Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

KAN ONS PLANEET OORLEEF?

Varswater

Varswater

LEWE op die aarde sou onmoontlik wees sonder water, veral varswater. Om die waarheid te sê, water is die grootste komponent van alle lewende dinge. Mere, riviere, vleilande en ondergrondse akwifere voorsien drinkwater vir mense en diere en stel ons in staat om ons landerye nat te maak.

Dinge wat varswater bedreig

Die grootste deel van ons planeet is bedek met water. Maar volgens die Wêreld- Meteorologiese Organisasie “is net 0,5% van water op Aarde bereikbare en beskikbare varswater”. Al behoort hierdie relatiewe klein hoeveelheid varswater genoeg te wees vir lewe op die aarde, word baie daarvan of besoedel of onbereikbaar as gevolg van ’n groter behoefte daaraan en klimaatsverandering. Deskundiges voorspel dat vyf miljard mense binne 30 jaar moontlik nie genoeg varswater sal hê nie.

Ons planeet – Ontwerp om te oorleef

Die aarde het natuurlike prosesse wat keer dat ons watervoorraad verdwyn. En grond, waterlewe en selfs sonlig werk saam om ons water skoon te hou. Kyk na party van die bewyse wat wys dat ons planeet ontwerp is om te oorleef.

  • Grond kan help om baie dinge te verwyder wat ons water besoedel. In vleilande is sekere plante daarvoor bekend dat dit stikstof, fosfor en onkruiddoders verwyder.

  • Wetenskaplikes het fisiese en biologiese prosesse geïdentifiseer wat water skoonmaak wat besoedel is met natuurlike organiese afval. Die besoedelstowwe word in vloeiende water verdun en deur mikro-organismes afgebreek.

  • Varswatergapermossels en varswatermossels kan party moontlik skadelike chemikalieë in net ’n paar dae uit water verwyder – en dalk selfs beter as wat watersuiweringsaanlegte dit kan doen.

  • Ons planeet stoor water in ’n konstante kringloop wat bekend staan as die hidrologiese stelsel. Hierdie kringloop, en ander natuurlike prosesse, keer dat water uit ons atmosfeer ontsnap of verdwyn.

Wat gedoen word

As ons olielekke regmaak en op die regte manier van gifstowwe ontslae raak, help ons om ons varswaterbronne skoon te hou

Deskundiges beveel aan dat ons soveel water as moontlik moet spaar. Om waterbesoedeling te verminder, sê hulle dat ons enige olielekke in ons voertuie moet regmaak en nie ongebruikte medikasie in die toilet moet afspoel of gifstowwe in die drein moet gooi nie.

Ingenieurs het vorendag gekom met nuwe maniere om sout uit seewater te verwyder. Die doel is om meer beskikbare varswater te hê.

Maar meer is nodig. Om sout uit seewater te verwyder, is nie ’n goeie oplossing nie, want dit kos te veel geld en vereis te veel energie. In ’n 2021-verslag oor waterbeheer het ’n bron van die Verenigde Nasies gesê: “Die huidige tempo van vordering moet wêreldwyd verdubbel word.”

Redes vir hoop – Wat die Bybel sê

“God . . . trek die waterdruppels op, en dit kondenseer en vorm mis en reën. Dit stroom uit die wolke, en reën val op die mensdom.” – Job 36:​26-28.

God het natuurlike kringlope geskep om die aarde se water te beskerm. – Prediker 1:7.

Dink hieraan: Aangesien die Skepper die aarde gemaak het om ons water skoon te hou, is dit redelik om te glo dat hy bereid is en die krag het om die probleem wat mense veroorsaak het, op te los. Sien die artikel “God belowe dat ons planeet sal oorleef” op bladsy 15.