende waarde van geestelike rykdom besef (1 Konings 3:9-13, NW). Hetsy ons baie materiële besittings het of nie, hoe dankbaar kan ons tog wees as ons Jehovah se seën geniet en geestelik ryk is!

5. Wat het gebeur toe die volk Israel en Juda nie na Jehovah bly luister het nie?

5 Die Israeliete het nie waardering vir Jehovah se seëninge getoon nie. Omdat hulle nie na hom bly luister het nie, het die voorspelde vloeke hulle ingehaal. Die inwoners van Israel en Juda is gevolglik deur hulle vyande verower en hulle is in ballingskap weggevoer (Deuteronomium 28:36; 2 Konings 17:22, 23; 2 Kronieke 36:17-20). Het God se volk uit hulle pynlike ondervinding geleer dat Goddelike seëninge slegs diegene inhaal wat na Jehovah bly luister? Die Joodse oorblyfsel wat in 537 v.G.J. na hulle vaderland teruggekeer het, het die geleentheid gehad om te toon of hulle “’n wyse hart” verkry het en nou die belangrikheid daarvan besef het om na God te bly luister.—Psalm 90:12.

6. (a) Waarom het Jehovah Haggai en Sagaria gestuur om vir sy volk te profeteer? (b) Watter beginsel is toegelig deur die boodskap wat God deur middel van Haggai bekend gemaak het?

6 Die Jode wat na hulle vaderland teruggekeer het, het ’n altaar gebou en die tempel in Jerusalem begin herstel. Maar toe hulle sterk teenstand ondervind het, het hulle ywer afgeneem en is die bouwerk gestaak (Esra 3:1-3, 10; 4:1-4, 23, 24). Hulle het ook hulle persoonlike gerief eerste begin stel. God het derhalwe die profete Haggai en Sagaria gestuur om sy volk se ywer vir ware aanbidding weer aan te wakker. Deur Haggai het Jehovah gesê: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis [van aanbidding] in puin lê? . . . Gee ag op wat julle wedervaar het: julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; . . . en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ’n stukkende beurs te steek” (Haggai 1:4-6). Om geestelike belange ter wille van materiële strewes op te offer, lei nie tot Jehovah se seën nie.—Lukas 12:15-21.

7. Waarom het Jehovah vir die Jode gesê: “Gee ag op wat julle wedervaar het”?

7 Die Jode was so besig met hulle daaglikse bedrywighede dat hulle vergeet het dat seëninge van God in die vorm van reën en vrugbare tye hulle slegs sou inhaal as hulle, ten spyte van teenstand, in ’n weg van gehoorsaamheid aan God volhard het (Haggai 1:9-11). Hoe gepas was die vermaning dus: “Gee ag op wat julle wedervaar het!” (Haggai 1:7). Jehovah het as ’t ware vir hulle gesê: ‘Dink! Sien die verband tussen julle vergeefse arbeid op die land en die verwaarloosde toestand van my huis van aanbidding.’ Die geïnspireerde woorde van Jehovah se profete het uiteindelik die harte van hulle luisteraars bereik, want die volk het weer aan die tempel begin werk en dit in 515 v.G.J. voltooi.

8. Watter aansporing het Jehovah die Jode in Maleagi se dag gegee, en waarom?

8 Later, in die dae van die profeet Maleagi, het die Jode weer hulle geestelike balans begin verloor en selfs onaanvaarbare offerandes na God gebring (Maleagi 1:6-8). Gevolglik het Jehovah hulle aangespoor om die tiende van hulle opbrengs in sy voorraadkamer te bring en hom op die proef te stel om te sien of hy nie die sluise van die hemele sal oopmaak en ’n seën oor hulle sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie (Maleagi 3:10, NW). Hoe dwaas was die Jode tog om te swoeg vir die dinge wat God hulle in oorvloed sou gee as hulle maar net na sy stem bly luister het!—2 Kronieke 31:10.

9. Die lewe van watter drie persone in die Bybelverslag gaan ons ondersoek?

9 Die Bybel lewer nie net verslag oor Israel se volksgeskiedenis nie, maar ook oor die lewe van baie persone wat deur God geseën of vervloek is, afhangende daarvan of hulle na Jehovah bly luister het of nie. Kom ons kyk wat ons kan leer uit drie van hierdie voorbeelde—Boas, Nabal en Hanna. Jy sal dalk die boek Rut sowel as 1 Samuel 1:1–2:21 en 1 Samuel 25:2-42 wil lees.

Boas het na God geluister

10. Wat het Boas en Nabal in gemeen gehad?

10 Hoewel Boas en Nabal nie tydgenote was nie, het hulle sekere dinge in gemeen gehad. Albei mans het byvoorbeeld in die land van Juda gewoon. Hulle was ryk grondeienaars, en albei het ’n gulde geleentheid gehad om liefderyke goedhartigheid te betoon teenoor iemand wat in nood verkeer het. Maar dit is waar die ooreenkomste eindig.

11. Hoe het Boas getoon dat hy na Jehovah bly luister het?

11 Boas het gedurende die tyd van Israel se rigters gelewe. Hy het ander met respek behandel, en sy snyers het groot agting vir hom gehad (Rut 2:4). In gehoorsaamheid aan die Wet het Boas seker gemaak dat oorblyfsels op sy land vir die geteisterdes en armes agtergelaat word (Levitikus 19:9, 10). Wat het Boas gedoen toe hy van Rut en Naomi te wete gekom het en gesien het hoe hard Rut werk om vir haar bejaarde skoonmoeder te sorg? Hy was baie bedagsaam teenoor Rut en het sy dienaars opdrag gegee om haar op sy land are te laat optel. Deur sy woorde en liefdevolle dade het Boas getoon dat hy ’n geestelike mens was wat na Jehovah geluister het. Hy het derhalwe God se guns en seën ontvang.—Levitikus 19:18; Rut 2:5-16.

12, 13. (a) Hoe het Boas diep respek vir Jehovah se wet in verband met terugkoping getoon? (b) Watter seëninge van God het Boas ingehaal?

12 Die duidelikste bewys dat Boas na Jehovah bly luister het, was die onselfsugtige manier waarop hy God se wet in verband met terugkoping gehoorsaam het. Boas het alles in sy vermoë gedoen om te verseker dat die erfenis van sy naverwant—Naomi se oorlede man, Elimeleg—in Elimeleg se familie sou bly. Deur “swaershuwelik” moes ’n weduwee met haar oorlede man se naaste familielid trou sodat ’n seun wat vir hulle gebore word, die erfenis kon behou (Deuteronomium 25:5-10; Levitikus 25:47-49). Rut het haar vir die huwelik aangebied in die plek van Naomi, wat te oud was om kinders te hê. Nadat ’n terugkoper wat nader aan Elimeleg verwant was, geweier het om Naomi te help, het Boas Rut as sy vrou geneem. Hulle seun Obed is as Naomi se kind en die wetlike erfgenaam van Elimeleg beskou.—Rut 2:19, 20; 4:1, 6, 9, 13-16.

13 Ryk seëninge het Boas ingehaal weens sy onselfsugtige gehoorsaamheid aan God se wet. Deur hulle seun Obed is hy en Rut met die voorreg geseën om voorouers van Jesus Christus te word (Rut 2:12; 4:13, 21, 22; Matteus 1:1, 5, 6). Uit die onselfsugtige optrede van Boas leer ons dat seëninge diegene inhaal wat liefde aan ander betoon en in ooreenstemming met God se vereistes optree.

Nabal het nie geluister nie

14. Watter soort man was Nabal?

14 In teenstelling met Boas het Nabal nie na Jehovah geluister nie. Hy het hierdie wet van God oortree: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Nabal was nie ’n geestelike mens nie; hy was “grof en boosaardig”. Selfs sy eie dienaars het hom as ’n “deugniet” beskou. Sy naam, Nabal, beteken gepas “verstandeloos” of “dwaas” (1 Samuel 25:3, 17, 25). Wat sou Nabal dus doen toe hy ’n geleentheid gehad het om goedhartigheid te bewys aan iemand wat in nood verkeer het—Dawid, die gesalfde van Jehovah?—1 Samuel 16:13.

15. Hoe het Nabal Dawid behandel, en hoe het Abigail in hierdie opsig van haar man verskil?

15 Toe Dawid en sy manskappe naby Nabal se kuddes kamp opgeslaan het, het hulle die kuddes teen roofbendes beskerm sonder om enige vergoeding te vra. “Hulle was ’n muur om ons, snags sowel as bedags”, het een van Nabal se herders gesê. Maar toe Dawid se boodskappers hom kos gevra het, het Nabal “teen hulle uitgevaar” en hulle met leë hande weggestuur (1 Samuel 25:2-16). Nabal se vrou, Abigail, het onmiddellik kos na Dawid geneem. Dawid was woedend en het op die punt gestaan om Nabal en sy manne uit te wis. Abigail se inisiatief het dus baie lewens gered en het gekeer dat Dawid bloedskuldig word. Maar Nabal se selfsug en hardvogtigheid het te ver gegaan. Ongeveer tien dae later het “die HERE Nabal getref, sodat hy gesterf het”.—1 Samuel 25:18-38.

16. Hoe kan ons Boas navolg en die weë van Nabal verwerp?

16 Wat ’n groot verskil was daar tog tussen Boas en Nabal! Terwyl ons die hardvogtige en selfsugtige weë van Nabal moet verwerp, moet ons die goedhartigheid en onselfsugtigheid van Boas navolg (Hebreërs 13:16). Ons kan dit doen deur die apostel Paulus se raad toe te pas: “Laat ons dan, solank ons tyd het wat daarvoor gunstig is, aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Vandag het Jesus se “ander skape”, Christene met ’n aardse hoop, die voorreg om goed te doen aan Jehovah se gesalfdes, die oorblyfsel van die 144 000, wat onsterflikheid in die hemel sal ontvang (Johannes 10:16; 1 Korintiërs 15:50-53; Openbaring 14:1, 4). Jesus beskou sulke liefdevolle dade asof dit aan hom self gedoen word, en wanneer ’n mens hierdie goeie dinge doen, ontvang jy ryk seëninge van Jehovah.—Matteus 25:34-40; 1 Johannes 3:18.

Hanna se beproewinge en seëninge

17. Voor watter beproewinge het Hanna te staan gekom, en watter gesindheid het sy geopenbaar?

17 Jehovah se seën het ook die godvrugtige vrou Hanna ingehaal. Sy en haar Levitiese man, Elkana, het in die bergstreek van Efraim gewoon. Hy het nog ’n vrou—Peninna—gehad, iets wat deur die Wet toegelaat en gereguleer is. Hanna het kinderloos gebly, ’n skande vir ’n Israelitiese vrou, terwyl Peninna ’n hele paar kinders gehad het (1 Samuel 1:1-3; 1 Kronieke 6:16, 33, 34). Maar in plaas van Hanna te vertroos, het Peninna liefdeloos opgetree en Hanna getart totdat sy gehuil en haar eetlus verloor het. Wat die situasie vererger het, is dat dit “van jaar tot jaar” gebeur het, elke keer wanneer die gesin na die huis van Jehovah in Silo gegaan het (1 Samuel 1:4-8). Hoe gemeen was dit tog van Peninna, en wat ’n beproewing vir Hanna! Maar Hanna het nooit Jehovah die skuld hiervoor gegee nie; en sy het ook nie by die huis gebly wanneer haar man Silo toe gegaan het nie. Uiteindelik sou ’n ryk seën haar dus ongetwyfeld inhaal.

18. Watter voorbeeld het Hanna gestel?

18 Hanna het ’n goeie voorbeeld vir Jehovah se hedendaagse volk gestel, veral diegene wat deur die onvriendelike aanmerkings van ander seergemaak is. In sulke situasies is die oplossing nie om ’n mens af te sonder nie (Spreuke 18:1). Hanna het nie toegelaat dat haar beproewinge haar begeerte laat verflou om teenwoordig te wees waar onderrig in God se Woord gegee is en sy volk vir aanbidding byeengekom het nie. Sy het derhalwe geestelik sterk gebly. Haar diepe geestelikheid kan duidelik gesien word in haar pragtige gebed wat in 1 Samuel 2:1-10 opgeteken staan. a

19. Hoe kan ons ons waardering vir geestelike dinge toon?

19 As Jehovah se hedendaagse knegte aanbid ons nie by ’n tabernakel nie. Ons kan nietemin, net soos Hanna, ons waardering vir geestelike dinge toon. Ons kan byvoorbeeld ons diepe waardering vir geestelike skatte toon deur Christelike vergaderinge en byeenkomste gereeld by te woon. Laat ons hierdie geleenthede gebruik om mekaar aan te moedig in die ware aanbidding van Jehovah, wat ons ‘die voorreg gegee het om onbevrees heilige diens aan hom te verrig met lojaliteit en regverdigheid’.—Lukas 1:74, 75; Hebreërs 10:24, 25.

20, 21. Hoe is Hanna vir haar godvrugtige toegewydheid beloon?

20 Jehovah het Hanna se godvrugtige toegewydheid gesien en haar oorvloedig geseën. Tydens een van die gesin se jaarlikse besoeke aan Silo het Hanna onder trane, ernstig tot God gebid en ’n gelofte gedoen: “HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ’n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe” (1 Samuel 1:9-11). God het Hanna se smeking gehoor en haar geseën met ’n seun, wat sy Samuel genoem het. Nadat sy hom gespeen het, het sy hom na Silo geneem sodat hy by die tabernakel kon dien.—1 Samuel 1:20, 24-28.

21 Hanna het getoon dat sy God liefhet en het haar gelofte aan hom in verband met Samuel nagekom. En dink aan die ryk seëning wat sy en Elkana geniet het omdat hulle geliefde seun by Jehovah se tabernakel gedien het! Baie Christenouers geniet soortgelyke vreugdes en seëninge omdat hulle seuns en dogters as voltydse pionierbedienaars, Bethelgesinslede of op ander maniere dien wat Jehovah tot eer strek.

Ons moet na Jehovah bly luister!

22, 23. (a) Waarvan kan ons seker wees as ons na Jehovah se stem bly luister? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

22 Waarvan kan ons seker wees as ons na Jehovah bly luister? Ons sal geestelik ryk wees as ons toon dat ons God met ons hele siel liefhet en ons toewyding aan hom uitleef. Selfs wanneer ons kwaai beproewinge moet verduur omdat ons so ’n weg nastreef, sal Jehovah se seën ons beslis inhaal—dikwels in groter mate as wat ons ons kan voorstel.—Psalm 37:4; Hebreërs 6:10.

23 Baie seëninge sal in die toekoms oor God se volk uitgestort word. “’n Groot skare” sal deur “die groot verdrukking” heen behoue bly omdat hulle gehoorsaam na Jehovah luister, en hulle sal die vreugdes van lewe in God se nuwe wêreld ervaar (Openbaring 7:9-14; 2 Petrus 3:13). Daar sal Jehovah die geoorloofde begeertes van al sy knegte ten volle bevredig (Psalm 145:16). Maar soos die volgende artikel sal toon, word diegene wat na Jehovah se stem bly luister, nou reeds ‘met goeie gawes en volmaakte geskenke van bo’ geseën.—Jakobus 1:17.

[Voetnoot]

a Hanna se gebed kom ooreen met wat die maagd Maria gesê het kort nadat sy uitgevind het dat sy die moeder van die Messias sou word.—Lukas 1:46-55.

Onthou jy?

• Wat kan ons uit Israel se geskiedenis oor Goddelike seëninge leer?

• Hoe het Boas en Nabal van mekaar verskil?

• Hoe kan ons Hanna navolg?

• Waarom moet ons na Jehovah se stem bly luister?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 10]

Koning Salomo het vir ’n gehoorsame hart gebid, en Jehovah het hom met wysheid geseën

[Prent op bladsy 12]

Boas het ander met respek en goedhartigheid behandel

[Prent op bladsy 15]

Hanna is ryklik geseën omdat sy op Jehovah vertrou het