Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | IS BYBELBEGINSELS OP ONS TYD VAN TOEPASSING?

Waardes wat nommerpas en tydloos is—Eerlikheid

Waardes wat nommerpas en tydloos is—Eerlikheid

BYBELBEGINSEL: “Wie sal ’n gas in [God se] tent wees? . . . Hy wat onberispelik wandel en regverdigheid beoefen en in sy hart die waarheid spreek.”Psalm 15:1, 2.

DIE VOORDELE: Die meeste mense waardeer eerlikheid en integriteit. Maar sê nou ’n persoon kry ’n geleentheid om voordeel uit iets te trek deur oneerlik te wees—sonder dat iemand daarvan uitvind? Dan val die kollig op die hart, die innerlike persoon.

Raquel, wie se werk behels het dat sy voorraad aankoop, sê: “Sekere verkoopsagente het my probeer omkoop. Hulle het my belowe dat hulle my van die ‘afslag’ sou gee as ek by hulle koop, pleks van dit te gee vir die maatskappy waar ek gewerk het. Maar ek het gedink aan die Bybel se raad oor eerlikheid en het nee gesê. My bestuurder het daarvan uitgevind, en nou het sy meer vertroue in my.”

As Raquel voor die versoeking geswig het en die aanbod aanvaar het, sou sy dalk op kort termyn finansieel daarby baat gevind het. Maar sê nou haar werkgewer het uitgevind? Sou Raquel haar werk behou het? En wat van haar kanse om in die toekoms werk te kry? Vir Raquel was haar gewete en selfrespek belangriker. “’n Naam is verkiesliker as oorvloedige rykdom; guns is beter as selfs silwer en goud”, sê Spreuke 22:1.

Jessie het vir hom ’n goeie naam as ’n eerlike werker gemaak

Jessie was ook eerlik en betroubaar, en daarom het hy ’n goeie naam by sy werkgewer gemaak. Wat was die voordele? Hy is nie net ’n bestuurspos gegee nie, maar ook meer vryheid wat sy werkrooster betref. Gevolglik het hy meer tyd om aan geestelike bedrywighede te bestee en om saam met sy vrou en kinders deur te bring.

Party werkgewers wat na werkers gesoek het, het groepe genader wat bekend is vir hulle eerlikheid. Byvoorbeeld, die bestuurder van ’n maatskappy in die Filippyne het aan die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies geskryf en Getuies genooi om vir werk aansoek te doen. Hulle is “hardwerkend, eerlik en getrou”, het hy gesê. Maar Jehovah God, wat ons leer om te “haat wat sleg is” en “lief [te wees] vir wat goed is”, ontvang die eer hiervoor.—Amos 5:15.