3 Hoekom kry goeie mense swaar?
Hoekom dit saak maak
Dit lyk onregverdig wanneer goeie mense swaarkry. Sommige mense voel dat dit nie nodig is om ’n goeie mens te wees as jy in elk geval gaan swaarkry nie.
Iets om oor te dink
Party glo dat mense deur ’n siklus van dood en hergeboorte gaan. Hulle sê dat mense wat goeie dinge gedoen het, weer in goeie omstandighede gebore word. Maar dié wat slegte dinge gedoen het, word weer gebore en het ’n moeilike lewe. Volgens dit wat hulle hier glo, kan selfs ’n goeie persoon swaarkry as hy slegte dinge in ’n “vorige lewe” gedoen het. Maar . . .
-
Wat is die doel om so swaar te kry as die persoon wat blykbaar weer gebore word, nie eers sy vorige lewe kan onthou nie?
-
Hoekom werk ons so hard om gesond te bly en vermy ons ongelukke, as ons lewe afhang van wat ons in ’n vorige lewe gedoen het?
VIND MEER UIT
Kyk na die video Hoekom laat God toe dat mense swaarkry? op jw.org.
Wat die Bybel sê
Swaarkry is nie ’n straf van God nie.
Inteendeel, baie van dit is toevallig. Baie keer is iemand net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.
“Die vinniges wen nie altyd die wedloop nie en die sterkes wen nie altyd die geveg nie, die wyses het nie altyd die kos nie en die slimmes het nie altyd die rykdom nie, en dié wat kennis het, is nie altyd suksesvol nie, want tyd en onverwagse gebeure tref hulle almal.” – PREDIKER 9:11.
Ons oorgeërfde sonde dra by tot swaarkry.
Mense gebruik gewoonlik die woord “sonde” om te verwys na iets slegs wat iemand gedoen het. Maar die Bybel gebruik dit om ’n toestand te beskryf wat alle mense – goed of sleg – oorgeërf het.
“Ek is skuldig van geboorte af, en ek is sondig vandat my ma swanger geraak het met my.” – PSALM 51:5.
Sonde het ’n verwoestende uitwerking op mense.
Dit het nie net ons verhouding met ons Skepper beskadig nie, maar ons is nie meer in eenheid met die res van God se skepping nie. As gevolg hiervan kry mense baie swaar, as individue en die mensdom as ’n geheel.
“Wanneer ek wil doen wat reg is, is ek geneig om te doen wat sleg is.” – ROMEINE 7:21.
‘Die hele skepping kreun tot nou toe saam en is in pyn.’ – ROMEINE 8:22.